Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wt hfst. 11 bl. 101-109
  • ‘Hou aan om eers die koninkryk te soek’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Hou aan om eers die koninkryk te soek’
  • Aanbid die enigste ware God
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moenie toelaat dat Koninkrykswaarheid verstik word nie
  • Vroeë dissipels stel ’n voorbeeld
  • Hou die Koninkryk eerste in jou lewe
  • Hoe sterk is jou vertroue in God?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • God se Koninkryk—Begryp jy die sin daarvan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Ondersteun God se Koninkryk nou!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2020
  • Matteus 6:33 – “Soek eers die koninkryk van God”
    Verduidelikings van Bybelverse
Sien nog
Aanbid die enigste ware God
wt hfst. 11 bl. 101-109

Hoofstuk Elf

‘Hou aan om eers die koninkryk te soek’

1. (a) Waarom het Jesus sy toehoorders aangespoor om eers die Koninkryk te soek? (b) Watter vraag moet ons ons afvra?

MEER as 1 900 jaar gelede het Jesus sy toehoorders in ’n toespraak in Galilea aangespoor: “Hou dan aan om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek.” Maar waarom die dringendheid? Sou Christus dan nie eers baie eeue later Koninkryksmag ontvang nie? Ja, maar die Messiaanse Koninkryk sou die middel wees waardeur Jehovah sy soewereiniteit sal regverdig en sy wonderlike voorneme vir die aarde sal vervul. Enigiemand wat werklik besef het hoe belangrik hierdie dinge is, sou die Koninkryk eerste in sy lewe stel. As dit in die eerste eeu die geval was, hoeveel te meer dan vandag, noudat Christus as Koning gekroon is! Die vraag is dus: Toon my lewenswyse dat ek eers God se Koninkryk soek?—Matteus 6:33.

2. Wat jaag mense oor die algemeen gretig na?

2 Daar is vandag miljoene mense oor die hele wêreld wat wel eers die Koninkryk soek. Hulle toon dat hulle Koninkryksheerskappy ondersteun deur die uitvoering van Jehovah se wil die middelpunt van hulle lewe te maak, aangesien hulle hulle aan hom toegewy het. Daarenteen stel die oorgrote meerderheid van die mensdom in wêreldse dinge belang. Mense jaag geld na, sowel as die besittings en genietinge wat geld kan koop. Of hulle span hulle in om hulle loopbaan te bevorder. Hulle lewenswyse toon dat hulle behep is met hulleself, materiële dinge en genietinge. Hulle stel God tweede, dit is as hulle enigsins in hom glo.—Matteus 6:31, 32.

3. (a) Watter soort skatte het Jesus sy dissipels aangespoor om te soek, en waarom? (b) Waarom is dit glad nie nodig om uitermate besorg te wees oor materiële dinge nie?

3 Maar Jesus het hierdie raad aan sy dissipels gegee: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar”, aangesien sulke besittings nie vir ewig duur nie. Hy het gesê: “Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op” deur Jehovah te dien. Jesus het sy volgelinge aangespoor om hulle oog “eenvoudig” te hou deur hulle aandag en krag daarop toe te spits om God se wil te doen. “Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie”, het hy vir hulle gesê. Maar wat van materiële behoeftes—kos, klere en huisvesting? “Hou op om julle te kwel”, het Jesus gemaan. Hy het hulle aandag op die voëls gevestig—God voed hulle. Jesus het sy volgelinge aangespoor om ’n les by die blomme te leer—God klee hulle. Is Jehovah se intelligente menseskepsele nie meer werd as enige van hierdie dinge nie? “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek”, het Jesus gesê, “en al hierdie ander [nodige] dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:19-34). Toon jou dade dat jy dit glo?

