Grafkelders—Werp lig op antieke opvattings
STEL jou voor jy lewe duisende jare gelede. Jy is in Ur, ’n florerende koninklike stad in Sumerië, Babilonië. ’n Groot optog van Sumeriërs het die stad verlaat, die begraafplaas binnegegaan en loop nou teen ’n skuinste af tot in die grafkelder van ’n heerser wat kort tevore gesterf het. Die mure en vloer van die grafkelder is bedek met matte, en die vertrek is versier met pragtige Sumeriese kunswerke. Musikante vergesel die soldate, diensknegte en vroue tot in die grafkelder. Almal is sierlik geklee. Offisiere dra met trots die teken van hulle rang. In hierdie kleurryke menigte is bemande strydwaens wat deur osse of esels getrek word, met stalknegte wat langs die diere loop. Almal neem hulle plekke in, en ’n godsdiensseremonie met musiekbegeleiding volg.
Wanneer die godsdiensverrigtinge ten einde loop, neem elkeen—van musikant tot dienskneg—die klein klei-, klip- of metaalbeker wat hy of sy vir die geleentheid saamgebring het, doop dit in ’n koperpot en drink ’n spesiaal voorbereide drankie. Daarna gaan lê almal op ordelike wyse, maak hulle hulle gemaklik, raak aan die slaap en sterf. Iemand slag vinnig die diere. Werkers vul die skag op en verseël die grafkelder. Die Sumeriërs glo dat hulle god-koning nou in al sy glorie die hiernamaals inry in die strydwa wat saam met hom begrawe is, gevolg deur sy lojale diensknegte en indrukwekkende erewag.
Terwyl die argeoloog sir Leonard Woolley in Suid-Irak gewerk het, het hy 16 koninklike grafkelders soos die een wat hierbo beskryf is, in die begraafplaas van eertydse Ur opgegrawe. Dit was ’n grusame maar merkwaardige vonds. “Die rykdom in hierdie grafkelders, wat ongeëwenaard is in Mesopotamiese argeologie, het van die beroemdste Sumeriese kunswerke ingesluit wat nou in die Britse Museum en die Museum van die Universiteit van Pennsilvanië uitgestal word”, sê Paul Bahn in sy boek Tombs, Graves and Mummies.
Die grafkelders van eertydse Ur is egter allesbehalwe uniek, selfs nie wat die makabere aspek van mense- en diereoffers betref nie. In talle antieke beskawings het die adelstand en die koninklikes op groot skaal—en soms met groot wreedheid—in hulle dood en die hiernamaals belê. Hulle grafkelders was met pragtige kunswerke en skatte gevul en was dikwels net so weelderig soos die paleise van die lewendes. Maar deesdae werp hierdie grafkelders, sowel as talle ander meer beskeie grafte, lig op die opvattings, kultuur en kuns- en tegnologiese vaardighede van antieke volke en langvergete beskawings.
Hulle het in glorie vergaan, maar nie alleen nie
In 1974 het kleinboere naby die stad Xi’an, in China, ’n put gegrawe. Maar in plaas van water het hulle fragmente van kleibeelde, bronskruisboogmeganismes en pylpunte gekry. Sonder om dit te besef, het hulle op die 2 100 jaar oue Tsjin-terracottaleër afgekom, wat bestaan uit meer as 7 000 groter as lewensgroot kleisoldate en -perde—almal in militêre formasie! Die Tsjin-terracottaleër is deel van die grootste keiserlike grafkelder in China en is vernoem na Tsjin Sje Hwang-ti, die keiser wat China se strydende state in 221 v.G.J. verenig het.
Tsjin se praalgraf kan beskryf word as ’n ondergrondse paleis. Maar waarom is hy saam met ’n terracottaleër begrawe? In sy boek The Qin Terracotta Army verduidelik Zhang Wenli dat Tsjin se “praalgraf ’n voorstelling van die Qin-ryk is, [en dit was] bedoel om Qin Shi Huangdi [Tsjin Sje Hwang-ti] ná sy dood al die glorie en mag te gee wat hy in die lewe geniet het”. Die grafkelder is nou deel van ’n reusagtige museum wat uit 400 satellietgrafkelders en ondergrondse vertrekke bestaan.
Om die grafkelder te bou, “is meer as 700 000 mans van regoor die ryk opgeroep”, sê Zhang. Werk het tot ná Tsjin se dood in 210 v.G.J. voortgegaan en het altesaam 38 jaar geduur. Maar Tsjin se gevolg was nie almal van terracotta nie. Sy opvolger het beveel dat Tsjin se kinderlose byvroue saam met hom begrawe word, wat tot die dood van ’n “baie groot” aantal mense gelei het, sê geskiedkundiges. Sulke gebruike was allesbehalwe uniek.
Die ruïnes van die eertydse stad Teotihuacán is noordoos van Mexikostad geleë. Hierdie stad het ’n straat gehad wat die Straat van die Dooies genoem is. “In hierdie straat”, skryf Bahn, wat vroeër aangehaal is, “is van die indrukwekkendste argitektoniese monumente ter wêreld.” Dit sluit in die Piramide van die Son en die Piramide van die Maan, wat albei gedurende die eerste eeu G.J. gebou is, sowel as die ruïnes van die Tempel van Quetzalcoatl.
Die binnekant van die Piramide van die Son was blykbaar ’n grafkelder vir hooggeplaastes, wat moontlik priesters ingesluit het. Menslike oorskot wat in massagrafte daar naby gevind is, toon dat soldate dalk geoffer is om diegene binne-in die piramide te beskerm. Die kenmerkende patroon van die grafte het argeoloë tot die slotsom laat kom dat die terrein die oorskot van ongeveer 200 mense bevat, insluitende kinders wat moontlik geoffer is as deel van die inwydingsprogram van die monumente.
Te perd of per boot die hiernamaals in
Die Vikings, seevarende krygers van Skandinawië wat Europa ongeveer 1 000 jaar gelede geterroriseer het, het ook gehoop dat hulle die allerbeste van ’n goeie aardse lewe selfs ná hulle dood sou kon geniet. Hulle dooies, het hulle geglo, het te perd of per boot die hiernamaals ingegaan. Daarom kan Vikingbegraafplase enigiets bevat van die geraamtes van perde tot die verrottende hout van bote. In A History of the Vikings skryf Gwyn Jones: “Die dooie man of vrou is alles gegee wat die hiernamaals so gemaklik en eervol kon maak as wat dit vir hulle op aarde was . . . Die skip wat by Ladby in Denemarke [begrawe] is, . . . het sy anker aan boord gehad, gereed om aan die einde van sy heer se tog gesak te word.”
Die Vikings was ’n strydlustige volk wat geglo het dat hulle, as hulle in ’n geveg sou sterf, na die tuiste van die gode sou gaan—’n plek wat Asgard genoem is. “Daar kon hulle heeldag veg en heelnag eet”, sê die World Book Encyclopedia. Vikingbegrafnisse het ook menseoffers ingesluit. “Wanneer ’n owerste sterf, word slawe en diensknegte gevra wie van hulle bereid is om saam met hom te sterf”, sê die boek The Vikings.
Die eertydse Kelte van Noord-Europa het selfs geglo dat skuld oorgedra kon word in die hiernamaals in—dalk ’n slim verskoning om iemand nie te betaal nie! In Mesopotamië is speelgoed saam met kinders begrawe. In dele van eertydse Brittanje is kositems soos lamsboud saam met soldate begrawe sodat hulle nie honger sou wees wanneer hulle hulle lang reis na hulle volgende lewe aanpak nie. In Sentraal-Amerika is voorwerpe van niersteen—’n groen edelsteen wat gekondenseerde vloeistof en asem voorgestel het—saam met Maja-koninklikes begrawe. Dit was dalk bedoel om lewe ná die dood te verseker.
Ná 1000 v.G.J. het die Trasiërs—’n gevreesde volk, maar ook een wat bekend was vir hulle pragtige goudwerk—in ’n streek gewoon wat vandag deel vorm van Bulgarye, Noord-Griekeland en Turkye. Trasiese grafkelders openbaar dat hulle owerstes in glorie saam met strydwaens, perde, goeie wapenrusting en, ja, ook hulle vrouens begrawe is. Trouens, ’n Trasiese vrou het dit as ’n eer beskou om geoffer en langs haar man begrawe te word!
Die Skitiërs het ’n bietjie later gelewe en het nie ver daarvandaan nie—net noord van die Swart See—gewoon. Hierdie oorlogsugtige volk het uit bekers gedrink wat van die skedels van hulle slagoffers gemaak is, en hulle het mantels gedra wat van hulle slagoffers se kopvelle gemaak is. In een Skitiese grafkelder is die geraamte van ’n vrou gevind wat ’n voorraad dagga langs haar gehad het. Drie klein gaatjies was in haar skedel geboor, dalk om swelling en die gevolglike pyn te verlig. Die dagga is moontlik langs haar neergesit sodat sy iets sou hê om haar hoofpyn in die hiernamaals te verlig.
Die Egiptiese hiernamaals
Egipte se piramides naby Kaïro en die grafkelders in die Vallei van die Konings naby Luxor is van die beroemdste van alle antieke grafte. Die vroeë Egiptenare het dieselfde woord gebruik vir “graf” en “huis”—per. “Mense het dus ’n huis gehad terwyl hulle gelewe het en ’n huis ná hulle dood”, sê Christine El Mahdy in haar boek Mummies, Myth and Magic in Ancient Egypt. Sy sê ook dat “die oorlewing van die liggaam, volgens [Egiptiese] opvattings, noodsaaklik was vir die oorlewing van die ander aspekte van hulle wese: die ka, die ba en die akh”.
Die ka was ’n geestelike kopie van die fisiese liggaam en het dieselfde verwagtinge, begeertes en behoeftes gehad. Ná die dood het die ka die liggaam verlaat en die grafkelder bewoon. Omdat die ka alles nodig gehad het wat die persoon gedurende sy lewe nodig gehad het, “was die items wat in die grafkelder geplaas is, hoofsaaklik bedoel om in sy behoeftes te voorsien”, skryf El Mahdy. Die ba kon vergelyk word met ’n persoon se karakter of persoonlikheid en is uitgebeeld as ’n voël met die kop van ’n mens. Die ba het by geboorte die liggaam ingegaan en by die dood dit weer verlaat. Die derde entiteit, die akh, het uit die mummie gekom wanneer towerspreuke daaroor gespreek is.a Die akh het in die goderyk gewoon.
Deur die mens in drie entiteite te verdeel, het die Egiptenare een stap verder gegaan as die eertydse Griekse filosowe wat mense in twee entiteite verdeel het—die liggaam en die bewuste “siel”. Hierdie konsep is nog steeds ’n gewilde leerstelling, maar dit word nie deur die Bybel ondersteun nie, wat sê: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.”—Prediker 9:5.
Waarom die obsessie met die dood?
In sy boek Prehistoric Religion skryf E. O. James: “Van al die . . . situasies waarvoor die mens te staan kom, is die dood die verontrustendste en verpletterendste . . . Dit is dus nie verbasend nie dat die dodekultus so ’n vername plek ingeneem het en ’n noodsaaklike rol in die mensegemeenskap gespeel het sedert sy eerste verskyning.”
Die oudste boek wat ware wysheid bevat, die Bybel, noem die dood ’n vyand van mense (1 Korintiërs 15:26). Hoe gepas is dit tog! Elke stam en beskawing het die idee hewig teëgestaan dat die dood die absolute einde is. Aan die ander kant gee die Bybel, in Genesis 3:19, ’n akkurate beskrywing van wat alle grafte bewys: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” Maar die Bybel gebruik ook die term “gedenkgraf” in verband met talle dooie mense. Waarom? Want baie van dié in die graf, selfs dié wat heeltemal ontbind is, is in God se geheue, en hulle wag op die gelukkige tyd wanneer God hulle sal opwek en die geleentheid sal gee om die ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet.—Lukas 23:43; Johannes 5:28, 29.
Intussen is die dooies in ’n toestand van onbewustheid. Jesus het dit vergelyk met slaap (Johannes 11:11-14). In hierdie toestand het mense nie items of diensknegte nodig nie. Trouens, dié wat voordeel trek uit sulke skatte, is alte dikwels nie die dooies nie, maar die lewendes—grafrowers! In ooreenstemming met die Bybellering oor die toestand van die dooies sê die Bybel: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie” (1 Timoteus 6:7). Hoe dankbaar is Christene tog vir hierdie waarheid wat hulle “vrymaak” van die wreedaardige en barbaarse gebruike van antieke—en soms selfs hedendaagse—dodekultusse!—Johannes 8:32.
Die spoggerige grafkelders van antieke beskawings is egter nie heeltemal nutteloos nie. Sonder die talle artefakte en selfs die oorskot wat in die grafkelders gevind is, sou ons kennis van die verre verlede en party langvergete beskawings baie beperk gewees het.
[Voetnoot]
a Die term “mummie” kom van die Arabiese moemmija, wat “bitumen” of “pik” beteken. Die term is oorspronklik gegee aan lyke wat met harpuis gebalsem is, weens die swart kleur daarvan. Dit word nou gebruik in verband met enige gepreserveerde liggaam—mens of dier—ongeag of die preservering toevallig of doelbewus is.
[Venster/Prent op bladsy 24]
Hoe gesond was die antieke volke?
Deur ’n ondersoek te maak van die oorskot—veral die gemummifiseerde oorskot van lyke wat in grafkelders begrawe is en dié wat natuurlik gemummifiseer het in vleigrond, warm woestynsand, ys en sneeu—het wetenskaplikes baie geleer oor die gesondheid van ons voorouers. In die besonder het vooruitgang op die gebied van die genetika wetenskaplikes kragtige nuwe middele gegee om allerhande dinge vas te stel—van die familieverhoudings van die Faraos en hulle koninginne tot die bloedgroep van Inkameisies. Hierdie studies het aan die lig gebring dat mense van die ou tyd aan baie van dieselfde gesondheidsprobleme gely het as wat ons vandag ondervind, insluitende artritis en vratte.
Veral die eertydse Egiptenare het blykbaar baie siektes gehad, grootliks weens die menigte parasiete—van bloedwurms tot guineewurms en lintwurms—wat in die Nylrivier en besproeiingskanale voorgekom het. Dit laat ’n mens dink aan God se woorde aan Israel kort ná die nasie se verlossing uit Egipte in 1513 v.G.J.: “Wat al die bose kwale van Egipte betref wat jy geken het, hy [Jehovah] sal dit nie oor jou laat kom nie.”—Deuteronomium 7:15.
[Erkenning]
© R Sheridan/ANCIENT ART & ARCHITECTURE COLLECTION LTD
[Prent op bladsy 20]
Sumeriese hooftooisel en juweliersware van ’n diensmeisie wat in ’n koninklike graf in Ur begrawe is
[Erkenning]
© The British Museum
[Prente op bladsy 21]
Tsjin-terracottaleër—elke soldaat is gemaak met unieke gelaatstrekke
[Erkennings]
Inlasfoto: Erich Lessing/Art Resource, NY; © Joe Carini / Index Stock Imagery
[Prent op bladsy 23]
Die Piramide van die Son en die Straat van die Dooies in Teotihuacán, Mexiko
[Erkenning]
Bo: © Philip Baird www.anthroarcheart.org; skildery: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prente op bladsy 23]
Links: Grafmasker van soliede goud van die Egiptiese koning Toetankamen; onder: Grafskildery wat die “ba” as ’n voël met die kop van ’n mens uitbeeld