’n Besoek aan die stad van swart goud
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
JY HET moontlik nog nooit van die Brasiliaanse dorp Ouro Prêto gehoor nie, maar in die 18de eeu was die bevolking daarvan drie keer groter as wat die stad New York s’n was, en van sy inkomste is eens op ’n tyd gebruik om die stad Lissabon in Portugal te herbou, wat deur ’n aardbewing vernietig is. In 1980 het die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur Ouro Prêto by die Wêrelderfenislys gevoeg, wat nou byna 700 plekke van uitsonderlike waarde op kulturele en natuurgebied insluit. Waarom is hierdie status aan Ouro Prêto gegee? Kyk gerus na die geskiedenis van hierdie unieke dorp.
’n Goue drankie
Gedurende die eerste helfte van die 17de eeu het talle Portugese ontdekkingsreisigers, wat bandeirantes genoem is, Brasilië verken op soek na nuwe grondgebied, Indiaanse slawe en goud. Een ekspedisie is na die binneland onderneem, en eindelik het hulle die berg Itacolomi bereik. Daar het Duarte Lopes ’n spruit genader om sy dors te les. Hy het water in sy houtbakkie geskep en gedrink. Toe merk hy klein swart klippies onder in die bak op.
Lopes het die klippies aan ’n vriend verkoop, wat dit aan die goewerneur van Rio de Janeiro gestuur het, aangesien hy vermoed het dat dit waardevol is. Toe die goewerneur die klippies ondersoek, het hy gesien dat dit van die suiwerste goud was en met ’n dun, swart lagie ysteroksied bedek is. Maar waar het die goud vandaan gekom? Toe Lopes vertel het van Itacolomi, is ’n soektog begin. In 1698 het die bandeirante Antônio Dias de Oliveira die berg gevind waarvandaan dit gekom het. ’n Stormloop van goudsoekers het op ’n kamp naby die plek waar dit ontdek is, wat later Vila Rica genoem is, toegesak. Kort voor lank het Vila Rica 80 000 inwoners gehad. Mettertyd het dit die hoofstad van Minas Gerais geword en is dit Ouro Prêto genoem, wat “swart goud” beteken.
Swart goud word rooi
Tussen 1700 en 1820 het prospekteerders 1 200 ton goud gemyn—80 persent van die wêreld se goudproduksie gedurende daardie tyd. Maar waarheen het al die goud gegaan? Goud wat ontgin is, is by die Casa dos Contos, of “Huis van Geldmunting”, in stawe gegiet. Daarna het een vyfde van die goud, die belasting wat gehef is, in die skatkis van Portugal se koninklike gesin beland.
Die koloniste was gekant teen die belasting. Een van hulle was Felipe dos Santos, wat myners, soldate en kerklede teen die Portugese Kroon opgesweep het. Maar die Portugese het teruggeveg. In 1720 is Dos Santos gehang en sy liggaam met perde deur die strate gesleep. Die myners het teruggekeer na die myne, en die belastings het al hoe hoër geword.
Dit was egter net ’n tydelike einde van die rebellie. Later in dieselfde eeu het Joaquim da Silva Xavier verskyn, met die bynaam Tiradentes, wat “tandtrekker” beteken—met verwysing na een van sy beroepe. Hy was een van ’n groep digters, regsgeleerdes en soldate van Ouro Prêto wat gereeld in die huis van Toledo, ’n priester, bymekaargekom het. Aan die begin was die gesprekke hoofsaaklik ’n filosofiese skertsery, maar toe het hulle begin oorskakel na die politiek van daardie dae: Groot-Brittanje se Noord-Amerikaanse kolonies het onafhanklikheid verkry en Frankryk het haar konings onthoof. Later het hulle gesprekke opstandig van aard geword toe die groep in fluisterstemme die onderdrukkende eise van die Portugese Kroon bespreek het. Portugal se koningin, Dona Maria I, het gewaarsku dat rebelle onthoof sou word. Tiradentes het nietemin in 1788, as waarnemende onderluitenant, die leiding geneem in die Inconfidência Mineira, of die Rebellie van die staat Minas Gerais.
