Julie
Dinsdag 1 Julie
Hy [het] deur die land gegaan . . . en goeie dinge gedoen . . . en almal gesond gemaak. – Hand. 10:38.
In alles wat Jesus gesê en gedoen het, insluitende die wonderwerke wat hy gedoen het, het hy sy Vader se denke en gevoelens volmaak nagevolg (Joh. 14:9). Wat kan ons leer uit Jesus se wonderwerke? Jesus en sy Vader is baie lief vir ons. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy gewys dat hy mense baie liefhet deur sy krag te gebruik om dié te help wat swaargekry het. Op een geleentheid het twee blinde mans hom gesmeek om hulle te help (Matt. 20:30-34). Let op dat Jesus “baie jammer” vir hulle gevoel het en hulle toe genees het. Die Griekse werkwoord wat hier vertaal is met “baie jammer” verwys na ’n intense meegevoel wat diep binne die liggaam gevoel word. Sulke intense meegevoel, wat ’n bewys van liefde is, het Jesus ook gemotiveer om dié wat honger was, kos te gee en om ’n melaatse te genees (Matt. 15:32; Mark. 1:41). Ons kan seker wees dat Jehovah, die God van meegevoel, en sy Seun ons baie liefhet en dat dit hulle baie hartseer maak wanneer ons swaarkry (Luk. 1:78; 1 Pet. 5:7). Hulle is baie gretig om al die probleme wat alle mense raak, te verwyder! w23.04 3 ¶4-5
Woensdag 2 Julie
O julle wat Jehovah liefhet, haat wat sleg is. Hy bewaar die lewe van sy lojales. Hy red hulle uit die hand van die goddeloses. – Ps. 97:10.
Ons kan ons bes probeer om nie die verkeerde idees wat in Satan se wêreld gewild is, te lees en daarna te luister nie. Ons kan ons verstand met opbouende gedagtes vul deur die Bybel te lees en te studeer. Om vergaderinge by te woon en te preek, sal ook ons gedagtes beskerm. En Jehovah belowe dat hy nie sal toelaat dat ons ’n versoeking deurmaak wat ons nie kan hanteer nie (1 Kor. 10:12, 13). Elkeen van ons moet meer as ooit bid as ons getrou aan Jehovah wil bly gedurende hierdie moeilike laaste dae. Jehovah wil hê dat ons ons ‘hart voor hom moet uitstort’ in gebed (Ps. 62:8). Loof Jehovah en sê vir hom dankie vir alles wat hy doen. Vra hom om jou te help om moedig te wees in die bediening. Smeek hom om jou te help om enige probleme te hanteer en om enige versoeking te weerstaan wat jy dalk ondervind. Moenie toelaat dat enige iets of enige een keer dat jy gereeld tot Jehovah bid nie. w23.05 7 ¶17-18
Donderdag 3 Julie
Laat ons aandag skenk aan mekaar . . . en . . . mekaar aanmoedig. – Heb. 10:24, 25.
Hoekom woon ons gemeentelike vergaderinge by? Hoofsaaklik om Jehovah te loof (Ps. 26:12; 111:1). Ons woon ook vergaderinge by sodat ons mekaar kan aanmoedig gedurende hierdie moeilike tye (1 Tess. 5:11). Ons doen hierdie twee dinge wanneer ons ons hand opsteek en ’n antwoord gee. Maar wanneer ons antwoorde gee, het ons dalk uitdagings. Ons voel dalk senuweeagtig om ’n antwoord te gee, of ons wil dalk graag deelneem, maar ons word nie so dikwels gevra as wat ons wil hê nie. Wat kan ons help? Die apostel Paulus het gesê dat ons daarop moet fokus om ‘mekaar aan te moedig’. Ons sal minder senuweeagtig voel om ons hand op te steek as ons onthou dat ons ander kan aanmoedig selfs al gee ons net ’n eenvoudige antwoord oor ons geloof. En as ons nie dikwels gevra word nie, kan ons bly wees dat ander in die gemeente die geleentheid sal hê om te antwoord. – 1 Pet. 3:8. w23.04 20 ¶1-3
Vrydag 4 Julie
[Gaan] na Jerusalem . . . en [herbou] die huis . . . van Jehovah. – Esra 1:3.
Die koning het ’n aankondiging gemaak! Die Jode, wat al omtrent 70 jaar gevangenes in Babilon is, was vry om na hulle tuisland, Israel, terug te gaan (Esra 1:2-4). Net Jehovah kon dit laat gebeur. Babilon het nie gewoonlik sy gevangenes vrygelaat nie (Jes. 14:4, 17). Maar Babilon is verslaan en die nuwe heerser het vir die Jode gesê dat hulle kon gaan. Elke Jood, veral gesinshoofde, ’n besluit neem: om Babilon te verlaat of om daar te bly. Dit kon nie ’n maklike besluit wees nie. Baie was dalk te oud om daardie lang reis aan te pak. En omdat die meeste van die Jode in Babilon gebore is, was dit die enigste tuiste wat hulle ooit geken het. Vir hulle was Israel die land van hulle voorouers. Party Jode het heel moontlik baie suksesvol in Babilon geword, so dit was dalk vir hulle moeilik om hulle gemaklike huise of hulle besighede agter te laat en in ’n onbekende land te gaan bly. w23.05 14 ¶1-2
Saterdag 5 Julie
Julle [moet] gereed wees. – Matt. 24:44.
