Daardie duur parfuums
Deur Ontwaak!-medewerker in Frankryk
DIE eerste stille glinstering van dagbreek beloof ’n pragtige somersdag. Die blommeplukkers haas hulle na die jasmynvelde. Die delikate wit blomme is gereed om gepluk te word, en hulle geur hang in die lug.
Die werkers begin vaardig met hulle harde werk en gebruik albei hande. Kort voor lank is die groot sakke van hulle voorskote vol blomme. Hulle werk onvermoeid, vooroor gebuk in die warm somerson. ’n Ervare werker kan tot vier kilogram (40 000 blomme) in ’n oggend pluk. Hulle oes word dan in houers geplaas en vinnig na die fabriek geneem voordat die geur verslaan.
Die dorp Grasse, naby Nice, in die suidooste van Frankryk, is bekend vir sy parfuum. Die jasmyn was lank die koningin van die blomme daar. Maar sedert onlangse jare word selfs groter hoeveelhede jasmyn in Egipte gekweek.
Dit neem ongeveer 650 tot 750 kilogram (ongeveer sewemiljoen jasmynblomme) om een kilogram sogenaamde suiwer olie, ’n uiters gekonsentreerde parfuum, wat in Frankryk ongeveer R56 000 per kilogram kos, te verkry. Maar hoe word die suiwer olie vervaardig?
Die verwerking van blomme en plante
Vlugtige oplosmiddels, soos benseen, word dikwels gebruik om die essensiële olies te ekstraheer en dien as ’n draer in die ekstraksieproses. Die blomme word in geperforeerde metaalmandjies geplaas en in die oplosmiddel neergelaat. Die oplosmiddel word deur die blomme gesyfer en dan deur distillasie verwyder. Die proses word herhaal totdat die blomme al hulle parfuumolies saam met die onoplosbare was afgegee het.
So word ’n dik, gekonsentreerde produk, wat bry genoem word, verkry. Die suiwer olie word voortgebring deur die parfuumolies van die was te skei. Die oplosmetode word hoofsaaklik gebruik vir die delikater blomsoorte, soos jasmyn, roos, mimosa, viooltjie en soetemaling.
Vlugtige oplosmiddels word ook gebruik om essensiële olies uit gedroogde plante soos vanielje en kaneel te ekstraheer, om harse soos mirre en galbanum op te los en om dierlike stowwe wat as fikseermiddels gebruik gaan word, te verwerk. Die fikseermiddels vertraag die verdamping van die essensiële olies en laat die geur dus hou.
Onder die dierlike stowwe wat as fikseermiddels gebruik word, is ambergrys wat van die potwalvis verkry word, bewergeil wat van die bewer verkry word, muskus wat van die muskushertram verkry word en sivet wat van die sivetkat van Ethiopië verkry word. Maar dit lyk of hierdie seldsame en duur fikseermiddels van die mark af verdwyn.
Nog ’n algemene proses wat gebruik word, is stoomdistillasie. Vir hierdie metode gebruik ’n mens ’n distilleerketel en verkoelingspiraal, wat ’n spiraalvormige kondensasiebuis is, om die essensiële olies wat onontbeerlik vir die parfumeur is, te ekstraheer. Distillasie is baie geskik vir plante soos laventel en sitronella wat nie deur die stoom bederf word nie. Die blomme word in die distilleerketel geplaas, met water bedek en stadig op die kookpunt gebring. Die waterdamp met die essensiële olies in word weer vloeistof wanneer dit deur ’n kondensator gaan. Hierdie proses lewer essensiële olies, asook blomwater, soos roos- of lemoenbloeiselwater. Eau-de-colognea van hoë gehalte bevat suurlemoen-, lemoen- of bergamotolie. Hierdie olies word verkry deur die skil van die vrug uit te pers.
Die parfuumbedryf gebruik steeds honderde sulke natuurlike produkte. Maar vandag word duisende sintetiese plaasvervangers ook algemeen gebruik.
Sintetiese stowwe
Gedurende die laaste twee eeue het die uitvindings van die chemiese samestelling van geurige stowwe baie kennis tot die parfumeriekuns bygedra. Ongeveer 10 000 geurige chemikalieë is tot op hede gekatalogiseer.
Die geur van ’n blom is ’n seldsame mengsel van baie chemiese bestanddele. Wetenskaplikes het al byvoorbeeld 200 bestanddele onderskei waaruit die natuurlike jasmyngeur saamgestel is. Aan die begin van die 20ste eeu was daar egter slegs ’n stuk of ses van daardie bestanddele bekend.
Wetenskaplikes het toe probeer om die nuwe bestanddele na te boots. Soms het hulle heeltemal nuwe geurige stowwe uitgevind wat nie in die natuur aangetref word nie. Party van die nuwe stowwe is gebruik om van die wêreld se voortreflikste parfuums te maak.
Dit verg dikwels jare se navorsing om ’n sintetiese chemikalie voort te bring, en dit is geensins ’n goedkoop proses nie. In sommige gevalle het hierdie metodes die wesenlike geur van die ongeplukte blom voortgebring, terwyl natuurlike olies verkry word van geplukte blomme wat in sekere mate al bederf het.
Mnr. Jean de Lestrange, direkteur van die Parfumerie Fragonard, in Frankryk, het verduidelik: “Die parfuumbedryf kan vandag nie sonder sintetiese chemikalieë klaarkom nie. Al die natuurlike essensiële olies in die wêreld kan nooit in die behoeftes van die internasionale mark voorsien nie.” Maar nie alle blomme het hulle geheime verraai nie. Niemand het byvoorbeeld tot nog toe ’n sintetiese plaasvervanger vir die oorspronklike lelie-der-dale uitgevind nie.
“Parfuumkomponiste”
Elke parfuum is ’n mengsel van 30, 50 of selfs 100 verskillende bestanddele, hetsy suiwer olies, essensiële olies of sintetiese stowwe. Maar die verhaal eindig nie daar nie.
Die meesterparfumeur moet nie alleen in staat wees om al die bestanddele te identifiseer nie, maar hy moet ook weet hoe om hulle volgens hulle affiniteit te meng. Hy moet baie versigtig wees met die verhoudings en hy moet in ag neem hoe gou sekere bestanddele verslaan of nie. Hy moet ’n uitsonderlik fyn neus hê, wat hom in staat stel om te onderskei tussen sowat 3 500 verskillende geure wat gebruik word om ’n oneindige verskeidenheid parfuums te meng.
Natuurlik moet elke meesterparfumeur eers opgelei word. Dit is nie moeilik om die rede hiervoor te verstaan wanneer ons in ag neem dat die komplekse reukorgane van die mens uit tienmiljoene senuvesels bestaan nie. Elke vesel kan inligting onafhanklik van die ander vesels sein. Edmond Roudnitska het in sy boek Le Parfum gesê: “Die menigte moontlike kombinasies van die miljoene seinvesels . . . kan oneindig fyn reukboodskappe ontvang, en maak dit moontlik . . . om die fynste verskille te bespeur.”
Die meesterparfumeur kan met ’n musikus vergelyk word wat oor ’n tema nadink en die note in sy gedagtes hoor voordat hy dit op papier neerskryf sodat dit op ’n instrument gespeel kan word. Die parfumeur, met sy “note” in sy gedagtes, skryf nou op soortgelyke wyse sy formule neer sodat dit gereed is vir proefneming in die laboratorium.
Terwyl die parfumeur voor sy spesiale “parfumeursorrel” sit, wat ook ’n palet, of klawerbord, genoem word, waarop daar honderde flessies van essensiële olies gehou word, drup hy ’n paar milligram van die produkte wat hy as bestanddele gekies het op smal strokies kladpapier. As “parfuumkomponis” kies hy hierdie “note” om ’n “akkoordprogressie” saam te stel asof hy ’n simfonie komponeer.
Die bestanddele verskil wat vlugtigheid betref, en wanneer ’n bottel parfuum oopgemaak word, word die ligste, vlugtigste geure, wat boonste note genoem word, eerste vrygestel. Hierdie oorheersende note is lieflik maar verdwyn gou en kan sitrusgeure, soos suurlemoen of bitterlemoen, wees. Jean de Lestrange het verder verduidelik: “Dit is die belangrikste en delikaatste stadium in die samestelling van ’n parfuum. Trouens, as die boonste note nie geslaagd is nie, sal die parfuum ’n mislukking wees. Die geur moet onmiddellik inslag vind.”
Die middelnote wat langer hou, geure soos roos en jasmyn, sal eers later waargeneem word. In die laaste plek word die onderliggende basisnote, wat die hele dag hou, bespeur. Hierdie basisnote fikseer die geur, en hoewel hulle in die verlede van dierlike oorsprong was, is hulle nou meestal sinteties.
Sodra die bestanddele gekies is, moet honderde proefnemings gedoen word om die beste kombinasie te verkry, en moet die bestanddele noukeurig geweeg en gemeng word volgens die verhoudings wat deur die meesterparfumeur vasgestel is. Die parfuumekstrak wat so verkry word, kan ook in alkohol opgelos word om parfuum en toiletwater te maak.
Nadat die produkte gefiltreer, geëtiketteer en finaal verpak is, is dit reg om verkoop te word. Die hele ingewikkelde proses verduidelik in sekere mate waarom parfuum so duur is. “In sekere mate”, omdat parfuums in baie lande swaar belas word, wat tot die koste bydra.
’n Rekenaargesteunde programkonsep wat vir die parfumerie aangewend word, tesame met die bydraes van die biotegnologie, sal dit binnekort moontlik maak om die ontwikkeling van die geurige plantselle te versnel sonder dat ’n mens moet wag dat die blom volgroeid is. Dit sal beslis veranderings in die parfuumbedryf meebring.
Maar die skepping van ’n voortreflike parfuum is steeds ’n kunswerk waarin die talent van die meesterparfumeur onontbeerlik is. ’n Mens hoef maar net oor ’n eeu van vooruitgang in die parfuumbedryf terug te kyk om jou te oortuig dat dit slegs talent is wat verklaar waarom sekere parfuums wat meer as 50 jaar gelede geskep is vandag nog so gewild is!
Parfuum in Bybelse tye
Die Bybelboek Genesis vertel hoe Josef verkoop is aan ’n reisgeselskap Ismaeliete onderweg na Egipte, wat “speserye en balsem en gom”, stowwe wat gebruik is om parfuums te maak, by hulle gehad het.—Genesis 37:25.
God het later die bestanddele van ’n geurige salfolie aan Moses bekend gemaak wat gebruik moes word om die priesters en die heilige gereedskap wat in aanbidding gebruik is, te salf. Moses het ook God se formule ontvang vir reukwerk wat soggens en saans in die heiligdom gebrand moes word.—Exodus 30:7, 8, 22-30, 34-36.
In die dae van die konings van Israel het die rykes parfuums gebruik om hulle huise, klere en slaapbanke aangenaam te laat ruik. Parfumeurs in die ou dae het selfs handelsgroepe gestig (Nehemia 3:8; Psalm 45:9; Hooglied 3:6, 7). Die egte nardussalf wat Maria, die suster van Lasarus, gebruik het om Jesus se voete mee te salf, was amper soveel werd as ’n plaaswerker se jaarloon (Johannes 12:3-5). Ja, duur parfuums word sedert vroeë tye reeds gebruik!
[Voetnoot]
a Frans vir ‘water van Keulen’, Duitsland, waar die geparfumeerde spiritus uitgevind is.
[Venster op bladsy 17]
Hoe om jou parfuum te kies
Spuit ’n bietjie parfuum op jou handrug sonder om dit in te vryf.
Laat die alkohol ’n paar sekondes lank verdamp.
Ruik daaraan. Só kan jy die boonste note ruik.
Jy sal ’n rukkie langer moet wag om die basisnote te kan waarneem.
As jy dink dat hierdie parfuum nie by jou pas nie, moet jy ’n rukkie wag voordat jy nog een probeer. Moet nooit vergeet dat ’n parfuum ’n “simfonie” is nie. Wie sou ooit daaraan dink om gelyktydig na twee simfonieë te luister?
[Prente op bladsy 15]
’n Ou distilleerketel wat voorheen vir distillasie gebruik is
Meesterparfumeur se ‘klawerbord’ van geurige olies wat gebruik word om ’n verskeidenheid parfuums saam te stel
[Erkenning]
Photos: Courtesy of Musée de la Parfumerie Fragonard, Paris
[Prente op bladsy 16]
Sommige van die blomme wat in parfumerie gebruik word
Laventel
Jasmyn
Mimosa