’n Eeu van geweld
ALFRED NOBEL het geglo dat vrede gehandhaaf kan word as nasies dodelike wapens besit. Nasies kon immers vinnig saamstaan en enige aanvaller tot ’n grusame einde bring. “Dit sou ’n krag wees wat oorlog onmoontlik sou maak”, het hy geskryf. Volgens Nobel sou geen verstandige nasie ’n geveg uitlok as dit vir hom verwoestende gevolge sou hê nie. Wat het die afgelope eeu egter getoon?
Minder as 20 jaar ná Nobel se dood het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Gedurende hierdie oorlog is nuwe dodelike wapens gebruik, insluitende masjiengewere, gifgas, vlamwerpers, tenks, vliegtuie en duikbote. Byna tienmiljoen soldate het gesneuwel, en meer as twee keer soveel is gewond. Die wreedheid van die Eerste Wêreldoorlog het hernieude belangstelling in vrede aangewakker. Dit het tot die stigting van die Volkebond gelei. Die Amerikaanse president Woodrow Wilson, wat ’n vername rol hierin gespeel het, het in 1919 die Nobelprys vir vrede gewen.
Maar toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, is alle hoop verydel dat oorlog eens en vir altyd sou eindig. Hierdie oorlog was in baie opsigte selfs wreder as die Eerste Wêreldoorlog. Adolf Hitler het gedurende hierdie oorlog Nobel se fabriek in Krümmel uitgebrei tot een van die grootste ammunisiefabrieke in Duitsland, met meer as 9 000 werkers. Toe, aan die einde van die oorlog, is Nobel se fabriek heeltemal deur ’n Geallieerde lugaanval vernietig toe meer as ’n duisend bomme daarop gegooi is. Daardie bomme is ironies genoeg met behulp van Nobel se eie uitvindings ontwikkel.
Daar was nie net twee wêreldoorloë in die eeu ná Nobel se dood nie, maar ook ’n mag der menigte kleiner konflikte. Die aantal wapens het gedurende dié tydperk geweldig toegeneem, en party het selfs dodeliker geword. Kyk na ’n paar militêre toestelle wat in die dekades sedert Nobel se dood op groot skaal gebruik is.
Kleingewere en ligte wapens. Dit sluit handgewere, koeëlgewere, granate, masjiengewere, mortiere en ander draagbare toestelle in. Kleingewere en ligte wapens is goedkoop, maklik om in stand te hou en selfs makliker om te gebruik.
Het hierdie wapens—en die gevaar wat dit vir burgerlikes inhou—oorlog voorkom? Glad nie! In die Bulletin of the Atomic Scientists skryf Michael Klare dat ligte wapens “die vernaamste aanvalswapen in die meeste konflikte in die tydperk ná die Koue Oorlog” geword het. Trouens, tot 90 persent van die sterfgevalle in onlangse oorloë is deur kleingewere en ligte wapens veroorsaak. Meer as viermiljoen mense is gedurende die 1990’s alleen met hierdie wapens doodgemaak. In baie gevalle word ligte wapens deur jongmense gebruik wat geen militêre opleiding het nie en wat glad nie skroom om tradisionele oorlogsreëls te oortree nie.
Landmyne. Teen die einde van die 20ste eeu is gemiddeld sowat 70 mense per dag deur landmyne vermink of gedood! Die meeste van hulle was burgerlikes, nie soldate nie. Landmyne word dikwels gebruik, nie om dood te maak nie, maar om te vermink en om diegene wat die verskriklike gevolge daarvan ervaar, met vrees en angs te vervul.
Daar is in onlangse jare weliswaar baie moeite gedoen om myne onskadelik te stel. Maar party sê dat daar vir elke myn wat onskadelik gestel word, nog 20 ander geplant word en dat daar moontlik 60 miljoen landmyne regoor die aarde versteek is. Die feit dat landmyne nie ’n onderskeid kan tref tussen ’n soldaat en ’n kind wat in ’n veld speel nie, het nie die vervaardiging en gebruik van hierdie afskuwelike toestelle gekeer nie.
