Seegoggas om aan te smul
’n Groep honger gaste sit in ’n restaurant in die stad New York. Met behulp van metaaleetgerei breek hulle die huidpantser van die groot insekagtige gediertes voor hulle knaphandig oop. Die gretige eters neem ’n happie van die sagte, soet vleis en steur hulle min aan die oë op terugtrekbare steeltjies wat hulle skynbaar van die bord af aanstaar. Wat eet hulle? Seegoggas wat kreef genoem word.
WAAROM die vergelyking met goggas? Vissermanne kon nie anders as om die ooreenkoms te sien tussen insekte en hierdie gepantserde seediere wat op die dek van hulle bote rondkruip nie.
Maar daar is nog ’n ooreenkoms. Aan die noordoostelike kuslyn van die Verenigde State was kreef gedurende die 1700’s so talryk soos swerms insekte. Hierdie skaaldiere is gevang en op landerye as bemesting gebruik. Dit is as visaas gebruik. Dit is vir gevangenes gegee om te eet. Destyds was kreef so volop dat ’n groep ontstelde kontrakwerkers in daardie omgewing ’n regsaak gewen het waarin daar beslis is dat hulle nie meer as drie keer per week kreef vir ete gegee mag word nie!
In teenstelling hiermee was kreef ’n seldsame lekkerny vir stedelinge wat ver van die see af gewoon het. Waarom? Want kreef bederf baie gou nadat dit doodgemaak is en kan nie gepreserveer word deur dit in te sout of te droog nie. Teen die middel-1800’s het produsente kreef egter in blikkies begin inlê, en meer mense kon dus die heerlike smaak daarvan geniet. Daarbenewens het die koms van spoorweë dit moontlik gemaak om lewende krewe regoor die Verenigde State te vervoer. Gevolglik het die aanvraag na kreef die hoogte ingeskiet. Maar dit was duur om vars kreef te vervoer, en daarom kon net die rykes hierdie luukse geniet.
Vandag vang vissermanne verskillende soorte kreef langs kuslyne oral in die wêreld. Die Amerikaanse kreef kom in die Atlantiese Oseaan voor, vanaf Newfoundland tot Noord-Carolina. Een van die wêreld se vernaamste bronne van kreef is Maine, in die noordooste van die Verenigde State. Gaar en lewende kreef word van daar af na alle wêrelddele uitgevoer. Verskaffers vervoer soms tot 36 000 kilogram kreef in ’n enkele vliegtuig.
Maatskappye vervaardig winsgewende voedselprodukte wat regoor die wêreld in aanvraag is, gewoonlik in groot hoeveelhede. Maar dit is nie die geval met kreef nie. Kreefvissers is oor die algemeen plaaslike inwoners wat vir hulleself werk. Hulle teel nie die kreef kunsmatig in kwekerye nie, maar vang dit in die kreef se habitat—in hierdie geval, die Atlantiese Oseaan.
Hoe om ’n kreef te vang
Hoe word kreef gevang? Om hierdie vraag te beantwoord, het Ontwaak! gesels met Jack, ’n kreefvisser van die vierde geslag in Bar Harbor, Maine. Jack het op 17 begin kreef vang, en hy werk in dieselfde baai waarin sy oupagrootjie gewerk het. Jack se vrou, Annette, is ook in die kreefbedryf. “Ek het in ’n familie van vissermanne ingetrou”, sê sy. “Ek was twee jaar lank ’n leerling op Jack se boot, en later het ek my eie boot gekoop.”
Hoe vang Jack en Annette kreef? “Ons neem ’n kreefvanghok, ’n reghoekige metaalhok met ’n klein opening”, verduidelik Annette, “en binne-in sit ons ’n netsakkie vol aas, gewoonlik haring.” Die vissermanne maak ’n dobber aan elke vanghok vas. “Elke visserman verf sy dobbers ’n kenmerkende kleur sodat hy dit later kan identifiseer”, sê Annette.
Wanneer die vanghok oorboord gegooi word, sink dit tot op die seebodem, en die dobber met sy kenmerkende kleur dryf op die wateroppervlak sodat die vissermanne hulle vanghokke maklik kan vind. “Ons los die vanghokke ’n paar dae in die water”, sê Annette, “en dan gaan ons terug en trek ons hulle uit. As daar ’n kreef in is, haal ons dit uit en meet ons dit.” Eerlike vissers soos Jack en Annette gooi klein krewe terug in die see; party kreefwyfies word ook vrygelaat om verder aan te teel.
Dan gaan verkoop die vissermanne die lewende krewe by ’n nabygeleë hawe. Buiten ’n paar groepe wat saamwerk, is daar geen getekende kontrakte nie—net plaaslike vissers wat hulle vangs aan plaaslike handelaars verkoop. Soos vroeër gemeld is, word kreef gewoonlik nie kunsmatig geteel nie. “Sommige kreefvissers is toestemming gegee om wyfies wat eiers dra, in te bring”, sê Jack. “Hulle laat die eiers uitbroei en laat die krefies ’n bietjie groter word voordat hulle hulle in die see vrylaat. Hierdie gebruik verhoog die krewe se oorlewingsyfer.”
Om ’n kreefvisser te wees, is dalk nie die maklikste manier om ’n bestaan te maak of die beste manier om ryk te word nie. Maar as jy hierdie kreefvissers vra, sal hulle jou vertel van ander belonings—die vryheid wat ’n mens geniet as jy jou eie klein besigheid besit of die tevredenheid wat dit meebring om ’n gemeenskaps- en familietradisie voort te sit of die genot daarvan om by die see te woon en te werk. Maar bowenal bring dit hierdie vissermanne groot vreugde om te weet dat honger kreefliefhebbers regoor die wêreld hulle kosbare vangs van seegoggas sal geniet.
[Venster/Prent op bladsy 12]
DIE GEVARE VAN KREEFVISSERY
Kreefvissery lyk dalk soos ’n veilige beroep. Maar dit is nie. Die Nasionale Instituut vir Beroepsveiligheid en -gesondheid (NIOSH) sê byvoorbeeld: “Van 1993 tot 1997 was die sterftesyfer onder kreefvissers in Maine 14 uit elke 100 000 gelisensieerde vissermanne, meer as 2,5 keer die nasionale gemiddelde (4,8 uit elke 100 000 werkers) vir alle industrieë.”
Volgens NIOSH het ’n ondersoek deur ’n Amerikaanse kuswag aan die lig gebring dat “kreefvissers dikwels verstrengel raak in los toue op die dek, dan deur die vanghokke oorboord getrek word en verdrink wanneer hulle hulle nie van die toue kan bevry of weer aan boord kan kom nie”. In ’n opname wat gedurende 1999 en 2000 onder 103 kreefvissers gedoen is, het byna 3 uit elke 4 gesê dat hulle al in die vanghokke se toue verstrengel geraak het, hoewel nie almal daardeur oorboord getrek is nie. Veiligheidsmaatreëls is aanbeveel om te verseker dat kreefvissers óf die gereedskap het om hulle los te sny óf in die eerste plek nie verstrengel raak nie.
[Prente op bladsye 10, 11]
1. Jack trek die kreefvanghok op
2. Annette en Jack haal die krewe deur ’n klein opening uit die metaalhok uit
3. Elke kreef word met ’n kreefmaatstok gemeet