God se Woord moedig ons aan om aan te hou om volharding, meegevoel en liefde te ontwikkel. Lukas 21:19 sê: “Deur julle volharding sal julle julle lewens red.” Kolossense 3:12 sê: “Betoon . . . medelye [of, meegevoel].” En 1 Tessalonisense 4:9, 10 sê: “Julle word deur God geleer om mekaar lief te hê. . . . Maar broers, ons spoor julle aan om dit nog meer te doen.” Al hierdie verse was geskryf aan dissipels wat alreeds gewys het dat hulle volharding, meegevoel en liefde het. Maar hulle moes aanhou om hierdie eienskappe te ontwikkel. Ons moet dieselfde doen. Om jou daarmee te help, kyk hoe die vroeë Christene hierdie eienskappe gewys het. Dan sal jy sien hoe jy daardie dissipels kan navolg en kan bewys dat jy gereed is vir die groot verdrukking. Dan wanneer die groot verdrukking begin, sal jy al geleer het hoe om te volhard en sal jy vasbeslote wees om aan te hou volhard. w23.07 3 ¶4, 8
Sondag 6 Julie
Daar sal ’n grootpad wees, . . . die Weg van Heiligheid. – Jes. 35:8.
Of ons nou van die gesalfdes of van die “ander skape” is, ons moet op “die Weg van Heiligheid” bly omdat dit ons deur die geestelike paradys neem en ons na toekomstige Koninkrykseëninge lei (Joh. 10:16). Vanaf 1919 HJ het miljoene mans, vrouens en kinders Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, verlaat en op daardie figuurlike pad begin reis. Toe die Jode wat Babilon verlaat het, het Jehovah het seker gemaak dat struikelblokke op hulle pad verwyder is (Jes. 57:14). Wat van “die Weg van Heiligheid” in ons dag? Honderde jare voor 1919 het Jehovah mans wat baie respek vir hom gehad het, begin gebruik om dit moontlik te maak vir ander om uit Babilon die Grote te kom. (Vergelyk Jesaja 40:3.) Hulle het nodige voorbereidingswerk – geestelike padwerke – gedoen om dit later vir opregte mense moontlik te maak om Babilon die Grote te verlaat en die geestelike paradys binne te gaan, waar rein aanbidding van Jehovah herstel is. w23.05 16 ¶8-9
Maandag 7 Julie
Dien Jehovah met blydskap. Kom voor hom met uitroepe van vreugde. – Ps. 100:2.
Jehovah wil hê dat ons hom met vreugde en gewillig moet dien (2 Kor. 9:7). So moet ons aanhou probeer om ’n geestelike doelwit te bereik, al voel ons nie lus om dit te doen nie? Kyk na die apostel Paulus se voorbeeld. Hy het gesê: “Ek dissiplineer my liggaam en lei dit as ’n slaaf” (1 Kor. 9:25-27, vtn.). Paulus het homself gedwing om te doen wat reg was, selfs wanneer hy dit nie wou doen nie. Was Jehovah gelukkig met Paulus se diens? Beslis! En Jehovah het hom beloon vir wat hy gedoen het (2 Tim. 4:7, 8). Net so maak dit Jehovah gelukkig om te sien dat ons ons doelwit probeer bereik, selfs wanneer ons nie gemotiveerd voel om dit te doen nie. Hy is gelukkig, want hy weet dat ons dalk nie altyd lief is vir wat ons doen nie, maar dat ons dit doen omdat ons lief is vir hom. Net soos Jehovah Paulus geseën het, sal hy ons seën vir wat ons doen (Ps. 126:5). En wanneer ons Jehovah se seëninge ondervind, sal ons dalk selfs gemotiveerd begin voel. w23.05 29 ¶9-10
Dinsdag 8 Julie
Jehovah se dag . . . kom. – 1 Tess. 5:2.
