Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • es25 bl. 77-87
  • Augustus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Augustus
  • Ondersoek die Skrif elke dag – 2025
  • Onderhofies
  • Vrydag 1 Augustus
  • Saterdag 2 Augustus
  • Sondag 3 Augustus
  • Maandag 4 Augustus
  • Dinsdag 5 Augustus
  • Woensdag 6 Augustus
  • Donderdag 7 Augustus
  • Vrydag 8 Augustus
  • Saterdag 9 Augustus
  • Sondag 10 Augustus
  • Maandag 11 Augustus
  • Dinsdag 12 Augustus
  • Woensdag 13 Augustus
  • Donderdag 14 Augustus
  • Vrydag 15 Augustus
  • Saterdag 16 Augustus
  • Sondag 17 Augustus
  • Maandag 18 Augustus
  • Dinsdag 19 Augustus
  • Woensdag 20 Augustus
  • Donderdag 21 Augustus
  • Vrydag 22 Augustus
  • Saterdag 23 Augustus
  • Sondag 24 Augustus
  • Maandag 25 Augustus
  • Dinsdag 26 Augustus
  • Woensdag 27 Augustus
  • Donderdag 28 Augustus
  • Vrydag 29 Augustus
  • Saterdag 30 Augustus
  • Sondag 31 Augustus
Ondersoek die Skrif elke dag – 2025
es25 bl. 77-87

Augustus

Vrydag 1 Augustus

Die regverdige het baie probleme, maar Jehovah red hom van dit alles. – Ps. 34:19.

Let op twee belangrike punte in die psalm hier bo: (1) Regverdige mense het probleme. (2) Jehovah red ons van ons probleme. Hoe red Jehovah ons? Een manier hoe hy dit doen, is deur ons te help om ’n realistiese beskouing van die lewe in hierdie wêreld te hê. Jehovah belowe dat ons ons diens aan hom sal geniet, maar hy belowe nie dat ons nou ’n lewe sonder probleme sal hê nie (Jes. 66:14). Hy moedig ons aan om te fokus op ons toekoms – die tyd wanneer ons die lewe sal hê wat hy wil hê ons vir ewig moet geniet (2 Kor. 4:​16-18). Intussen help hy ons om aan te hou om hom elke dag te dien (Klaagl. 3:​22-24). Wat kan ons leer uit die voorbeelde van getroue aanbidders van Jehovah in Bybeltye en in ons dag? Ons sal dalk onverwagse probleme ondervind. Maar wanneer ons op Jehovah vertrou, sal hy ons altyd ondersteun. – Ps. 55:22. w23.04 14-15 ¶3-4

Saterdag 2 Augustus

Wees [onderdanig] aan die hoër owerhede. – Rom. 13:1.

Ons kan leer uit die voorbeelde van Josef en Maria, wat bereid was om gehoorsaam te wees aan die hoër owerhede selfs toe dit ongerieflik was (Luk. 2:​1-6). Toe Maria omtrent nege maande swanger was, is haar en Josef se gehoorsaamheid getoets. Augustus, wat oor die Romeinse Ryk regeer het, het gesê dat ’n sensus gedoen moet word. Josef en Maria moes na Betlehem reis, ’n reis van omtrent 150 kilometer deur heuwelagtige gebied. Daardie reis sou ongemaklik wees, veral vir Maria. Die paartjie was dalk bekommerd oor haar veiligheid en dié van hulle ongebore baba. Sê nou sy het begin kraam terwyl hulle gereis het? Sy was swanger met die toekomstige Messias. Kon hulle dit as ’n verskoning gebruik om ongehoorsaam te wees aan die regering? Al het Josef en Maria redes gehad om bekommerd te wees, was hulle gehoorsaam aan die wet. Jehovah het hulle gehoorsaamheid geseën. Maria het veilig in Betlehem aangekom, geboorte gegee aan ’n gesonde baba en selfs gehelp om Bybelprofesieë te vervul! – Miga 5:2. w23.10 8 ¶9; 9 ¶11-12

Sondag 3 Augustus

[Moedig] mekaar [aan]. – Heb. 10:25.

Wat as net die gedagte om ’n antwoord by die vergaderinge te gee jou senuweeagtig maak? Dit sal jou dalk help om goed voor te berei (Spr. 21:5). Hoe beter jy die inligting ken, hoe makliker sal dit vir jou wees om ’n antwoord te gee. En hou jou antwoorde kort (Spr. 15:23; 17:27). Jy sal minder senuweeagtig voel wanneer jy ’n kort antwoord gee. Deur ’n kort antwoord in jou eie woorde te gee, sal jy wys dat jy goed voorberei het en dat jy die inligting goed verstaan. Wat as jy ’n paar van hierdie voorstelle probeer het, maar nog steeds te senuweeagtig voel om meer as een of twee keer te antwoord? Wees verseker dat Jehovah dit sal waardeer wanneer jy jou bes probeer (Luk. 21:​1-4). Jehovah vra nie meer van ons as wat ons kan doen nie (Fil. 4:5). Kyk wat jy kan doen, stel ’n doelwit en bid vir ’n kalm hart. Aan die begin kan daardie doelwit dalk wees om ’n kort antwoord te gee. w23.04 21 ¶6-8

Maandag 4 Augustus

Laat ons . . die borsplaat . . . aansit en die . . . helm dra. – 1 Tess. 5:8.

