Dit is nooit te laat om God se vriend te word nie
Soos vertel deur Olavi J. Mattila
“Het jy al ooit daaraan gedink dat jy juiste kennis van die Skepper kan verkry?” Een van Jehovah se Getuies het my hierdie vraag gevra, en dit het my nogal laat wonder. Ek was toe oor die 80 en het talle vername mense leer ken, selfs politieke leiers. Maar kon ek, op hierdie stadium van my lewe, God werklik leer ken en sy vriend word?
EK IS in Oktober 1918 gebore in Hyvinkää, Finland. Ek het van jongs af verskillende takies op ons plaas gedoen. Ons gesin het met beeste, perde, hoenders en ganse geboer. Ek het geleer om hard te werk en om my werk met trots te doen.
Terwyl ek grootgeword het, het my ouers my aangespoor om ’n goeie geleerdheid te kry. Toe ek oud genoeg was, het ek dus die huis verlaat om universiteit toe te gaan. Ek het ook aan atletiek deelgeneem en die voorsitter van die Finse Atletiekvereniging, Urho Kekkonen, leer ken. Ek sou nooit kon raai dat mnr. Kekkonen Finland se eerste minister en later die land se president sou word nie, posisies wat hy sowat 30 jaar lank beklee het. Ek het ook nie besef hoe ’n groot invloed hy op my lewe sou hê nie.
Vernaamheid en mag
In 1939 het vyandelikhede tussen Finland en die Sowjetunie begin. In November daardie jaar is ek vir militêre diens opgeroep. Eers was ek ’n opleier in die reserwemag en later het ek as ’n bevelvoerder van ’n masjiengeweerpeloton gedien. Die gevegsfront was Karelië, ’n gebied op die grens tussen Finland en die Sowjetunie. In die somer van 1941, terwyl ons naby die dorp Vyborg geveg het, het ek ernstige skrapnelwonde opgedoen en is ek na ’n militêre hospitaal geneem. Weens my wonde kon ek nie weer veg nie.
In September 1944 is ek uit die weermag ontslaan, en ek is terug universiteit toe. Ek het ook weer aan atletiek begin deelneem. Ek was drie keer die nasionale kampioen, twee keer as ’n aflosatleet en een keer as ’n hekkiesatleet. Ek het ook universiteitsgrade in tegnologie en ekonomie verwerf.
Intussen het Urho Kekkonen ’n invloedryke figuur in die politiek geword. In 1952, gedurende sy ampstermyn as eerste minister, het hy my gevra om as ’n diplomaat in China te gaan dien. Terwyl ek daar was, het ek verskeie regeringsamptenare ontmoet, onder andere Mao Tse-toeng, wat destyds die leier van China was. Maar die belangrikste persoon wat ek in China ontmoet het, was ’n lieflike jong vrou, Annikki, wat vir die Finse Departement van Buitelandse Sake gewerk het. Sy het in November 1956 my vrou geword.
Die volgende jaar is ek na die Finse ambassade in Argentinië oorgeplaas. Terwyl ons in hierdie land gewoon het, het ons ons eerste kinders, twee seuns, gehad. In Januarie 1960 het ons na Finland teruggekeer. Kort daarna het ons ons derde kind, ’n dogtertjie, gehad.
’n Baie hoë posisie in die regering
Hoewel ek nooit ’n lid van ’n politieke party was nie, het president Kekkonen my in November 1963 genooi om sy minister van buitelandse handel te wees. Gedurende die volgende 12 jaar het ek ses kabinetsposte beklee, twee keer as minister van buitelandse sake. Destyds het ek vas geglo dat die wêreld se probleme deur die vindingrykheid van die mens opgelos kan word. Maar ek het gou bewus geword van die mens se dors na mag. Ek het eerstehands gesien watter skadelike gevolge wantroue en jaloesie kan hê.—Prediker 8:9.
Ek het natuurlik ook gesien dat daar baie mense is wat opreg probeer om dinge te verbeter. Maar op die ou end bereik selfs leiers met die beste bedoelings nie hulle doelwitte nie.
In die somer van 1975 het 35 staatshoofde na Helsinki gekom om die Konferensie oor Veiligheid en Samewerking in Europa by te woon. Ek was toe die minister van buitelandse sake en ’n vertroude raadgewer van president Kekkonen. Dit was my verantwoordelikheid om die konferensie te organiseer, en ek het al die volksleiers ontmoet wat dit bygewoon het.
Gedurende daardie paar dae is my diplomatieke vaardighede tot die uiterste toe beproef. Net om die lede te kry om saam te stem oor wie waar sou sit, was ’n uitdaging! Nietemin het ek gevoel dat die konferensie, tesame met ’n reeks opvolgbesprekings, bygedra het tot verbeterings ten opsigte van menseregte en ’n verdraagsamer verhouding tussen die supermoondhede.
Ek word bewus van my geestelike behoefte
In 1983 het ek afgetree en na Frankryk getrek, waar my dogter gewoon het. Later het ’n tragedie ons getref. In November 1994 is Annikki met borskanker gediagnoseer. Daardie selfde jaar het ek by ’n beleggingskema betrokke geraak wat op die ou end ’n bedrogspul was. Ek het my hele lewe lank baie hard gewerk om ’n goeie naam te behou. Maar hierdie een oordeelsfout het my reputasie geskaad.
Deur die jare heen het ek Jehovah se Getuies van tyd tot tyd teëgekom. Hoewel ek hulle besoeke waardeer het en hulle tydskrifte geneem het, was ek baie besig en het ek nie tyd vir geestelike dinge gehad nie. Maar teen die jaar 2000 het ek na Annikki omgesien, wat nog steeds teen kanker gestry het. In September 2002 het een van Jehovah se Getuies my besoek. Hy het die vraag gevra wat aan die begin van hierdie artikel genoem word. Ek het gewonder: ‘Is dit werklik moontlik om die waarheid oor God te leer? Is dit moontlik om sy vriend te word?’ Ek het my Bybel gaan haal, wat al heelwat stof opgegaar het, en het die Bybel gereeld saam met die Getuies begin bespreek.
In Junie 2004 het my dierbare vrou gesterf, en ek het alleen agtergebly. My kinders het my natuurlik emosioneel ondersteun. Maar ek het nog steeds vrae gehad oor wat met ons gebeur wanneer ons sterf. Ek het twee Lutherse priesters hieroor gevra. Hulle het eenvoudig gesê: “Wel, dis moeilike vrae.” Hulle antwoord het my nie tevrede gestel nie. Ek het al hoe meer bewus geraak van my geestelike behoeftes.
Terwyl ek my studie van die Bybel saam met die Getuies voortgesit het, het ek die juiste kennis ingeneem waarna ek so gesmag het. Die Bybel toon byvoorbeeld dat die dood ’n toestand van onbewustheid is, soos slaap, en dat die dooies weer as mense op die aarde sal kan lewe (Johannes 11:25). Dit het my hoop gegee en my baie vertroos.
Ek het kort voor lank deur die hele Bybel gelees. ’n Teks wat my beïndruk het, was Miga 6:8, wat sê: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?” Die wysheid en eenvoud van hierdie stelling het my aangetrek. Dit het ook getoon hoe liefdevol en regverdig Jehovah God is.
’n Hoop vir die toekoms
Namate ek die waarheid oor God geleer het, het my geloof en vertroue in hom sterker geword. ’n Ware vriendskap het tussen my en my Skepper begin ontwikkel! Sy woorde in Jesaja 55:11 het ’n groot indruk op my gemaak: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.” Ja, God het tot dusver al sy beloftes nagekom, en hy sal dit ook in die toekoms doen. Hy sal doen wat menseregerings en al hulle politieke konferensies nie kon doen nie. Psalm 46:9 sê byvoorbeeld: “Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde.”
Ek het baie daarby baat gevind om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Daar het ek self die opregte Christelike liefde gesien wat Jesus se ware volgelinge kenmerk (Johannes 13:35). Hierdie liefde is baie sterker as nasionalisme en is iets ongehoords in die politieke en handelswêreld.
Die allerkosbaarste voorreg
Ek is nou meer as 90 jaar oud, en om een van Jehovah se Getuies te wees, is vir my die allergrootste voorreg. Die geestelike leemte in my lewe is gevul. Ek het die voorreg gehad om te leer wat die doel van die lewe en die waarheid oor God is.
Ek is ook bly dat ek selfs op mý ouderdom gereeld aan Christelike bedrywighede kan deelneem. Hoewel ek gedurende my lewe talle invloedryke manne ontmoet het en groot verantwoordelikhede gehad het, kan niks vergelyk word met die voorreg om die Skepper, Jehovah God, te ken en sy vriend te wees nie. Ek is baie dankbaar teenoor hom en wil hom loof vir die geleentheid wat hy my gegee het om een van sy “medewerkers” te word (1 Korintiërs 3:9). Dit is nooit te laat om ’n vriend van die Skepper, Jehovah God, te word nie!
[Prent op bladsy 25]
Saam met president Kekkonen en president Ford van Amerika gedurende die Helsinki- konferensie in 1975
[Prent op bladsy 25]
Saam met president Kekkonen en die Sowjetleier Brezjnef
[Prent op bladsy 26]
Ek neem gereeld deel aan Christelike bedrywighede
[Prent op bladsy 25]
Links onder: Ensio Ilmonen/Lehtikuva; regs onder: Esa Pyysalo/Lehtikuva