Kleingewere, groot probleme
KERNWAPENS was dekades lank die groot besprekingspunt tydens samesprekings oor wapenbeheer. Dit is hoegenaamd nie verbasend nie, want ’n enkele kernbom kan ’n hele stad vernietig. Maar anders as kleiner wapens is hierdie geweldig kragtige wapens meer as 50 jaar laas in oorlogvoering gebruik.
Die gerespekteerde militêre geskiedskrywer John Keegan skryf: “Sedert 9 Augustus 1945 het kernwapens niemand doodgemaak nie. Die 50 000 000 wat sedert daardie datum in oorloë gesterf het, is in die meeste gevalle deur goedkoop wapens wat in massa geproduseer is en deur kleinkaliberammunisie doodgemaak, wat nie veel meer kos nie as die transistorradio’s en droëselbatterye wat die wêreld gedurende dieselfde tydperk oorstroom het. Omdat goedkoop wapens baie min ontwrigting veroorsaak het in die ontwikkelde wêreld, met uitsondering van die paar plekke waar dwelmhandel en politieke terrorisme floreer, was die bevolkings van die ryk lande stadig om te besef watter verwoesting hierdie euwel meegebring het.”
Niemand weet presies hoeveel kleingewere en ligte wapens in omloop is nie, maar kenners skat dat daar sowat 500 miljoen militêre vuurwapens kan wees. Daarbenewens word tienmiljoene niemilitêre gewere en pistole deur privaat burgers besit. Wat meer is, nuwe wapens word elke jaar vervaardig en op die mark gebring.
Gewilde wapens
Waarom het kleingewere die gewildste wapens in onlangse oorloë geword? Dit is deels weens die verhouding tussen konflik en armoede. Die meeste van die oorloë wat gedurende die 1990’s gevoer is, was in arm lande—wat te arm is om gesofistikeerde wapenstelsels te koop. Kleingewere en ligte wapens is ’n winskoop. Byvoorbeeld, 380 miljoen rand, wat ongeveer die prys van een moderne vegvliegtuig is, kan ’n leër met 200 000 aanvalsgewere toerus.
Soms is kleingewere en ligte wapens baie goedkoper as dit. Tienmiljoene van hierdie wapens word eenvoudig weggegee deur weermagte wat afskaal, of hulle word van een konflik na die volgende oorgedra. In party lande is daar soveel aanvalsgewere dat hulle vir net R45 verkoop word of vir ’n bok, ’n hoender of ’n sak ou klere geruil kan word.
Maar afgesien van die feit dat klein wapens goedkoop en maklik verkrygbaar is, is daar ander redes waarom hulle so gewild is. Hulle is dodelik. Een snelvuuraanvalsgeweer kan honderde patrone per minuut afvuur. Hulle is ook maklik om te gebruik en in stand te hou. ’n Tienjarige kind kan geleer word om ’n tipiese aanvalsgeweer uitmekaar te haal en weer aanmekaar te sit. ’n Kind kan ook vinnig leer om met daardie geweer aan te lê en dit op ’n skare mense af te vuur.
Nog ’n rede waarom gewere gewild is, is die feit dat hulle sterk is en jare lank gebruik kan word. Gewere soos die AK47 en M16, wat soldate in die Viëtnamoorlog gebruik het, word nog steeds vandag in oorloë gebruik. Party gewere wat in Afrika gebruik word, dateer uit die Eerste Wêreldoorlog. Daarbenewens word gewere maklik vervoer en versteek. Een pakperd kan ’n stuk of 12 gewere na ’n paramilitêre groep in ’n digte woud of op ’n afgeleë berg neem. ’n Klompie perde kan genoeg gewere dra om ’n klein leër toe te rus.
Vuurwapens, dwelms en diamante
Die wêreldwye handel in vuurwapens is ’n komplekse kwessie. Baie vuurwapens gaan wettig van die een land na die ander. Ná die Koue Oorlog is weermagte in die Ooste sowel as die Weste afgeskaal, en regerings het surplustoerusting aan vriende en bondgenote gegee of verkoop. Volgens ’n skrywer by die Vredesnavorsingsinstituut in Oslo, Noorweë, het die Verenigde State alleen sedert 1995 meer as 300 000 gewere, pistole, masjiengewere en granaatwerpers weggegee. Daar word geredeneer dat dit goedkoper is om wapens weg te gee as om dit uitmekaar te haal of te berg en te bewaak. Party ontleders skat dat kleingewere en ligte wapens ter waarde van ongeveer R20 miljard elke jaar wettig oor landgrense geneem word.
Die onwettige handel kan egter baie groter wees. Swartmarkwapens moet gewoonlik gekoop word. In party oorloë in Afrika het paramilitêre groepe kleingewere en ligte wapens ter waarde van honderdmiljoene rande gekoop, nie met geld nie, maar met diamante wat hulle in diamantmyngebiede as buit geneem het. The New York Times het gesê: “Waar regerings korrup is, is rebelle genadeloos en is dit maklik om grense oor te steek . . . Die blink klippies veroorsaak slawearbeid, moord, verminking, massahaweloosheid en grootskaalse ekonomiese ineenstorting.” Hoe ironies is dit tog dat ’n edelsteen wat vir aanvalsgewere geruil word, dalk later in ’n elegante juwelierswinkel as ’n duur simbool van ewige liefde verkoop sal word!
Wapens word ook verbind met onwettige dwelmhandel. Dit is nie ongewoon vir kriminele organisasies om dieselfde roetes te gebruik om dwelms in een rigting en vuurwapens in die ander rigting te smokkel nie. Wapens het dus as ’t ware ’n soort geldeenheid geword wat vir dwelms geruil word.
Ná die oorlogsgewere stil word
Wanneer oorloë eindig, beland die vuurwapens wat daarin gebruik is dikwels in die hande van misdadigers. Neem byvoorbeeld wat in ’n land in Suider-Afrika gebeur het wat ’n verandering van polities gemotiveerde geweld na kriminele geweld ondervind het. Politieke geweld daar het in net drie jaar die lewe van sowat 10 000 mense geëis. Toe daardie konflik geëindig het, het kriminele geweld drasties toegeneem. Kompetisie tussen taxibestuurders het aanleiding gegee tot “taxi-oorloë”, waarin boewe gehuur is om die passasiers en bestuurders van mededingende maatskappye te skiet. Militêre aanvalsgewere is al hoe meer in rooftogte en ander misdade gebruik. Die aantal moorde wat met vuurwapens gepleeg is, het in een onlangse jaar 11 000 bereik, die tweede hoogste syfer in die wêreld vir lande wat nie in ’n oorlog gewikkel is nie.
Die wete dat misdadigers gewapen en gevaarlik is, wek vrees en ’n gevoel van onveiligheid. In baie ontwikkelende lande woon die rykes feitlik in vestings, omring deur mure en geëlektrifiseerde heinings wat dag en nag bewaak word. Inwoners van ontwikkelde lande tref ook voorsorgmaatreëls. Dit gebeur selfs op plekke wat nie burgertwis ondervind het nie.
In oorloggeteisterde lande sowel as in lande waar daar “vrede” is, dra vuurwapens tot onstabiliteit by. Geen mens kan presies sê wat die dodelike uitwerking van vuurwapens is nie; ons kan ook nie al die dooies, die gewondes, die bedroefdes en die verwoeste lewens tel nie. Maar ons weet wel dat die wêreld vervuil is van wapens en dat hulle bly toeneem. Al hoe meer stemme word gehoor wat vra dat iets gedoen moet word. Maar wat kan gedoen word? Wat sal gedoen word? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.
[Venster/Prent op bladsy 7]
’n Voormalige soldaat voel “soos ’n regte gek”
’n Kindersoldaat wat in dieselfde oorlog geveg het waarin die mense wat in die eerste artikel genoem is, vlugtelinge geword het, het skielik ledig en brandarm geword in die stad wat hy help verower het. Hy het met bitterheid gepraat oor sy leier se seun wat hy op ’n blink motorfiets in die stad sien rondry, en voormalige krygshere wat mag probeer verkry en om aansien meeding. “Wanneer ek dink aan die vyf jaar wat ek in die bos was, hoe ek mense doodgemaak het en hoe daar op my geskiet is, voel ek soos ’n regte gek”, het die soldaat gesê. “Ons het ons lewe vir mense gegee wat môre sal vergeet hoe hulle gekom het waar hulle is.”
[Erkenning]
VOORBLAD en bladsy 7: Kindersoldaat: Nanzer/Sipa Press
[Venster/Prent op bladsy 8]
“Geen wegkruipplek nie”
Al is die moderne aanvalsgeweer baie gevaarlik, het dit sekere beperkings. Dit skiet net koeëls. Dit kan nie mense doodmaak wat agter sterk mure of verskansings skuil nie. In die verwarring van ’n gevegsituasie is ’n soldaat dalk nie so sekuur nie. Handgewere is selfs onder ideale toestande net tot op 460 meter akkuraat.
Die Amerikaanse weermag het ’n oplossing vir sulke “probleme”—’n nuwe, hipertegnologiese, veeldoelige geweer wat die Objective Individual Combat Weapon (OICW) genoem word. Die OICW, wat lig genoeg is om deur een soldaat vasgehou te word, sal nie net koeëls skiet nie, maar ook 20-millimeter-springgranate. Nog ’n unieke kenmerk: Dit kan vyande doodmaak wat agter verskansings skuil. Al wat die soldaat moet doen, is om die geweer na ’n punt onmiddellik bo of langs die teiken te mik. Die geweer kalibreer outomaties die afstand na die teiken en stel vooraf ’n klein elektroniese lont in die granaat sodat dit op presies die regte afstand sal ontplof en die slagoffer vol skrapnel skiet wat deur koeëlvaste klere sal dring. “Die unieke wapen sal Amerikaanse troepe in staat stel om feitlik om hoeke te skiet”, het ’n verteenwoordiger van die maatskappy gesê wat die wapen ontwikkel. ’n Infrarooi visier sal die wapen selfs snags effektief maak.
Van hierdie geweer is daar “geen wegkruipplek nie”, het die vervaardigers gespog, wat ook beweer dat die wapen tot op twee keer die afstand vyf keer dodeliker as die M16-geweer en M203-granaatwerper sal wees. Soldate wat dit gebruik, hoef nie te sukkel om behoorlik te mik nie; hulle moet net deur die visier kyk en die sneller trek om ’n salvo van koeëls en granate af te vuur. As die ontwikkeling daarvan volgens skedule verloop, sal die eerste militêre eenheid teen 2007 met die OICW toegerus wees.
Maar kritici vra vrae: Hoe sal die geweer gebruik word wanneer soldate digbewoonde buurte patrolleer waar vyandige vegters waarskynlik tussen onskuldige burgerlikes sal wees? Wat gebeur wanneer die OICW aan weermagte regoor die wêreld verkoop word wat dit dalk teen hulle eie mense sal gebruik? En wat gebeur wanneer die wapen in die hande van terroriste en misdadigers beland?
[Erkenning]
Alliant Techsystems
[Prente op bladsy 6]
Kleingewere en ligte wapens word dikwels vir diamante en dwelms geruil