Die apostel Paulus vergelyk ons met soldate wat gereed en aangetrek is vir ’n geveg. Mense verwag dat ’n soldaat gereed moet wees om enige tyd te veg wanneer daar ’n oorlog is. Dit is dieselfde met ons. Ons bly gereed vir Jehovah se dag deur ’n borsplaat van geloof en liefde en ’n helm van hoop te dra. ’n Borsplaat het ’n soldaat se hart beskerm. Geloof en liefde beskerm ons figuurlike hart. Dit sal ons help om aan te hou om God te dien en om Jesus na te volg. Geloof verseker ons dat Jehovah ons sal beloon omdat ons hom met ons hele hart soek (Heb. 11:6). Dit sal ons motiveer om lojaal te bly aan ons Leier, Jesus, selfs as ons moeilike tye moet verduur. Ons kan ons geloof versterk sodat ons moeilike tye kan verduur deur te leer uit voorbeelde van broers en susters van vandag wat hulle integriteit behou het ten spyte van vervolging of finansiële probleme. En ons kan die strik van materialisme vermy deur dié na te volg wat hulle lewe vereenvoudig het om Koninkryksbelange eerste te stel. w23.06 10 ¶8-9

Dinsdag 5 Augustus

Die een wat na die wolke kyk, sal nie oes nie. – Pred. 11:4.

Selfbeheersing is die vermoë om ’n mens se gevoelens en dade te beheer. Ons het dit ook nodig om ons doelwitte te bereik, veral as ’n doelwit iets moeiliks is of as ons nie gemotiveerd voel nie. Onthou, selfbeheersing is deel van die vrug van die gees, so vra Jehovah vir heilige gees om jou te help om daardie belangrike eienskap te ontwikkel (Luk. 11:13; Gal. 5:​22, 23). Moenie wag vir perfekte omstandighede nie. In hierdie wêreld sal ons waarskynlik nooit perfekte omstandighede hê nie. As ons daarvoor wag, sal ons dalk nooit ons doelwit bereik nie. Ons voel dalk nie gemotiveerd nie omdat dit lyk of ons doelwit baie moeilik is om te bereik. As dit in jou geval waar is, kan jy dalk jou doelwit in kleiner doelwitte opbreek? As dit jou doelwit is om ’n eienskap te ontwikkel, hoekom probeer jy nie eers om dit op kleiner maniere te openbaar nie? As dit jou doelwit is om die hele Bybel te lees, kan jy dalk begin deur korter periodes opsy te sit om te lees? w23.05 29 ¶11-13

Woensdag 6 Augustus

Die pad van die regverdiges is soos die helder oggendlig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is. – Spr. 4:18.

Regdeur die laaste dae gebruik Jehovah nog steeds sy organisasie om geestelike kos te bly voorsien om ons almal te help om op “die Weg van Heiligheid” te bly reis (Jes. 35:8; 48:17; 60:17). Wanneer iemand ’n Bybelstudie aanvaar, kan ons sê dat hy ’n geleentheid het om op “die Weg van Heiligheid” te begin reis. Party reis net ’n kort rukkie en verlaat dan daardie pad. Ander is vasbeslote om daarop te bly reis totdat hulle hulle bestemming bereik. Wat is daardie bestemming? Vir dié met ’n hemelse hoop lei “die Weg van Heiligheid” na “die paradys van God” in die hemel (Op. 2:7). Vir dié met ’n aardse hoop lei daardie pad na volmaaktheid aan die einde van die 1 000 jaar. As jy vandag op daardie pad reis, moet jy nie terugkyk nie. En moenie daardie pad verlaat totdat jy jou reis na die nuwe wêreld voltooi het nie. w23.05 17 ¶15; 19 ¶16-18

Donderdag 7 Augustus

Ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het. – 1 Joh. 4:19.

Wanneer jy dink aan al die dinge wat Jehovah vir jou gedoen het, sal jy dankbaar voel en jou lewe aan hom wil toewy (Ps. 116:​12-14). Die Bybel noem Jehovah met goeie rede die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jak. 1:17). Die grootste van daardie geskenke is die offerande van sy Seun, Jesus. Dink net! Die losprys het dit vir jou moontlik gemaak om ’n sterk verhouding met Jehovah te hê. En hy het jou die vooruitsig gegee om vir ewig te lewe (1 Joh. 4:​9, 10). Om jou aan Jehovah toe te wy, is ’n manier om te wys dat jy dankbaar is vir die grootste bewys van liefde wat daar is, asook vir al die ander seëninge wat Jehovah jou gegee het. – Deut. 16:17; 2 Kor. 5:15. w24.03 5 ¶8

Vrydag 8 Augustus

Iemand wat reg lewe, vrees Jehovah. – Spr. 14:2.