Kernwapens. Toe kernwapens uitgevind is, kon ’n hele stad vir die eerste keer binne sekondes uitgewis word sonder ’n enkele skermutseling tussen soldate. Dink byvoorbeeld aan die verskriklike vernietiging toe atoombomme in 1945 op Hirosjima en Nagasaki gegooi is. Sommige mense is deur die vreeslike skerp lig verblind. Ander is deur straling vergiftig. Baie het in brande en weens die hitte omgekom. Die gesamentlike dodetal vir hierdie twee stede word op byna 300 000 geskat!
Party sal natuurlik redeneer dat die bomaanvalle op hierdie stede baie lewens gespaar het wat andersins deur konvensionele oorlogvoering vernietig sou geword het as die oorlog voortgeduur het. Maar sommige wat ontsteld was oor die ontsettende lewensverlies, het druk op politici begin uitoefen dat hierdie grusame wapen wêreldwyd beheer moet word. Trouens, baie het begin vrees dat die mens die vermoë ontwikkel het om homself te vernietig.
Het die ontwikkeling van kernwapens vrede ’n groter moontlikheid gemaak? Party sê ja. Hulle wys op die feit dat hierdie kragtige wapens al meer as ’n halfeeu lank nie in oorlogvoering gebruik is nie. Maar in stryd met Nobel se oortuiging dat wapens vir massavernietiging ’n einde aan oorlog sou maak, word oorloë met konvensionele wapens nog steeds gevoer. En volgens die Komitee oor Kernbeleid is daar op enige gegewe oomblik duisende kerntoestelle op ’n gereedheidsgrondslag. In hierdie era waar terrorisme ’n groot bron van kommer is, vrees baie die moontlike gevolge as kernmateriaal in die “verkeerde” hande sou val. Selfs in die “regte” hande bestaan daar kommer dat ’n enkele ongeluk die wêreld in ’n termonukleêre ramp kan dompel. Wanneer dit by vernietigende wapens kom, is dit duidelik dat dit nie die vrede is wat Nobel hom voorgestel het nie.
Biologiese en chemiese wapens. Kiemoorlogvoering sluit die gebruik in van ’n dodelike bakterie, soos antraks, of ’n virus, soos pokke. Pokke is veral gevaarlik omdat dit hoogs aansteeklik is. Dan is daar die gevaar van chemiese wapens, soos gifgas. Hierdie gifstowwe kom in baie vorme voor, en hoewel dit al dekades lank onwettig is, het dit nie die gebruik daarvan stopgesit nie.
Het hierdie grusame wapens en die gevaar wat dit inhou, mense laat optree soos Nobel voorspel het—om ‘van afgryse terug te deins en hulle troepemagte te ontbind’? Inteendeel, dit het net die vrees vergroot dat hierdie wapens eendag gebruik sal word—selfs deur amateurs. Meer as ’n dekade gelede het die direkteur van die Amerikaanse Agentskap vir Wapenbeheer en Ontwapening gesê: “Chemiese wapens kan in byna enigiemand se garage gemaak word solank hy ’n bietjie skeikunde op hoërskool geleer het.”
Daar bestaan geen twyfel nie dat die 20ste eeu gekenmerk is deur oorloë wat vernietigender was as dié van enige ander tydperk. Nou, aan die begin van die 21ste eeu, lyk dit of die vooruitsig op vrede selfs onsekerder is—veral ná die terreuraanvalle wat op 11 September 2001 in die stad New York en Washington, DC, plaasgevind het. “Feitlik niemand waag dit om te vra of die tegnologiese balans dalk te ver sal oorhel sodat dit mag aan die bose gee nie”, skryf Steven Levy in die tydskrif Newsweek. Hy sê verder: “Wie sou enige idee hê hoe om daardie situasie te hanteer? Mense is daarvoor bekend dat hulle dinge najaag wat hulle as vooruitgang beskou en dan eers later vrae vra. Terwyl ons weier om die Ondenkbare te dink, skep ons die omstandighede wat dit kan laat gebeur.”
Tot dusver het die geskiedenis ons geleer dat die uitvinding van verskriklike plofstowwe en dodelike wapens hierdie wêreld geensins nader aan vrede gebring het nie. Is wêreldvrede dan net ’n droom?
[Venster/Prente op bladsy 8]
Nitrogliserien word hanteerbaarder gemaak
Die Italiaanse chemikus Ascanio Sobrero het in 1846 nitrogliserien, ’n dik, olierige en ontplofbare vloeistof, ontdek. Die stof was gevaarlik. Sobrero se gesig is tydens ’n ontploffing erg deur glassplinters gesny, en hy het uiteindelik opgehou om met die stof te werk. Boonop was daar ’n probleem met die vloeistof wat Sobrero nie kon oplos nie: Wanneer dit uitgegooi en met ’n hamer geslaan is, het net die gedeelte van die vloeistof ontplof wat met die hamer geslaan is, sonder dat dit ’n uitwerking op die res van die olie gehad het.
Nobel het hierdie probleem opgelos toe hy ’n praktiese ontploffer uitgevind het, wat ’n klein hoeveelheid van een plofstof gebruik het wat ’n groot hoeveelheid van ’n ander plofstof kon ontsteek. Toe, in 1865, het Nobel die slagdoppie uitgevind—’n klein doppie met slagkwik wat in ’n houer met nitrogliserien geplaas en dan deur middel van ’n lont aan die brand gesteek word.
Maar dit was nog steeds gevaarlik om met nitrogliserien te werk. In 1864 het vyf mense byvoorbeeld in ’n ontploffing in Nobel se werkswinkel buite Stockholm gesterf—insluitende Nobel se jongste broer, Emil. Nobel se fabriek in Krümmel, Duitsland, is twee keer opgeblaas. Daarbenewens het party mense die vloeistof as lampolie, as skoenpolitoer of as ’n smeerolie vir wawiele gebruik—met ernstige gevolge. Selfs wanneer dit as springstof in berge gebruik is, het oortollige olie in krake ingesypel en later ongelukke veroorsaak.
In 1867 het Nobel die olie in ’n vaste stof omgesit deur nitrogliserien met kieselgoer, ’n nieontplofbare, poreuse stof, te meng. Nobel het dit dinamiet genoem, wat van die Griekse woord dynamis kom en “krag” beteken. Hoewel Nobel later selfs meer gevorderde plofstowwe ontwikkel het, word dinamiet as een van sy belangrikste uitvindings beskou.
Nobel se plofstowwe het natuurlik ook siviele gebruike gehad. Dit het byvoorbeeld ’n groot rol daarin gespeel om die Sint Gotthardtonnels (1872-82) te bou, onderwaterkranse in New York se East River (1876, 1885) op te blaas en die Kanaal van Korinte in Griekeland (1881-93) aan te lê. Nietemin het dinamiet kort nadat dit uitgevind is, bekend geword as ’n instrument van vernietiging en die dood.
[Prent]
’n Colombiaanse polisiestasie wat deur dinamiet vernietig is
[Erkenning]
© Reuters NewMedia Inc./CORBIS
[Prent op bladsy 4]
Minder as 20 jaar ná Nobel se dood is daar gedurende die Eerste Wêreldoorlog nuwe dodelike wapens gebruik
[Erkenning]
U.S. National Archives photo
[Prente op bladsy 6]
Slagoffers van landmyne in Kambodja, Irak en Aserbaidjan
[Erkennings]
UN/DPI Photo 186410C by P.S. Sudhakaran
UN/DPI Photo 158314C by J. Isaac
UN/DPI Photo by Armineh Johannes
[Prent op bladsy 6]
Volgens die Komitee oor Kernbeleid is daar op enige gegewe oomblik duisende kerntoestelle op ’n gereedheidsgrondslag
[Erkenning]
UNITED NATIONS/PHOTO BY SYGMA
[Prente op bladsy 7]
Die afskuwelikheid van chemiese wapens het groot publisiteit gekry toe sarien in 1995 in die moltreinstelsel in Tokio gebruik is
[Erkenning]
Asahi Shimbun/Sipa Press
[Foto-erkenning op bladsy 5]
UN/DPI Photo 158198C by J. Isaac