Moenie toelaat dat Koninkrykswaarheid verstik word nie

4. Wat kan die gevolg wees as ’n mens te veel waarde aan materiële dinge heg?

4 Dit is gepas dat ’n mens daaroor besorg is om in jou en jou gesin se materiële behoeftes te voorsien. Maar as jy uitermate besorg is oor materiële dinge, kan die gevolge rampspoedig wees. Al sê jy dat jy in die Koninkryk glo, sal Koninkrykswaarheid verstik word as jy ander dinge in jou hart eerste stel (Matteus 13:18-22). Byvoorbeeld, by een geleentheid het ’n ryk jong heerser vir Jesus gevra: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” Hy het ’n sedelike lewe gelei en ander goed behandel, maar hy was te geheg aan sy materiële besittings. Hy kon dit nie oor sy hart kry om daarvan af te sien sodat hy ’n volgeling van Christus kon word nie. Hy het dus ’n geleentheid laat verbygaan wat daartoe kon gelei het dat hy saam met Christus in die hemelse Koninkryk sou wees. Jesus het by hierdie geleentheid gesê: “Hoe moeilik sal dit tog vir dié met geld wees om in die koninkryk van God in te gaan!”—Markus 10:17-23.

5. (a) Met watter dinge het Paulus Timoteus aangespoor om tevrede te wees, en waarom? (b) Hoe gebruik Satan “die liefde vir geld” as ’n vernietigende strik?

5 Jare later het die apostel Paulus aan Timoteus geskryf, wat toe in Efese, ’n welvarende handelsentrum, was. Paulus het hom herinner: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.” Dit is gepas dat ’n mens werk om jou en jou gesin van “voedsel, klere en onderdak” te voorsien. Maar Paulus het gewaarsku: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort.” Satan is geslepe. Hy verlok ’n mens eers met klein dingetjies. Dit word dikwels gevolg deur groter druk, miskien ’n geleentheid vir bevordering of om ’n beter werk te kry met hoër betaling maar wat tyd in beslag neem wat vroeër vir geestelike sake opsy gesit is. Tensy ons op ons hoede is, kan “die liefde vir geld” die baie belangriker Koninkryksbelange verdring. Paulus het dit soos volg gestel: “Deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:7-10.

6. (a) Wat moet ons doen as ons nie deur materialisme verstrik wil word nie? (b) Watter vertroue kan ons selfs in die lig van die wêreld se hedendaagse ekonomiese situasie hê?

6 Met opregte liefde vir sy Christenbroer het Paulus Timoteus aangespoor: “Vlug vir hierdie dinge” en “Stry die goeie stryd van die geloof” (1 Timoteus 6:11, 12). Groot inspanning is nodig as ons nie deur die materialistiese lewenswyse van die wêreld om ons meegesleur wil word nie. Maar as ons ons in ooreenstemming met ons geloof inspan, sal Jehovah ons nooit versaak nie. Ondanks hoë pryse en algemene werkloosheid sal hy seker maak dat ons het wat ons werklik nodig het. Paulus het geskryf: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want [God] het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.’ Daarom kan ons goeie moed hou en sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?’” (Hebreërs 13:5, 6). En koning Dawid het geskryf: “Ek was eens ’n jong man, ook het ek oud geword, en tog het ek geen regverdige heeltemal verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie.”—Psalm 37:25.

Vroeë dissipels stel ’n voorbeeld

7. Watter instruksies het Jesus sy dissipels in verband met die predikingswerk gegee, en waarom was dit gepas?

7 Nadat Jesus sy apostels die nodige opleiding gegee het, het hy hulle in Israel uitgestuur om die goeie nuus te verkondig en te sê: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Wat ’n opwindende boodskap was dit tog! Jesus Christus, die Messiaanse Koning, was in hulle midde. Aangesien die apostels hulle aan die diens van God gewy het, het Jesus hulle aangespoor om die vertroue te hê dat God vir hulle sal sorg. Hy het dus gesê: “Moet niks vir die reis saamdra nie, nie staf of voedselsak of brood of silwergeld nie; moet ook nie twee onderkledingstukke hê nie. Maar oral waar julle in ’n huis ingaan, bly daar en vertrek daarvandaan” (Matteus 10:5-10; Lukas 9:1-6). Jehovah sou sorg dat hulle mede-Israeliete, onder wie gasvryheid aan vreemdelinge die gebruik was, in hulle behoeftes voorsien.