Wanneer dit by sedelike standaarde kom wat deur hierdie wêreld bevorder word, voel ons soos die regverdige Lot gevoel het. Hy was “baie ontsteld . . . oor die skaamtelose gedrag van die wettelose mense” omdat hy geweet het dat ons hemelse Vader slegte gedrag haat (2 Pet. 2:​7, 8). Vrees vir God en liefde vir hom het Lot gemotiveer om die lae sedelike standaarde van die mense rondom hom, te verwerp. Ons is ook omring deur mense wat min of geen respek vir Jehovah se sedelike standaarde het nie. Ten spyte daarvan kan ons sedelik rein bly as ons ons liefde vir God behou en ’n gesonde vrees vir hom ontwikkel. Om ons daarmee te help, gee Jehovah liefdevolle aanmoediging en motivering deur middel van die boek Spreuke. Alle Christene, mans en vrouens, jonk en oud, kan regtig daarby baat vind as hulle die wyse raad daarin ondersoek. Wanneer ons Jehovah vrees, is ons versigtig om nie verskonings te maak vir slegte gedrag nie. w23.06 20 ¶1-2; 21 ¶5

Saterdag 9 Augustus

As iemand my volgeling wil word, moet hy ophou om vir homself te lewe en dag ná dag sy folterpaal optel en aanhou om my te volg. – Luk. 9:23.

Dalk het jy teenstand van familielede ondervind of dalk het jy sekere materiële dinge opgeoffer om Koninkryksbelange eerste te stel (Matt. 6:33). As dit die geval is, kan jy seker wees dat Jehovah jou getroue werke raakgesien het (Heb. 6:10). Jy het heel moontlik gesien dat hierdie woorde van Jesus waar is: “Elkeen wat huis of broers of susters of ma of pa of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat het, [sal] nou in hierdie tyd 100 keer soveel . . . kry – huise, broers, susters, ma’s, kinders en landerye, met vervolginge – en in die wêreld wat kom, die ewige lewe” (Mark. 10:​29, 30). Die seëninge wat jy ontvang het, is werklik baie groter as enige opofferings wat jy gemaak het. – Ps. 37:4. w24.03 9 ¶5

Sondag 10 Augustus

’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye. – Spr. 17:17.

Toe die Christene in Judea ’n groot hongersnood ondervind het, het die broers in die gemeente in Antiogië “besluit om iets te stuur om die broers in Judea te help. Elkeen het bygedra volgens wat hy kon bekostig” (Hand. 11:​27-30). Al het die broers en susters wat deur die hongersnood geaffekteer was, ver gebly, was die Christene in Antiogië vasbeslote om hulle te help (1 Joh. 3:​17, 18). Ons kan ook vandag wys dat ons meegevoel het wanneer ons uitvind dat ons broers en susters deur ’n ramp geraak is. Ons reageer vinnig – dalk deur die ouermanne te vra of ons kan help met ’n projek, deur ’n donasie te maak aan die wêreldwye werk of deur te bid vir dié wat deur die ramp geraak is. Ons broers en susters sal dalk ook hulp nodig hê om die basiese dinge te kry wat hulle nodig het. Wanneer ons Koning, Christus Jesus, kom om mense te oordeel, wil ons hê dat hy moet sien dat ons wys dat ons meegevoel het en dat hy ons moet nooi om ‘die Koninkryk te erf’. – Matt. 25:​34-40. w23.07 4 ¶9-10; 6 ¶12

Maandag 11 Augustus

Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word. – Fil. 4:5.

Jesus het Jehovah se redelikheid nagevolg. Hy is na die aarde gestuur om vir “die verlore skape van die huis van Israel” te preek. Maar hy het gewys dat hy redelik is terwyl hy daardie toewysing uitgevoer het. Eenkeer het ’n nie-Israelitiese vrou hom gesmeek om haar dogter gesond te maak wat ’n ‘demoon in haar gehad het en verskriklik gely het as gevolg daarvan’. Jesus het meegevoel gewys en gedoen wat die vrou gevra het en haar dogter gesond gemaak (Matt. 15:​21-28). Kyk na nog ’n voorbeeld. Vroeër in sy bediening het Jesus gesê: “As iemand . . . sê dat hy my nie ken nie, sal ek . . . sê dat ek hom ook nie ken nie” (Matt. 10:33). Maar het Jesus gesê dat hy Petrus nie ken nie, al het Petrus drie keer gesê dat hy hom nie ken nie? Nee. Jesus het geweet dat Petrus berouvol is en sterk geloof het. Ná Jesus se opstanding het hy aan Petrus verskyn en hom heel moontlik daarvan verseker dat hy hom vergewe het en hom nog steeds liefhet (Luk. 24:​33, 34). Jehovah God en Jesus Christus is albei redelik. Wat van ons? Jehovah verwag dat ons redelik moet wees. w23.07 21-22 ¶6-7

Dinsdag 12 Augustus

Die dood sal nie meer daar wees nie. – Op. 21:4.