Die apostel Paulus het dié wat nie Jehovah se dag sal oorleef nie vergelyk met mense wat aan die slaap is. Hulle is nie bewus van wat om hulle gebeur nie of dat tyd verbygaan nie. Daarom weet hulle nie wanneer iets belangriks gebeur nie en kan hulle nie daarop reageer nie. Vandag is die meeste mense in ’n geestelike sin aan die slaap (Rom. 11:8). Hulle glo nie die bewyse dat ons in “die laaste dae” lewe nie en dat die groot verdrukking binnekort sal kom nie (2 Pet. 3:3, 4). Maar ons besef dat die geïnspireerde raad om wakker te bly elke dag al hoe dringender word (1 Tess. 5:6). Daarom moet ons kalm bly en reguit dink. Hoekom? Sodat ons nie betrokke raak by die politieke of sosiale kwessies van vandag nie. Die druk om kant te kies in hierdie sake sal sterker word soos wat Jehovah se dag nader kom. Maar ons hoef nie angstig te wees oor hoe ons sal reageer nie. God se gees kan ons help om kalm te wees en reguit te dink en om wyse besluite te maak. – Luk. 12:11, 12. w23.06 10 ¶6-7
Woensdag 9 Julie
Soewereine Heer Jehovah, dink asseblief aan my en versterk my. – Rigt. 16:28.
Waaraan dink jy wanneer jy die naam Simson hoor? Jy dink heel moontlik aan ’n man wat baie sterk was. Dit is waar. Maar Simson het ’n slegte besluit gemaak wat vir hom baie pyn en lyding veroorsaak het. En tog het Jehovah op Simson se rekord van getrouheid gefokus, wat Hy in die Bybel laat neerskryf het sodat ons daarby kan baat vind. Jehovah het Simson gebruik om wonderlike dinge te doen om Sy uitverkore volk, Israel, te help. Eeue ná Simson se dood het Jehovah die apostel Paulus geïnspireer om Simson se naam in te sluit by ’n lys manne wat baie sterk geloof gehad het (Heb. 11:32-34). Simson se voorbeeld kan ons aanmoedig. Hy het op Jehovah vertrou, selfs gedurende moeilike omstandighede. Sy voorbeeld kan ons aanmoedig, sowel as ander praktiese lesse leer. w23.09 2 ¶1-2
Donderdag 10 Julie
Vra God . . . om julle te help. – Fil. 4:6.
Ons kan ons volharding versterk deur gereeld tot Jehovah te bid en hom te vertel van al ons bekommernisse (1 Tess. 5:17). Dalk het jy nie op die oomblik ernstige probleme nie. Maar bid jy tot Jehovah en vra jy hom om jou te help wanneer jy ook al ontsteld, onseker of oorweldig is? As jy nou gereeld tot ons God bid en hom vra om jou te help met jou kleiner probleme, sal jy nie in die toekoms huiwer om dit te doen wanneer jy groter probleme ondervind nie. Dan sal jy die vertroue hê dat hy presies weet wanneer en hoe om jou te help (Ps. 27:1, 3). Daar is ’n groter moontlikheid dat ons die toekomstige groot verdrukking sal oorleef as ons vandag volhard wanneer ons probleme ondervind (Rom. 5:3). Hoekom kan ons dit sê? Baie broers sê dat elke moeilike situasie wat hulle suksesvol hanteer het, hulle gehelp het om te volhard gedurende die volgende uitdaging. Wanneer hulle met Jehovah se hulp volhard het, het hulle meer geloof dat Jehovah hulle wil help. En omdat hulle geloof in Jehovah het, kan hulle volhard wanneer hulle weer deur ’n moeilike tyd gaan. – Jak. 1:2-4. w23.07 3 ¶7-8
Vrydag 11 Julie
Ek sal doen wat jy vra. – Gen. 19:21.
Jehovah se nederigheid en meegevoel beweeg hom om redelik te wees. Byvoorbeeld, Jehovah se nederigheid kon duidelik gesien word toe hy op die punt gestaan het om die goddelose mense van Sodom te vernietig. Deur sy engele het Jehovah vir die regverdige Lot gesê om na die bergstreek te vlug. Lot was bang om daarheen te gaan. Daarom het hy Jehovah gesmeek dat hy en sy gesin na Soar kan gaan, ’n klein dorp wat ook vernietig sou word. Jehovah kon daarop aangedring het dat Lot presies moet doen wat Hy vir hom gesê het om te doen. Maar hy het Lot toegelaat om na Soar te gaan, en Hy het nie daardie dorp vernietig nie (Gen. 19:18-22). Honderde jare later het Jehovah meegevoel aan die mense van Nineve betoon. Hy het die profeet Jona gestuur om vir die goddelose mense van Nineve te sê dat hulle en hulle stad vernietig gaan word. Maar toe die Nineviete berou getoon het, het Jehovah jammer gevoel vir hulle en het hy die stad gespaar. – Jona 3:1, 10; 4:10, 11. w23.07 21 ¶5
Saterdag 12 Julie
Hulle het [Joas] doodgemaak. En hulle het hom . . . begrawe, maar nie in die grafte van die konings nie. – 2 Kron. 24:25.
