Fluittaal—’n Vindingryke manier van “praat”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
◼ In die siërra van Oaxaca, Mexiko, het die plaaslike Mazateke geen telefone, hetsy dit selfone of landlyntelefone is nie. Nogtans kan hulle oor ’n afstand van twee kilometer of meer met mekaar kommunikeer—byvoorbeeld terwyl hulle in die koffieplantasies teen die heuwels werk. Wat is hulle geheim? Lank gelede het die Mazateke ’n vorm van hulle taal ontwikkel wat uit fluitklanke bestaan. Pedro, ’n jong Mazateek, sê: “Mazateeks is ’n toontaal. Wanneer ons fluit, boots ons dus die klank en ritme van die gesproke taal na. En ons fluit net met ons lippe, nie met ons vingers nie.”a
Pedro se vriend Fidencio verduidelik die voordeel van die geartikuleerde fluittaal: “Ons gebruik hierdie vorm van kommunikasie oor lang afstande en gewoonlik vir kort gesprekke. Byvoorbeeld, ’n pa het dalk sy seun winkel toe gestuur om tortillas te koop, maar het vergeet om hom te vra om tamaties te kry. As die seun te ver is om die gesproke woord te hoor, kan sy pa die instruksies fluit.”
Jehovah se Getuies fluit ook soms wanneer hulle met mekaar kommunikeer. Pedro verduidelik: “Wanneer ek afgesonderde gebiede besoek en ’n geestelike broer wil saamnooi, hoef ek nie die hele pad na sy huis toe te gaan nie. Ek fluit net.”
“Ons het elkeen ons eie manier van fluit sodat ons weet wie ‘praat’”, sê Pedro. “Gewoonlik gebruik net Mazateek-mans hierdie fluittaal. ’n Vrou verstaan dalk die taal en gebruik dit selfs in die gesin, maar sy sou dit nooit gebruik om met sommer enige man te kommunikeer nie. Dit sou as onvanpas beskou word.”
Fluittaal is glad nie uniek aan die Mazateke nie; ander fluittaalgebruikers word in China, die Kanariese Eilande en Papoea-Nieu-Guinee gevind. Gewoonlik woon hulle in berge en digte woude. Trouens, daar bestaan dalk meer as 70 fluittale, en ten minste 12 is al bestudeer.
Ons kan nie anders as om ons te verwonder oor die mens se kreatiwiteit nie. Ja, wanneer jy daardie talent kombineer met ’n brandende begeerte om met ander te kommunikeer, word ons net beperk deur ons verbeelding—en dít het blykbaar geen perke nie!
[Voetnoot]
a ’n Naslaanwerk verduidelik: “Deur die spoed, toonkleur en intensiteit van die fluit te wissel, kan die Mazateke ’n groot aantal begrippe oordra.”