Watter versekeringe kan ons deel met dié wat twyfel dat God se belofte van die Paradys sal waar word? Eerstens, Jehovah maak self die belofte. Die boek Openbaring sê: “Die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’” Hy het die wysheid, die krag en die begeerte om sy belofte te laat waar word. Tweedens, die vervulling van sy belofte is so seker dat dit uit Jehovah se oogpunt alreeds gebeur het. Dit is hoekom hy gesê het: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. . . . Dit het gebeur!” Derdens, wanneer Jehovah iets begin, sal hy dit voltooi. Dit is hoekom hy gesê het: “Ek is die Alfa en die Omega” (Op. 21:6). Jehovah sal bewys dat Satan ’n leuenaar en ’n mislukking is. So, wanneer iemand sê: “Dit klink te goed om waar te wees”, kan jy Openbaring 21:​5, 6 vir hulle lees en dit verduidelik. Wys hoe Jehovah sy belofte gewaarborg het deur dit as ’t ware met sy eie handtekening te teken. – Jes. 65:16. w23.11 7 ¶18-19

Woensdag 13 Augustus

Ek sal jou ’n groot nasie maak. – Gen. 12:2.

Jehovah het daardie belofte aan Abraham gemaak toe hy 75 jaar oud en kinderloos was. Het Abraham gesien hoe daardie belofte vervul word? Nie heeltemal nie. Nadat Abraham die Eufraatrivier oorgesteek het en vir 25 jaar gewag het, het hy die wonderdadige geboorte van sy seun Isak gesien, en ná nog 60 jaar is sy kleinseuns Esau en Jakob gebore (Heb. 6:15). Maar Abraham het nooit gesien hoe sy nakomelinge ’n groot nasie word en die Beloofde Land beërf nie. Maar daardie getroue man het ’n sterk vriendskap met sy Skepper geniet (Jak. 2:23). En wanneer Abraham opgewek word, sal hy baie bly wees om te hoor dat sy geloof en geduld seëninge vir alle nasies gebring het! (Gen. 22:18). Wat is die les? Ons sal dalk nie nou persoonlik sien hoe Jehovah al sy beloftes vervul nie. Maar as ons geduldig is soos Abraham kan ons seker wees dat Jehovah ons nou sal beloon, en selfs meer in Sy beloofde nuwe wêreld. – Mark. 10:​29, 30. w23.08 24 ¶14

Donderdag 14 Augustus

Gedurende die tyd dat hy Jehovah gedien het, het die ware God hom geseën. – 2 Kron. 26:5.

Koning Ussia was nederig toe hy jonk was. Hy het geleer “om die ware God te vrees”. En Jehovah het hom vir die meeste van sy 68 jaar geseën (2 Kron. 26:​1-4). Ussia het baie van die nasie se vyande oorwin en seker gemaak dat Jerusalem goed beskermd was (2 Kron. 26:​6-15). Ussia was beslis gelukkig met alles wat God hom gehelp het om te doen (Pred. 3:​12, 13). Koning Ussia was gewoond daaraan dat ander sy instruksies volg. Het dit hom laat dink dat hy enige iets kon doen wat hy wou doen? Wel, eendag het Ussia besluit om in die tempel van Jehovah in te gaan en probeer om reukwerk op die altaar te brand, iets wat konings nie toegelaat was om te doen nie (2 Kron. 26:​16-18). Die hoëpriester Asarja het hom probeer reghelp, maar Ussia het baie kwaad geword. Ongelukkig het Ussia sy rekord van getroue diens verloor en was hy gestraf met melaatsheid (2 Kron. 26:​19-21). Sy lewe sou baie beter uitgedraai het as hy nederig gebly het! w23.09 10 ¶9-10

Vrydag 15 Augustus

Hy [het] hom onttrek omdat hy bang was vir dié wat besny is. – Gal. 2:12.

Selfs nadat die apostel Petrus ’n gesalfde Christen geword het, het hy nog steeds met sy swakhede gesukkel. In 36 HJ het God Petrus na Kornelius, ’n nie-Jood, gestuur. Daar het God Kornelius met die heilige gees gesalf, wat ’n duidelike bewys was dat “God nie partydig is nie” en dat nie-Jode deel van die Christengemeente kon wees (Hand. 10:​34, 44, 45). Daarna het Petrus vry gevoel om saam met die nie-Jode te eet, iets wat hy nooit voorheen sou doen nie. Maar party Joodse Christene het gevoel dat Jode en nie-Jode nie moet saam eet nie. Toe party wat daardie beskouing gehad het na Antiogië gekom het, het Petrus opgehou om saam met sy nie-Joodse broers te eet, heel moontlik omdat hy bang was om die Joodse Christene aanstoot te gee. Die apostel Paulus het hierdie skynheiligheid gesien en Petrus voor ander tereggewys (Gal. 2:​13, 14). Ten spyte van hierdie terugslag het Petrus volhard. w23.09 22 ¶8

Saterdag 16 Augustus

Hy sal julle ’n stewige fondament gee. – 1 Pet. 5:10.

