Dien die “Koning van die nasies” en bly behoue
1. Sal die wêreldheersers vandag hulle weg verander as gevolg van wat die Jeremia-klas sê, te oordeel na die voorbeeld wat gestel is deur koning Jojakim en sy opvolger, sy broer Sedekia?
Gestel wêreldse heersers, veral dié van die Christendom, het erken dat daar ’n hedendaagse Jeremia-klas is. Gestel hulle het hierdie klas ontbied om uit te vind wat Jehovah se profetiese woord aangaande hulle lot is. Sou dit beteken dat hulle hulle handelwyse gaan verander en die weg gaan inslaan wat sal meebring dat hulle die voorspelde “groot verdrukking” oor hierdie wêreld sal oorlewe? NEE! Nie indien ons die laaste Judese koning van Jerusalem, naamlik koning Jojakim se broer Sedekia, as ’n voorbeeld neem nie. Koning Jojakim het Jeremia en sy sekretaris Barug gedwing om ondergronds te werk—die verslag sê nie hoe lank nie. Maar koning Jojakim se broer Sedekia het iets ergers aan Jehovah se getroue getuie, Jeremia, gedoen. Net so sal vandag se wêreldse heersers nie hulle blindelingse handelwyse verander nie. Daar is te veel politieke belange op die spel. Dit beloof niks goeds vir die mense oor wie hulle heers nie.—Jer. 37:2.
2. Onder watter omstandighede het Sedekia Jeremia versoek om vir die Israeliete te bid, maar wat het Jeremia gesê sal gebeur?
2 Wat tyd betref, was dit die negende jaar van Sedekia se bewind. Die derde en laaste beleëring van Jerusalem deur die Babiloniërs het begin! Strydmagte het van Egipte af opgetrek om die beleërde stad te help. Om hierdie bedreiging die hoof te bied, het die Babiloniese beleëraars teruggetrek. Dit het gelyk asof dit nou gepas was om tot Jehovah te bid om die Egiptiese ontsettingstroepe te seën. Koning Sedekia het Jeremia dus versoek: “Bid tog tot die HERE onse God vir ons.” Maar Jehovah het Jeremia beveel om nie hiervoor te bid nie. Jehovah sou nie na so ’n gebed luister nie (Jer. 37:3; 11:14; 14:11, 12). Jeremia het dus aangedui dat die Babiloniërs die oorwinning oor die Egiptiese ontsettingstroepe sou behaal deur vir koning Sedekia te sê dat die Babiloniërs sou terugkom en Jerusalem inderdaad sou verbrand.—Jer. 37:4-10.
3. Waarom het die stadsvorste van Jerusalem Jeremia in die “gevangenis” gewerp?
3 Tydens die onttrekking van die Babiloniërs het Jeremia gemeen dat dit hom vrystaan om Jerusalem te verlaat en na die priesterstad Anatot in die gebied van die stam van Benjamin te gaan. Toe hy in Jerusalem se noordelike poort, die Benjaminspoort, in hegtenis geneem is, het hy ontken dat hy besig was om na die vyandelike Babiloniërs oor te loop. Die stadsvorste het hom behandel asof hy ’n ondermynende element, ’n verraaier, is, en hom in die “gevangenis” gesit waar hy “baie dae” aangehou is (Jer. 37:11-16). Hoe baie kom dit tog ooreen met die wyse waarop die Jeremia-klas vandag behandel word!
4. Hoe het Jeremia koning Sedekia aangeraai om dinge vir homself makliker te maak, en waarom is Jeremia oorgeplaas na die Voorhof van Bewaking?
4 Sou Jeremia, wanneer hy van aangesig tot aangesig met koning Sedekia kom, ophou om sy harde boodskap te verkondig? Toe koning Sedekia hom uit die gevangenis na ’n geheime plek laat bring het om hom privaat te ondervra, het hy moedig vir die koning gesê dat hy ’n gevangene sou word van die Babiloniërs wat Jehovah as Sy instrumente gebruik het. Of die koning hom nou gewillig aan hulle oorgegee het of gevang moes word en teen sy sin as balling weggevoer moes word, die uitslag sou dieselfde wees. Jeremia wou graag hê dat die koning dit vir homself makliker moes maak. Jeremia het die koning geen valse versekering gebied nie. Jeremia het sy eie volk en hulle koning niks kwaads aangedoen nie. Waarom sou hy dus in ’n gevangenis aangehou word waar sy dood verhaas sou word? Op sy versoek het koning Sedekia hom laat oorplaas na die Voorhof van Bewaking, ’n soort militêre tronk vir Jeremia. Daar het hy net brood en water gekry.—Jer. 37:17-21.