8. (a) Waarom het Jesus kort voor sy dood nuwe instruksies in verband met die predikingswerk gegee? (b) Wat moes nog steeds eerste in die lewe van Jesus se volgelinge wees?

8 Later, net voor sy dood, het Jesus sy apostels bewus gemaak van die feit dat hulle in die toekoms onder veranderde omstandighede sou werk. As gevolg van amptelike teenstand teen hulle werk sou gasvryheid miskien nie so geredelik aan hulle bewys word in Israel nie. En hulle sou weldra die Koninkryksboodskap na die nie-Joodse lande uitdra. Dan sou hulle “’n beurs” en “’n voedselsak” moes saamneem. Hulle sou nietemin moes aanhou om eers Jehovah se Koninkryk en sy regverdigheid te soek, in die vertroue dat God hulle pogings sou seën om die nodige voedsel, klere en onderdak te kry.—Lukas 22:35-37.

9. Hoe het Paulus die Koninkryk eerste in sy lewe gestel terwyl hy in sy fisiese behoeftes voorsien het, en watter raad het hy oor hierdie saak gegee?

9 Die apostel Paulus was ’n goeie voorbeeld van iemand wat Jesus se raad toegepas het. Paulus het sy lewe om die bediening gebou (Handelinge 20:24, 25). Wanneer hy na ’n gebied gegaan het om te preek, het hy in sy eie materiële behoeftes voorsien, selfs deur tente te maak. Hy het nie verwag dat ander vir hom moet sorg nie (Handelinge 18:1-4; 1 Tessalonisense 2:9). Hy het nietemin gasvryheid en geskenke met dank aanvaar wanneer ander hulle liefde op hierdie manier betoon het (Handelinge 16:15, 34; Filippense 4:15-17). Paulus het Christene nie aangemoedig om hulle gesinsverpligtinge te verwaarloos sodat hulle kan preek nie, maar eerder om die balans tussen hulle verskillende verantwoordelikhede te handhaaf. Hy het hulle gemaan om te werk, hulle gesin lief te hê en mededeelsaam te wees (Efesiërs 4:28; 2 Tessalonisense 3:7-12). Hy het hulle aangespoor om op God te vertrou, nie op materiële besittings nie, en om hulle lewe te gebruik op ’n manier wat toon dat hulle werklik verstaan wat die belangriker dinge is. In ooreenstemming met Jesus se leringe het dit beteken dat hulle eers God se Koninkryk en sy regverdigheid moet soek.—Filippense 1:9-11.

Hou die Koninkryk eerste in jou lewe

10. Wat beteken dit om eers die Koninkryk te soek?

10 In watter mate verkondig ons persoonlik die goeie nuus van die Koninkryk aan ander? Dit hang gedeeltelik af van ons omstandighede en die diepte van ons waardering. Hou in gedagte dat Jesus nie gesê het: ‘Soek die Koninkryk as jy niks anders het om te doen nie.’ Omdat hy geweet het hoe belangrik die Koninkryk is, het hy sy Vader se wil uitgespreek en gesê: “Soek voortdurend sy koninkryk” (Lukas 12:31). Hoewel die meeste van ons moet werk om in ons behoeftes en dié van ons gesin te voorsien, sal die Koninkrykswerk wat God ons gegee het, die middelpunt van ons lewe wees as ons geloof het. Terselfdertyd sal ons ons gesinsverantwoordelikhede nakom.—1 Timoteus 5:8.

11. (a) Hoe het Jesus toegelig dat nie almal die Koninkryksboodskap in dieselfde mate sal kan verkondig nie? (b) Watter faktore het ’n invloed op hoeveel ’n mens kan doen?

11 Party van ons kan meer tyd aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk wy as ander. Maar in sy gelykenis oor verskillende soorte grond het Jesus getoon dat almal wie se harte soos goeie grond is, vrug sal dra. In watter mate? Mense se omstandighede verskil. Ouderdom, gesondheid en gesinsverantwoordelikhede is almal faktore. Maar as daar opregte waardering is, kan baie verrig word.—Matteus 13:23.

12. Watter heilsame geestelike doelwit word veral jongmense aangespoor om te oorweeg?

12 Dit is goed om doelwitte te hê wat ons sal help om meer in die Koninkryksbediening te doen. Jongmense moet ernstig nadink oor die uitstekende voorbeeld van die ywerige jong Christen, Timoteus (Filippense 2:19-22). Wat kan beter wees as dat hulle die voltydse bediening betree wanneer hulle hulle skoolloopbaan voltooi? Ouer persone sal ook daarby baat vind as hulle heilsame geestelike doelwitte stel.

13. (a) Wie besluit wat ons persoonlik in Koninkryksdiens kan doen? (b) Wat bewys ons as ons werklik eers die Koninkryk soek?

13 Ons moenie diegene kritiseer wat na ons mening meer kan doen nie, maar moet eerder deur geloof beweeg word om onsself te verbeter sodat ons God kan dien in die mate wat ons eie omstandighede toelaat (Romeine 14:10-12; Galasiërs 6:4, 5). Soos Job se geval toon, beweer Satan dat ons hoofsaaklik in ons materiële besittings, ons eie gerief en ons persoonlike welsyn belangstel en dat ons God om selfsugtige redes dien. Maar as ons werklik eers die Koninkryk soek, help ons om te bewys dat die Duiwel ’n gruwelike leuenaar is. Ons toon dat diens aan God eerste in ons lewe kom. Ons bewys sodoende in woord en daad ons innige liefde vir Jehovah, ons lojale ondersteuning van sy soewereiniteit en ons liefde vir ons medemens.—Job 1:9-11; 2:4, 5; Spreuke 27:11.

14. (a) Waarom is ’n rooster vir die veldbediening nuttig? (b) In watter mate neem baie Getuies aan die veldbediening deel?

14 ’n Rooster kan ons help om meer uit te rig as wat ons andersins sou kon doen. Jehovah het “’n vasgestelde tyd” om sy voorneme uit te voer (Eksodus 9:5; Markus 1:15). Dit is goed om elke week op een of meer vasgestelde tye aan die veldbediening deel te neem, indien moontlik. Honderdduisende van Jehovah se Getuies in alle wêrelddele het as hulppioniers ingeskryf en bestee elke dag ongeveer twee uur aan die verkondiging van die goeie nuus. Honderdduisende ander dien as gewone pioniers en gebruik sowat twee en ’n half uur per dag om die Koninkryksboodskap bekend te maak. Spesiale pioniers en sendelinge bestee selfs meer tyd aan Koninkryksdiens. Ons kan ook geleenthede soek om enigiemand wat sal luister, informeel van die Koninkrykshoop te vertel (Johannes 4:7-15). Dit moet ons begeerte wees om soveel in hierdie werk te doen as wat ons omstandighede toelaat, want Jesus het voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14; Efesiërs 5:15-17.

15. Waarom dink jy dat die raad in 1 Korintiërs 15:58 tydig is wat ons bediening betref?

15 Jehovah se Getuies in alle wêrelddele, ongeag in watter land hulle woon, neem eensgesind aan hierdie diensvoorreg deel. Hulle pas die geïnspireerde Bybelraad op hulleself toe: “Word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd baie het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Korintiërs 15:58.

Hersieningsbespreking

• Wat het Jesus te kenne gegee moet tweede gestel word toe hy gesê het dat ons moet aanhou om ‘eers die koninkryk te soek’?

• Wat moet ons beskouing wees van die verantwoordelikheid om in ons behoeftes en dié van ons gesin te voorsien? Watter hulp sal God ons gee?

• Aan watter aspekte van Koninkryksdiens kan ons deelneem?

[Prent op bladsy 107]

In alle lande verkondig Jehovah se Getuies vandag die goeie nuus voor die einde kom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel