Goddelike Oordeel teen die valse profete van die Christendom
1, 2. (a) Aan watter versoeking stel ongegronde profesieë oor goeie dinge in die toekoms ons bloot? (b) Wat is die grootste vraag wat nou beslis moet word, en wat het dit na vore gebring?
ONS wil van nature almal graag profesieë of voorspellings oor goeie dinge hoor wat in die nabye toekoms, in ons lewe, gaan kom. Dit stel ons aan ’n groot versoeking bloot. Ons wil dalk graag ’n sekere voorspelling as die waarheid aanvaar omdat ons daarvan hou, maar nie omdat dit ’n vaste grondslag het of van ’n gesaghebbende bron kom nie. Dit kan ons iets laat doen wat vir ons skadelik is. Dit is veral die geval wanneer ons ewige toekoms op die spel is. Dit is NOU die geval! Waarom is dit nou die geval?
2 Omdat die grootste vraag wat beslis moet word die hele mensdom nou vierkant in die oë staar. Daardie vraag is: Wie sal oor die wêreld heers? Dit is nie die eindelose stryd tussen die kapitalistiese nasies met hulle vrye onderneming en die sosialistiese, Kommunistiese nasies wat hierdie allerbelangrikste geskil na vore laat kom het nie. Dit is eerder die aankondiging wat Jehovah se Christengetuies oor Sy koninkryk in die hande van Christus gemaak het wat die geskil na vore laat kom het. Daardie koninkryk verdien om aan bewind te wees sedert die Tye van die Nasies in 1914 geëindig het.
3. (a) Oor watter vraag is die volke dus verplig om ’n standpunt in te neem? (b) Waarom moet die nasies hulle soewereiniteit aan Jehovah oorgee?
3 Die mense wat die Koninkryksaankondiging in sowat 190 tale dwarsoor die wêreld gehoor het, is eenvoudig verplig om ’n standpunt in te neem. Is hulle nou vir Jehovah se regmatige bewind in die hande van Christus of nie? Hierdie aarde waarop ons lewe, is die eiendom van sy Skepper, nie van ons, die skepsele, nie. Volgens die rooster in die Skepper se boek, die Bybel, het die tyd wat hy die aardse nasies, dié van die Christendom inkluis, gegun het om oor die wêreld te heers, in die vroeë noordelike herfs van 1914 verstryk. Wat het hy aan die einde van daardie Tye van die Nasies gedoen? Hy het sy “groot mag” aangeneem om as Koning te heers en sy hemelse Seun, Jesus Christus, genooi om saam met hom in hierdie wêreldregering in die hemel te regeer (Openb. 11:15-18). Sy Seun regeer dus nou (Eseg. 21:25-27). Dit is nou die tyd vir die nasies om hulle soewereiniteit aan Jehovah oor te gee.
4, 5. (a) Waardeur is die Midde-Ooste in 614 v.G.J. bedreig? (b) Wat het toe al met die heilige voorwerpe van Jerusalem se tempel gebeur, en slegs hoe kon Hananja se voorspelling daaroor bewaarheid word?
4 In 614 v.G.J. het ’n soortgelyke toedrag van sake in die Koninkryk van Juda bestaan. Daar was destyds ’n wêreldbedreiging! Uit watter oord? Uit wat God “die geslagte van die Noorde” genoem het. Dit was die Babiloniese Wêreldmoondheid, wat die Midde-Ooste vanuit die noorde sou binneval (Jer. 1:13-15; 25:9, 26). Koning Nebukadnesar van Babilon het reeds oor die Midde-Ooste geheers. Dit was veral so sedert 620 v.G.J., toe Jojakim van Jerusalem ’n diensbare koning van Babilon geword het. Sy broer Sedekia was die laaste diensbare koning van die heilige stad, daar Nebukadnesar hom op die troon geplaas het nadat hy daarop aangedring het dat hy trou sweer. Toe Nebukadnesar Jerusalem verlaat het om terug te keer huis toe, het hy die afgesette koning Jojagin en Joodse edelmanne in ballingskap weggevoer. Hy het ook heilige voorwerpe uit Jehovah se tempel weggeneem en dit in die huise van die valse gode in Babilon gesit. Hoe lank sou hierdie heilige voorwerpe en ander kosbare artikels uit geplunderde Jerusalem in Babilon bly? In die vierde jaar van Sedekia se bewind was dit ’n baie omstrede vraag.
5 ’n Valse profeet genaamd Hananja, die seun van Assur, het hom aangematig om in Jehovah se naam te spreek en het gesê dat dit “nog twee jaar” sou wees. Dit sou slegs die geval kon wees indien Babilon teen daardie tyd omvergewerp is en Egipte weer ’n wêreldmoondheid geword het. Deur sy voorspelling teen Babilon, het Hananja diegene gesteun wat ten gunste van ’n internasionale opstand teen Nebukadnesar van Babilon was. Dit was dus in stryd met Jehovah se bevel en raad soos reeds deur Jeremia verkondig is.
6. Hoe het Hananja se profesie, volgens Jeremia 28:8, 9, verskil van dié van die profete voor Jeremia?
6 Aangesien Hananja valse verwagtinge vir die land Juda gewek het, het Jeremia sy antwoord voor al die priesters en die mense by die tempel afgesluit deur te sê: “Die profete wat daar voor my en voor jou gewees het, van ouds af, het geprofeteer teen magtige lande en teen groot koninkryke van oorlog en onheil en pes. Die profeet wat profeteer van vrede—as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die HERE waarlik gestuur het.”—Jer. 28:1-9.
7. Wat het Jesus Christus oor ons tye sedert 1914 voorspel, en watter vraag het vandag ontstaan oor wie die waarheid vertel?
7 Jehovah se grootste profeet, Jesus Christus, het oorlog, hongersnood, pessiektes, aardbewings en ander rampe vir ons tyd sedert 1914 voorspel, en al hierdie dinge sou ’n klimaks bereik in ’n “groot verdrukking” sonder weerga in die hele vorige mensegeskiedenis (Matt. 24:4-22). Vandag vestig Jehovah se Getuies mense se aandag op hoe Jesus se profesie progressief sedert 1914 vervul is. Hy het geen blywende vrede vir hierdie wêreld in die nabye toekoms, in hierdie geslag, voorspel nie. Wie het Jehovah dus gestuur en wie spreek in sy naam—die Christendom se geestelikes wat die teenoorgestelde voorspel, of die Jeremia-klas van vandag? Toekomstige gebeure sal wys wie die waarheid gepraat het.
8. Hoe het Hananja dramaties opgetree nadat Jeremia geantwoord het, en watter profesie oor tyd het hy toe geuiter?
8 Die valse profeet Hananja moes seker gewees het dat ’n internasionale opstand teen Jehovah se “dienaar” sou slaag, want hy het nou dramaties opgetree:
Hy het “die juk van die nek van die profeet Jeremia afgeneem en dit verbreek. En Hananja het gespreek in die teenwoordigheid van die hele volk en gesê: So spreek die HERE: So sal Ek verbreek die juk van Nebukadnesar, die koning van Babel, in nog twee jaar, van die nek van al die nasies.”—Jer. 28:10, 11.
9. Wat het Jehovah Jeremia nou aangesê om oor jukke te sê, en waarom?
9 Maar sou so ’n profesie bewaarheid word net omdat dit in Jehovah se naam gespreek is? Nee! Jehovah kon nie doen wat Hananja geprofeteer het en terselfdertyd die teenoorgestelde profesie van Jeremia vervul nie. Gevolglik was internasionale opstand teen Jehovah se aangekondigde “dienaar” gedoem! “Gaan”, het Jehovah later vir Jeremia gesê, “spreek met Hananja en sê: So spreek die HERE: Houtjukke het jy verbreek, maar jy moet in die plek daarvan ysterjukke maak. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Ek het ’n ysterjuk gelê op die nek van al hierdie nasies om Nebukadnesar, die koning van Babel, te dien, en hulle sal hom dien; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee” (Jer. 28:12-14). Gevolglik kan geen internasionale komplot wat deur Hananja aangestook is, slaag nie. Daarbenewens sou Jehovah, om “selfs die wilde diere van die veld” in Nebukadnesar se hand te gee, al die lande van die internasionale samesweerders aan hom gee.
DIE GODSDIENSBELHAMEL KRY SY VERDIENDE LOON
10. Wat is die Jeremia-klas gemagtig om ten opsigte van die geestelikes te doen wat, net soos Hananja, die internasionale sameswering teen Jehovah steun?
10 Vandag is die Christendom se profeterende geestelikes uitgesproke in die steun wat hulle gee aan die internasionale sameswering teen Jehovah se koninkryk in die hande van sy Christus. Jehovah se Getuies is nie gemagtig om die doodvonnis oor enigeen van hulle uit te spreek nie. Maar hulle kan die geïnspireerde woord van Jehovah verkondig en dit op die kerklike valse profete toepas wat, as ’n klas, deur Hananja afgebeeld is. Kom ons lees dus nou wat Jeremia profeties gedoen het:
“En die profeet Jeremia het aan die profeet Hananja gesê: Luister tog, Hananja! Die HERE het jou nie gestuur nie, maar jý het hierdie volk op leuens laat vertrou. Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek werp jou van die aarde af weg; hierdie jaar sal jy sterwe, omdat jy afval van die HERE verkondig het.”—Jer. 28:15, 16.
11. (a) Hoe lank het Hananja nog geleef? (b) Waaraan is die geestelikes van die Christendom eweneens skuldig, en waarop moet die Jeremia-klas dus die aandag vestig?
11 Hananja, die voorstander van openlike opstand teen Jehovah deur die internasionale samesweerders, het nog omtrent twee maande lank gelewe. “En die profeet Hananja het in dié jaar [614 v.G.J.], in die sewende maand, gesterwe” (Jer. 28:17, 1). In die lig van hierdie profetiese drama van die ou tyd kan ons vra: Wat van die kerklike valse profete van die Christendom van vandag? Hulle steun die politieke heersers wanneer die weier om hulle nekke te plaas onder die juk van Jehovah se Dienaar-Koning wat verreweg groter as Nebukadnesar van die ou tyd is. Hierin kan die Jeremia-klas nie met die geestelikes akkoord gaan nie. Hulle moet voortgaan om die aandag te vestig op die onheil waarin die geestelikes die mense inlei.
12. Watter boodskap het Jeremia vir die Jode wat reeds ballinge in Babilon was van Jehovah af gehad oor die valse profete Agab en Sedekia?
12 In daardie vervloë dae van politieke beroering in die Midde-Ooste het selfs die weggevoerde Jode in Babilon valse profete onder hulle gehad. Vir daardie skynprofete wat valse verwagtinge onder die Joodse ballinge in Nebukadnesar se land gewek het, het God hierdie boodskap deur Jeremia gestuur:
“Luister dan na die woord van die HERE, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel weggestuur het! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aangaande Agab, die seun van Kolaja, en aangaande Sedekia, die seun van Maäseja, wat vir julle in my Naam leuens profeteer: Kyk, Ek gee hulle in die hand van Nebukadresar, die koning van Babel, en hy sal hulle voor julle oë verslaan. En aan hulle sal ’n vloek ontleen word by al die ballinge van Juda wat in Babel is, deurdat gesê word: Mag die HERE jou maak soos Sedekia en soos Agab, wat die koning van Babel in die vuur gebraai het!—omdat hulle ’n skanddaad in Israel begaan het en owerspel met die vroue van hulle naaste bedryf het en ’n leuenwoord in my Naam gespreek het, wat Ek hulle nie beveel het nie; en Ek is die Een wat weet en getuie is, spreek die HERE.”—Jer. 29:20-23.
Jehovah se “dienaar”, Nebukadnesar, het ongetwyfeld goeie politieke rede gehad om Sedekia en Agab in die vuur te braai, want hulle het, in stryd met Jehovah se raad, die belange van keiserlike Babilon ondermyn.
13. Moes die Joodse ballinge ’n vroeë verlossing uit Babilon verwag, en wat het Jeremia se brief hulle dus beveel om te doen?
13 Die pasaangehaalde woorde was deel van ’n brief wat Jeremia uit Jerusalem na die weggevoerde oudstes, priesters, profete en mense in afgeleë Babilon gestuur het. Sy posbodes was Eleasa, die seun van Safan, en Gemarja, die seun van Hilkia, toe koning Sedekia van Jerusalem hierdie twee afgesante na koning Nebukadnesar in Babilon gestuur het (Jer. 29:1-3). In daardie brief van Jeremia het Jehovah vir die ballinge gesê om geen vroeë verlossing uit Babilon te verwag nie, maar om hulle daar te vestig en te trou en te vermenigvuldig. In plaas daarvan om planne te smee om in opstand te kom, “soek die vrede van die stad waarheen Ek [Jehovah] julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê. . . Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring.”—Jer. 29:4-10.
14. Wat vermaan die Jeremia-klas, net soos die profeet van die ou tyd, gedoopte Christene om te wees waar hulle ook al woon?
14 Getrou aan Jeremia se beeld vermaan die Jeremia-klas van vandag alle toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah om wetsgehoorsame, vredeliewende burgers van die lande te wees waarin hulle, geestelik gesproke, “bywoners en vreemdelinge” is (1 Pet. 2:11-15). Deur hulle betreklike onderdanigheid aan “die hoëre owerhede” bewaar hulle ook die vrede met God.—Rom. 13:1-4, vgl. NW.
15. Wat het Semaja, die valse profeet in Babilon, gedoen, en watter klag het hy by die “opsigter” van Jerusalem se tempel ingedien?
15 Voordat die brief van Jeremia selfs nog geskryf en weggestuur is, het ’n valse profeet wat destyds ’n balling in Babilon was, naamlik Semaja van Nehelam, briewe aan Sefanja, die seun van Maäseja, die “opsigter” van die Jerusalem se tempel, gestuur. In Jeremia se brief aan die ballinge in Babilon het Jehovah dus hierna verwys en voorts gesê:
“En aan Samaja, die Nehelamiet, moet jy dit sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Omdat jý ’n brief in jou naam gestuur het na die hele volk wat in Jerusalem is, en na Sefanja, die seun van Maäseja, die priester, en na al die priesters, met die woorde: Die HERE het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jojada, dat daar opsigters kan wees in die huis van die HERE oor elkeen wat kranksinnig is en as profeet optree, dat jy hom in die blok en in die nekyster kan sit—waarom het jy dan nou Jeremia, die Anatotiet, nie gekeer nie, wat by julle as ’n profeet optree; aangesien hy ons in Babel laat weet het: Dit sal lank duur; bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan?”—Jer. 29:24-28; vergelyk Jeremia 29:4-6.
16. Wat het die tempel se “opsigter” met Semaja se brief gedoen, en wat is Jeremia toe geïnspireer om oor Semaja te profeteer?
16 Met die ontvangs van Semaja se brief het die priester Sefanja, as die “opsigter” van die tempel, Jeremia nie in die blok en die nekyster gesit nie. Hy het eers die brief vir Jeremia gelees (Jer. 29:29). Wat het toe gebeur?
“Toe het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê: Laat al die ballinge weet: So sê die HERE aangaande Semaja, die Nehelamiet: Omdat Semaja vir julle geprofeteer het sonder dat hy deur My gestuur is, en hy julle op leuens laat vertrou het, daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek doen besoeking oor Semaja, die Nehelamiet, en oor sy geslag; hy sal niemand hê wat onder hierdie volk woon nie, en hy sal die goeie nie sien wat Ek aan my volk sal doen nie, spreek die HERE; want hy het teen die HERE afval verkondig.”—Jer. 29:30-32.
17. Waarom was opstand teen Babilon, soos deur Semaja aangestig is, ook opstand teen Jehovah?
17 Deur wat Semaja geprofeteer en geskryf het, het hy koning Sedekia van Jerusalem aangehits om, met die steun van Farao van Egipte, wat die meedoënlose teenstander van die Babiloniese Wêreldmoondheid was, in opstand te kom. Maar so ’n opstand sou nie net teen Babilon wees nie. Dit sou ook teen Jehovah wees, want hy het die koning van Babilon destyds as sy “dienaar” gebruik. Jehovah was dus die hemelse Meester van die koning van Babilon. Gevolglik sou opstand teen Babilon hoofsaaklik opstand teen Jehovah wees.
WAG OP JEHOVAH IN CHRISTELIKE NEUTRALITEIT
18. Hoe het Semaja probeer om Jehovah vooruit te loop, met watter gevolge vir homself en sy afstammelinge?
18 Semaja in Babilon wou nie op Jehovah wag om verlossing vir die Joodse ballinge, waarvan hy een was, te bewerkstellig nie. Hy het nie die vroeë profesie van Jesaja 44:28 tot 45:4 oor Khoresh, of Kores die Pers, geglo wat Babilon sou omverwerp en die Joodse ballinge na hulle tuisland sou terugstuur nie. Semaja wou Jehovah dus vooruitloop. Hy het planne beraam om redding vir homself en sy medeballinge op sy eie manier uit te werk. Hy was ten gunste van ’n weg wat ’n “ysterjuk” van die koning van Babilon op die nek van die diensbare Koninkryk van Juda sou plaas (Jer. 28:13, 14). Gevolglik sou Semaja, die opstandeling, glad nie verlos word nie. Sy afstammelinge sou uitgeroei word sodat hulle geen aandeel aan Israel se herstelling sou hê nie!
19. Watter weg het die hedendaagse teenbeeld van Semaja sedert 1914 ingeslaan?
19 Ons is vandag verstandig as ons ag slaan op die raad in Jeremia se brief en wat in Jeremia 29:8, 9 opgeteken is. Dan sal ons nie die hedendaagse teenbeeld van daardie eertydse voorstander van opstand teen Jehovah se reëling, Semaja van Nehelam, volg nie. Die geestelikes van die Christendom, wat sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 nie na die Jeremia-klas geluister het nie, het getoon dat hulle ooreenkom met “bedorwe vye wat te sleg is om te eet”. Die geestelikes se aandag is gevestig op die aspekte van die “teken” wat deur Jesus Christus voorspel is en sedert 1914 vervul is, naamlik die “swaard” van oorlog selfs op ’n globale skaal, ook vernietigende “hongersnood” en onbeheerbare “pes” en die ‘verstrooiing’ van hulpelose bevolkings, selfs in die Christendom wat beweer dat sy Christelik is (Jer. 29:16-19; Matt. 24:4-20). Die geestelikes toon nietemin dat hulle nie die Skriftuurlik verklaarde betekenis van die “teken” glo nie en dus spoor hulle nie die nasies aan om hulle nasionale soewereiniteit oor te gee aan Jehovah se tans heersende Dienaar-Koning, Jesus Christus, wat sedert 1914 saam met sy hemelse Vader ’n aandeel het in die “koninkryk van die wêreld”, iets baie wonderliker as Nebukadnesar se Babiloniese Ryk nie. Die geestelikes keur eerder mensgemaakte planne goed en steun die Verenigde Volke, nie God se bewind nie.
20. Watter verdiende straf ontvang persone wat teen heerskappy in opstand kom, en hoe sal ons dus ewige verlossing verkry?
20 Onder wêreldse nasies word opstand teen behoorlik aangestelde heerskappy vandag met die dood van die opstandelinge gestraf. Onchristelike opstand teen Jehovah en sy Dienaar-Koning verdien ewe-eens vernietiging vir sogenaamde “Christelike” godsdiensleiers wat “teen die HERE afval verkondig” (Jer. 29:32). Hulle vernietiging is afgeskadu deur die wat voltrek is aan die valse profeet Semaja en sy afstammelinge, wat nooit die “goeie” gesien het wat Jehovah hom voorgeneem het om vir die onderdanige lede van sy verbanne volk te doen nie. Dit is dus nie ons toewysing om ons eie onmiddellike redding met mensgemaakte middele uit te werk nie. Om ewige redding te verkry, moet ons geduldig en vol vertroue wag op Jehovah om ons te verlos deur ’n “dienaar” wat groter is as Khoresh, of Kores die Pers, naamlik Jesus Christus.
21. Watter optrede van die onderdanige ballinge wat in Jeremia 29:12-14 deur Jehovah voorspel is, moet ons vandag navolg?
21 As ons probeer om Jehovah vooruit te loop, sal dit nooit die verlossing bewerkstellig wat ons vurig begeer nie. In plaas daarvan om Jehovah die rug toe te keer en hom buite rekening te laat, is ons verstandig as ons die voorbeeld navolg van diegene wat Jehovah se reddingswerk gesien het en op sy bepaalde tyd in hulle tuisland herstel is. Jehovah het hulle navolgenswaardige weg met hierdie woorde voorspel: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind.”—Jer. 29:12-14.
22. Op watter hoop vir die toekoms moet ons reageer, in die lig van Jehovah se ‘jaar van welbehae’?
22 Ons is nou na aan die einde van die “jaar van die welbehae van die HERE” (Jes. 61:2). Sy woorde is dus steeds in ’n gunstige sin op ons van toepassing: “Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee” (Jer. 29:11). Die “toekoms” wat Jehovah vir ons voorhet, is die allerwenslikste, indien ons ons nou aan sy universele soewereiniteit onderwerp—naamlik ewige lewe in vrede, voorspoed en geluk onder sy Koning-Dienaar, Jesus Christus. Dit is die hoop wat Jehovah aan ons voorhou. Laat ons dit ten volle waardeer en dienooreenkomstig optree.