’n Eerlike selfondersoek sal dalk wys dat jy sekere swakhede het, maar moenie mismoedig wees nie. “Die Here [is] goed”, en hy sal jou help om te verbeter (1 Pet. 2:3). Die apostel Petrus verseker ons: “God [sal] self julle opleiding voltooi. Hy sal julle standvastig maak”. Petrus het eers nie goed genoeg gevoel om in die teenwoordigheid van God se Seun te wees nie (Luk. 5:8). Maar met die liefdevolle ondersteuning van Jehovah en van Jesus het Petrus as ’n volgeling van Christus volhard. Daarom was Petrus goedgekeur om “toegang tot die ewige Koninkryk van ons Here en Redder Jesus Christus” te kry (2 Pet. 1:11). Dit was ’n wonderlike beloning! As jy volhard soos Petrus en jouself toelaat om deur Jehovah opgelei te word, sal jy ook die beloning van die ewige lewe ontvang. Jou “geloof [sal] tot redding . . . lei”. – 1 Pet. 1:9. w23.09 31 ¶16-17

Sondag 17 Augustus

Aanbid . . . die Een wat die hemel en die aarde . . . gemaak het. – Op. 14:7.

Die eertydse tabernakel het een voorhof gehad – ’n omheinde, oop area waar die priesters hulle pligte uitgevoer het. Die groot brandofferaltaar van koper was in die voorhof saam met ’n koperkom met water wat die priesters gebruik het om hulleself te reinig voordat hulle hulle heilige diens gedoen het (Eks. 30:​17-20; 40:​6-8). Vandag dien Christus se gesalfdes getrou in die aardse binneste voorhof van die geestelike tempel. Die feit dat daar ’n groot kom met water was, is ’n belangrike herinnering vir hulle, sowel as vir alle Christene, om sedelik en geestelik rein te bly. Maar waar dien die “groot menigte” Jehovah? Die apostel Johannes het gesien dat hulle “voor die troon . . . staan” op ’n plek wat op die aarde ooreenstem met die buitenste voorhof, waar hulle “dag en nag heilige diens aan [God] in sy tempel” verrig (Op. 7:​9, 13-15). Ons is so dankbaar dat ons ’n plek in Jehovah se reëling vir rein aanbidding het! w23.10 28-29 ¶15-16

Maandag 18 Augustus

As gevolg van die belofte van God het hy . . . kragtig geword deur sy geloof. – Rom. 4:20.

Een manier hoe Jehovah ons krag gee, is deur middel van die ouermanne (Jes. 32:​1, 2). So wanneer jy angstig is, sê vir die ouermanne hoe jy voel. Moenie huiwer om die ouermanne se hulp te aanvaar nie. Jehovah kan jou sterk maak deur middel van hulle. Ons Bybelse hoop om vir ewig te lewe – of in ’n aardse paradys of in die hemelse Koninkryk – kan ons krag gee (Rom. 4:​3, 18, 19). Ons hoop versterk ons om moeilike tye te verduur, die goeie nuus te verkondig en verskillende toewysings in die gemeente uit te voer (1 Tess. 1:3). Daardie selfde hoop het die apostel Paulus versterk. Hy was “onder swaar druk geplaas”, hy het “nie altyd [geweet] wat om te doen nie”, hy was “vervolg” en hy was “neergeslaan”. Sy lewe was selfs in gevaar (2 Kor. 4:​8-10). Omdat Paulus op sy hoop gefokus het, het dit hom die krag gegee om te volhard (2 Kor. 4:​16-18). Paulus het op sy toekoms gefokus van ewige lewe in die hemel. Paulus het oor daardie hoop nagedink, en daarom het hy gevoel dat hy “van dag tot dag nuut gemaak” is. w23.10 15-16 ¶14-17

Dinsdag 19 Augustus

Jehovah sal vir sy volk krag gee. Jehovah sal sy volk met vrede seën. – Ps. 29:11.

Wanneer jy bid, moet jy jou afvra of dit Jehovah se tyd is om jou gebed te beantwoord. Ons voel dalk dat ons gebede onmiddellik beantwoord moet word. Maar eintlik weet Jehovah wanneer dit die beste tyd is om ons te help (Heb. 4:16). Wanneer ons nie dadelik ontvang wat ons vra nie, dink ons dalk dat Jehovah se antwoord ‘Nee’ is. Maar sy antwoord kan in werklikheid wees ‘Nie nou nie’. Byvoorbeeld, ’n jong broer het gebid dat hy genees word van sy siekte. Maar sy gesondheid het nie verbeter nie. As Jehovah hom deur middel van ’n wonderwerk genees het, kon Satan gesê het dat die broer Jehovah bly dien net omdat hy genees is (Job 1:​9-11; 2:4). Jehovah het ook alreeds ’n tyd vasgestel wanneer hy ’n einde sal maak aan alle siektes (Jes. 33:24; Op. 21:​3, 4). En tot dan kan ons nie verwag dat Jehovah ons deur middel van wonderwerke van ons siektes moet genees nie. So die broer kan Jehovah vra om hom die krag en die innerlike vrede te gee om sy siekte te verduur en om God getrou te bly dien. w23.11 24 ¶13

Woensdag 20 Augustus

Hy het ons nie volgens ons sondes gestraf of ons volgens ons oortredings terugbetaal nie. – Ps. 103:10.

