Wat moet verander?
“Regering is nie die oplossing vir ons probleem nie; regering is die probleem.”—Ronald W. Reagan, in sy intreerede as die 40ste president van die Verenigde State.
MEER as drie dekades het al verloop sedert Ronald Reagan hierdie stelling gemaak het. Op daardie stadium het die Verenigde State voor ’n yslike uitdaging te staan gekom—“’n grootskaalse ekonomiese krisis”, soos Reagan dit genoem het. “In die geskiedenis van ons land was inflasie nog nooit so hoog en het dit nog nooit so lank geduur nie”, het hy verduidelik. “Ons voeg al dekades lank die een tekort by die ander, en sodoende verpand ons ons toekoms en dié van ons kinders vir die tydelike gerief wat ons nou geniet. As ons so voortgaan, sal hewige maatskaplike, kulturele, politieke en ekonomiese beroeringe beslis ons voorland wees.”
Die prentjie wat Reagan geskilder het, was dalk droewig, maar hy was nie heeltemal pessimisties nie. Hy het gesê: “Ons huidige ekonomiese probleme het oor etlike dekades ontstaan. Dit sal nie binne dae, weke of maande weggaan nie, maar dit sal weggaan.”—Ons kursiveer.
Hoe lyk die situasie vandag? In 2009 het ’n verslag van die Amerikaanse Departement van Behuising en Stedelike Ontwikkeling gesê: “’n Toenemende aantal mense . . . sal moontlik ly as gevolg van ’n oorbelaste infrastruktuur, onvoldoende behuising en verouderde gesondheidstelsels. Trouens, UN-HABITAT [’n agentskap van die Verenigde Nasies] voorspel dat een uit drie mense binne drie dekades in ’n byna hopelose situasie sal verkeer—sonder sanitasie en skoon water en blootgestel aan die naderende gevolge van klimaatsverandering, wat die verspreiding van siekte en moontlike pandemies sal bevorder.”
’n Wêreldwye probleem
Dink aan die volgende vrae, ongeag waar jy woon:
● Meen jy dat jy groter finansiële sekerheid geniet as ’n dekade gelede?
● Dink jy dat die gesondheidsorg wat vir jou en jou gesin beskikbaar is, voldoende is?
● Lewe jy nou in ’n skoner en beter omgewing as voorheen?
● As jy aan die toekoms dink, kan jy jou voorstel dat sake oor die volgende 10, 20 of 30 jaar sal verbeter?
’n Sosiale kontrak
Baie regerings volg ’n beleid wat ’n sosiale kontrak genoem word—’n geskrewe of onuitgesproke ooreenkoms tussen heersers en burgers wat die regte en pligte van albei partye bepaal. Byvoorbeeld, daar word oor die algemeen van burgers verwag om die wette van die land te gehoorsaam, belasting te betaal en tot ’n veilige omgewing by te dra. En heersers belowe gewoonlik dinge soos voldoende gesondheidsorg, gelykheid en ekonomiese sekerheid.
Hoe vaar regerings op hierdie drie gebiede? Kyk na die bewyse op die volgende drie bladsye.
Voldoende gesondheidsorg
Wat mense graag wil sien: Bekostigbare behandeling en doeltreffende geneesmiddels.
Die werklikheid:
● ’n Verslag oor sanitasie en higiëne wat deur die Wêreldbank vrygestel is, sê dat “6 000 kinders elke dag doodgaan weens siektes wat verband hou met onvoldoende sanitasie, swak higiëne en onveilige water. Diarree alleen eis elke 20 sekondes die lewe van ’n kind.”
● ’n Omvattende ondersoek wat in 2008 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gedoen is oor die voorsiening van gesondheidsorg in “ryk en arm lande”, het aan die lig gebring dat daar “’n ernstige wanverhouding bestaan” en dat daar “nie voldoen word aan toenemende verwagtinge dat gesondheidsorg mensgeoriënteerd, regverdig, bekostigbaar en doeltreffend moet wees nie”.
Twee jaar later het die WGO bevind dat “regerings regoor die wêreld sukkel om vir gesondheidsorg te betaal. Namate bevolkings ouer raak, meer mense aan chroniese siektes ly en nuwe en duurder behandelings hulle verskyning maak, skiet die koste van gesondheidsorg die hoogte in.”
● Daar was ook ’n onverwagse verwikkeling wat gesondheidsorg betref: Sogenaamde wonderkure werk moontlik nie meer nie. Siektes waaraan miljoene mense jare gelede gesterf het, soos melaatsheid en tering, is hokgeslaan deur antibiotika, waarvan die eerstes in die 1940’s verskyn het. Maar die WGO se verslag World Health Day 2011 sê: “Patogene wat teen geneesmiddels bestand is, verskyn en versprei al hoe vinniger. Al hoe meer noodsaaklike geneesmiddels raak ondoeltreffend. Die arsenaal van geneesmiddels krimp.”
Wat moet verander: Ons moet die vervulling sien van die Bybelprofesie wat die tyd voorspel wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24.
Geregtigheid en gelykheid
Wat mense graag wil sien: ’n Einde aan vooroordeel teen minderheidsgroepe en die mishandeling van vroue; ’n balans tussen die twee uiterstes—rykdom en armoede.
Die werklikheid:
● ’n Vername burgerregte-organisasie in die Verenigde State het gesê: “Geweld wat gerig is teen individue, plekke van aanbidding en gemeenskapsinstellings as gevolg van vooroordeel op grond van ras, godsdiens, seksuele oriëntasie of nasionaliteit, kom steeds gans te veel voor en bly ’n ernstige probleem in Amerika.”
● “Wêreldwyd word miljoene vroue steeds onderwerp aan ongeregtigheid, geweld en ongelykheid by die huis, by die werk en in die samelewing”, sê ’n persverklaring van die Verenigde Nasies wat gebaseer is op die verslag Progress of the World’s Women: In Pursuit of Justice. Byvoorbeeld, in Afganistan ontvang sowat 85 persent van vroue geen mediese bystand tydens kindergeboorte nie. In Jemen is daar geen wette teen gesinsgeweld nie. In die Demokratiese Republiek van die Kongo word gemiddeld meer as duisend vroue elke dag verkrag.
● In Oktober 2011 het die VN se sekretaris-generaal Ban Ki-moon gesê: “Ons wêreld is vol verskriklike teenstrydighede. Daar is baie kos, maar ’n miljard mense ly honger. ’n Paar geniet ’n oordadige lewenstyl, maar te veel ander lewe in armoede. Daar is yslike spronge in geneeskunde, terwyl moeders elke dag tydens kindergeboorte sterf . . . Miljarde word bestee aan wapens om mense dood te maak pleks van hulle te beskerm.”
Wat moet verander: Minderheidsgroepe en vroue moet regverdig behandel word, en diegene wat ‘die geteisterdes van geregtigheid beroof’, moet uit die weg geruim word.—Jesaja 10:1, 2.
Ekonomiese sekerheid
Wat mense graag wil sien: Werk vir almal; finansiële sekerheid.
Die werklikheid:
● Die Worldwatch-instituut berig dat “daar ’n toename is in die aantal potensiële werkers wat ekonomiese groei kan bevorder, maar dat werksgeleenthede moontlik nie teen dieselfde tempo geskep sal word nie. In die lig van die huidige ekonomiese insinking skat die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) dat die aantal werklose mense in 2010 reeds 205 miljoen bereik het.”
● “Die wêreldekonomie staan op die drumpel van ’n nuwe en erger werksresessie wat tot maatskaplike onrus kan lei, het die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gewaarsku”, sê ’n BBC-nuusberig. “Die onlangse verslapping in groei dui daarop dat slegs die helfte van die werksgeleenthede wat nodig is, geskep sal word. . . . Die groep [IAO] het ook bepaal in watter mate mense ontevrede is oor werkstekorte en kwaad is omdat hulle meen dat die las van die krisis nie regverdig versprei is nie. Dit het gesê dat baie lande, veral dié in die EU en die Arabiese streek, moontlik met maatskaplike onrus te kampe sal hê.”
● In die Verenigde State “beloop die gemiddelde kredietkaartskuld nou meer as $11 000 [R86 000], drie keer meer as in 1990”, sê die boek The Narcissism Epidemic, uitgegee in 2009. Volgens die skrywers maak baie mense skuld bloot om die indruk te skep dat hulle ryk is. “Amerikaners sien mense met spoggerige motors en klere en neem aan dat hulle ryk moet wees”, sê die boek. “In werklikheid kan jy eerder aanneem dat hulle in die skuld is.”
Wat moet verander: Daar moet vir almal werk wees, en mense moet ’n gebalanseerde beskouing van geldbesteding hê. Die Bybel erken dat “geld as ’n beskerming dien”, maar dit waarsku ook: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge.”—Prediker 7:12; 1 Timoteus 6:10.
Die inligting op bladsye 4 tot 8 gee ons dalk die idee dat ons die toekoms nie met vertroue tegemoet kan gaan nie. Maar die situasie is nie hopeloos nie. Ons wêreld sal ten goede verander—maar nie danksy die pogings van menseregerings nie.
[Venster/Grafiek op bladsy 5]
Wat sal jongmense graag omtrent die wêreld wil verander? Volgens die webwerf 4children.org het ’n opname wat in Brittanje onder ongeveer 2 000 kinders tussen die ouderdomme van 4 en 14 gedoen is, getoon dat hulle die volgende sou doen:
[Grafiek]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
100%
’N EINDE MAAK AAN HONGER
OORLOG BEËINDIG
ARMOEDE UIT DIE WEG RUIM
75%
TOESIEN DAT ALMAL GELYK BEHANDEL WORD
AARDVERWARMING STOPSIT
50%
25%
0%
[Venster/Grafiek op bladsy 5]
’n Opname wat in 2009 deur die Bertelsmann-stigting in Duitsland onder sowat 500 jongmense tussen die ouderdomme van 14 en 18 gedoen is, het aan die lig gebring wat hulle grootste bekommernisse is.
Terrorisme en bevolkingsgroei is van die probleme waaroor die jongmense nie juis bekommerd is nie. Selfs die finansiële krisis is nie vir hulle so belangrik nie. Volgens die Bertelsmann-stigting is dit moontlik die geval omdat hierdie jongmense nog nie in die werklike lewe deur hierdie probleme geraak is nie.
[Grafiek]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
100%
75% ARMOEDE
KLIMAATSVERANDERING ENOMGEWINGSVERNIETIGING
GEBREK AAN KOS EN DRINKWATER
WÊRELDWYE EPIDEMIES EN SIEKTES
50%
25%
0%