Akan-spreekwoorde—’n Weerspieëling van sosiale norme
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GHANA
WAT is ’n spreekwoord? Een woordeboek omskryf ’n spreekwoord as “’n kort sinnetjie wat mense dikwels aanhaal, waarin raad gegee word of wat jou iets van die lewe vertel”. Die Joroebas van Nigerië gee ’n kleurryker omskrywing van ’n spreekwoord en noem dit “’n perd wat ’n mens vinnig na die ontdekking van idees kan neem”.
Die belangrikheid van spreekwoorde, of spreuke, word uitgedruk in hierdie spreekwoord, wat die Akan-volk van Ghana goed ken: “Met ’n wyse mens word daar in spreekwoorde gepraat, nie in gewone taal nie.” Die punt is dat ’n wyse mens nie altyd ’n lang verduideliking nodig het om hom te oortuig wat die regte ding is om te doen nie. ’n Gepaste spreekwoord laat ’n mens dink, help jou om dinge te verstaan en kan jou beweeg om te doen wat reg is.
In Ghana word spreekwoorde tydens huwelikseremonies en begrafnisse baie gebruik, en dit kom in die volksmusiek voor. Dit is ook onontbeerlik in diplomatieke onderhandelinge. ’n Woordvoerder of ’n gesant maak dikwels op vernuftige wyse van spreekwoorde gebruik.
In die Akan-gemeenskap word die vernuftige gebruik van spreekwoorde as ’n kenmerk van wysheid beskou. Interessant genoeg, die Bybel sê dat koning Salomo—’n man wat bekend was vir sy wysheid, geleerdheid en skerpsinnigheid—3 000 spreuke geken het. Die spreuke in die Bybel is natuurlik deur God geïnspireer en is altyd waar, terwyl dit nie die geval is met spreekwoorde wat op die ondervinding en insig van mense gegrond is nie. Die spreekwoorde van mense, al is dit ook hoe wys, moet nooit met die Bybel gelykgestel word nie. Maar kom ons kyk na ’n paar Akan-spreekwoorde.
Begrip van God
In Ghana word die bestaan van God dikwels in spreuke erken, en dit word in baie Akan-spreekwoorde weergegee. Daar is nie plek vir ateïstiese idees in Akan-filosofie nie. Een spreekwoord sê byvoorbeeld: “Niemand wys God vir ’n kind nie.” Selfs vir ’n kind is dit maar alte duidelik dat God bestaan. Hierdie spreekwoord word dikwels gebruik om te verwys na iets wat ’n kind sonder veel onderrigting vanself sal leer.
’n Ander Akan-spreekwoord sê: “As jy van God af weghardloop, is jy nog steeds onder hom.” ’n Mens bedrieg dus jouself as jy God probeer ignoreer. Lank gelede is ’n soortgelyke gedagte in die Bybel opgeteken waar dit sê dat God se oë “op elke plek [is], en hulle let op die slegtes en die goeies” (Spreuke 15:3). Ons almal is aanspreeklik voor die Almagtige.
Sosiale norme en waardes
Soos met spreekwoorde uit ander kulture die geval is, is Akan-spreekwoorde ’n skatkamer van sosiale norme en waardes. Die krag van die gesproke woord word byvoorbeeld goed toegelig deur hierdie spreekwoord: “Dit is erger om iets verkeerds te sê as om iets verkeerds te doen.” ’n Onbeheerste tong kan beslis groot skade aanrig en kan in werklikheid die verskil tussen lewe en dood beteken.—Spreuke 18:21.
Maar wanneer die tong in toom gehou word, kan dit ’n ware vredemaker wees, soos hierdie gesegde toon: “Waar die tong is, twis die tande nie.” Die punt wat hier gemaak word, is dat strydende partye—byvoorbeeld ’n man en sy vrou—geskille vreedsaam kan oplos deur sake kalm te bespreek. En as dit nie werk nie, kan die goedgekose woorde van ’n tussenganger help om die geskil op te los.