Simson het ’n ernstige fout gemaak, maar hy het nie opgegee nie. Hy het na ’n geleentheid gesoek om teen die Filistyne te veg, ’n toewysing wat God hom gegee het (Rigt. 16:​28-30). Simson het Jehovah gesmeek: “Laat my op die Filistyne wraak neem.” Die ware God het Simson se gebed beantwoord en hom weer spesiale krag gegee. As gevolg daarvan was Simson hierdie keer suksesvoller teen die Filistyne as ooit tevore. Al het Simson baie pyn en lyding deurgemaak as gevolg van sy fout, het hy nie ophou probeer om Jehovah se wil te doen nie. Selfs as ons ’n fout maak en tereggewys moet word of al verloor ons ’n voorreg, moet ons nie opgee nie. Onthou, Jehovah skryf ons nie af nie (Ps. 103:​8, 9). Al maak ons foute, kan Jehovah ons nog steeds gebruik, net soos hy Simson gebruik het. w23.09 6 ¶15-16

Donderdag 21 Augustus

Volharding lei tot ’n goedgekeurde toestand, die goedgekeurde toestand lei tot hoop. – Rom. 5:4.

Jou volharding bring Jehovah se goedkeuring. Dit beteken nie dat Jehovah bly is wanneer jy moeilike tye of probleme ondervind nie. Jy is die een wat God se goedkeuring het. Jou volharding lei tot ’n goedgekeurde toestand. Wat ’n wonderlike seëning! (Ps. 5:12). Onthou dat Abraham toetse getrou verduur het en God se goedkeuring geniet het. Jehovah het hom as Sy vriend beskou en hom as regverdig beskou (Gen. 15:6; Rom. 4:​13, 22). Dieselfde kan van ons gesê word. God baseer nie sy goedkeuring op die hoeveelheid werk wat ons in sy diens doen of op die voorregte wat ons geniet nie. Jehovah keur ons goed wanneer ons getrou volhard. En maak nie saak wat ons ouderdom, omstandighede of vermoëns is nie, ons almal kan volhard. Verduur jy nou ’n moeilike tyd en bly jy lojaal aan Jehovah? As dit die geval is, onthou dat jy God se goedkeuring het. As ons besef dat ons God se goedkeuring het, kan dit ’n kragtige uitwerking op ons hê. Dit kan ons hoop versterk. w23.12 11 ¶13-14

Vrydag 22 Augustus

Wys dat jy ’n man is. – 1 Kon. 2:2.

’n Christenman moet leer om goed te kommunikeer. ’n Man wat goed kommunikeer, luister na en verstaan die gedagtes en gevoelens van ander (Spr. 20:5). Hy kan leer om ’n ander persoon se stemtoon, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal te lees. Jy kan nie leer om dit te doen sonder om tyd met ander te spandeer nie. As jy die heeltyd deur middel van elektroniese hulpmiddele kommunikeer, soos e-posse en teksboodskappe, kan jou vermoë om in persoon met mense te kommunikeer, verswak. So, probeer om maniere te vind om in persoon met ander te gesels (2 Joh. 12). ’n Volwasse Christenman moet ook homself en sy huisgesin kan onderhou (1 Tim. 5:8). Dit is goed om ’n vaardigheid aan te leer wat jou sal help om ’n werk te kry (Hand. 18:​2, 3; 20:34; Ef. 4:28). Probeer om die reputasie te kry van iemand wat hard werk en wat dinge klaarmaak waarmee hy begin het. As jy dit doen, is die kanse groter dat jy ’n werk sal kry en dit sal behou. w23.12 27 ¶12-13

Saterdag 23 Augustus

Jehovah se dag [kom] net soos ’n dief in die nag. – 1 Tess. 5:2.

Wanneer die Bybel van “Jehovah se dag” praat, verwys dit na die tyd wanneer Jehovah sy vyande oordeel en sy volk red. In die verlede het Jehovah party nasies gestraf (Jes. 13:​1, 6; Eseg. 13:5; Sef. 1:8). In ons tyd begin “Jehovah se dag” met die aanval op Babilon die Grote, en dit bereik ’n klimaks gedurende die oorlog van Armageddon. Om daardie “dag” te oorleef, moet ons nou voorberei. Jesus het gesê dat ons ons nie net gereed moet maak vir die “groot verdrukking” nie, maar ook dat ons ons ‘gereed moet hou’ daarvoor (Matt. 24:21; Luk. 12:40). In sy eerste geïnspireerde brief aan die Tessalonisense het die apostel Paulus ’n hele paar illustrasies gebruik om Christene te help om hulle gereed te hou vir Jehovah se groot dag van oordeel. Paulus het geweet dat Jehovah se dag nie gedurende daardie tyd sou kom nie (2 Tess. 2:​1-3). Maar hy het sy broers aangemoedig om vir daardie dag voor te berei asof dit môre gaan kom, en ons kan ook sy raad toepas. w23.06 8 ¶1-2

Sondag 24 Augustus

My geliefde broers, wees standvastig, onbeweeglik. – 1 Kor. 15:58.

