Die parfumeur se gunstelingvrug
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
PARFUUMS het ’n lang geskiedenis. In Bybeltye het parfuums huise, klere, beddens en die liggame van dié wat dit kon bekostig, lekker laat ruik. Die bestanddele van parfuums was onder meer aalwyne, balsemolie, kaneel en ander speserye.—Spreuke 7:17; Hooglied 4:10, 14.
Essense wat uit plante onttrek word, is nog steeds ’n noodsaaklike deel van die parfumerie. Ons is in Kalabrië, die suidelikste streek van die Italiaanse skiereiland, om te sien waar een van hierdie bestanddele vervaardig word. Jy ken die bergamot dalk nie by name nie, maar die geur van hierdie vrug word blykbaar in ongeveer een derde van parfuums vir vroue en die helfte van reukwater vir mans gevind. Laat ons die bergamot aan jou voorstel.
Die bergamotboom is ’n immergroen sitrusboom. Dit blom in die lente, en die geel vrugte—wat omtrent so groot soos ’n lemoen is en ’n gladde skil het—word laat in die herfs of vroeg in die winter ryp. Baie deskundiges beskou die bergamot as ’n hibride, en sy oorsprong is nogal ’n raaisel. Bergamotbome groei nêrens in die natuur nie, en hulle kan ook nie van saad gekweek word nie. Om dit te kweek, moet verbouers lote van bestaande bome op plante van ’n soortgelyke spesie ent, soos die lemmetjie of bitterlemoen.
Vir parfumeurs het die bergamot unieke eienskappe. Een boek oor die onderwerp verduidelik dat die essens wat daaruit onttrek word, die seldsame vermoë het om “verskillende aroma’s te laat saamsmelt en te fikseer, wat dit in ’n enkele boeket saamvat, en om ’n spesiale vars noot te gee aan elke mengsel wat dit bevat”.a
Verbouing in Kalabrië
Geskiedkundige bronne toon dat bergamotbome ten minste al teen die begin van die 18de eeu in Kalabrië gegroei het en dat plaaslike inwoners die essens by geleentheid aan verbygaande reisigers verkoop het. Kommersiële verbouing was egter nou verbind met die sukses van reukwater. In 1704 het Gian Paolo Feminis, ’n Italiaanse immigrant in Duitsland, ’n reukwater vervaardig wat hy Aqua admirabilis, of “bewonderenswaardige water”, genoem het. Die hoofbestanddeel daarvan was bergamotessens. Die parfuum is later eau-de-cologne, of “Keulse water”, genoem, na die stad waarin dit vervaardig is.
Die eerste bergamotplantasie is in omstreeks 1750 in Reggio geplant, en goeie winste van die verkoop van bergamotessens het die verdere verbouing daarvan aangemoedig. Die bome het matige weer nodig en moet op die suidekant van ’n heuwel geplant word, wat skuiling bied teen die koue noordewind, maar hulle hou nie van hoë winde, skielike veranderinge in temperatuur en lang tydperke van hoë vogtigheid nie. Die ideale mikroklimaat kan gevind word op ’n smal landstrook aan die suidkus van Italië wat net 5 kilometer breed en 150 kilometer lank is. Hoewel daar pogings aangewend word om bergamotbome elders te kweek, kom ’n hoë persentasie van die wêreldproduksie van die Reggio-provinsie. Die enigste ander belangrike produsent is die Ivoorkus, in Afrika.
Bergamot- vlugtige olie—’n groengeel vloeistof—word uit die skil van die vrug onttrek. Die tradisionele manier om hierdie olie te onttrek, was om die vrug in die helfte te sny, die vleis uit te skep en die skille so te druk dat die essens uit die buitenste, gekleurde deel op sponse uitspuit. Omtrent 180 kilogram bergamotte moes verwerk word om net een kilogram essens te onttrek. Vandag word byna al die essens onttrek deur middel van masjiene, wat growwe skywe of rollers gebruik om die skil van heel vrugte te rasper.
Nie baie bekend nie, maar algemeen gebruik
Hierdie vrug is dalk nie so bekend buite Kalabrië nie, maar volgens een bron “is bergamot ’n towerwoord onder kenners”. Die vrugtegeur daarvan word nie net in parfuum gevind nie, maar ook in produkte soos seep, reukweermiddels, tandepasta en room. Bergamotessens word in roomys, tee, lekkergoed en drankies as ’n geurmiddel gebruik. Dit word in sonbruinmiddels gebruik omdat dit ’n mens help om bruin te brand. Die antiseptiese en kiemdodende eienskappe daarvan maak dit vir die farmaseutiese bedryf waardevol as ’n ontsmettingsmiddel in die snykunde, oogheelkunde en dermatologie. Bergamotpektien, ’n kragtige stolmiddel, word ook in hemostatiese en antidiarreïese middels gebruik.
Die chemici het al sowat 350 komponente van bergamotessens geïsoleer, wat bydra tot die unieke boeket en etlike ander eienskappe daarvan. Dit alles in net een vrug!
Dit is onwaarskynlik dat Bybelskrywers bekend was met die bergamot. Maar enigiemand wat belangstel in die eienskappe van hierdie sitrusvrug en die wysheid van die Skepper daarvan, kan beslis rede vind om soos die psalmis te sê: “Loof Jehovah . . . , vrugtebome.”—Psalm 148:1, 9.
[Voetnoot]
a Net soos sommige mense byvoorbeeld vir grasstuifmeel of blomme allergies is, is ander vir parfuums allergies. Ontwaak! beveel nie enige spesifieke produk aan nie.
[Prente op bladsy 25]
Bergamotessens word onttrek deur die skil van heel vrugte te rasper
[Erkenning]
© Danilo Donadoni/Marka/age fotostock