Wat kan ons uit die voorbeeld van Joas leer? Hy was soos ’n boom met vlak wortels wat afhanklik was van die ondersteuning van ’n paal. Toe die paal – Jojada – nie meer daar was nie en die winde van afvalligheid gewaai het, het Joas omgewaai. Hierdie kragtige illustrasie wys dat ons vrees vir God nie net moet afhang van die goeie invloed van ander Christene, insluitende familielede, nie. Om geestelik sterk te bly, moet ons ons eie toegewydheid aan God en ons vrees vir hom versterk deur gereelde studie, bepeinsing en gebed (Jer. 17:7, 8; Kol. 2:6, 7). Jehovah vra nie eintlik baie van ons nie. Wat hy vra, word opgesom in Prediker 12:13, wat sê: “Vrees die ware God en gehoorsaam sy gebooie, want dit is die hele verpligting van die mens.” Wanneer ons God vrees, sal ons lojaal aan Jehovah kan bly maak nie saak wat in die toekoms gebeur nie. Niks sal ons vriendskap met Jehovah kan beskadig nie. w23.06 19 ¶17-19
Sondag 13 Julie
Kyk! Ek maak alles nuut. – Op. 21:5.
God se waarborg begin so: “Die Een wat op die troon sit, het gesê” (Op. 21:5a). Hierdie woorde is ’n inleiding van een van net drie keer waar Jehovah in die boek Openbaring in die visioene praat. So hierdie waarborg is nie deur ’n engel, nie eens deur Jesus, gegee nie, maar deur Jehovah self! Hierdie feit bewys dat ons wat hy volgende sê, beslis kan vertrou. Hoekom is dit die geval? Omdat Jehovah “nie kan lieg nie” (Tit. 1:2). So die woorde wat ons in Openbaring 21:5, 6 lees, sal beslis waar word. Kom ons ondersoek die woord “Kyk!” Die Griekse term wat met “kyk!” vertaal is, word herhaaldelik in die boek Openbaring gebruik. Wat het God volgende gesê? Hy het gesê: “Ek maak alles nuut.” Ja, Jehovah praat oor toekomstige veranderinge, maar omdat hy so seker is dat hy sy belofte sal vervul, sê hy dat hy alreeds hierdie veranderinge maak. – Jes. 46:10. w23.11 3-4 ¶7-8
Maandag 14 Julie
Hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil. – Matt. 26:75.
Die apostel Petrus het met sy swakhede gesukkel. Kyk na ’n paar voorbeelde. Toe Jesus verduidelik het hoe hy sou ly en sterf net soos die Bybel voorspel het, het Petrus ernstig met hom gepraat (Mark. 8:31-33). Petrus en die ander apostels het oor en oor gestry oor wie die grootste is (Mark. 9:33, 34). Op die laaste aand voor Jesus se dood het Petrus ’n man se oor impulsief afgekap (Joh. 18:10). Daardie selfde aand het Petrus so bang geword dat hy drie keer gesê het dat hy sy vriend Jesus nie ken nie (Mark. 14:66-72). Dit het daartoe gelei dat Petrus bitterlik gehuil het. Jesus het nie sy apostel, wat verskriklik mismoedig was, afgeskryf nie. Nadat Jesus opgewek was, het hy Petrus die geleentheid gegee om te wys dat hy Jesus nog steeds liefhet. Jesus het Petrus genooi om nederig as ’n herder vir sy skape te dien (Joh. 21:15-17). Petrus het positief gereageer. Op Pinksterdag was hy in Jerusalem en onder die eerstes wat met heilige gees gesalf is. w23.09 22 ¶6-7
Dinsdag 15 Julie
Hou as herder toesig oor my skapies. – Joh. 21:16.
Die apostel Petrus het sy mede-ouermanne aangespoor: “Wees herders vir die kudde van God” (1 Pet. 5:1-4). As jy ’n ouerman is, weet ons dat jy lief is vir jou broers en susters en ’n herder vir hulle wil wees. Maar soms voel jy dalk dat jy so besig of so moeg is dat jy nie daardie toewysing kan uitvoer nie. Wat kan jy doen? Sê vir Jehovah hoe jy voel. Petrus het geskryf: “As iemand dien, laat hy vertrou op die krag wat God voorsien” (1 Pet. 4:11). Jou broers en susters ondervind dalk probleme wat nie heeltemal in hierdie wêreld opgelos kan word nie. Maar onthou dat “die hoofherder”, Jesus Christus, hulle meer kan help as wat jy kan. Hy kan dit vandag sowel as in die nuwe wêreld doen. Al wat God van ouermanne vra, is om hulle broers lief te hê, om herders vir hulle te wees en om “voorbeelde vir die kudde” te wees. w23.09 29-30 ¶13-14
Woensdag 16 Julie
Jehovah weet dat die redenasies van die wyses niks beteken nie. – 1 Kor. 3:20.