In die laat 1970’s is ’n baie hoë gebou in Tokyo, Japan, gebou. Mense het gewonder hoe dit sou kon bly staan omdat daar so baie aardbewings in daardie stad was. Wat was die geheim? Ingenieurs het die gebou ontwerp sodat dit sterk genoeg maar op dieselfde tyd buigsaam genoeg kan wees sodat dit die vibrasies kon weerstaan wat deur ’n aardbewing veroorsaak word. Christene is soos daardie baie hoë gebou. Op watter manier? ’n Christen moet ’n balans behou tussen om standvastig te wees en buigsaam te wees. Hy moet sterk en onbeweeglik wees wanneer dit kom by die gehoorsaamheid van Jehovah se wette en standaarde. Hy is ‘bereid om gehoorsaam te wees’, en hy bly getrou. Aan die ander kant moet hy “redelik”, of buigsaam, wees wanneer dit moontlik of nodig is (Jak. 3:17). ’n Christen wat geleer het om gebalanseerd te wees, sal nie te streng of te toegewend wees nie. w23.07 14 ¶1-2

Maandag 25 Augustus

Al het julle hom nooit gesien nie, is julle lief vir hom. – 1 Pet. 1:8.

Jesus moes Satan die Duiwel se versoekings weerstaan, insluitende direkte aanvalle op sy lojaliteit aan God (Matt. 4:​1-11). Satan was vasbeslote om Jesus te laat sondig sodat hy nie die losprys sou kon betaal nie. Gedurende Jesus se aardse bediening het hy nog toetse verduur. Hy is vervolg, en sy lewe was in gevaar (Luk. 4:​28, 29; 13:31). Hy moes die onvolmaakthede van sy volgelinge verduur (Mark. 9:​33, 34). Toe hy verhoor is, is hy gemartel en gespot. Toe is hy op ’n verskriklik pynlike en vernederende manier doodgemaak (Heb. 12:​1-3). Hy moes die laaste deel van daardie moeilike tyd op sy eie deurmaak, sonder Jehovah se beskerming (Matt. 27:46). Dit is duidelik dat die losprys Jesus baie gekos het. Voel ons nie diep liefde vir Jesus wanneer ons nadink oor hoe hy bereid was om so baie vir ons op te offer nie? w24.01 10-11 ¶7-9

Dinsdag 26 Augustus

Almal wat oorhaastig is, sal arm word. – Spr. 21:5.

Ons het geduld nodig om goeie verhoudings met ander te hê. Dit help ons om mooi te luister wanneer ander praat (Jak. 1:19). Geduld bevorder ook vrede. Dit keer dat ons te vinnig reageer en iets leliks sê wanneer ons gestres is. En as ons geduldig is, sal ons nie gou kwaad word wanneer iemand ons gevoelens seermaak nie. In plaas daarvan om hulle terug te kry, sal ons “[aanhou] om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe” (Kol. 3:​12, 13). Geduld kan ons ook help om beter besluite te maak. Ons sal nie oorhaastig of impulsief wees nie, maar eerder die tyd neem om navorsing te doen en die opsies wat ons het, te oorweeg. Byvoorbeeld, as ons na werk soek, sal ons dalk die eerste werk wil aanvaar wat ons kry. Maar as ons geduldig is, sal ons die tyd neem om aan dinge te dink soos die werk ons gesin en geestelike lewe kan affekteer. Wanneer ons geduldig is, kan ons dit vermy om ’n slegte besluit te maak. w23.08 22 ¶8-9

Woensdag 27 Augustus

Ek sien in my liggaam ’n ander wet, wat veg teen die wet van my verstand en my ’n gevangene maak van die wet van die sonde wat in my liggaam is. – Rom. 7:23.

As jy mismoedig voel omdat jy teen verkeerde begeertes moet veg, dink aan die belofte wat jy aan Jehovah gemaak het toe jy jouself aan hom toegewy het, sal dit jou meer vasbeslote maak om teen versoeking te veg. Hoe? Wanneer jy jou aan Jehovah toewy, hou jy op om vir jouself te lewe. Dit beteken dat jy nee sê vir persoonlike begeertes en doelwitte wat Jehovah ongelukkig sal maak (Matt. 16:24). So wanneer jy voor ’n toets te staan kom, sal jy nie hoef te wonder oor wat om te doen nie. Jy sal reeds besluit het wat jy gaan doen, dit wil sê om getrou aan Jehovah te bly. Jy sal vasbeslote bly om Jehovah gelukkig te maak. Jy sal soos Job wees. Al het hy deur verskriklik moeilike tye gegaan, het hy vol vertroue gesê: “Ek [sal] nie my integriteit prysgee nie!” – Job 27:5. w24.03 9 ¶6-7

Donderdag 28 Augustus

Jehovah is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in opregtheid aanroep. – Ps. 145:18.

