Ons dade raak die gemeente
In Spreuke 11:11 lees ons: “Deur die seën van die opregtes kom ’n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek.”
Stedelinge met ’n regskape handelwyse bevorder vrede en welsyn en bou ander op, en ’n stad floreer. Diegene wat lasterlike, kwetsende en verkeerde dinge sê, veroorsaak onrus, ongelukkigheid, tweedrag en moeilikheid. Dit is veral waar indien hierdie persone invloedryk is. In so ’n stad is daar wanorde, verdorwenheid en morele en ekonomiese agteruitgang.
Die beginsel wat hier gemeld word, is van toepassing onder Jehovah se Christengetuies, daar hulle in hulle stadagtige gemeentes “woon”. ’n Gemeente waar Skrifgeoriënteerde, geestelike persone invloed het, is gelukkig, aktief, onderling behulpsaam en strek God tot eer. Dit behaag God en hy maak die gemeente geestelik voorspoedig. Maar diegene wat misnoeg, ontevrede en vitterig is en met bitterheid mor teen die manier waarop dinge gedoen word, is soos ’n “wortel van bitterheid” wat sal versprei en ander, wat nie aanvanklik geraak is nie, verbitterd kan maak (Hebr. 12:15). Die onrusstokers wil dikwels meer gesag en prominensie geniet. Hulle veroorsaak verdeeldheid deur gerugte te versprei dat die gemeente of die ouere manne laks is, of onregverdig optree, of bevooroordeeld is teen sekere rasse, ensovoorts.
’n Ander spreuk meld hierdie beginsel op ’n indiwiduele grondslag en sê: “Sagtheid van tong is ’n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees” (Spr. 15:4). Die tong wat dinge op ’n sagmoedige, vriendelike en nederige wyse goed en waar stel, het ’n goeie uitwerking op die hoorder. Dit hef hom op en bou hom geestelik op en dra gevolglik tot die geestelike welsyn van die hele gemeente by. Maar die valse tong kwets en breek die gees van sy hoorders af en gee aan hulle geen goeie of opbouende gedagtes om hulle op die weg na die lewe te help nie. Die slegte tong is inderdaad geneig om ander se geestelike ondergang en dood te bewerkstellig.