Ons moenie soos mense dink wat Jehovah se wette ignoreer nie, want dan sal ons Jehovah en sy wette dalk ook begin ignoreer (1 Kor. 3:19). “Die wysheid van hierdie wêreld” beïnvloed mense dikwels om ongehoorsaam aan God te wees. ’n Paar Christene in Pergamum en Tiatira was beïnvloed deur mense om hulle wat onsedelik was en wat afgode aanbid het. Jesus het albei gemeentes streng raad gegee omdat hulle seksuele onsedelikheid verdra het (Op. 2:14, 20). Vandag kan mense om ons ons probeer beïnvloed om verkeerde idees te aanvaar. Familielede en mense wat ons ken, kan dalk probeer om ons te oortuig dat ons te streng is en dat ons Jehovah se wette moet breek. Byvoorbeeld, hulle sê dalk dat dit nie belangrik is om sedelik rein te bly nie en dat die Bybel se sedelike standaarde outyds is. Partykeer dink ons dalk dat Jehovah ons nie instruksies gee wat duidelik genoeg is nie. Ons kan dalk selfs in die versoeking kom om “verder [te] gaan as die dinge wat geskryf is”. – 1 Kor. 4:6. w23.07 16 ¶10-11
Donderdag 17 Julie
’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye. – Spr. 17:17.
Maria, Jesus se ma, het krag nodig gehad. Sy was nie getroud nie, maar sy sou swanger word. Sy het nog nooit self kinders grootgemaak nie, maar sy sou vir die seuntjie sorg wat die Messias sou word. En aangesien sy nog nooit seksuele omgang gehad het nie, hoe sou Maria al hierdie dinge aan haar verloofde, Josef, verduidelik? (Luk. 1:26-33). Hoe het Maria die krag ontvang? Sy het staatgemaak op ander vir hulp. Byvoorbeeld, sy het Gabriël gevra om vir haar nog inligting te gee oor die toewysing (Luk. 1:34). Kort daarna het sy al die pad na “die bergland” van Juda gereis om haar familielid Elisabet te besoek. Elisabet het Maria geprys, en Jehovah het haar geïnspireer om ’n aanmoedigende profesie te gee oor Maria se ongebore seun (Luk. 1:39-45). Maria het van Jehovah gesê: “Met sy arm het hy magtige dade gedoen” (Luk. 1:46-51). Jehovah het Maria versterk deur Gabriël en Elisabet. w23.10 14-15 ¶10-12
Vrydag 18 Julie
Hy het ons ’n koninkryk gemaak, priesters vir sy God en Vader. – Op. 1:6.
’n Beperkte aantal van Christus se dissipels is met die heilige gees gesalf, en hulle geniet ’n spesiale verhouding met Jehovah. Hierdie 144 000 gaan saam met Jesus as priesters in die hemel dien (Op. 14:1). Die Heilige van die tabernakel verteenwoordig die feit dat hulle aangeneem is as geestelike seuns van God terwyl hulle nog op die aarde is (Rom. 8:15-17). Die Allerheiligste van die tabernakel verteenwoordig die hemel waar Jehovah woon. “Die gordyn” wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het, verteenwoordig Jesus se vleeslike liggaam wat gekeer het dat hy hemel toe gaan as die groot Hoëpriester van die geestelike tempel. Deur sy menseliggaam op te gee as ’n offerande vir alle mense het Jesus die weg geopen na hemelse lewe vir alle gesalfde Christene. Hulle moet ook hulle vleeslike liggame opgee om hulle hemelse beloning te ontvang. – Heb. 10:19, 20; 1 Kor. 15:50. w23.10 28 ¶13
Saterdag 19 Julie
Daar is nie genoeg tyd vir my om nog te vertel van Gideon . . . nie. – Heb. 11:32.
Gideon het kalm gebly toe die Efraimiete hom gekritiseer het (Rigt. 8:1-3). Hy het nie kwaad geword nie. Hy het gewys dat hy nederig is deur na hulle bekommernisse te luister en deur op ’n liefdevolle manier met hulle te praat. Dit het hulle gekalmeer. Wyse ouermanne volg Gideon na deur mooi te luister en deur nie kwaad te word as hulle gekritiseer word nie (Jak. 3:13). Deur dit te doen, dra hulle by tot die vrede in die gemeente. Toe ander Gideon geprys het vir die oorwinning oor Midian het hy die aandag op Jehovah gevestig (Rigt. 8:22, 23). Hoe kan ouermanne Gideon navolg? Hulle kan Jehovah die eer gee vir die dinge wat hulle bereik (1 Kor. 4:6, 7). Byvoorbeeld, as ’n ouerman geprys word vir sy onderrigvermoë, kan hy die aandag vestig op die bron van die onderrigting, God se Woord, of op die opleiding wat ons ontvang van Jehovah se organisasie. Ouermanne kan soms nadink oor of hulle te veel aandag op hulleself vestig. w23.06 4 ¶7-8
Sondag 20 Julie
My gedagtes is nie julle gedagtes nie. – Jes. 55:8.
As ons nie ontvang waarvoor ons gebid het nie, vra ons onsself dalk: ‘Bid ek vir die regte ding?’ Baie keer dink ons dat ons weet wat die beste vir ons is. Maar die dinge waarvoor ons vra, is dalk nie die beste vir ons nie. As ons oor ’n probleem bid, is daar dalk ’n beter oplossing vir die probleem as die een waarvoor ons vra. En party dinge waarvoor ons vra, stem dalk nie ooreen met Jehovah se wil nie (1 Joh. 5:14). Byvoorbeeld, dink aan die voorbeeld van ouers wat Jehovah gevra het om hulle kind in die waarheid te hou. Dit klink soos ’n gepaste gebed. Maar Jehovah sal nie een van ons dwing om hom te dien nie. Hy wil hê dat ons almal, insluitende ons kinders, moet kies om hom te aanbid (Deut. 10:12, 13; 30:19, 20). So die ouers kan Jehovah eerder vra om hulle te help om hulle kind se hart te bereik sodat hy beweeg sal word om Jehovah lief te hê en om Sy vriend te word. – Spr. 22:6; Ef. 6:4. w23.11 21 ¶5; 23 ¶12
Maandag 21 Julie
Hou . . . aan om mekaar . . . te vertroos. – 1 Tess. 4:18.
Om ander te vertroos, is ’n belangrike manier om te wys dat ons hulle liefhet. Hoekom? Volgens ’n Bybelnaslaanwerk beteken die woord wat Paulus vir “vertroosting” gebruik het “om langs iemand te staan om hom aan te moedig wanneer hy deur ’n verskriklike moeilike tyd gaan”. So wanneer ons iemand vertroos wat deur ’n moeilike tyd gaan, help ons hom om Jehovah getrou te bly dien. Elke keer dat ons ’n broer of ’n suster ’n skouer gee om op te huil, wys ons ons liefde vir ons broer of suster (2 Kor. 7:6, 7, 13). Om meegevoel te hê en ander te vertroos, hou met mekaar verband. Hoe? ’n Persoon wat meegevoel het, word gemotiveer om ander te vertroos en om hulle pyn en lyding te probeer verlig. So eers het ons meegevoel; dan gee ons vertroosting. Let op hoe Paulus Jehovah se meegevoel verbind met die vertroosting wat Hy gee. Paulus beskryf Jehovah as “die Vader van groot genade en die God van alle vertroosting”. – 2 Kor. 1:3. w23.11 9-10 ¶8-10
Dinsdag 22 Julie
Wees [bly] terwyl [julle] swaarkry. – Rom. 5:3.
Alle volgelinge van Christus kan verwag dat hulle deur moeilike tye sal gaan. Kyk na die apostel Paulus se voorbeeld. Hy het vir dié in Tessalonika gesê: “Toe ons by julle was, het ons julle vooraf gesê dat ons deur moeilike tye sal gaan, en dit is ook wat gebeur het” (1 Tess. 3:4). En hy het aan die Korintiërs geskryf: “Broers, ons wil hê dat julle moet weet van die moeilike tye wat ons . . . deurgemaak het . . . Ons het selfs gedink dat ons gaan sterf” (2 Kor. 1:8; 11:23-27). Vandag kan Christene ook verwag om deur die een of ander moeilike tyd te gaan (2 Tim. 3:12). Omdat jy geloof in Jesus stel en hom volg, kan jou vriende en familielede jou dalk wreed behandel. Het jou vasbeslotenheid om in alles eerlik te wees vir jou probleme by die werk veroorsaak? (Heb. 13:18). Het jy teenstand van die regering ondervind omdat jy jou hoop met ander gedeel het? Maar maak nie saak deur watter moeilike tyd ons dalk gaan nie, Paulus het gesê dat ons bly moet wees. w23.12 10-11 ¶9-10
Woensdag 23 Julie
Julle het groot moeilikheid vir my gemaak. – Gen. 34:30.
Jakob het baie probleme verduur. Twee van Jakob se seuns, Simeon en Levi, het die familie in die skande gesteek en oneer op Jehovah se naam gebring. Jakob se geliefde vrou, Ragel, het ook gesterf terwyl sy aan hulle tweede kind geboorte gegee het. En as gevolg van ’n groot hongersnood was Jakob op sy oudag gedwing om na die land Egipte te trek (Gen. 35:16-19; 37:28; 45:9-11, 28). Ten spyte van al hierdie probleme het Jakob nooit geloof verloor in Jehovah en in Sy beloftes nie. En Jehovah het vir Jakob gewys dat hy Sy goedkeuring het. Byvoorbeeld, Jehovah het vir Jakob baie besittings gegee. En dink net hoe dankbaar Jakob teenoor Jehovah moes gewees het toe hy Josef weer gesien het – die seun wat hy gedink het lank gelede gesterf het! Jakob se sterk vriendskap met Jehovah het hom gehelp om sy probleme suksesvol te hanteer (Gen. 30:43; 32:9, 10; 46:28-30). Ons kan ook onverwagse probleme suksesvol hanteer wanneer ons ons vriendskap met Jehovah sterk hou. w23.04 15 ¶6-7
Donderdag 24 Julie
Jehovah is my Herder. Ek sal niks kortkom nie. – Ps. 23:1.
Psalm 23 is ’n lied wat vertroue in Jehovah se liefde en sorg uitdruk. Dawid, die skrywer van hierdie psalm, beskryf die sterk band wat daar was tussen hom en sy Herder, Jehovah. Dawid het veilig gevoel om Jehovah toe te laat om hom te lei, en hy was heeltemal afhanklik van Hom. Dawid het geweet dat Jehovah elke dag van sy lewe sy liefde vir hom sou wys. Hoekom was hy so oortuig? Dawid het gevoel dat Jehovah mooi na hom kyk omdat Jehovah altyd alles voorsien het wat hy nodig gehad het. Dawid het ook Jehovah se vriendskap en goedkeuring geniet. Dit is hoekom hy seker was dat Jehovah sou aanhou om in al sy behoeftes te voorsien, maak nie saak wat in die toekoms sou gebeur nie. Dawid se vertroue in Jehovah se liefde was kragtiger as enige bekommernis wat hy gehad het, en dit het hom baie gelukkig en tevrede laat voel. – Ps. 16:11. w24.01 28-29 ¶12-13
Vrydag 25 Julie
Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel. – Matt. 28:20.
Vanaf die Tweede Wêreldoorlog het Jehovah se volk in baie lande ’n mate van vrede en vryheid geniet terwyl hulle gepreek het. Om die waarheid te sê, die werk het floreer. Vandag hou die lede van die Bestuursliggaam aan om op Christus se leiding te vertrou. Hulle wil hê dat die instruksies wat hulle aan die broers gee, die hemel se beskouing van sake weerspieël. En hulle gebruik kringopsieners en ouermanne om riglyne aan die gemeentes te gee. Gesalfde ouermanne is in Christus se “regterhand” (Op. 2:1). Hierdie ouermanne is natuurlik onvolmaak en maak foute. Moses en Josua het partykeer foute gemaak, net soos die apostels (Num. 20:12; Jos. 9:14, 15; Rom. 3:23). Maar ons kan duidelik sien dat Jesus die getroue slaaf en die aangestelde ouermanne lei, en hy sal aanhou om dit te doen. Daarom het ons goeie rede om die leiding te vertrou wat hy voorsien deur dié wat aangestel is om die leiding te neem. w24.02 23-24 ¶13-14
Saterdag 26 Julie
Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders. – Ef. 5:1.
Vandag kan ons Jehovah gelukkig maak deur oor hom te praat op ’n manier wat wys hoe dankbaar ons is en hoe baie ons hom liefhet. Wanneer ons in die bediening is, hou ons in gedagte dat ons hoofdoel is om mense na Jehovah toe te trek, om hulle te help om ons geliefde Vader te sien soos ons hom sien (Jak. 4:8). Ons geniet dit om vir mense te wys hoe die Bybel Jehovah beskryf – dit openbaar sy liefde, geregtigheid, wysheid, krag en ander aantreklike eienskappe. Ons loof ook Jehovah en maak hom gelukkig deur ons bes te doen om hom na te volg. Wanneer ons dit doen, staan ons uit in hierdie goddelose wêreld. Mense let dalk op dat ons anders is en wonder dalk hoekom (Matt. 5:14-16). Wanneer ons met hulle te doen kry, kry ons dalk die geleentheid om te verduidelik hoekom ons anders is. As gevolg daarvan voel opregte mense aangetrokke tot ons God. Wanneer ons Jehovah op hierdie maniere loof, maak ons sy hart bly. – 1 Tim. 2:3, 4. w24.02 10 ¶7
Sondag 27 Julie
Hy [moet] mense . . . kan opbou en . . . kan teregwys. – Tit. 1:9.
Om ’n volwasse Christenman te word, sal jy praktiese vaardighede moet aanleer. Dit sal jou help om verantwoordelikhede in die gemeente te aanvaar, om ’n sekulêre werk te behou, om jouself of ’n gesin te onderhou en om gesonde verhoudings met ander te hê. Byvoorbeeld, leer om goed te lees en te skryf. Die Bybel sê dat ’n gelukkige en suksesvolle man God se Woord elke dag lees en daaroor nadink (Ps. 1:1-3). Deur die Bybel elke dag te lees, sal hy leer hoe Jehovah dink, wat hom sal help om reguit te dink en om goed te redeneer (Spr. 1:3, 4). Ons broers en susters maak staat op bekwame mans vir Bybelgebaseerde onderrigting en raad. As jy goed kan lees en skryf, sal jy goeie, geloofversterkende toesprake en antwoorde kan voorberei. Jy sal ook betekenisvolle notas kan maak wat jou sal jou help om jou eie geloof te versterk en om ander aan te moedig. w23.12 26-27 ¶9-11
Maandag 28 Julie
Die een wat in eenheid met julle is, is groter as die een wat in eenheid met die wêreld is. – 1 Joh. 4:4.
