Jehovah se naam op die eilande van die Stille Oseaan
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FIDJI
DIE skare was heeltemal verstom. Die nuwelinge op hulle eiland in die Stille Oseaan het hulle oë toegemaak voordat hulle die fees geëet het wat vir hulle voorberei is. “Wat doen julle?” het die eilandbewoners gevra.
“Ons dank God vir die kos”, was die antwoord.
“Waar woon julle God?” wou die eilandbewoners weet.
“In die hemel”, is daar vir hulle gesê.
“Wat is Sy naam?”
“Jehovah.”
“Eet julle God kos?” het die eilandbewoners gevra.
“God is ’n gees”, het die nuwelinge geantwoord. “Hy is nie soos ons nie; Hy lewe vir ewig. Dit is Hy wat die aarde, die hemel, die see en alle dinge gemaak het. Hy het ons gemaak.”
Die eilandbewoners was verstom oor hierdie eenvoudige waarhede en het gevra waarom hierdie vreemdelinge na hulle eiland gekom het. Die antwoord was eenvoudig: “Ons kom om die ware God Jehovah en Sy Seun Jesus ons Redder aan julle bekend te maak.”—From Darkness to Light in Polynesia.
Wie was hierdie vreemdelinge? Hedendaagse Getuies van Jehovah? Nee. Hulle was twee Tahitiaanse onderwysers, evangeliste, wat op 15 Junie 1824 by die eiland Mangaia (in die suidelike Cook-eilande) aangekom het. Waarom het hulle die naam Jehovah gebruik? Was dit ’n unieke voorval? Die antwoord op hierdie vrae verklaar waarom Jehovah se naam nog steeds baie belangrik is in die kultuur van talle eilande van die Stille Oseaan.
God se naam word algemeen gebruik
Baie sendelinge wat in die 19de eeu uit Engeland en Amerika na die eilande van die Stille Oseaan gekom het, het die naam Jehovah in hulle daaglikse gesprekke gebruik sowel as wanneer hulle geskryf het. Trouens, een geskiedkundige het selfs verkeerdelik beweer dat hierdie vroeë sendelinge “navolgers van Jehovah eerder as dissipels van Christus was”.
Persoonlike briewe van hierdie sendelinge het dikwels begin met ’n uitdrukking soos: “Mag jy gered word deur God, ja, Ons Heer Jehovah en deur Jesus Christus die koning van vrede.” Dit is dus nie verbasend nie dat Albert J. Schütz, ’n welbekende taalkundige, sê dat ’n leesboekie wat in 1825 in Fidji uitgegee is, slegs een woord bevat wat uit Engels afkomstig is. Dit is die naam Jehova.
Hierdie gebruik van Jehovah se naam deur die vroeë sendelinge het ’n diepgaande uitwerking op die eilandbewoners van die Stille Oseaan gehad. Party van dié wat onderrig is, is op hulle beurt as sendelinge, of onderwysers, uitgestuur om hulle boodskap na ander eilande te neem. Die boek The Covenant Makers—Islander Missionaries in the Pacific sê die volgende oor die bogenoemde aankoms van die twee Tahitiaanse sendelinge op die eiland Mangaia: “Vir die Tahitiaanse onderwysers was Jehovah die enigste ware God. Hy het die hele aarde geskep en die mens was ’n deel van God se skepping. . . . [Hulle] het gesê dat Jehovah die enigste ware God is en dat Sy Seun Jesus Christus die Redder van die mensdom is.”
Terwyl hulle die Bybel se boodskap na verskeie eilande geneem het, het party vroeë sendelinge ongelooflike gevare teëgekom, aangesien inwoners partykeer gewelddadig was. Die boek Mission, Church, and Sect in Oceania beskryf die probleme waarmee hulle te kampe gehad het en sê: “Sterk geloof in Jehovah het dikwels vrees en wanhoop oorkom.”
In 1823 was daar ’n merkwaardige voorbeeld van sulke geloof in Jehovah toe die Bybel se boodskap die eiland Rarotonga, in die Cook-eilande, bereik het. Die sendeling-seevaarder John Williams het daar aangekom en twee egpare aan wal laat gaan om die Rarotongane te leer. Maar ná ’n meningsverskil met ’n besope koning is hierdie sendelinge erg geslaan. Al hulle besittings is gesteel en hulle het net met hulle lewe daarvan afgekom.
Toe hulle weer op die skip was, het die sendelinge die Rarotongane as die wreedste barbare beskryf wat hulle nog teëgekom het. Williams het die ergste gevrees en het besluit om die eiland, ten minste ’n ruk lank, te verlaat. Daarop het ’n jong onderwyser met die naam Papeiha hom vrywillig aangebied om alleen op die eiland te gaan preek. “Hetsy die barbare my spaar of doodmaak”, het hy gesê, “ek sal na hulle toe gaan.”
Papeiha het toe iets gesê wat dikwels in verslae oor vroeë sendingwerk aangehaal word: “Ko Jehova toku tiaki! Tei roto au i tona rima! (Jehovah is my herder! Ek is in Sy hand!)” Toe het hy, met net ligte klere en ’n boek wat Skrifgedeeltes in Tahitiaans bevat het, oorboord gespring en strand toe geswem. Hy het nie net oorleef nie, maar nadat hy op die eiland aangekom het, het talle gunstig op die dinge gereageer wat hy hulle geleer het.
Een Rarotongaan, More Ta’unga, het later self ’n sendeling geword. In 1842 het hy die eerste sendeling geword wat ’n sendinghuis op die eiland Nieu-Kaledonië gestig het. Hy het in sy dagboek aangaande ’n plaaslike man wat hy persoonlik leer lees en skryf het, gesê: “Hy het hierdie dinge stadig aangeleer. Kort daarna het hy vir my gesê: ‘Ek wil bid.’ Maar ek het vir hom gesê om nie so haastig te wees nie. Later het hy weer gevra: ‘Kan ek nie bid nie?’ Daarna het hy my gevra waarom ek hom nie wil toelaat om te bid nie, en ek het toe gesê: ‘Jy moet eers van jou afgode afstand doen, en dan kan jy tot Jehovah bid. Hy alleen kan jou gebede verhoor.’ Hy het dus sy gode in ’n mandjie gebring en gesê: ‘Verbrand hulle. Nou sal Jehovah my God wees.’ Hy het geleer om op die regte manier te bid.”
Eilandbewoners van die Stille Oseaan aanvaar Jehovah
Omdat die sendelinge God se naam vryelik gebruik het, is dit nie verbasend dat diegene vir wie hulle gepreek het, Jehovah as hulle God begin aanvaar het nie. Die boek Missionary Adventures in the South Pacific beskryf ’n groot vergadering wat op ’n eiland in die noordelike Stille Oseaan gehou is ná die aankoms van die sendingskip Morning Star. Die boek sê dat die eilandbewoners deur “die opsteek van hande gestem het dat hulle afgodediens sou verlaat en Jehovah sou aanbid, en die meeste van hulle het albei hande opgesteek en dit ’n lang ruk in die lug gehou vir beklemtoning. Daarbenewens sou hulle in die behoeftes van die sendelinge voorsien. ’n Stuk grond is opsygesit en aan Jehovah toegewy vir ’n kerk en ’n pastorie.”
In ’n beskrywing van die bekering van Malietoa, ’n hoofman in Samoa, sê die boek Wiliamu—Mariner-Missionary—The Story of John Williams: “Malietoa het ’n lang toespraak voor sy volk gehou en in die openbaar belowe om ’n aanbidder van Jehovah te word en ’n kerk vir Sy aanbidding te bou. Hy het diegene wat op die eiland sou agterbly, beveel om oor Jehovah en Jesus Christus te begin leer.”
Al hierdie bedrywighede het ’n blywende invloed op die lewe van talle eilandgemeenskappe in die Stille Oseaan gehad. Selfs vandag is dit nie ongewoon om in lande soos Fidji en Samoa Jehovah se naam op die radio te hoor of dit in die plaaslike koerante te sien nie.
Maar die invloed eindig nie daar nie. In haar boek Treasure Islands, wat in 1977 vir die eerste keer uitgegee is, beskryf Pearl Binder die belangrikheid van Jehovah se naam vir die Banabane. Hierdie mense het oorspronklik op Kiribati gewoon maar is later hervestig op die eiland Rabi, in Fidji. Binder skryf: “Die sendelinge wat na Banaba gekom het, het die Banabane meer gegee as wat hulle besef het. . . . Deur sewentig jaar van al hoe erger verdrukkinge was hulle geloof in Jehovah die middelpunt van hulle lewe en het dit hulle bymekaar gehou soos niks anders kon nie, en dit hou hulle vandag nog geestelik aan die lewe. Sonder die witman se Jehovah (wat al hoe meer deur die witman verontagsaam word) sou die Banabane verlore gewees het.”
God se naam in Bybelvertalings
Een van die vroeë sendelinge se hoofdoele was om verstaanbare vertalings van die Bybel in die tale van die Stille Oseaan-eilande te maak. Weens hulle ywerige pogings het die Bybel beskikbaar geword in baie van die tale wat dwarsdeur die eilande van die Stille Oseaan gepraat word. Dit was vir hierdie vertalers logies om Jehovah se naam te translitereer, net soos hulle alle ander name in die Bybel getranslitereer het.
Dit is vir die ernstige Bybelstudent van belang dat hierdie vroeë vertalers Jehovah se naam nie net in hulle vertalings van die Hebreeuse Geskrifte gebruik het nie, maar ook in die Christelike Griekse Geskrifte, die sogenaamde Nuwe Testament. ’n Opname van sewe tale wat op eilande van die Stille Oseaan gepraat word, toon dat Jehovah se naam in 72 afsonderlike verse in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word. Hierdie vertalings is nie net in die 19de eeu gemaak nie. Dit sluit ook ’n moderne Rotumaanse vertaling in wat in 1999 uitgegee is. Hierdie Bybel gebruik Jehovah se naam in 48 verse in die Christelike Griekse Geskrifte.
Aan die einde van die 19de eeu het William Wyatt Gill, ’n sendeling wat jare lank in die Stille Oseaan gedien het, aangaande een van hierdie vroeë vertalings geskryf: “Aangesien ek die Rarotongaanse Bybel al twee-en-veertig jaar lank gebruik, sal ek seker verskoon word as ek sê dat ek dit as ’n uitstekende weergawe van die oorspronklike beskou. . . . Soos in al die ander vertalings van die Stille Oseaan en Nieu-Guinee is die heilige naam ‘Jehovah’ getranslitereer, nooit vertaal nie, wat dus die skerp kontras verder beklemtoon tussen die God wat vir ewig lewe en die voorwerpe wat deur die heidene aanbid word.”
Waarom hulle God se naam gebruik het
Waarom het hierdie sendelinge, Bybelvertalers en onderwysers God se persoonlike naam, Jehovah, so algemeen gebruik? Omdat hulle dit veral nodig gevind het om te onderskei tussen Jehovah, die enigste ware God, en die menigte valse gode wat die eilandbewoners aanbid het (Johannes 17:3; 1 Korintiërs 8:5, 6). Elkeen van hierdie gode het ’n naam gehad, en dit was maar net natuurlik vir hulle aanbidders om te vra: “Wie is julle God? Wat is sy naam?” As hulle die plaaslike term vir “god” gebruik het, sou dit verwarring veroorsaak het onder diegene wat gevra het of sou dit miskien daartoe gelei het dat hulle dink die Almagtige net nog ’n god is wat hulle tot hulle godedom kon voeg. Dit behoort ons dus nie te verbaas dat hierdie vroeë sendelinge Jehovah se naam so baie gebruik het nie.
Beteken dit dat almal wat die naam Jehovah gebruik werklik verstaan wie hy is? Nee. Die sendeling en vertaler Hiram Bingham, seun van die bekende Hawaiïese sendeling met dieselfde naam, het vir die bewoners van Abiang (in Kiribati) getuig en terwyl hulle hulle afgod vernietig het, het hy uitgeroep: “Daar is net een God—Jehovah.” Maar Missionary Adventures in the South Pacific sê omtrent hierdie voorval:
“Bingham het egter geweet dat die vernietiging van daardie afgod nie beteken het dat die mense werklik die Christelike geloof aanneem nie—ten minste nie toe al nie. Hulle het nog nie veel van die ware betekenis van die evangelieboodskap begryp nie, maar daar was vordering.” Dit is duidelik dat meer nodig is as om net die naam Jehovah te ken. Ware Christene moet Jehovah as ’n persoon leer ken en hom in elke opsig gehoorsaam.—Romeine 10:13-17.
Selfs die getroue man Moses, wat Jehovah se naam geken en gebruik het, moes meer omtrent hom leer. Hy het gebid: “Nou, asseblief, as ek guns in u oë gevind het, maak dan asseblief u weë aan my bekend, dat ek u kan ken, sodat ek guns in u oë kan vind” (Eksodus 33:13). Ja, Moses wou meer as net Jehovah se naam ken. Hy wou van Jehovah se eienskappe weet en leer hoe om hom te behaag. Weens hierdie versoek is Moses ’n wonderlike voorreg gegun, naamlik dat Jehovah aan hom verskyn het en die betekenis van sy naam bekend gemaak het.—Eksodus 33:19; 34:5-7.
So ook vandag gebruik duisende Getuies van Jehovah dwarsdeur die eilande van die Stille Oseaan die Bybels wat oorspronklik deur die vroeë sendelinge vertaal is om opregtes van hart te help om nie net die betekenis van Jehovah se naam te verstaan nie, maar ook wat hy vereis van diegene wat hom “met gees en waarheid” wil aanbid (Johannes 4:23, 24). Ja, Jehovah se naam word op “die eilande van die see” verheerlik. Etlike duisende mense hoop dus op sy luisterryke naam.—Jesaja 24:15; 42:12; 51:5; Spreuke 18:10.
[Prent op bladsy 12]
Eilandbewoners van die Stille Oseaan wat God se naam by vroeë sendelinge van die Christendom geleer het, het dit aan ander bekend gemaak
[Erkenning]
Palmboom en foto links: From the book Gems From the Coral Islands
[Prent op bladsy 13]
John Williams
[Erkenning]
Culver Pictures
[Prent op bladsy 13]
Papeiha
[Erkenning]
Courtesy Institute of Pacific Studies, from Mission Life in the Islands of the Pacific, by Aaron Buzacott
[Prent op bladsy 15]
Jehovah se Getuies maak God se naam oor die hele wêreld bekend