Jehovah, “die God van liefde”, is met ons (2 Kor. 13:11). Hy stel persoonlik in ons belang. Ons is oortuig dat ons deur “Sy lojale liefde omring” is (Ps. 32:10). Hoe meer ons nadink oor hoe hy sy liefde vir ons gewys het, hoe werkliker word hy vir ons en hoe nader voel ons aan hom. Ons kan vryelik tot hom bid en vir hom sê hoe baie ons sy liefde nodig het. Ons kan al ons bekommernisse met hom deel met die vertroue dat hy verstaan en dat hy gretig is om ons te help (Ps. 145:19). Net soos ’n vuur ons op ’n koue dag kan warm maak, kan Jehovah se liefde ons ook vertroos wanneer ons moeilike tye en probleme ondervind. So verwelkom Jehovah se liefde in jou lewe, wat jou kan vertroos en vrede kan gee. En mag ons almal op sy liefde reageer deur uit te roep: “Ek is lief vir Jehovah”! – Ps. 116:1. w24.01 31 ¶19-20

Vrydag 29 Augustus

Ek het u naam . . . bekend gemaak. – Joh. 17:26.

Jesus het meer gedoen as om net vir mense te vertel dat God se naam Jehovah is. Die Jode vir wie Jesus geleer het, het klaar geweet wat God se naam is. Maar Jesus “het duidelik gemaak wie Hy is” (Joh. 1:​17, 18). Byvoorbeeld, die Hebreeuse Geskrifte wys dat Jehovah genadig is en medelye betoon (Eks. 34:​5-7). Jesus het daardie waarheid duideliker as ooit gemaak toe hy die voorbeeld van die verlore seun en sy pa gebruik het. Wanneer ons lees hoe daardie pa hardloop om sy berouvolle seun te ontmoet “terwyl hy nog ’n hele ent weg” is, hom omhels en hom heelhartig vergewe, sien ons Jehovah se genade en medelye baie duidelik (Luk. 15:​11-32). Jesus het gewys watter soort persoon Jehovah werklik is. w24.02 10 ¶8-9

Saterdag 30 Augustus

Vertroos . . . ander . . . met die vertroosting wat ons van God ontvang. – 2 Kor. 1:4.

Jehovah verfris en vertroos dié wat deur ’n moeilike tyd gaan. Hoe kan ons Jehovah navolg en meegevoel vir ander hê en hulle vertroos? Een manier hoe ons dit kan doen, is deur eienskappe in ons hart te ontwikkel wat ons sal help om meegevoel te hê en ander te vertroos. Wat is van hierdie eienskappe? Wat sal ons help om die liefde te behou wat ons nodig het om elke dag ‘aan te hou om mekaar te vertroos’? (1 Tess. 4:18). Ons moet medelye, broederlike liefde en goedhartigheid ontwikkel (Kol. 3:12; 1 Pet. 3:8). Hoe sal hierdie eienskappe ons help? Wanneer meegevoel en eienskappe wat daarmee verband hou, deel van ons persoonlikheid word, kan ons nie anders as om dié te vertroos wat deur moeilike tye gaan nie. Dit is soos Jesus gesê het: “Uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring goeie dinge uit sy goeie skat” (Matt. 12:​34, 35). Om ons broers en susters te vertroos wat deur ’n moeilike tyd gaan, is werklik ’n belangrike manier hoe ons vir hulle kan wys dat ons hulle liefhet. w23.11 10 ¶10-11

Sondag 31 Augustus

Dié wat insig het, sal verstaan. – Dan. 12:10.

Ons moet hulp vra as ons Bybelprofesieë wil verstaan. Dink aan hierdie illustrasie. Verbeel jou dat jy ’n onbekende plek besoek, maar ’n vriend wat saam met jou reis, ken die gebied baie goed. Hy weet presies waar julle is en waarheen elke pad lei. Jy is beslis baie bly dat jou vriend ingestem het om saam met jou te kom! Net so weet Jehovah in watter tydperk ons lewe en wat op die pad vorentoe gaan gebeur. So om Bybelprofesieë te verstaan, moet ons Jehovah se hulp nederig vra (Dan. 2:28; 2 Pet. 1:​19, 20). Soos enige goeie ouer wil Jehovah hê dat sy kinders ’n gelukkige toekoms moet hê (Jer. 29:11). Maar anders as enige mense-ouer kan Jehovah presies voorspel wat in die toekoms gaan gebeur. Hy het profesieë in sy Woord laat neerskryf sodat ons van belangrike gebeure kan weet voordat dit gebeur. – Jes. 46:10. w23.08 8 ¶3-4

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel