Christelike Neutraliteit terwyl God se oorlog nader
“Die profeet wat profeteer van vrede—as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die HERE waarlik gestuur het.”—Jer. 28:9.
1. Waarom is die woorde van Jeremia 27:9 teen okkultisme goed van toepassing op vandag se wêreldsituasie?
“JÚLLE moet dan nie luister na julle profete en na julle waarsêers en na julle dromers en na julle goëlaars en na julle towenaars nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie.” Sulke woorde van lank gelede tydens die dae van die Babiloniese Ryk is goed van toepassing op vandag se wêreldsituasie. Waarom? Omdat die wêreld steeds vol dromers, goëlaars, waarsêers en towenaars is (Jer. 27:9). Die hoofstede van die wêreld, soos Washington, D.C., is berug vir hulle spiritiste, en hulle word ywerig deur verwarde politici geraadpleeg. Omdat sulke fortuinlesers, heldersiendes, mediums, droomuitlêers en voorspellers regeringsamptenare van raad en advies bedien, kan daardie okkultiste ’n belangrike uitwerking op wêreldpolitiek hê. Hierdie okkultiste bemoei hulle nogtans nie regstreeks met die politiek nie.
2. Bemoei die Bybel hom met die politiek omdat dit wêreldverwikkelinge voorspel, en watter antwoord verstrek 1 Johannes 2:15-17 op daardie vraag?
2 Daar is ’n ou boek wat sy lesers waarsku teen alle vorme van okkultisme, maar dit bevat baie voorspellings oor wêreldverwikkelinge in ons 20ste eeu. Dit het baie te sê oor die politieke aangeleenthede van ons tyd. Bemoei hierdie boek dit gevolglik met die politiek van ons dag? Spoor hierdie boek sy lesers aan om mee te doen aan mensepolitiek om die politieke heersers te dwarsboom? Vir politici wat die Heilige Bybel van so iets wil beskuldig, sê ons: Nee! In een van die laaste boeke van die Bybel skryf die Christenapostel Johannes:
“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Joh. 2:15-17.
Die heel laaste boek van die Bybel, wat ook deur hierdie apostel Johannes geskryf is, beskryf hoe hierdie wêreld en sy politiek sal verbygaan.
3. Watter gesindheid teenoor die politiek spoor godsdiensleiers Christene aan om te hê, en na watter Bybelvoorbeelde wys hulle om hulle punt te staaf?
3 Daar is egter godsdiensleiers, selfs pouse, patriarge en aartsbiskoppe wat gekant is teen Christelike neutraliteit en wat sê dat dit die plig van elke Christen is om hom daadwerklik met die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld te bemoei. Vir Bybelvoorbeelde om hulle standpunt te staaf, wys hulle na eertydse Hebreeuse profete, soos Jeremia, die seun van priester Hilkia, van die sewende eeu voor ons Gewone Jaartelling. Trouens, die woorde van Jeremia 27:9, wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal is, was deel van wat Jehovah God Jeremia beveel het om aan die diplomatieke verteenwoordigers van die koninkryke van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon te sê (Jer. 27:1-4). Aangesien die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon nou vinnig naderkom, kan ons gerus ondersoek instel na die wyse waarop God Jeremia in die ou tyd gebruik het. Gee die voorbeeld van Jeremia ware Christene vandag die reg om Christelike neutraliteit te skend en aan enige wêreldlike politiek mee te doen? Kom ons kyk.
4. Wat het Jehovah in die eerste jaar van Jojakim se bewind deur Jeremia gesê dat Hy onder sekere omstandighede met die tempel en Jerusalem gaan doen?
4 Ons hervat ons verhaal in die jaar 628 v.G.J., of 21 jaar voordat die Babiloniërs Jerusalem vernietig het. Dit was die eerste jaar van die bewind van Jojakim, die derde laaste koning van Jerusalem. In die vierde jaar daarna het Jeremia sy profesie geuiter oor koning Nebukadnesar van Babilon en die “beker” van Jehovah wat na meer as 20 konings en koninkryke, onder andere Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon geneem moes word (Jer. 25:1-3). Die profeet verstrek vir ons die jaartal deur te sê:
“In die begin van die regering van Jojakim, die seun van Josia, die koning van Juda, het hierdie woord van die HERE gekom: So sê die HERE: Gaan staan in die voorhof van die huis van die HERE, en spreek tot al die stede van Juda wat kom om te aanbid in die huis van die HERE, al die woorde wat Ek jou beveel het om aan hulle te sê; laat geen woord weg nie. Miskien sal hulle luister en hulle bekeer elkeen van sy verkeerde weg; dan sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen weens die boosheid van hulle handelinge. Sê dan vir hulle: So spreek die HERE: AS julle na My nie luister nie, om in my wet te wandel wat Ek julle voorgehou het, om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle stuur, vroeg én laat, sonder dat julle geluister het, dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en hierdie stad sal Ek maak ’n vervloeking vir al die nasies van die aarde.”—Jer. 26:1-6.
5. Waarom het Jeremia, toe hy die voormelde boodskap oorgedra het, nie priesterwerk en politiek gemeng nie?
5 Jeremia was ’n priester, maar deur hierdie goddelike bevel te gehoorsaam, het hy nie probeer om sy priesteramp met staatskuns te meng nie. Hy het bloot ’n waarskuwing van Jehovah af tot voordeel van die nasie gegee. Hy het dit aan die politieke heersers en die mense oorgelaat om op daardie goddelike waarskuwing ag te slaan. Jehovah het ’n reg en ’n verpligting gehad om die Koninkryk van Juda te waarsku, want die mense daarvan was in ’n nasionale verbond met hom as hulle God. In sy Wet wat deur bemiddeling van Moses aan hulle gegee is, het hy die nasie gewaarsku teen die gevolge indien hulle hierdie verbond tussen God en die mens sou verbreek. God se profeet Jeremia het dus nie probeer om priesterwerk en staatskuns te meng nie, maar hy het bloot vir die mense ’n waarskuwing gegee vanaf die God met wie hulle in ’n verbond was. Indien hulle hierdie verbond nog verder verbreek het, sou hulle tempel in Jerusalem Jehovah se verbondsark verloor net soos die tabernakel in Silo dit verloor het.
6. Die afwesigheid van watter opdrag van Jehovah verhoed die Jeremia-klas om hulle met die politiek van die Christendom te bemoei, en op watter woorde van Jesus in verband met haar slaan hierdie klas ag?
6 Jeremia het nie daar vir die geestelikes van die hedendaagse Christendom ’n voorbeeld gestel om hulle met volkspolitiek te bemoei nie. Die lede van die Jeremia-klas besef vandag dat hulle geen reg het om hulle met die politiek van enige nasie of blok nasies te bemoei nie; selfs nie eens met dié van die nasies van die Christendom nie. Hulle weet dat die Christendom, ten spyte van haar aansprake, nie in ’n verbond met Jehovah is nie. Sy beweer wel dat sy in die nuwe verbond is wat bemiddel is deur die Een wat groter as Moses is, naamlik Jesus Christus, maar die feite weerspreek daardie bewering. Die lede van die Jeremia-klas is dus terdeë daarvan bewus dat hulle geen opdrag van Jehovah God het om aan die nasies van die Christendom voor te skryf of ’n daadwerklike aandeel aan die politiek van sulke nasies te hê nie. Hulle getroue verkondiging van Jehovah se waarskuwing aan die valse Christendom asook aan die nie-Christelike nasies is nie deelname aan wêreldlike politiek nie. Hulle is nie lief vir ‘die wêreld of die dinge in die wêreld’ nie, maar bly getrou aan Jesus se woorde: “Hulle is nie van die wêreld nie” (Joh. 17:14, 16; 1 Joh. 2:15). Hulle weerhou hulle van alle politieke aangeleenthede in strenge neutraliteit.
DIE REAKSIE VAN GODSDIENSTIGES
7. Hoe het Jeremia sy verdediging voor die Jerusalemse hof volgens Jeremia 26:12-15 afgesluit?
7 Die ander priesters en die sogenaamde “profete” het Jeremia voor die vorste en voor die volk by die tempelpoort gesleep om verhoor te word. Hulle het hom van ophitsing beskuldig. “Hierdie man verdien die dood”, het hulle gesê, “want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met jul ore gehoor het” (Jer. 26:7-11). Jeremia het sy verdediging afgesluit deur vir die Jerusalemse hof te sê: “Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op hierdie stad en op sy inwoners; want die HERE het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek.”—Jer. 26:12-15.
8. Hoe het die geestelikes van die Christendom net soos Jerusalem se “patriotte” teenoor die Jeremia-klas opgetree?
8 Wat ’n nasionalistiese gees is tog geopenbaar deur hierdie persone wat Jeremia dood wou hê! Dit behoort die hof teen hom op te gesweep het, net soos soortgelyke patriotiese betoë in ander hofsale onlangs gedoen het. Jehovah se dringende versoek dat hulle hulle moes hervorm, is oor die hoof gesien. Hulle het hulle skuld voor Hom geïgnoreer en hulle gewetens gesmoor. Dieselfde het gebeur wanneer lede van die hedendaagse gesalfde Jeremia-klas verhoor is. Die godsdiensleiers van die Christendom het eweneens op drastiese optrede aangedring. Hulle het die voortou geneem en daarop aangedring dat die Jeremia-klas doodgemaak moes word sodat hulle van die wroeging van hulle slegte gewetens bevry kan word.
9. Het die vorstelike regters in Jeremia se geval voor die godsdiensdruk geswig, en hoe wou hulle onheil vermy?
9 Onder die vorste wat vir Jeremia in die bres getree het sodat hy nie ter dood veroordeel is nie, was Ahikam, die seun van Safan. Die vorste het nie voor die godsdiensdruk geswig nie. Hulle het besef dat Jeremia in werklikheid Jehovah se woordvoerder is. Hulle wou nie hê dat Jehovah hulle daarvan moes beskuldig dat hulle die onskuldige bloed van sy getroue kneg vergiet het nie. Hulle het vir Jeremia gestem: onskuldig! Sy verdediging het die begeerte by hulle gewek om geskiedkundige voorbeelde te herroep. Hulle was byvoorbeeld amper 100 jaar nader aan dit wat Miga teen Juda en Jerusalem geprofeteer het. Koning Hiskia het vry van bloedskuld gebly deur Miga nie te laat doodmaak vir vermeende opruiende praatjies wat vir die Staat skadelik was nie. “En”, het die oudstes gesê tydens hulle argument dat Jeremia se geval versigtig gehanteer moes word, “ons is besig om ons siele ’n groot onheil te berokken!”—Jer. 26:16-19, 24; Miga 3:9-12.
10. Hoe het die optrede van koning Jojakim teenoor die profeet Uria ’n teenstelling gevorm met dié van koning Hiskia?
10 In teenstelling met koning Hiskia wat ag geslaan het op Jehovah se waarskuwing deur Miga, was daar Hiskia se agter-agterkleinseun wat destyds nog nie ’n jaar lank op die troon in Jerusalem gesit het nie, Jojakim self! Hy het die heel eerste jaar van sy bewind met bloed bevlek deur Uria, die seun van Semaja, te laat doodmaak. Om die toorn van koning Jojakim te ontvlug, het die profeet Uria na Egipte gevlug. Maar sonder enige gemelde reëling met Egipte vir Uria se uitlewering, het die wraaksugtige koning manne gestuur om Uria op te spoor en hom met geweld na die land van Juda terug te bring om ’n marteldood te sterf (Jer. 26:20-23). Later in daardie eerste jaar van die nuwe koning het Jeremia dus bykomende rede gehad om op Jehovah se bevel te profeteer wat hy wel geprofeteer het. In hierdie verband moet daar net gemeld word dat Farao Nego Jojakim koning van Juda gemaak het (2 Kon. 23:34, 35). Farao Nego het dus dalk met koning Jojakim saamgespan in die misdaad.
11. Watter onheil het Jojakim hom dus op die hals gehaal?
11 Jojakim het homself onheil op die hals gehaal. In die agtste jaar van sy bewind het koning Nebukadnesar Jerusalem beleër en Jojakim ’n diensbare koning van die nuwe wêreldmoondheid, Babilon, gemaak. Drie jaar later het Jojakim klaarblyklik ontydig gesterf. Sy lyk is buitekant Jerusalem se mure gewerp om ’n “eselsbegrafnis” te hê. Dit was net soos Jeremia voorspel het (Jer. 22:18, 19; 2 Kron. 36:5-8; 2 Kon. 24:1-6). Hoe verskriklik!
12. Hoe is die Jeremia-klas van vandag, net soos Jeremia van die ou tyd, verlos van die dood wat die godsdienselement oor hulle wou bring?
12 Net soos Jeremia, die seun van Hilkia, is die Jeremia-klas van ons 20ste eeu ook die dood gespaar. Die geregshowe het nie in alle gevalle en in alle lande geswig voor die bose begeerte van die magtige godsdienselemente van die Christendom nie. Daar is regters wat die godsdiensregte en -vryheid van die Jeremia-klas erken het, ’n klas wat, terwyl dit hier op aarde is, die gemalin-organisasie van Jehovah God verteenwoordig. Gebeure stem dus ooreen met wat in Openbaring 12:15, 16 afgebeeld is. Demokratiese volkselemente van die “aarde” het die verteenwoordigers van God se “vrou” te hulp gesnel en Satan die Duiwel se godsdienshandlangers se pogings om die Jeremia-klas in ewige vernietiging te verswelg, verydel.
13. Wat gaan die lede van die Jeremia-klas voort om te verkondig, en in verband met watter geskil weier hulle terselfdertyd om ’n vergelyk te tref?
13 Die lede van die Jeremia-klas gaan voort om alles te verkondig wat God hulle beveel om teen die hedendaagse teenbeeld van Juda en Jerusalem asook teen al die ander politieke dele van hierdie stelsel van dinge te verkondig. Selfs al word hulle gedwing om in party gebiede “ondergronds” te werk, ondergrawe hulle nie gevestigde regerings om die dinge wat hulle verkondig te laat plaasvind nie. Hulle weerstaan alle druk om hulle met hierdie of daardie politieke party ’n vergelyk te laat tref. Hulle weier om van hulle Christelike neutraliteit afstand te doen.
14. Aan wie besef die Jeremia-klas behoort die stryd, en watter soort plek sal die aarde na die stryd wees?
14 Onversetlik sorg hulle dus dat hulle “nie van die wêreld” is nie. Hulle weet goed dat Jehovah God die Almagtige vir homself kan sorg. Die oorlog is syne! Dit is nie hulle stryd nie! Hulle staan vas in Christelike onkreukbaarheid, vol vertroue dat “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” naderkom, aangesien onsigbare demonmagte met hulle okkulte kragte aardse heersers versamel na die wêreldsituasie wat simbolies Armageddon genoem word (Openb. 16:13-16). Die Jeremia-klas verheug hulle dus daarin dat hulle onwrikbare Christelike neutraliteit ter ondersteuning van Jehovah se universele soewereiniteit is. Wat ’n wonderlike plek sal ons aarde tog vir die Jeremia-klas en hulle mede-Christelike afsydiges wees nadat hulle die sege van Jehovah se soewereiniteit te Armageddon aanskou het!
DIE KOMPLOT TEEN JEHOVAH SE DIENAAR-KONING
15. Waarom is dit nou die tyd van die grootste internasionale komplot in die hele mensegeskiedenis, en wat sê Openbaring 14:12 sal dit vir Godvresende Christene beteken?
15 Die hede is egter die tyd vir ware Bybelchristene om veral ten opsigte van hulle neutraliteit en onkreukbaarheid beproef te word. Dit is die tyd van die grootste internasionale komplot in die hele mensegeskiedenis, want dit is nou die tyd van die Verenigde Volke, wat vandag 152 lede het. Maar waarom die V.V.O. ’n internasionale komplot of sameswering noem? Want dit is ’n mensgemaakte organisasie om die regmatige bewind van Jehovah se koninkryk in die hande van sy Christus so lank moontlik teë te werk en te keer. Wie sal die oorhand kry, Jehovah se Messiaanse koninkryk of die Verenigde Volke? Die veiligheid en vrede van alle volke is op die spel. Waar dit voorspel hoe moeilik die tydperk sou wees wanneer die Verenigde Volke as ’n agentskap vir wêreldbeskerming optree, sê Openbaring 14:12: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”—Vergelyk Jesaja 8:12, 13.
16. Watter internasionale sameswering is negentien eeue gelede gesmee, en waarna het die gedeeltelike vervulling van Psalm 2:1-4 vooruitgewys?
16 Negentien eeue gelede was daar ’n internasionale komplot of sameswering teen Christus self, en God het toegelaat dat dit op Jesus se marteldood uitloop (Hand. 3:13; 4:27; 13:28, 29; 1 Tim. 6:13). Dit is in Psalm 2:1-4 voorspel. Hierdie psalm sowel as die gedeeltelike vervulling daarvan negentien eeue gelede, het vooruitgewys na die internasionale sameswering teen Jehovah en sy Christus in hierdie tydperk wanneer die reg op die “koninkryk van die wêreld” aan hulle albei behoort.—Openb. 11:15-18, NW.
17. Teen wie besef die getuies van Jehovah is die huidige wêreldorganisasie se komplot gemik, en watter standpunt wat in 1919 ingeneem is, handhaaf hulle vandag?
17 Ware Christene sal besef dat die huidige internasionale komplot teen Jehovah en sy Christus gemik is. Hulle sal dus voortgaan om in hulle Christelike neutraliteit te volhard en die standpunt handhaaf wat hulle in 1919 by die byeenkoms van die Internasionale Bybelstudentevereniging in Cedar Point (Ohio) ingeneem het toe hulle Jehovah se koninkryk in die hande van Christus voorgestaan het in plaas van die voorgestelde Volkebond vir wêreldvrede en -veiligheid, ’n Bond wat nou deur die Verenigde Volke opgevolg is. Hulle standpunt is die standpunt wat die profeet Jeremia self vandag sou ingeneem het, want hy het ’n geïnspireerde waarskuwing gerig oor ’n soortgelyke komplot teen die bewind van Jehovah se koninklike “dienaar”.
18. Wat is Jeremia in die eerste jaar van Jojakim se bewind beveel om te maak, en na wie moes hy dit saam met ’n boodskap stuur?
18 Gevolglik het die profesie van Jeremia, hoofstuk 27, vir ons aktuele betekenis. Daar sê die profeet se verslag:
“In die begin van die regering van Sedekia [Jojakim, NW], die seun van Josia, koning van Juda, het van die HERE hierdie woord tot Jeremia gekom: So het die HERE vir my gesê: Maak vir jou stroppe en jukke, en sit dit op jou nek; en stuur dit na die koning van Edom en na die koning van Moab en na die koning van die kinders van Ammon en na die koning van Tirus en na die koning van Sidon deur middel van die gesante wat in Jerusalem gekom het na Sedekia, die koning van Juda; en gee hulle opdrag aan hul gebieders, met die woorde: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: So moet julle aan jul gebieders sê.”—Jer. 27:1-4.
19. Wanneer het Jeremia Jehovah se boodskap volgens die algemene Hebreeuse teks ontvang, en by watter geleentheid het hy daarop gereageer?
19 Ons merk op dat die New World Translation die name van twee konings van Juda en Jerusalem hier aangee, eerstens die van Jojakim, en dan die van sy broer Sedekia, wat na Jojakim en sy seun Jojagin geregeer het. Indien die naam Jojakim in Jeremia 27:1 korrek is, het Jeremia hierdie profesie in 628 v.G.J. ontvang en dit 11 jaar lank teruggehou voordat hy daarop gereageer het. Maar drie Hebreeuse manuskripte en die Siriese en Arabiese weergawes van Jeremia 27:1 sê “Sedekia” in plaas van “Jojakim”, en dit is hoe talle hedendaagse Bybelvertalings dit stel.a In elk geval, Jeremia se optrede in gehoorsaamheid aan Jehovah se bevel word in die bewind van koning Sedekia geplaas en op die tyd toe die gesante van die vyf buurlande, Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon, na Jerusalem gekom het om met koning Sedekia te onderhandel. Teen hierdie tyd was Nebukadnesar al ten minste agt jaar lank keiser van Babilon en het hy koning Jojagin na Babilon weggevoer en sy oom Sedekia op die troon van Jerusalem geplaas. As ’n diensbare koning was Sedekia trou aan Babilon verskuldig.
20. Watter soort beweging het die koms van daardie vyf gesante uitgemaak, en waarom is hulle aangesê om nie na die woorde van die okkultiste te luister nie?
20 Die koms van gesante van vyf buurlande was ’n gesamentlike optrede. Dit het ’n gesamentlike beweging uitgemaak. Uit die dinge wat Jeremia aangesê is om vir hierdie gesante te sê, is dit duidelik dat ’n komplot gesmee is om ’n gekombineerde opstand teen keiser Nebukadnesar aan te stig. Die voorspellers en okkultiste was ten gunste van die opstand. Dit is waarom Jeremia aangesê is om vir die gesante te sê: “Júlle moet dan nie luister na julle profete en na julle waarsêers en na julle dromers en na julle goëlaars en na julle towenaars nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie. Want hulle profeteer leuens vir julle om julle ver te laat wees uit julle land, sodat Ek julle verdrywe en julle omkom.”—Jer. 27:9, 10.
21. Wat het die demone die betrokke nasies destyds aangespoor om te doen?
21 Net soos die demone vandag die politieke leiers na Armageddon, na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”, laat optrek, so het die demone destyds die politieke heersers van die lande waarvandaan die gesante gekom het, aangespoor om hulle verenigde opstand teen Jehovah se “dienaar”, Nebukadnesar, te smee (Openb. 16:13-16). Daardie nasies het heel logies nie beswaar gemaak toe koning Sedekia van Juda in die negende jaar van sy bewind wel in opstand gekom het nie.
22. Waarom het Jeremia hom nie met die politiek bemoei toe hy Jehovah se boodskap aan daardie gesante oorgedra het nie, en hoe het Jehovah sy soewereiniteit in die boodskap beklemtoon?
22 Toe Jeremia boodskappe van Jehovah af aan die gesante van die koalisie van vyf nasies oorgedra het, het hy hom nie met die politiek bemoei nie, want sy God, Jehovah, was “Koning van die nasies” en het die vyf nasies ’n guns bewys deur ’n waarskuwing van nasionale belang tot hulle te rig. Waar Jehovah sy eie universele soewereiniteit beklemtoon, het hy Jeremia aangesê om vir hulle te sê:
“Ek het die aarde, die mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag en deur my uitgestrekte arm, en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë. En nou het Ék al hierdie lande gegee in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babel, my dienaar; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee om hom te dien. En al die nasies sal hom dien en sy seun [Evil-Merodag] en sy seun se seun [Belsasar], totdat die tyd van sý land ook kom, dat dit diensbaar gemaak sal word deur magtige nasies en groot konings.”—Jer. 27:5-7; 2 Kon. 25:27; Dan. 5:1, 11, 18, 22.
23. Hoe lank sou die slawerny aan Babilon duur, en wat sou gebeur met die nasie wat hom teen Jehovah se bevel versit het?
23 Volgens Jehovah se bevel sou dit dus ’n lang tyd—trouens, 70 jaar—wees dat die nasies wat deur die Babiloniese Ryk verslaan is die juk van slawerny moes dra. Sulke slawerny is afgebeeld deur die stroppe en jukke wat Jehovah Jeremia beveel het om te maak en te gee aan die buitelandse gesante wat koning Sedekia besoek het. Opstand deur daardie nasies kon nie God se bevel kragteloos maak nie.
“En die nasie en die koninkryk wat hom, Nebukadnesar, die koning van Babel, nie sal dien nie . . . oor daardie nasie sal Ek, spreek die HERE, besoeking doen met die swaard en die hongersnood en die pes, totdat Ek hulle heeltemal in sy mag gebring het.”—Jer. 27:8.
24. Waarom moet Jehovah se Dienaar-Koning, Jesus Christus, nou te midde van sy vyande heers?
24 Vandag, in die tyd van die Jeremiaklas, sal dit, net soos destyds in koning Sedekia se dag, beter wees om ag te slaan op die raad van die Soewereine Heer van die heelal as op dié van die demone (Jer. 27:9-11). Ons wil beslis nie verwikkel raak in ’n internasionale sameswering teen Jehovah se Dienaar-Koning, Jesus Christus, nie. Die politieke heersers, veral dié van die Christendom, is deur talle aankondigings deur die Jeremia-klas in kennis gestel, maar die heersers verkies om in die Verenigde Volke te bly (Jer. 27:12-15; Openb. 17:12, 13). Hulle klou soos nete aan hulle nasionale soewereiniteite vas en weier volstrek om hulle nekke onder die koninklike juk van Jehovah se Dienaar-Koning te plaas. Omdat hulle nie die einde van die Tye van die Nasies in 1914 ernstig opneem nie, erken die politieke heersers nie dat hulle meedoen aan ’n globale sameswering teen die globale heerskappy van Jehovah se Dienaar-Koning nie. Maar net soos Sedekia deur Jehovah se “dienaar”, Nebukadnesar, toegelaat is om koning van Juda te wees, is dit eweneens nou die geval met die politieke leiers, onder andere dié van die Christendom. Hulle is toegelaat om politieke sake sedert 1914 te bestuur. Gevolglik moet Jehovah se Dienaar-Koning nou heers te midde van sy vyande, die samesweerders teen hom.
25. (a) Na wie moet die Jeremia-klas hom met sy boodskap wend omdat die heersers weier om daarop ag te slaan? (b) Waarvoor moes die profete wat vroeë verlossing voorspel het, in verband met die oorblywende voorwerpe bid, indien hierdie profete werklik deur Jehovah gestuur is?
25 Wat moet die Jeremia-klas doen aangesien die politieke heersers toon dat hulle nie hulle nekke onder die “juk” van Jehovah se Dienaar, sy bekroonde Seun in die hemel, gaan plaas nie? Hulle moet hulle na die mense, na indiwidue wend. Dit is vir die mense dat die Jeremia-klas die voorstanders van die sameswering aan die kaak moet stel.
“So spreek die HERE: Luister nie na die woorde van julle profete nie, wat vir julle profeteer en sê: Kyk, die voorwerpe van die huis van die HERE sal nou gou uit Babel teruggebring word; want hulle profeteer leuens vir julle. Luister nie na hulle nie, dien die koning van Babel, en lewe. Waarom moet hierdie stad ’n puinhoop word? Maar as hulle profete is, en as die woord van die HERE by hulle is, laat hulle tog die HERE van die leërskare dringend smeek, dat die voorwerpe wat in die huis van die HERE en die huis van die koning van Juda en in Jerusalem oorgebly het, nie in Babel kom nie.”—Jer. 27:16-18.
26. Wat sou volgens Jehovah se woord met die oorblywende voorwerpe gebeur in plaas daarvan dat die ander voorwerpe gou teruggebring sou word?
26 In Jerusalem het die tempel met sy pilare nog steeds gestaan. In die voorhof daarvan was daar nog steeds die groot waskom wat “die see” genoem is en die waentjies vir kleiner verskuifbare komme en talle ander voorwerpe vir gebruik deur die priesters en Leviete. Wat van al hierdie tempeltoebehore?
“So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aangaande die voorwerpe wat in die huis van die HERE en die huis van die koning van Juda en in Jerusalem oorgebly het: Na Babel sal dit gebring word, en daar sal dit bly tot op die dag dat Ek daarop ag sal gee, spreek die HERE, en dit opvoer en terugbring na hierdie plek.”—Jer. 27:19-22.
27. (a) Wat het Jehovah se woord vir die internasionale komplot beteken? (b) Watter weg sal dus meebring dat ons in die Nuwe Orde ’n aandeel het in die vrug van die oorwinning deur Jehovah se veldmaarskalk?
27 Wat het hierdie woorde van Jehovah beteken? Dit: Dat die internasionale komplot teen die bewind van Jehovah se “dienaar” sou misluk. Dit sal blyk dat die godsdienstige profete en okkultiste wat voorspellings gemaak het, vals was en die goedgelowige mense in vernietiging in mislei het. Vir ons eie veiligheid moet ons nie na hulle luister nie. Ons vertroue moet nie in die Verenigde Volke of enige ander internasionale organisasie wees nie, maar in Jehovah se koninkryk in die hande van sy Dienaar-Koning, Jesus Christus. In Christelike neutraliteit teenoor die politieke aangeleenthede en botsings van hierdie wêreld sal ons ons nekke plaas onder die juk van die een wat deur Jehovah aangewys is, die een wat hy steun as sy veldmaarskalk tydens die komende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon. Dit sal meebring dat ons in Jehovah se regverdige nuwe orde ’n aandeel het in die vrug van sy glorieryke oorwinning.
[Voetnoot]
a Kyk The Bible in Living English (Byington); The Jerusalem Bible; The New English Bible; The New American Bible, wat die aanvangswoorde van die vers tussen hakies sit en dan ’n voetnoot verstrek wat lui “Sedekia”; Revised Standard Version; An American Translation; Moffatt; en die Good News Bible.