Waarom ’n onderwyser wees?
“Die meeste onderwysers kies hulle loopbaan omdat dit ’n beroep is wat daarop gerig is om mense te help. [Die onderwys is ’n] verbintenis daartoe om ’n verskil in die lewe van kinders te maak.”—Teachers, Schools, and Society.
HOEWEL party onderwysers dit maklik laat lyk, kan die onderwys ’n maraton met talle struikelblokke wees—oorvol klaskamers, ’n magdom papierwerk, beperkende burokrasie, onontvanklike leerlinge en lae salarisse. Pedro, ’n onderwyser in Madrid, Spanje, stel dit so: “Dit is glad nie maklik om ’n onderwyser te wees nie. Dit verg baie selfopoffering. Maar ondanks die probleme is die onderwys nog steeds vir my lonender as ’n beroep in die handelswêreld.”
Die uitdaging kan oorweldigend wees in skole in die groot stede van die meeste lande. Dwelms, misdaad, losse sedes en in sommige gevalle ouerlike onverskilligheid kan ’n ernstige uitwerking op die atmosfeer en dissipline by die skool hê. Opstandige gesindhede is algemeen. Waarom kies soveel gekwalifiseerde mense dan om onderwysers te wees?
Leemarys en Diana is onderwyseresse in die stad New York. Hulle werk met kinders van kleuterskoolvlak tot tienjarige ouderdom. Albei is tweetalig (Engels-Spaans) en werk hoofsaaklik met Spaanse kinders. Ons vraag was . . .
Wat motiveer ’n onderwyser?
Leemarys het gesê: “Wat motiveer my? My liefde vir kinders. Ek weet dat ek vir party kinders die enigste een is wat hulle in hulle pogings steun.”
Diana het gesê: “Ek het my agtjarige broerskind, wat op skool gesukkel het, met sy skoolwerk gehelp—veral met lees. Dit was so ’n wonderlike gevoel om hom en ander te sien leer! Daarom het ek besluit dat ek onderwys wou gee en het ek uit my werk by die bank bedank.”
Ontwaak! het dieselfde vraag aan onderwysers in verskeie lande gestel, en die volgende is net ’n paar van die antwoorde wat ontvang is.
Giuliano, ’n Italianer in sy veertigerjare, het verduidelik: Ek het hierdie beroep gekies omdat dit my gefassineer het toe ek op skool was (regs). Ek het dit as ’n skeppende en baie stimulerende werk beskou. My aanvanklike entoesiasme het my gehelp om probleme te oorkom wat ek vroeg in my loopbaan ondervind het.”
Nick, van Nieu-Suid-Wallis, Australië, het gesê: “Daar was nie baie werksgeleenthede in die chemiese navorsingsveld waarin ek gespesialiseer het nie, maar daar was baie geleenthede in die onderwys. Ek het sedertdien gevind dat ek daarvan hou om onderwys te gee, en dit lyk of die leerlinge dit ook geniet dat ek hulle leer.”
Die voorbeeld van hulle ouers het dikwels ’n groot uitwerking gehad op diegene wat besluit het om onderwysers te wees. William, van Kenia, het ons vraag so beantwoord: “My begeerte om ’n onderwyser te wees, is grootliks deur my pa beïnvloed, wat destyds in 1952 ’n onderwyser was. Die wete dat ek die verstande van jongmense vorm, is ’n faktor wat my met hierdie beroep laat volhou het.”
Rosemary, wat ook van Kenia is, het vir ons gesê: “Ek het nog altyd ’n begeerte gehad om minderbevoorregte mense te help. Ek moes dus kies of ek ’n verpleegster of ’n onderwyseres wou word. Die geleentheid om ’n onderwyseres te word, het eerste gekom. Die feit dat ek ook ’n ma is, het my liefde vir die beroep laat toeneem.”
Berthold, van Düren, Duitsland, het om ’n ander rede ’n onderwyser geword: “My vrou het my daarvan oortuig dat ek ’n goeie onderwyser sou wees.” En dit lyk of sy reg was. Hy het verder gesê: “My beroep verskaf my nou groot vreugde. Tensy ’n onderwyser oortuig is van die waarde van opvoeding en ook in jongmense belangstel, is dit onmoontlik vir hom of haar om ’n goeie, suksesvolle, gemotiveerde en gelukkige onderwyser te wees.”
’n Japannese onderwyser, Masahiro, van die stad Nakatsoe, het gesê: “Wat my beweeg het om ’n onderwyser te word, is die feit dat ek ’n wonderlike onderwyser gedurende my laaste jare op laerskool gehad het. Hy het ons met ware toegewydheid geleer. En die hoofrede waarom ek met my beroep volgehou het, is omdat ek lief is vir kinders.”
Josjija, wat nou 54 jaar oud en ook van Japan is, het ’n goed besoldigde werk in ’n fabriek gehad, maar hy het gevoel dat sy hele lewe uit sy werk en die heen-en-weer-ryery bestaan. “Eendag het ek by myself gedink: ‘Hoe lank gaan ek nog so lewe?’ Ek het besluit om ’n werk te soek wat meer met mense as met dinge te doen het. Die onderwys is uniek. Jy werk met jongmense. Jy doen goed aan ander.”
Valentina, van St. Petersburg, Rusland, waardeer ook daardie aspek van die onderwys. Sy het gesê: “Ek wou ’n onderwyseres wees. Ek is al 37 jaar lank ’n laerskoolonderwyseres. Ek geniet dit om met kinders te werk, veral met die jongeres. Ek is lief vir my werk, en daarom het ek nog nie afgetree nie.”
William Ayers, wat self ’n onderwyser is, het geskryf: “Mense word onderwysers omdat hulle kinders en jongmense liefhet of omdat hulle dit geniet om by hulle te wees en te sien hoe hulle ontwikkel, groei, bekwamer en vaardiger word en hulle plek in die wêreld vol staan. . . . Deur middel van die onderwys . . . gee mense van hulleself aan ander. Ek gee onderwys in die hoop om die wêreld ’n beter plek te maak.”
Ja, ondanks probleme en negatiewe faktore word duisende toegewyde vroue en mans beweeg om die onderwys hulle loopbaan te maak. Wat is van die groot uitdagings waarvoor hulle te staan kom? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.
[Venster op bladsy 6]
Wenke vir kommunikasie tussen onderwysers en ouers
✔ Leer ken die ouers. Dit is nie ’n vermorsing van tyd nie. Dit is tyd wat nuttig bestee word en albei partye tot voordeel strek. Dit is jou geleentheid om ’n verstandhouding op te bou met diegene wat jou dalk die beste kan help.
✔ Praat op die vlak van die ouer—moenie ’n meerderwaardige houding aanneem nie. Moenie onderwyserstaal gebruik nie.
✔ Beklemtoon die positiewe aspekte as jy oor die kinders praat. ’n Mens bereik meer deur ander te loof as om hulle te veroordeel. Verduidelik wat die ouers kan doen om die kind te help om suksesvol te wees.
✔ Laat die ouers praat, en luister dan aandagtig.
✔ Probeer meer uitvind oor die kind se huislike omstandighede. Besoek die huis, indien moontlik.
✔ Stel ’n datum vas vir julle volgende afspraak. Dit is belangrik om op te volg. Dit toon dat jy opreg belangstel.—Gebaseer op Teaching in America.
[Prent op bladsy 6]
‘My pa was ook ’n onderwyser.’—WILLIAM, KENIA
[Prent op bladsy 7]
“Ek geniet dit om met kinders te werk.”—VALENTINA, RUSLAND
[Prent op bladsy 7]
“Die onderwys is uniek. Jy werk met jongmense.”—JOSJIJA, JAPAN