Praktiese wysheid
Die waarde van onderskeidingsvermoë en versiendheid kom duidelik na vore in ’n hele aantal spreekwoorde wat die klem op praktiese wysheid lê. ’n Impulsiewe, onverskillige persoon wat nie aan die gevolge van sy dade dink nie, kan gerus die raad van hierdie spreekwoord ter harte neem: “Voordat jy die kobra tart, kyk jy of daar ’n ontsnappingsroete is.”
’n Ouer wat slegte eienskappe in sy kind opmerk, kan op hierdie spreekwoord ag slaan: “As jy ’n stingel sien opkom wat jou in die oog kan steek, trek jy dit uit, jy maak dit nie skerp nie.” Ja, enige slegte eienskap moet met wortel en tak uitgeroei word—of in die kiem gesmoor word—voordat dit tot groot probleme lei.
Sedes en kulturele gebruike
Soms moet ’n mens ’n beter begrip van ’n kultuur verkry om hulle spreekwoorde te verstaan. Onder die Akan word dit byvoorbeeld as slegte maniere beskou om met die linkerhand gebare voor ander te maak, veral voor ouer mense. Daar word na hierdie gedragsreël verwys in die spreekwoord: “Jy gebruik nie jou linkerhand om te beduie waar jou tuisdorp lê nie.” Met ander woorde, ’n mens moet waardeer wat jy het, en dit sluit jou herkoms in.
’n Spreekwoord wat sinspeel op die tradisionele gebruik tydens maaltye in ’n tipiese Akan-huis sê: “’n Kind wat leer om sy hande te was, eet saam met die ouer mense.” Tydens maaltye word lede van die huisgesin volgens hulle ouderdom gegroepeer. Maar ’n kind wat hom goed gedra, veral wat higiëne en gedragsreëls betref, kan die voorreg geniet om saam met sy pa en ander volwassenes aan hulle tafel te eet. Die spreekwoord beklemtoon die gedagte dat die agting wat ander vir jou het, meer deur jou gedrag as deur jou ouderdom bepaal word.
Oorweeg jy dit om te trou? Dink dan aan hierdie Akan-spreekwoord: “Die huwelik is nie palmwyn wat geproe mag word nie.” Verkopers van palmwyn, ’n gegiste drank wat van die sap van die palmboom gemaak word, laat voornemende kopers gewoonlik toe om te proe voordat hulle besluit hoeveel hulle gaan koop en of hulle hoegenaamd daarvan gaan koop. Die huwelik kan egter nie so geproe word nie. Hierdie spreekwoord lig toe dat die huweliksband blywend is en dat proefhuwelike onaanvaarbaar is.
Opmerksaamheid
Talle spreekwoorde toon dat die Akan se voorouers baie opmerksaam was wanneer dit by mense en diere gekom het. Nadat ’n hen en haar kuikens byvoorbeeld goed dopgehou is, het hierdie spreekwoord ontstaan: “’n Kuiken wat by sy ma staan, kry die sprinkaan se dybeen.” Wat beteken dit? As iemand hom afsonder, word hy maklik vergeet wanneer goeie dinge uitgedeel word.
Enigiemand wat al ’n dooie padda gesien het, sal die waarheid van die volgende gesegde maklik begryp: “Eers as ’n padda dood is, sien ’n mens hoe lank hy werklik is.” Hierdie spreekwoord word dikwels aangehaal wanneer iemand nie waardeer word nie. In so ’n situasie troos die een wat nie waardeer word nie, hom daaraan dat sy afwesigheid mense dalk sal laat besef watter goeie eienskappe hy het.
Spreekwoorde in “snelskrif”
Al is Akan-spreekwoorde mondelings van geslag tot geslag oorgedra, is baie sêgoed in simboliese kuns bewaar. Hierdie kuns word gesien in houtsnywerk, stawwe, goudgewigte en tradisionele weefstowwe sowel as die ontwerpe op hedendaagse weefstowwe. Mense wat Ghana se kunsgalerye besoek, sal moontlik voorstellings sien van ’n man wat ’n boom klim terwyl ’n ander man hom help. Dit is ’n uitbeelding van hierdie spreekwoord: “As jy ’n goeie boom klim, sal jy dalk ’n stoot gegee word.” Die onderliggende boodskap is duidelik—as jy lonende doelwitte nastreef, sal jy moontlik ondersteun word.
’n Mens sien veral by begrafnisse iets wat een skrywer “weefstoftaal” noem. Die droefgeestige atmosfeer van die geleentheid laat ’n mens in werklikheid ernstig oor die lewe nadink. Gevolglik dra die ontwerpe op begrafnisklere boodskappe met ’n filosofiese ondertoon oor. ’n Stuk materiaal waarop ’n leer of ’n stel trappe uitgebeeld word, herinner ’n mens byvoorbeeld aan die spreekwoord: “Die leer van die dood word nie net deur een mens geklim nie.”a Dit maak almal bewus van die feit dat hulle ’n nederige beskouing van hulleself moet hê en nie moet leef asof hulle nooit sal sterf nie.—Prediker 7:2.
In die Akan-gemeenskap kan gesante of woordvoerders van die tradisionele heersers spreekwoorde meesterlik gebruik, en hulle dra ook ’n ampstaf met motiewe wat die een of ander beginsel uitbeeld wat die volk na aan die hart lê. ’n Voël wat die kop van ’n slang in sy kloue het, is byvoorbeeld “snelskrif” vir die gesegde: “As jy ’n slang aan die kop beetpak, is die res net ’n stuk tou.” Watter boodskap dra dit oor? Pak probleme aan—moenie daarvan wegskram nie.
Spreekwoord-etiket
Wanneer en hoe ’n spreekwoord gebruik moet word, word deur die argument sowel as die gehoor bepaal, soos in die geval van enige illustrasie. ’n Argument kan sy trefkrag verloor as spreekwoorde verkeerd gebruik word. En aangesien die gebruik van spreekwoorde in party kulture ’n belangrike deel van kommunikasie-etiket uitmaak, kan die verkeerde gebruik daarvan veroorsaak dat mense ’n slegte indruk van die spreker kry.
In Ghana word die oudstes in die gemeenskap as die opstellers en bewaarders van spreekwoorde beskou. Spreekwoorde word dus dikwels voorafgegaan deur die frase “Ons oudstes sê . . . ” En wanneer ’n spreker met ’n gehoor praat wat baie ouer as hy is, is dit hoflik om ’n spreekwoord te begin met die uitdrukking: “Julle, die oudstes, sê . . . ” Uit respek wil ’n jonger spreker nie die indruk skep dat hy sy oudstes die wyse woorde leer wat in die spreekwoord vervat is nie.
’n Paar nuttige opmerkings
Spreekwoorde kan óf ’n argument voorafgaan óf daarop volg. Dit kan ook so kundig in ’n argument gevleg word dat ’n mens insig nodig het om die sinspeling te snap. ’n Akan kan byvoorbeeld van ’n nederige en vredeliewende persoon sê: “As dit net van So-en-so afhang, sal daar nie ’n geweer in hierdie dorpie afgevuur word nie.” Dit sinspeel op die spreekwoord: “As dit net van die slak en die skilpad afhang, sal daar nie ’n geweer in die bos afgevuur word nie.” Albei word as sagmoedige en beskeie diere beskou wat nie geneig is om te baklei nie. Mense wat hierdie eienskappe het, werk vrede in die hand.
As jy egter wil hê dat ’n Akan ’n hele rits spreekwoorde moet opnoem, sal jy dalk net een uit hom kry: “Daar kan nie ’n droom wees waar daar geen slaap is nie.” Met ander woorde, ’n mens kan spreekwoorde nie sonder rede gebruik nie, net soos jy nie kan droom terwyl jy wakker is nie. Omstandighede bepaal hoe dit gebruik word.
[Voetnoot]
a Dit is noemenswaardig dat hierdie motief op verskillende kleure materiaal gevind word en nie net op die donker kleure wat gewoonlik vir begrafnisse gebruik word nie.