Kuberaanval!
STEL jou ’n groep bedrewe rekenaarmisdadigers voor wat die Internet gebruik om netwerke van gekaapte rekenaars te beheer. Hierdie leër van rekenaars, wat as botnets (robotnetwerke) bekend staan, stuur ’n stortvloed kwaadwillige rekenaarkode uit wat op ’n spesifieke nasie gemik is. Binne minute stort daardie nasie se militêre, finansiële en kommersiële webwerwe ineen. OTM’s en telefoonnetwerke hou op werk. Vliegtuie word gehok, en die werking van rekenaar- en veiligheidstelsels by ’n kernkragstasie word belemmer. Hoe sou mense reageer? Wat sou hulle doen? Wat sou jy doen?
Die bogenoemde scenario lyk dalk vergesog. Maar volgens Richard A. Clarke, die VSA se voormalige Nasionale Koördinator vir Veiligheid, Beskerming van die Infrastruktuur en Anti-Terrorisme, kan iets soortgelyks in die werklikheid gebeur. Trouens, daar was alreeds kuberaanvalle.a Dalk was jy selfs ’n slagoffer daarvan.
Waarom sou enigiemand ’n kuberaanval wou loods? Hoe word kuberaanvalle uitgevoer? En aangesien kubermisdaad teen individue so algemeen is, hoe kan jy jou daarteen beskerm?
Die digitale slagveld
Daar is verskeie redes waarom mense kuberaanvalle loods. Terroriste of regerings kan byvoorbeeld die rekenaarnetwerke van hulle vyande probeer binnedring om geheime te steel of om die toerusting te saboteer wat deur daardie rekenaarnetwerke beheer word. In 2010 het die VSA se Ondersekretaris van Verdediging, William J. Lynn III, erken dat buitelandse “vyande” geklassifiseerde Amerikaanse rekenaarnetwerke herhaaldelik aangeval en binnegedring het en “duisende lêers [gesteel het], insluitende bloudrukke vir wapens, operasionele planne en waarnemingsdata”.—Sien die venster “’n Paar onlangse kuberaanvalle”.
Rekenaarmisdadigers gebruik soortgelyke metodes om intellektuele eiendom of finansiële inligting uit korporatiewe netwerke en persoonlike rekenaars te steel. Volgens berig steel misdadigers elke jaar miljarde rande deur middel van Internetbedrog.
Kuberkrakers het ontsaglike leërs van gekaapte rekenaars opgebou wat hulle gebruik om hulle aanlyn aanvalle te loods. In 2009 het ’n Internetveiligheidsmaatskappy ’n kriminele bende aan die kaak gestel wat ’n globale netwerk van byna tweemiljoen rekenaars beheer het, waarvan talle aan gewone burgers behoort het. Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) het onlangs geskat dat 1 uit 3 rekenaars wat aan die Internet gekoppel is, deur ’n indringer beheer word. Wat van jou rekenaar? Kan iemand beheer daarvan oorneem sonder dat jy daarvan weet?
Stille indringers
Stel jou die volgende scenario voor. ’n Misdadiger stuur ’n kwaadwillige program oor die Internet uit. Wanneer die program jou rekenaar vind, ondersoek dit jou digitale verdedigingsmiddele sonder dat jy eers daarvan bewus is. Wanneer dit ’n swakplek vind, fynkam dit jou hele rekenaar vir nuttige inligting.b Die kwaadwillige program kan dan jou rekenaarlêers verander of uitvee, homself na ander rekenaars e-pos of wagwoorde, finansiële besonderhede of ander vertroulike inligting aan die indringer terugstuur.
Rekenaarmisdadigers kan jou selfs fop sodat jy jou eie rekenaar besmet! Hoe? Jy kan jou eie rekenaar besmet deur ’n skynbaar onskadelike e-pos-aanhangsel oop te maak, op ’n webbladskakel te klik, ’n gratis rekenaarprogram af te laai en te installeer, ’n besmette geheuetoestel in jou rekenaar in te prop of eenvoudig ’n twyfelagtige webwerf te besoek. Deur enige van die bogenoemde te doen, kan jy kwaadwillige sagteware op jou rekenaar installeer en ’n indringer beheer daaroor gee.
Hoe kan jy uitvind of jou rekenaar besmet is? Dit kan baie moeilik wees. Jou rekenaar of Internetverbinding is moontlik baie stadig, jou toepassings werk dalk nie, opspringvensters sê miskien dat jy sekere programme moet installeer of jou rekenaar doen dalk iets vreemds. As jy enige van hierdie simptome teëkom, moet jy ’n betroubare tegnikus vra om jou rekenaar na te gaan.
‘Gee ag op jou voetstappe’
Namate nasies en individue afhankliker word van rekenaartegnologie, sal kuberaanvalle waarskynlik algemener raak. Gevolglik wend baie nasies ’n naarstige poging aan om hulle digitale verdedigingsmiddele te verbeter, en party doen grootskaalse toetse om te bepaal hoe goed hulle rekenaarnetwerke ’n aanval sal kan weerstaan. Maar “met genoeg tyd, motivering en fondse”, erken Steven Chabinsky, ’n senior deskundige op die gebied van rekenaarveiligheid by die Amerikaanse Federale Speurdiens, “sal ’n vasbeslote vyand altyd—ja, altyd—sy beoogde stelsel kan binnedring”.
Wat kan jy doen om jou te beskerm wanneer jy die Internet gebruik? Hoewel algehele aanlyn veiligheid dalk nie moontlik is nie, kan jy praktiese stappe doen om jou rekenaar beter te beveilig. (Sien die venster “Hoe kan jy jou beskerm?”) Die Bybel sê: “Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Dit is beslis wyse raad wanneer jy die Internet gebruik!
[Voetnote]
a Kuberaanvalle is doelbewuste pogings om rekenaarstelsels of -netwerke of die inligting of programme wat daarop geberg of daardeur oorgedra word, te verander, te vernietig of die werking daarvan te belemmer.—Amerikaanse Nasionale Navorsingsraad.
b In 2011 was daar na berig meer as 45 000 bekende swakplekke wat kuberkrakers kon gebruik om rekenaars binne te dring. Hulle gebruik sulke swakplekke gewoonlik om kwaadwillige sagteware (malware) op mense se rekenaars te probeer installeer sonder dat hulle daarvan weet.
[Lokteks op bladsy 26]
Kuberkrakers het ontsaglike leërs van gekaapte rekenaars onder hulle beheer
[Lokteks op bladsy 27]
Volgens die OESO word 1 uit 3 rekenaars wat aan die Internet gekoppel is, deur ’n indringer beheer
[Venster op bladsy 27]
’N PAAR ONLANGSE KUBERAANVALLE
2003: Die Slammer-rekenaarwurm het vinnig deur die Internet versprei en ongeveer 75 000 rekenaars binne tien minute besmet.c Internetverkeer is byna tot ’n stilstand gedwing, webwerwe het ineengestort, OTM’s is buite werking gestel, vliegtuie is gehok en die werking van rekenaar- en veiligheidstelsels by ’n kernkragstasie is belemmer.
2007: Estland was die teiken van ’n reeks kuberaanvalle, wat die staat, die media en banke geraak het. Die meeste aanvalle is vanaf netwerke van gekaapte rekenaars (botnets) geloods, wat tot gevolg gehad het dat meer as eenmiljoen rekenaars in 75 lande hulle teikens met valse aanvrae om inligting oorweldig het.
2010: Industriële beheerstelsels by ’n kernkragstasie in Iran is deur die hoogs gesofistikeerde Stuxnet-rekenaarwurm besmet.
[Voetnoot]
c ’n Rekenaarwurm is ’n kwaadwillige program wat homself outomaties via die Internet van een rekenaar na ’n ander stuur. Soos ander soorte kwaadwillige sagteware, word ’n rekenaarwurm gewoonlik ’n spesifieke naam gegee, soos Slammer.
[Venster op bladsy 28]
HOE KAN JY JOU BESKERM?
1. Installeer antivirus-, antispioenasie- en brandmuursagteware op jou rekenaar. Installeer gereeld alle sekuriteitsopgraderings vir hierdie sagteware en vir jou bedryfstelsel.
2. Dink voordat jy op skakels klik of aanhangsels in e-posse of kitsboodskappe oopmaak—al kom dit van vriende. Wees versigtig, veral as dit ongevraagde e-pos is en dit vir persoonlike inligting of wagwoorde vra.
3. Moet nooit sagteware kopieer of gebruik waarvan die bron onbekend is nie.
4. Gebruik wagwoorde wat uit ten minste agt karakters bestaan en wat nommers en simbole insluit, en verander dit gereeld. Gebruik verskillende wagwoorde vir verskillende rekeninge.
5. Doen slegs sake oor die Internet met gerespekteerde maatskappye wat veilige verbindings gebruik.d
6. Moenie vertroulike inligting oor jou of jou rekeninge verstrek wanneer jy onbeveiligde Wi-Fi-verbindings, soos dié in openbare plekke, gebruik nie.
7. Skakel jou rekenaar af wanneer jy dit nie gebruik nie.
8. Maak gereeld reserwekopieë van jou lêers, en bêre dit op ’n veilige plek.
[Voetnoot]
d ’n Simbool van ’n slot en “https://” word in die adresstaaf van veilige webblaaie op weblesers vertoon. Die “s” staan vir secure, wat beteken dat die verbinding beveilig is.
[Prent op bladsy 28]
Doen wat jy kan om jou aanlyn veiligheid te verseker