Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 4/22 bl. 25-27
  • Waarom moes ék ’n aangenome kind wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moes ék ’n aangenome kind wees?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorsaak van woede
  • Hoe om verkeerde veronderstellings reg te stel
  • Die waarde van liefde
  • Jy kan suksesvol wees
  • Hoe kan ek as aangenome kind my situasie suksesvol hanteer?
    Ontwaak!—2003
  • Aanneming—Hoe pas ek in?
    Ontwaak!—1996
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Aanneming—Is dit vir jou?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 4/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . . 

Waarom moes ék ’n aangenome kind wees?

“Dit is soos om met ’n permanente liggaamsgebrek te lewe. Dit is ’n kwaal van die hart wat nie genees kan word nie.”—Robert.

DIT is hoe een man, wat by geboorte aangeneem is, sy lewe beskryf. Hy sê verder: “’n Mens het amper elke dag van jou lewe hierdie intense begeerte om antwoorde te kry op vrae soos: Wie is my regte familie? Waar woon hulle? Waarom het hulle my verwerp?”

Chantial, wie se pa aangeneem is, sê dat sy baie jammer is dat sy nie weet wie haar biologiese ouma en oupa is nie. Sy sê: “Dit voel asof ek ingedoen is, want ek het geen kontak met my ooms, tannies, neefs en niggies nie.” Nie alle aangenome kinders voel so nie. Maar party voel wel so. Waarom?

Oorsaak van woede

Wanneer ’n kind uitvind dat hy van sy biologiese gesin geskei is, kan dit tot groot emosionele verwarring lei. Catrina, wat op ’n vroeë ouderdom aangeneem is, sê: “Ek het ’n kort humeur gehad, want ek kon nie verstaan waarom my biologiese ma my laat aanneem het nie. Ek het gevoel dat my ma my verwerp het omdat ek lelik was en sy my nie kon liefhê nie. As sy my net ’n kans gegee het, weet ek dat ek haar trots op my kon maak. Elke keer as ek aan my biologiese ma gedink het, het ek net kwater geword.”

Daar was ook baie spanning tussen Catrina en haar aanneemouers. “Vir my het dit gevoel asof my aanneemouers my van my regte ma af weggeneem het,” sê sy. “Ek het dus my woede op hulle uitgehaal.” Ja, woede is soms mense se reaksie op die feit dat hulle aangeneem is.

Sulke woede kan gevaarlik wees. Soos Catrina se geval toon, gee jy dalk soms op die verkeerde manier uiting aan jou woede of haal jy dit dalk op die verkeerde mense uit. Die Bybel gee hierdie raad: “Laat staan die toorn en laat vaar die woede” (Psalm 37:8). Hoe kan jy dit doen? Wel, God se Woord sê ook: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn” (Spreuke 19:11). Insig in jou eie situasie kan help om jou woede te laat afneem. Hoe so?

Hoe om verkeerde veronderstellings reg te stel

Insig kan jou help om die veronderstellings te ondersoek wat jou woede laat opvlam. Veronderstel jy byvoorbeeld dat jou biologiese ouers jou weggegee het omdat daar iets verkeerd was met jou? Dit is hoe Catrina gevoel het. Maar is dit altyd die geval? Dit is dalk nie moontlik om vas te stel waarom jou ouers jou laat aanneem het nie, maar daar is goeie rede om sulke negatiewe veronderstellings te vermy. Dink net waarom ouers gewoonlik hulle kinders laat aanneem. Is dit nie dikwels omdat hulle voel dat hulle geen ander keuse het nie?

Kyk byvoorbeeld na Moses. Die Bybelverslag in Eksodus hoofstuk 2 sê vir ons dat Jogebed haar babaseuntjie, Moses, drie maande lank weggesteek het toe die Egiptiese Farao beveel het dat al die Israelitiese babaseuntjies doodgemaak moet word. Uiteindelik kon sy hom nie meer wegsteek nie, maar sy kon nie die gedagte verdra dat haar kind doodgemaak sou word nie. “Toe sy hom [dus] nie langer kon wegsteek nie, het sy vir hom ’n mandjie van papirus geneem en dit met asfalt en pik bestryk en die kind daarin gesit en dit tussen die riete aan die oewer van die Nylrivier gesit.”—Eksodus 2:3.

Dit was beslis nie vir haar maklik om haar kind daar te laat nie. Maar watter keuse het sy gehad? Haar liefde vir haar seun het haar beweeg om te doen wat sy gedink het die beste vir hom was. Dit is interessant dat haar dogter daar naby gestaan het totdat sy gesien het dat haar bababoetie gevind is en dus veilig was. Haar besorgde moeder het haar heel moontlik gevra om dit te doen.

Dit is natuurlik nie altyd ’n noodgeval wat tot aanneming lei nie, maar dit word dikwels om soortgelyke redes gedoen. Robert sê: “Ek was ’n buite-egtelike kind. Dit sou vir my ma baie moeilik gewees het om my groot te maak, aangesien daar reeds ander kinders in die gesin was. Sy het dalk geredeneer dat dit vir my eie beswil sou wees as sy my laat aanneem.”