DIE VERSTANDIGE WEG NIE ’N ONDERMYNENDE WEG NIE
5. Wat was die regte en behoorlike ding vir koning Sedekia om ten opsigte van die Babiloniese Ryk te doen, en waarom is dit aan die mense oorgelaat om indiwidueel op te tree wat Jerusalem betref?
5 Keiser Nebukadnesar het Sedekia koning van Jerusalem gemaak. Maar nadat hy agt jaar lank ’n skatpligtige koning onder Nebukadnesar was, het Sedekia teen hom in opstand gekom. Die regte en behoorlike weg was om sy opstand te staak en hom vreedsaam te onderwerp aan die Ryk wat Jehovah toegelaat het om die Derde Wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis te word. Indien hy as koning geweier het om dit te doen, sou dit in die belang van die volk wees indien hulle dit sou doen. Ja, hulle moes doen presies wat Jeremia vir die mense in Jerusalem gesê het:
“So spreek die HERE: Wie in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood of die pes, maar wie na die Chaldeërs uitgaan, sal lewe, en sy siel sal vir hom ’n buit wees, en hy sal lewe. So spreek die HERE: Hierdie stad sal sekerlik oorgegee word in die mag van die leër van die koning van Babel, en hy sal dit inneem” (Jer. 38:2, 3).
Koning Sedekia moes die voortou geneem het en hierdie geïnspireerde raad toegepas het. Maar aangesien hy dit nie gedoen het nie, het dit nou by sy onderdane berus om indiwidueel met geloof in Jehovah se voorskrifte op te tree.
6. Waarom het die vorste Jeremia in die put in die voorhof van die koning se seun laat gooi?
6 Die vorste van Jerusalem het daarop aangedring dat Jeremia doodgemaak moes word, want hulle het aangevoer dat hy die hande van die strydmagte wat die stad verdedig slap maak; hy het die wil van die mense om te veg ondermyn. Sonder die koning se toestemming het hulle Jeremia dus in ’n put in die Voorhof van Bewaking, wat in die huis van Malkia die “seun” van Sedekia was, gegooi. Onder in die put het Jeremia in die modder ingesink. Nou kon hy nie sy eie raad aan ander toepas nie.
7. Wie het nou tot Jeremia se redding gekom, en hoekom?
7 Toe dinge op hulle donkerste vir Jeremia was, is toue in die put laat afsak, met lappe om as kussings vir sy arm-holtes te dien sodat hy uit die modderige put getrek kon word. ’n Ethiopiese eunug genaamd Ebed-Meleg, in diens van die koning, het van die profeet se verknorsing gehoor. Omdat hy bang was dat Jeremia onder in die modderige put sou sterf, het hy hom die vryheid veroorloof om met die koning te praat. Hy het die koning oorreed om te beveel dat hy 30 manne moes neem en Jeremia moes uithaal.—Jer. 38:10-12.
8, 9. (a) Hoe het koning Sedekia Jeremia tydens ’n geheime onderhoud bevry van enige druk om ’n valse profeet vir hom te wees? (b) Watter onveranderde raad het Jeremia aan Sedekia gegee, en watter alternatiewe het hy voor hom gestel?
8 Koning Sedekia, op wie se bevel Jeremia gered is, het nog ’n geheime onderhoud met hom in ’n ingang by die tempel aangevra. Sedekia het by die lewegewende Jehovah gesweer om die profeet nie dood te maak omdat hy hom God se waarheid vertel nie, maar hy het nie beloof om daarna te luister nie. Bevry van die bedreiging van die dood wat van hom ’n valse profeet kon maak, het Jeremia die identiese boodskap verkondig wat vroeër sy lewe in gevaar gestel het:
9 ‘Koning Sedekia, as koning moet u Jerusalem aan die Chaldeërs oorgee, so nie sal Jehovah dit self oorgee om deur die Chaldeërs verbrand te word. Moenie bang wees dat Jode wat reeds op my raad ag geslaan en na die beleëraars ontsnap het, met u sal spot nie. As u u nie oorgee nie, sal die vroue wat dit oorlewe, uitgelei word terwyl hulle sing hoe diegene wat die vrede met u bewaar het u mislei en oorweldig het en u verraderlik in die steek gelaat het om in die modder weg te sink terwyl hulle self gevlug het. Daarbenewens sal u eie vroue en kinders as gevangenes uitgelei word. U self sal nie die kloue van die koning van Babilon vryspring nie. Gevolglik sal u verantwoordelik wees vir die verbranding van die stad!’—Jer. 38:17-23.
