Finse gasvryheid
DIE meer was bevrore, bedek met ’n laag ys wat 41 sentimeter dik was. Die lugtemperatuur was -15 grade Celsius, wat heel normaal is vir ’n Februariedag in Finland. En daar was ons gasheer, Martti, besig om ’n gat in die ys te maak. Dit was sy eerste geleentheid om Finse gasvryheid teenoor ’n buitelander van die Karibiese Eilande te betoon.
Wat ek op die punt was om te doen, sou deur die mense van tropiese Puerto Rico as dwaasheid beskou word. Maar onder die Finne is ’n vinnige duik in die yskoue water ’n ou gebruik wat al hoe gewilder word. Die Finse taal het selfs ’n spesifieke woord, avanto, wat na ’n gat verwys wat in die ys oopgehou word vir ’n vinnige indompeling in die yswater.
Hierdie “koue gasvryheid” het slegs ’n paar sekondes geduur en is voorafgegaan en gevolg deur sowat 15 minute in ’n taamlik warm sauna van 85 grade Celsius. Ek het die ervaring verfrissend gevind en selfs besluit om dit ’n tweede keer te doen, tot groot vermaak van my Finse vriende!
Vir party is die gebruik blote ontspanning. Ander beweer dat dit hulle gesondheid verbeter, sekere kwale voorkom, spanning verminder en uithouvermoë verhoog. Hierdie bewerings en ander kwessies wat verband hou met die Finse sauna en die gebruik om in die winter te swem, word tans wetenskaplik ondersoek.—Bygedra.