Daar is weliswaar baie redes waarom moeders hulle kinders laat aanneem. Maar soos hierdie voorbeelde toon, is dit nie noodwendig omdat die moeder haar baba haat of die een of ander gebrek in haar kind sien nie. In baie gevalle dink die moeder werklik dat dit beter vir die kind sal wees as hy deur ’n ander gesin grootgemaak word.

Die waarde van liefde

Insig kan jou verder help as jy dink aan waarom jy aangeneem is. Dink weer aan die voorbeeld van Moses. Mettertyd “het die dogter van Farao hom geneem en hom as haar eie seun grootgemaak” (Handelinge 7:21). Waarom het Farao se dogter ’n kind beskerm wat sy geweet het een van die veroordeelde Hebreërs was? “Kyk, die seuntjie het gehuil,” sê die Bybel. “Daarop het sy medelye vir hom gevoel” (Eksodus 2:6). Ja, liefde was die rede waarom Moses aangeneem is, nie omdat hy gehaat of verwerp is nie.

Baie aangenome kinders besef dat hulle biologiese ouers hulle nie eenvoudig verwerp het nie—hoewel dit deesdae alte dikwels gebeur—maar hulle by ’n agentskap gelaat het om te verseker dat daar behoorlik na hulle omgesien sal word. En hulle is toe aangeneem omdat iemand hulle lief genoeg gehad het om vir hulle te sorg. Kan iets soortgelyks dalk van jou gesê word? As jy nadink oor die liefde wat jy ontvang het en dit waardeer, kan dit help om die pyn draagliker te maak.

Daarbenewens is daar dalk ander buiten jou aanneemgesin wat vir jou lief is. As jy deel van die Christengemeente is, kan jy die voordele daarvan geniet om talle geestelike moeders, vaders, susters en broers te hê wat vir jou lief is (Markus 10:29, 30). Christen- ouer manne kan “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees, soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land” (Jesaja 32:2). Moenie huiwer om na ryp mede-Christene te gaan en hulle in jou vertroue te neem nie. Sê vir hulle wat in jou hart is.

Robert voel dat dit belangrik is om sterk bande in die Christengemeente te ontwikkel. “Daar is nog steeds ’n leemte in my,” erken hy. “Maar die liefde van my geestelike familie dryf dit tot in ’n klein hoekie van my hart.”

Jy kan suksesvol wees

Stry dus teen valse en negatiewe denke. Dit sluit die beskouing in dat jy nooit suksesvol in die lewe sal wees nie omdat jy aangeneem is. Sulke negatiewe denke kan baie ontmoedigend wees! (Spreuke 24:10). Daar is buitendien nie grondige rede daarvoor nie.

Onthou dat Moses die geleenthede wat hy gehad het, ten volle benut het. Die Bybel sê: “Gevolglik is Moses in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig. Trouens, hy was kragtig in sy woorde en dade” (Handelinge 7:22). Wat selfs belangriker is, is dat Moses geestelike onderrigting aangeneem het—in so ’n mate dat daar geen twyfel by hom bestaan het dat sy hemelse Vader, Jehovah, ’n werklike persoon is nie (Hebreërs 11:27). Was hy suksesvol?

Wel, Moses het later die leier van ’n magtige nasie van omtrent driemiljoen of meer geword. Hy was ’n profeet, regter, bevelvoerder, geskiedskrywer, middelaar van die Wetsverbond en die skrywer van die eerste vyf boeke van die Bybel. Daar word oor die algemeen ook erken dat hy die skrywer van die boek Job en Psalm 90 was. Ja, Moses het ’n baie suksesvolle lewe gehad. Baie ander aangenome kinders is ook suksesvol, en jy kan ook wees.

Robert het twee kinders suksesvol grootgemaak en dien tans as ’n ouer man in die Christengemeente. Wanneer hy terugdink aan sy jare as ’n aangenome kind, sê hy: “Ek het geleer om nie oor dinge te tob waaraan ek niks kan doen nie, maar om dankbaar te wees vir die seëninge wat ek wel geniet.”

As jy tans in ’n pleeghuis woon of as jy deur ’n gesin aangeneem is, sal negatiewe gedagtes dalk van tyd tot tyd by jou opkom. Maar probeer eerder aan positiewe dinge dink. Filippense 4:8, 9 belowe dat ‘die God van vrede met julle sal wees’ as julle ‘aanhou om die dinge te bedink’ wat vir God aanneemlik is. Maar watter ander praktiese stappe kan jy neem wat jou sal help om suksesvol te wees terwyl jy by jou aanneemgesin woon? ’n Toekomstige artikel in hierdie reeks sal daardie vraag beantwoord.

[Prente op bladsy 26]

Die feit dat jy aangeneem is, is ’n bewys dat iemand jou lief genoeg gehad het om jou in te neem en vir jou te sorg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel