Hoofstuk Tien
’n Koninkryk “wat nooit vernietig sal word nie”
1. Watter feit het wêreldgebeure deur die hele mensegeskiedenis heen beklemtoon?
WÊRELDGEBEURE beklemtoon elke dag die feit dat mense nie geluk gevind het deur Jehovah se soewereiniteit te verwerp en oor hulleself te probeer heers nie. Geen stelsel van menseregering het die mensdom onpartydig bevoordeel nie. Hoewel die mens nou ongeëwenaarde wetenskaplike kennis het, kon hy nie daarin slaag om van siekte ontslae te raak of ’n einde aan die dood te maak nie, nie eens vir een persoon nie. Menseheerskappy het nie oorlog, geweld, misdaad, verdorwenheid of armoede uit die weg geruim nie. Onderdrukkende regerings heers nog steeds oor mense in baie lande (Prediker 8:9). Die tegnologie, hebsug en onkunde is gesamentlik verantwoordelik vir die besoedeling van die grond, water en lug. Ekonomiese wanbestuur deur amptenare maak dit vir baie mense moeilik om lewensbenodigdhede te bekom. Duisende jare van menseheerskappy het die volgende feit duidelik gemaak: “Aan die mens [behoort] sy weg nie. . . . Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.
2. Wat is die enigste oplossing vir die mensdom se probleme?
2 Wat is die oplossing? God se Koninkryk, waarvoor Jesus sy volgelinge leer bid het: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). God se hemelse Koninkryk word in 2 Petrus 3:13 beskryf as die “nuwe hemele”, wat oor die “nuwe aarde”, dit wil sê die regverdige mensegemeenskap, sal heers. God se hemelse Koninkryk is so belangrik dat Jesus dit die hooftema van sy predikingswerk gemaak het (Matteus 4:17). Hy het getoon watter plek dit in ons lewe moet inneem toe hy gesê het: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek.”—Matteus 6:33.
3. Waarom is dit uiters dringend dat mense nou van God se Koninkryk leer?
3 Dit is uiters dringend dat mense nou van God se Koninkryk leer, want hierdie Koninkryk sal binnekort optree en die heerskappy oor hierdie aarde vir ewig verander. Daniël 2:44 voorspel: “In die dae van dié konings [regerings wat nou heers] sal die God van die hemel ’n koninkryk [in die hemel] oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie [mense sal nooit weer oor die aarde heers nie]. Dit sal al hierdie [teenswoordige] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.” Die Koninkryk sal dus hierdie laaste dae tot ’n einde bring deur die hele goddelose stelsel van dinge te vernietig. Heerskappy oor die aarde deur die hemelse Koninkryk sal dan deur niemand betwis word nie. Hoe dankbaar moet ons tog wees dat die verligting wat dit sal bring, nou baie naby is!
4. Wat het in 1914 in verband met die Koninkryk in die hemel gebeur, en waarom is dit vir ons belangrik?
4 Christus Jesus is in 1914 as Koning gekroon en gemagtig om ‘te midde van sy vyande te gaan oorwin’ (Psalm 110:1, 2). “Die laaste dae” van hierdie teenswoordige goddelose stelsel van dinge het ook in daardie jaar begin (2 Timoteus 3:1-5, 13). Terselfdertyd het gebeure wat Daniël in ’n profetiese visioen gesien het, in die hemel plaasgevind. “Die Oue van Dae”, Jehovah God, het aan die Seun van die mens, Jesus Christus, “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien”. Aangaande die visioen het Daniël geskryf: “Sy heerskappy is ’n heerskappy van onbepaalde duur wat nie sal verbygaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Daniël 7:13, 14). Deur middel van hierdie hemelse Koninkryk in die hande van Christus Jesus sal God liefhebbers van regverdigheid in staat stel om die tallose goeie dinge te geniet wat hy in gedagte gehad het toe hy ons eerste menseouers in die Paradys geplaas het.
5. In watter besonderhede omtrent die Koninkryk het ons ’n lewendige belangstelling, en waarom?
5 Wil jy ’n lojale onderdaan van die Koninkryk wees? Dan sal jy ’n lewendige belangstelling in die samestelling en werking van hierdie hemelse regering hê. Jy sal wil weet wat dit nou doen, wat dit in die toekoms tot stand sal bring en wat dit van jou vereis. Wanneer jy die Koninkryk noukeurig ondersoek, sal jou waardering daarvoor toeneem. As jy gunstig reageer op die heerskappy daarvan, sal jy beter toegerus wees om ander te vertel van die wonderlike dinge wat God se Koninkryk vir die gehoorsame mensdom sal doen.—Psalm 48:12, 13.
Die heersers van God se Koninkryk
6. (a) Hoe toon die Skrif wie se soewereiniteit deur middel van die Messiaanse Koninkryk uitgeoefen word? (b) Watter uitwerking moet die dinge wat ons van die Koninkryk leer, op ons hê?
6 Een van die eerste dinge wat so ’n ondersoek aan die lig bring, is dat hierdie Messiaanse Koninkryk ’n middel is waardeur Jehovah sy soewereiniteit uitoefen. Dit was Jehovah wat “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk” aan sy Seun gegee het. Nadat God se Seun die gesag ontvang het om as Koning te begin regeer, het stemme in die hemel tereg uitgeroep: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here [Jehovah God] en van sy Christus geword, en hy [Jehovah] sal vir ewig en altyd as koning heers” (Openbaring 11:15). Alles wat ons waarneem omtrent hierdie Koninkryk en wat dit tot stand bring, kan ons dus nader aan Jehovah laat kom. Wat ons leer, moet by ons ’n begeerte wek om ons vir ewig aan sy soewereiniteit te onderwerp.
7. Waarom is dit vir ons van spesiale belang dat Jesus Christus Jehovah se Adjunkheerser is?
7 Dink ook aan die feit dat Jehovah Jesus Christus as sy Adjunkheerser op die troon geplaas het. As die Meesterwerker wat deur God gebruik is om die aarde en mense te maak, ken Jesus ons behoeftes beter as enigeen van ons. Daarbenewens het hy van die begin van die mensegeskiedenis af getoon dat hy ‘vir die mensekinders lief is’ (Spreuke 8:30, 31; Kolossense 1:15-17). Sy liefde vir mense is so groot dat hy persoonlik aarde toe gekom het en sy lewe as ’n losprys vir ons gegee het (Johannes 3:16). Sodoende het hy dit vir ons moontlik gemaak om van sonde en die dood bevry te word en die ewige lewe te verkry.—Matteus 20:28.
8. (a) Waarom sal God se regering voortbestaan, in teenstelling met menseregerings? (b) Wat is die verband tussen “die getroue en verstandige slaaf” en die hemelse regering?
8 God se Koninkryk is ’n stabiele, permanente regering. Die permanentheid daarvan word verseker deur die feit dat Jehovah self nie sterf nie (Habakuk 1:12). In teenstelling met mensekonings is Jesus Christus, die een aan wie God koningskap toevertrou het, ook onsterflik (Romeine 6:9; 1 Timoteus 6:15, 16). Saam met Christus sal 144 000 ander lojale knegte van God uit “elke stam en taal en volk en nasie” op hemelse trone sit. Hulle word ook onsterflike lewe gegee (Openbaring 5:9, 10; 14:1-4; 1 Korintiërs 15:42-44, 53). Die oorgrote meerderheid van hulle is reeds in die hemel, en die oorblyfsel van hulle wat nog op die aarde is, maak die hedendaagse “getroue en verstandige slaaf” uit, wat die belange van die Koninkryk hier lojaal bevorder.—Matteus 24:45-47.
9, 10. (a) Watter verdelende, verderflike invloede sal die Koninkryk verwyder? (b) Betrokkenheid by watter dinge moet ons vermy as ons nie vyande van God se Koninkryk wil word nie?
9 Jehovah sal binnekort, op sy vasgestelde tyd, sy teregstellingsmagte stuur om die aarde te reinig. Hulle sal die mense vir ewig vernietig wat uit eie keuse weier om sy soewereiniteit te erken en wat die liefdevolle voorsienings minag wat hy deur Jesus Christus maak (2 Tessalonisense 1:6-9). Dit sal Jehovah se dag wees, die langverwagte tyd wanneer hy as Universele Soewerein geregverdig word. “Kyk! Die dag van Jehovah kom, wreed, met grimmigheid sowel as met brandende toorn, . . . om die land se sondaars daaruit te verdelg” (Jesaja 13:9). “Dié dag is ’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en van angs, ’n dag van storms en van verwoesting, ’n dag van duisternis en van somberheid, ’n dag van wolke en van dik donkerheid.”—Sefanja 1:15.
10 Alle valse godsdiens en alle menseregerings en hulle leërs, wat deur die onsigbare, bose heerser van hierdie wêreld gemanipuleer is, sal vir ewig uitgeroei word. Almal wat hulle as deel van hierdie wêreld identifiseer deur ’n egosentriese, oneerlike, onsedelike lewe te lei, sal vernietig word. Satan en sy demone sal verwyder word sodat hulle geen kontak met die aarde se bewoners het nie en sal duisend jaar lank opgesluit wees. God se Koninkryk sal dan volle beheer oor al die aarde se aangeleenthede hê. Wat ’n verligting sal dit tog wees vir almal wat regverdigheid liefhet!—Openbaring 18:21, 24; 19:11-16, 19-21; 20:1, 2.
Die Koninkryk se oogmerke—Hoe dit bereik sal word
11. (a) Hoe sal die Messiaanse Koninkryk Jehovah se voorneme vir die aarde verwesenlik? (b) Wat sal Koninkryksheerskappy beteken vir mense wat dan op die aarde lewe?
11 Die Messiaanse Koninkryk sal God se oorspronklike voorneme vir die aarde ten volle verwesenlik (Genesis 1:28; 2:8, 9, 15). Die mensdom het tot vandag toe versuim om hierdie voorneme te ondersteun. Maar “die toekomstige bewoonde aarde” sal aan die Seun van die mens, Jesus Christus, onderwerp word. Almal wat die voltrekking van Jehovah se oordeel aan hierdie ou stelsel oorleef, sal in eenheid onder Christus, die Koning, werk en met graagte alles doen wat hy beveel, sodat die hele aarde ’n paradys kan word (Hebreërs 2:5-9). Die hele mensdom sal die werk van hulle hande geniet en ten volle baat vind by die aarde se oorvloedige opbrengs.—Psalm 72:1, 7, 8, 16-19; Jesaja 65:21, 22.
12. Hoe sal onderdane van die Koninkryk volmaak word wat verstand en liggaam betref?
12 Toe Adam en Eva geskep is, was hulle volmaak, en dit was God se voorneme dat die aarde gevul moes word met hulle nageslag, wat almal volmaak sou wees wat verstand en liggaam betref. Hierdie voorneme sal onder die heerskappy van die Koninkryk op glorieryke wyse verwesenlik word. Dit beteken dat al die gevolge van sonde uit die weg geruim moet word, en daarom dien Christus nie net as Koning nie, maar ook as Hoëpriester. Hy sal sy gehoorsame onderdane geduldig help om baat te vind by die versoeningswaarde van sy eie menselewe as offerande.
13. Watter fisiese voordele sal onder Koninkryksheerskappy geniet word?
13 Onder Koninkryksheerskappy sal die aarde se bewoners wonderlike fisiese voordele geniet. “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep” (Jesaja 35:5, 6). Vlees wat deur veroudering of siekte geskend is, sal frisser as dié van ’n kind word, en chroniese swakhede sal voor blakende gesondheid wyk. “Laat sy vlees frisser word as in die jeug; laat hy terugkeer na die dae van sy jeugdige krag” (Job 33:25). Die dag sal kom wanneer niemand rede sal hê om te sê: “Ek is siek” nie. Waarom nie? Want godvresende mense sal van die las van sonde en die pynlike gevolge daarvan verlos word (Jesaja 33:24; Lukas 13:11-13). Ja, God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
14. Wat sluit menslike volmaaktheid in?
14 Volmaaktheid sluit egter baie meer in as om ’n gesonde liggaam en ’n gesonde verstand te hê. Dit sluit in dat ons Jehovah se eienskappe behoorlik weerspieël, aangesien ons ‘na God se beeld, ooreenkomstig sy gelykenis,’ gemaak is (Genesis 1:26). Daarom sal baie onderrigting nodig wees. In die nuwe wêreld “sal regverdigheid woon”. Gevolglik “sal die bewoners van die vrugbare land beslis regverdigheid leer”, soos Jesaja voorspel het (2 Petrus 3:13; Jesaja 26:9). Hierdie eienskap lei tot vrede—tussen mense van alle rasse, onder intieme metgeselle, in die gesin en bowenal met God (Psalm 85:10-13; Jesaja 32:17). Diegene wat regverdigheid leer, sal progressief geleer word wat God se wil vir hulle is. Namate liefde vir Jehovah diep in hulle hart gewortel raak, sal hulle sy weë in elke aspek van hulle lewe volg. Hulle sal soos Jesus kan sê: ‘Ek doen altyd die dinge wat my Vader behaag’ (Johannes 8:29). Hoe aangenaam sal die lewe tog wees wanneer dít waar is van die hele mensdom!
Wat reeds bereik is
15. Gebruik die vrae in hierdie paragraaf om die aandag te vestig op dinge wat die Koninkryk bereik het en te toon wat ons nou moet doen.
15 Die indrukwekkende dinge wat God se Koninkryk en die onderdane daarvan reeds bereik het, kan duidelik gesien word. Die volgende vrae en tekste sal jou aan party van hierdie dinge herinner, asook aan dinge wat al die onderdane van die Koninkryk nou kan en moet doen.
Teen wie het die Koninkryk eerste opgetree, en met watter gevolg? (Openbaring 12:7-10, 12)
Die insameling van die oorblywende lede van watter groep het aandag gekry sedert Christus op die troon geplaas is? (Openbaring 14:1-3)
Watter werk het Jesus voorspel sou hy doen nadat die groot verdrukking uitgebreek het, soos opgeteken in Matteus 25:31-33?
Watter voorbereidingswerk word vandag gedoen? Wie neem daaraan deel? (Psalm 110:3; Matteus 24:14; Openbaring 14:6, 7)
Waarom kon politieke en godsdiensteenstanders nie die predikingswerk stopsit nie? (Sagaria 4:6; Handelinge 5:38, 39)
Watter veranderinge het plaasgevind in die lewe van diegene wat hulle aan Koninkryksheerskappy onderwerp? (Jesaja 2:4; 1 Korintiërs 6:9-11)
Duisendjarige Koninkryk
16. (a) Hoe lank sal Christus regeer? (b) Watter wonderlike dinge sal gedurende daardie tyd en daarna gedoen word?
16 Nadat Satan en sy demone in die afgrond gewerp is, sal Jesus Christus en sy 144 000 mede-erfgename duisend jaar lank as konings en priesters regeer (Openbaring 20:6). Gedurende daardie tydperk sal die mensdom tot volmaaktheid gebring word sodat sonde en die Adamitiese dood vir ewig uitgewis sal wees. Aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy sal Jesus, wat sy toewysing as Messiaanse Koning-Priester suksesvol uitgevoer het, “die koninkryk aan sy . . . Vader oorgee . . . sodat God alles vir elkeen kan wees” (1 Korintiërs 15:24-28). Dan word Satan ’n kort rukkie vrygelaat om die losgekoopte mensdom se ondersteuning van Jehovah se universele soewereiniteit te toets. Nadat hierdie finale toets voltooi is, sal Jehovah Satan en die opstandiges wat hulle aan sy kant geskaar het, vernietig (Openbaring 20:7-10). Diegene wat Jehovah se soewereiniteit—sy reg om te regeer—ondersteun het, sal hulle onwrikbare lojaliteit ten volle bewys het. Hulle sal dan in die regte verhouding met Jehovah gebring word, aangesien hy hulle as seuns en dogters sal aanvaar wat Goddelik goedgekeur is vir die ewige lewe.—Romeine 8:21.
17. (a) Wat sal aan die einde van die duisend jaar met die Koninkryk gebeur? (b) In watter sin is dit waar dat die Koninkryk “nooit vernietig sal word nie”?
17 Jesus se rol en dié van die 144 000 sal dus ten opsigte van die aarde verander. Wat sal hulle toekomstige werk wees? Die Bybel sê nie. Maar as ons Jehovah se soewereiniteit getrou ondersteun, sal ons aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy lewe en uitvind wat Jehovah se voorneme vir hulle sowel as vir sy ontsagwekkende heelal is. Nietemin sal Christus se Duisendjarige Heerskappy van “onbepaalde duur” wees en sy Koninkryk ‘sal nie vernietig word nie’ (Daniël 7:14). In watter sin? Om maar een ding te noem, die heersersgesag sal nie oorgaan in die hande van ander wat nie dieselfde oogmerke het nie, want Jehovah sal die Heerser wees. En die Koninkryk ‘sal nooit vernietig word nie’ omdat die dinge wat dit bereik het, vir ewig sal duur (Daniël 2:44). En die Messiaanse Koning-Priester en sy mede-koning-priesters sal vir ewig geëer word weens hulle getroue diens aan Jehovah.
Hersieningsbespreking
• Waarom is God se Koninkryk die enigste oplossing vir die mensdom se probleme? Wanneer het die Koning van God se Koninkryk begin regeer?
• Wat omtrent God se Koninkryk en wat dit sal bereik, het jou in die besonder getref?
• Watter dinge wat die Koninkryk bereik het, kan ons reeds sien, en watter aandeel het ons daaraan?
[Prent op bladsy 92, 93]
Onder God se Koninkryk sal alle mense regverdigheid leer