Wanneer jy bang voel, dink na oor wat Jehovah in die toekoms gaan doen wanneer Satan nie meer daar is nie. ’n Demonstrasie op die 2014-streekbyeenkomsprogram het gewys hoe ’n pa met sy gesin bespreek het hoe 2 Timoteus 3:1-5 bewoord kan word as daardie verse voorspel het hoe dit in die Paradys sou wees: “In die nuwe wêreld sal ons die gelukkigste tye ondervind. Want mense sal ander liefhê, geestelike skatte liefhê, beskeie wees, nederig wees, God loof, aan ouers gehoorsaam wees, dankbaar wees, lojaal wees, hulle families baie liefhê, bereid wees om in te stem, altyd van ander goed praat, selfbeheersing hê, sagmoedig wees, lief wees vir wat goed is, betroubaar wees, toegewend wees, nederig van hart wees, eerder vir God lief wees as vir plesier, deur opregte toegewydheid aan God gemotiveer word; en bly na aan hierdie mense.” Praat jy met jou familie of jou broers en susters oor hoe die lewe in die nuwe wêreld sal wees? w24.01 6 ¶13-14
Dinsdag 29 Julie
Ek het jou goedgekeur. – Luk. 3:22.
Dit is baie gerusstellend om te weet dat Jehovah sy volk as ’n groep goedkeur! Die Bybel sê: “Jehovah vind vreugde in sy volk” (Ps. 149:4). Maar partykeer word party so mismoedig dat hulle dalk wonder: ‘Keur Jehovah my persoonlik goed?’ ’n Hele paar van Jehovah se getroue aanbidders in Bybeltye het soms met sulke gevoelens gesukkel (1 Sam. 1:6-10; Job 29:2, 4; Ps. 51:11). Die Bybel wys duidelik dat onvolmaakte mense Jehovah se goedkeuring kan verkry. Hoe? Ons moet geloof in Jesus Christus beoefen en gedoop word (Joh. 3:16). Op hierdie manier wys ons vir ander dat ons berou het oor ons sondes en ’n belofte aan God gemaak het om sy wil te doen (Hand. 2:38; 3:19). Jehovah is baie gelukkig wanneer ons hierdie stappe neem om ’n verhouding met hom te ontwikkel. Jehovah keur ons goed en beskou ons as sy hegte vriende as ons aanhou om ons bes te doen om ons toewydingsgelofte na te kom. – Ps. 25:14. w24.03 26 ¶1-2
Woensdag 30 Julie
Ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie. – Hand. 4:20.
Ons kan die dissipels navolg deur aan te hou preek selfs wanneer die regering ons beveel om op te hou. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah ons sal help om ons bediening uit te voer. Daarom moet ons bid vir moed en wysheid en Jehovah vra om ons te help om probleme te hanteer. Baie van ons ly as gevolg van ’n siekte of emosionele probleme, die dood van ’n geliefde, ’n moeilike familiesituasie, vervolging of ’n ander probleem. En dinge soos pandemies en oorloë het baie van hierdie probleme selfs moeiliker gemaak om te hanteer. Stort jou hart voor Jehovah uit. Vertel hom van jou situasie net soos jy ’n goeie vriend daarvan sou vertel. Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah “vir jou [sal] optree” (Ps. 37:3, 5). As ons volhou met gebed, sal dit ons help om te “volhard wanneer [ons] moeilike tye deurmaak” (Rom. 12:12). Jehovah weet wat sy aanbidders deurmaak – “hy hoor hulle geroep om hulp”. – Ps. 145:18, 19. w23.05 5-6 ¶12-15
Donderdag 31 Julie
Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanvaarbaar is. – Ef. 5:10.
Wanneer ons belangrike besluite moet maak, moet ons verstaan “wat die wil van Jehovah is” en dan in ooreenstemming daarmee optree (Ef. 5:17). Deur Bybelbeginsels te vind wat van toepassing is op ons situasie soek ons eintlik God se denke oor die saak. Dan soos ons sy beginsels toepas, sal ons goeie besluite kan maak. “Die Duiwel”, ons vyand Satan, wil ons graag so besig hou met die dinge van hierdie wêreld dat ons nie tyd het vir ons diens aan God nie (1 Joh. 5:19). ’n Christen kan daarop begin fokus om materiële besittings, sekulêre opvoeding of sy loopbaan bo geleenthede te stel om Jehovah te dien. As dit sou gebeur, sou dit wys dat hy deur die wêreld se denke geaffekteer word. Hierdie dinge is natuurlik nie verkeerd nie, maar dit moet nooit die belangrikste in ons lewe wees nie. w24.03 24 ¶16-17