Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/06 bl. 21-23
  • Michael Agricola—’n Man wat ’n nuwe era ingelui het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Michael Agricola—’n Man wat ’n nuwe era ingelui het
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die godsdiens en politiek van sy tyd
  • ‘Moeilike en veeleisende’ werk
  • Die Woord van God vir die inheemse mense
  • Agricola se nalatenskap
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2006
  • Finse gasvryheid
    Ontwaak!—1991
  • ’n Koninkryksaal ontvang ’n medalje
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Vasbeslote om Jehovah te dien
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 1/06 bl. 21-23

Michael Agricola—’n Man wat ’n nuwe era ingelui het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND

“Geen ander boek het ’n groter en verreikender invloed op die Finse kultuur, waardes en denke gehad as die Bybel nie.”—“Biblia 350—The Finnish Bible and Culture.”

HET jy toegang tot die Bybel in jou moedertaal? Heel moontlik. Die Bybel is immers—in sy geheel of gedeeltelik—in meer as 2 000 tale beskikbaar. En dit het nie sommer net gebeur nie. Deur die geskiedenis heen het talle mans en vroue hulle ingespan om die Bybel ondanks groot struikelblokke in die volkstaal te vertaal. Michael Agricola was een van hulle.

Agricola was die geleerde wat die taak aangepak het om die Bybel in Fins te vertaal. Sy versameling letterkundige werke het gehelp om die Finse kultuur tot stand te bring soos ons dit vandag ken. Dit is geen wonder nie dat hy bekend staan as ’n man wat ’n nuwe era ingelui het!

Agricola is omstreeks 1510 in die dorpie Torsby in Suid-Finland gebore. Sy pa het ’n plaas besit, en dit verklaar waarom hy die van Agricola gehad het, wat van die Latynse woord vir “boer” afkomstig is. Omdat Agricola in ’n tweetalige streek grootgeword het, het hy heel waarskynlik Sweeds sowel as Fins gepraat. Hy het nog ’n taal geleer terwyl hy ’n leerling by ’n Latynse skool in die dorp Vyborg was. Later het hy na Turku getrek, wat destyds Finland se administratiewe sentrum was, waar hy as die sekretaris van Martti Skytte, Finland se Katolieke biskop, gedien het.

Die godsdiens en politiek van sy tyd

Gedurende hierdie tydperk van Agricola se lewe was Skandinawië in oproer. Swede wou wegbreek van die Kalmar-unie, wat uit die Skandinawiese lande bestaan het. In 1523 is Gustav I as koning van Swede gekroon. Dit het verreikende gevolge vir Finland gehad, wat destyds ’n provinsie onder Sweedse bewind was.

Die nuwe koning was vasbeslote om sy mag te bevestig. Om sy doelwitte te bereik, het hy die Hervorming ondersteun, wat vinnig deur Noord-Europa versprei het. Deur die godsdiens van sy ryk van Katolisisme na Lutheranisme te verander, het hy bande met die Vatikaan verbreek, die gesag van die Katolieke biskoppe ondermyn en die rykdom van die kerk ingepalm. Tot vandag toe is die grootste deel van die bevolking van Swede sowel as Finland Lutherane.

’n Belangrike doelwit van Protestantisme was om kerkdienste in omgangstale te hou, nie in Latyn nie. Die Christelike Griekse Geskrifte, of die “Nuwe Testament”, het dus in 1526 in Sweeds verskyn. Maar in Finland was die invloed van Protestantisme aansienlik swakker. Destyds het min mense daarin belanggestel om die Bybel in Fins te vertaal. Waarom?

‘Moeilike en veeleisende’ werk

’n Vername rede was dat daar feitlik geen lektuur in Fins beskikbaar was nie. Voor die middel van die sestiende eeu is slegs ’n paar Katolieke gebede in daardie taal opgeteken. Die taak om die Heilige Skrif in Fins te vertaal, het dus vereis dat ’n geskrewe vorm vir baie woorde geskep moes word en ook dat heeltemal nuwe woorde en frases uitgedink moes word. En dit moes sonder die hulp van taalhandboeke gedoen word. Tog het Agricola die Bybel begin vertaal!

In 1536 het Skytte, Finland se Katolieke biskop, Agricola na Wittenberg, Duitsland, gestuur om sy studies in teologie en tale voort te sit. In hierdie dorp het die slae van Luther se hamer volgens berig 20 jaar vroeër weergalm toe Luther, volgens party verslae, sy beroemde 95 stellings aan die deur van die slotkerk vasgespyker het.

Terwyl Agricola in Wittenberg was, het hy meer as net sy huiswerk gedoen. Hy het met die ontsaglike taak begin om die Bybel in Fins te vertaal. In 1537 het hy in ’n brief aan die Sweedse koning geskryf: “Terwyl God my studies rig, sal ek, soos ek vroeër onderneem het, steeds probeer aanhou om die Nuwe Testament in die taal van die Finse volk te vertaal.” Toe hy na Finland teruggekeer het, het hy sy vertaalwerk voortgesit en terselfdertyd as ’n skoolhoof gedien.

Dit was vir Agricola net so moeilik om die Bybel te vertaal as wat dit vir ander vroeë Bybelvertalers was. Selfs Luther het gesê: “Hoe moeilik en veeleisend is dit tog om Hebreeuse skrywers te dwing om Duits te praat”! Agricola kon weliswaar van die vertalings van ander gebruik maak, maar die grootste struikelblok waarvoor hy te staan gekom het, was die Finse taal. Dit was feitlik nooit voorheen op skrif gestel nie!

Dit was dus asof Agricola ’n huis moes bou sonder ’n bouplan en met skaars boumateriaal wat oor ’n groot gebied versprei was. Hoe het hy dit reggekry? Agricola het begin deur woorde van verskillende Finse dialekte uit te kies en dit neer te skryf soos dit uitgespreek is. Agricola was waarskynlik die eerste een wat Finse woorde vir “regering”, “huigelaar”, “manuskrip”, “leërmag”, “voorbeeld” en “skrifgeleerde” uitgedink het. Hy het samestellings gemaak, afgeleide woorde geskep en woorde aan ander tale ontleen, veral aan Sweeds. Hierdie woorde is onder meer enkeli (engel), historia (geskiedenis), lamppu (lamp), marttyyri (martelaar) en palmu (palmboom).

Die Woord van God vir die inheemse mense

Uiteindelik, in 1548, is die eerste deel van Agricola se vertaling gepubliseer, naamlik Se Wsi Testamenti (Die Nuwe Testament). Sommige glo dat hierdie vertaling vyf jaar vroeër voltooi is, maar dat ’n tekort aan geld die verskyning daarvan vertraag het. Agricola het vermoedelik self vir baie van die drukwerk betaal.

Drie jaar later het Dauidin Psaltari (die Psalms) verskyn, wat Agricola waarskynlik met die hulp van kollegas vertaal het. Hy het ook die voortou geneem met die vertaling van die boeke van Moses en die profete.

Agricola het sy beperkings nederig erken, en hy het openhartig geskryf: “Mag geen Christen en godvrugtige persoon of enige leser van hierdie Heilige Boek ontsteld wees as daar in hierdie vertaling deur ’n amateur dalk iets is wat verkeerd of vreemd of lelik of op ’n nuwe manier gestel is nie.” Ondanks enige tekortkominge wat moontlik in Agricola se vertalings gevind kan word, is die volgehoue ywer wat hy aan die dag gelê het om die Bybel vir die gewone mense beskikbaar te maak, werklik prysenswaardig.

Agricola se nalatenskap

Vroeg in 1557 is Agricola—wat teen daardie tyd ’n Lutheraan en die biskop van Turku was—verkies as lid van ’n afvaardiging wat na Moskou gestuur is om grensgeskille tussen Swede en Rusland deur arbitrasie te beslis. Die sending was suksesvol. Maar Agricola het blykbaar weens ontberinge op sy terugreis onverwags siek geword. Hy het op pad huis toe gesterf, toe hy ongeveer 47 jaar oud was.

Gedurende sy betreklike kort lewe het Agricola slegs sowat tien publikasies in Fins die lig laat sien, met altesaam sowat 2 400 bladsye. Nogtans glo baie mense dat hierdie man wat ’n nuwe era ingelui het, die ontwikkeling van die Finse kultuur gestimuleer het. Sedertdien het die Finse taal en volk met rasse skrede vooruitgang gemaak in die kunste en wetenskappe.

Nog belangriker, Michael Agricola het gehelp om ’n ander soort era in te lui, aangesien hy gehelp het om die lig van God se Woord helderder te maak vir mense wat Fins praat. Dit word opgesom in ’n gedenkgedig wat ná sy dood in Latyn vir hom geskryf is: “Dit is nie ’n gewone testament wat hy agtergelaat het nie. Sy testament was eerder sy werk—hy het heilige boeke in Fins vertaal—en daardie werk is waarlik prysenswaardig.”

[Venster/Prent op bladsy 23]

Die Finse Bybel

Die eerste volledige Finse Bybel, wat merendeels op Michael Agricola se werk gebaseer is, is in 1642 gepubliseer. Mettertyd het dit die amptelike Bybel van die Lutherse Kerk in Finland geword. Deur die jare heen het die teks verskillende klein hersienings ondergaan, maar tot 1938 het dit feitlik onveranderd gebly. Die jongste hersiening is in 1992 vrygestel.

Die enigste ander volledige Bybel in Fins is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Dit is in 1995 vrygestel. Twintig jaar vroeër, in 1975, het die Getuies reeds hulle vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte uitgegee. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is so getrou moontlik aan die oorspronklike teks. Tot vandag toe is daar al sowat 130 000- 000 gedruk.

[Prent op bladsy 22]

Michael Agricola en die eerste Finse Bybel. ’n Poskaart van 1910

[Erkenning]

National Board of Antiquities/Ritva Bäckman

[Prent op bladsy 23]

Agricola se “Nuwe Testament”

[Foto-erkenning op bladsy 21]

National Board of Antiquities

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel