Die alpehoring—Musiek uit die berge
PARTY bewoners van die Switserse Alpe gebruik al eeue lank ’n unieke instrument om te kommunikeer—die alpehoring. Dit lyk dalk nie soos ’n gerieflike kommunikasiemiddel nie—sommige alpehorings is twee keer langer as die mans wat dit speel. Tog kan die alpehoring met die hand gedra word. Party soorte kan selfs uitmekaargehaal word sodat die dele gerieflik in ’n kassie kan pas. Die alpehoring kan tot tien kilometer ver oor die hoë Alpynse valleie gehoor word!
Hoe ’n alpehoring gemaak word
Aangesien die alpehoring tradisioneel van ’n soort sparboom gemaak word wat in die berge voorkom, is dit heeltemal tuis in die pragtige Switserse Alpe. Natuurkragte veroorsaak dat sparbome wat teen styl hellings groei, ’n buiging by die onderstam vorm.
Nadat ’n alpehoringmaker ’n boom gekies het, kloof hy dit versigtig middeldeur en hol hy die helftes uit met behulp van spesiale beitels. Hierdie stap alleen kan tot 80 uur neem! Dan vyl en skuur die vakman die binnekant glad. Hy gom die twee helftes aanmekaar en draai dan stroke berkebas styf daarom. Hy heg ook ’n houtvoetstuk daaraan vas, waarop die alpehoring kan rus wanneer dit gespeel word. Nadat die vakman ’n gepaste mondstuk aan die alpehoring geheg het en die klankbeker versier het deur ’n motief daarop te verf of uit te kerf, is die laaste stap om die instrument met ’n weerbestande vernis te verf.
Tradisionele gebruike
Veewagters gebruik die alpehoring al geslagte lank. Hulle het daarop geblaas wanneer hulle hoog in die weiveld was om hulle gesin onder in die vallei te verseker dat “alles in die haak is”. Maar hulle het dit hoofsaaklik gebruik om hulle koeie te roep sodat hulle gemelk kon word. Switserse melkboere glo al lank dat die soet klanke van die alpehoring help om koeie rustig te hou wanneer hulle gemelk word.
In die winter, wanneer die koeie in hulle stalle in die vallei was, het baie herders hulle alpehorings in die dorp gaan speel, waar hulle fooitjies ontvang het wat hulle inkomste aangevul het. In die verlede is die alpehoring selfs gebruik om mans vir oorlog op te roep.
Hoe speel ’n mens dit?
Met die eerste oogopslag lyk dit dalk maklik om die alpehoring te speel. Dit het immers geen gaatjies, klawers of kleppe nie. Wat dit egter moeilik maak, is die feit dat die lug wat in die pyp ingeblaas word, beheer moet word om die gewenste tone voort te bring.
Alpehorings kan net 12 natuurtone voortbring. ’n Mens kan nie sommer enige wysie op die instrument speel nie, maar melodieë word spesiaal daarvoor geskryf, en ’n bedrewe speler kan ’n groot verskeidenheid pragtige melodieë speel.
Beroemde komponiste het die klank van die alpehoring in hulle orkeskomposisies ingesluit. Byvoorbeeld, Leopold Mozart, die vader van Wolfgang Amadeus Mozart, het sy “Sinfonia Pastorella” gekomponeer vir die orkes en die corno pastoritio—’n soort alpehoring. Brahms het die toon van ’n Switserse alpehoring met behulp van fluite en blaashorings nageboots, en Beethoven het die alpehoring in sy Pastorale Simfonie nageboots om ’n atmosfeer te skep wat mense aan die herderslewe sou laat dink.
Die eerste geskrewe verwysing na die alpehoring was in 1527 in Switserland in ’n rekeningboek wat aan die St. Urbanusklooster behoort het. Nou, byna 500 jaar later, weerklink die rustige stem van die alpehoring nog steeds oor die asemrowende Alpynse weivelde van Switserland.
[Prent op bladsy 15]
Die alpehoring kan uitmekaargehaal en met die hand gedra word