’n Spioen het die name van die samesweerders onthul. Hulle is een vir een gearresteer en na Afrika verban tot hulle dood toe. Tiradentes het in ’n bedompige tronksel in Rio de Janeiro weggekwyn totdat hy op 21 April 1792 gehang en onthoof is. Tiradentes se kop is op ’n paal in Ouro Prêto se stadsplein vertoon en sy liggaam, wat in vier dele gesny is, is langs verskeie paaie aan pale vasgemaak. Dit het vir eers enige potensiële rebelle afgeskrik. Tog het Brasilië drie dekades later, in 1822, sy onafhanklikheid van Portugal verkry.
Kuns-, geskiedenis- en godsdiensskatte
Na verloop van tyd het Ouro Prêto se goud opgeraak en sy vernaamheid afgeneem. Maar die dorp het party kunsprodukte en ander herinneringe van sy geskiedenis behou. Sommige hiervan kan maklik gevind word in die Inconfidência Museum, wat in Praça Tiradentes is. Die museum, wat voorheen as ’n stadsaal en ’n tronk gebruik is, hou die herinneringe van kuns, geskiedenis en die dorp se tragedie lewendig.
Die uitstallings sluit Tiradentes se doodsvonnis in, wat deur Dona Maria I uitgereik is, asook stukke van die galg wat vir sy teregstelling gebruik is. Onder plat, reghoekige stene wat soos beddens in ’n slaapsaal uitgelê is, is die oorblyfsels van party van Tiradentes se medesamesweerders begrawe. Op ’n ander verdieping bewaar die vertrekke antieke, koloniale en imperiale meublement.
’n Utopia van edelgesteentes
Die boonste gedeelte van Praça Tiradentes bevat nog ’n skatkamer—die goewerneur se paleis, wat goewerneurs en staatspresidente gehuisves het. Tans is dit die ligging van die Escola de Minas, ’n skool vir gevorderde studies in myningenieurswese, geologie en metallurgie. Die skool se museum bevat ’n indrukwekkende versameling, op besonderse wyse uitgestal, van 20 000 voorbeelde van 3 000 verskillende tipes minerale, edelgesteentes, kristalle en, natuurlik, ouro prêto, swart goud.
Goud is vandag nie meer ’n vername hulpbron nie. Nietemin lewer die streek steeds akwamaryn en smaragberil en geel keiserlike topaas. Sowat 50 jaar gelede was die kuns om edelgesteentes te slyp net aan ’n handjie vol vakmanne bekend. Maar vandag is daar talle onafhanklike soekers na edelgesteentes, asook juwelierswinkels in die omgewing van Praça Tiradentes. Die winkelbestuurders sal nie net aan jou verduidelik hoe om die edelgesteentes te identifiseer nie, maar sal jou ook aan die slypers en die poleerders van die edelgesteentes voorstel wat in die agterkamers werk. Hulle sal, op hulle beurt, bly wees om jou te wys hoe die slypwerk gedoen word. Hierdie gasvryheid weerspieël die gevoel van die dorp se bevolking, dat hulle bevoorreg voel om in ’n dorp met ’n fassinerende geskiedenis te woon.
As jy beplan om Brasilië te besoek, maak seker dat jy ’n wandeling deur die pragtige Ouro Prêto in jou reisplanne insluit.
[Kaart op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Ouro Prêto
[Erkenning]
Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 22, 23]
Wanneer die swart ysteroksied verwyder is, word die swart klippies goudklonte
[Prent op bladsy 23]
Ouro Prêto, met die berg Itacolomi in die agtergrond
[Prent op bladsy 24]
Inconfidência Museum, Praça Tiradentes
[Prent op bladsy 24]
Akwamaryn, geel keiserlike topaas en smarag
[Erkenning]
Edelstene: Brasil Gemas, Ouro Preto, MG