10. Hoe het Jeremia dit vir koning Sedekia makliker gemaak deur wat hy vir die nuuskierige vorste vertel het, en tot met watter gebeurtenis is hy in sy nuwe kwartier aangehou?
10 Die vorste van Jerusalem was diegene wat opgetree het soos ‘manne wat vriendskap gehou het’ met koning Sedekia. Omdat hy vir hulle bang was, het hy vir Jeremia op straf van die dood beveel om hulle nie omtrent die feite in te lig indien hulle navraag sou doen nie. Hy moet bloot hulle navrae ontduik deur te sê dat hy ’n oudiënsie met die koning gegun is aangesien hy nie teruggestuur wou word na die gevangenis van Jonatan, die sekretaris, om daar te sterf nie. Deur nie vir die navraers die volle waarheid oor die geheime onderhoud te vertel nie, sou hy dit vir die koning maklik maak. In ooreenstemming met wat Jeremia vir die agterdogtige vorste vertel het, is hy op ’n ander plek, die Voorhof van Bewaking, aangehou. Daar is hy aangehou tot die negende dag van die vierde maand (Tammus) van 607 v.G.J., toe die Babiloniërs ’n bres in Jerusalem geslaan, dit ingeneem en koning Sedekia op die vlug laat slaan het.—2 Kon. 25:2-5.
11. Hoe is die vasgekeerde Jode, op die dag van Jerusalem se val, verhoed om deur die Middelste Poort te ontsnap?
11 Net soos Jeremia gewaarsku het, was Jehovah, op wie se aardse troon koning Sedekia te Jerusalem gesit het, verplig om die stad aan die beleëraars oor te gee. In plaas van Joodse regters wat in die Middelste Poort van Jerusalem sit om regsake te behartig, het daar gevolglik op daardie somerdag van 9 Tammus 607 v.G.J. vyf Babiloniese vorste, wie se name opgeteken is, in daardie poort van die stad gesit. Hulle het dus verhoed dat die vasgekeerde Jode deur hierdie uitgang ontsnap (Jer. 39:1-3; 1 Kron. 29:23). Helaas!
12. Hoe het koning Sedekia nie daarin geslaag om Jeremia se profesie oor hom te verydel nie, en wat was hy verplig om voor koning Nebukadnesar te aanskou?
12 Terwyl koning Sedekia en sy krygsmanne onder die sluier van die nag uit die verowerde stad gevlug het, het hy homself moontlik gelukgewens dat hy die verskriklike profesie wat Jeremia oor hom gemaak het, verydel het. Maar hy het nie daarin geslaag om Farao Hofra van Egipte, sy bondgenoot, te bereik nie (Jer. 44:30). Die Babiloniese agtervolgers het hom in die woestynvlakte van Jerigo, in die Araba of Sinkdal, ’n paar kilometer noordoos van Jerusalem, ingehaal. Hy is in koperkettings noordwaarts na die stad Ribla in die land Hamat geneem vir ’n konfrontasie met koning Nebukadnesar. Voordat Sedekia op bevel van Koning Nebukadnesar verblind is, is hy gedwing om die afgryslike skouspel van hoe sy eie seuns doodgemaak word te aanskou. Talle van sy hofdienaars en militêre amptenare is eweneens gedood. Hoëpriester Seraja en sy assistent, Sefanja, wat nie hulle medepriester, Jeremia, ondersteun het nie, is gedood saam met drie deurwagters van die tempel.—2 Kon. 25:6, 7, 18-21.
13. (a) Hoe hou al daardie antieke geskiedenis verband met 1914 G.J.? (b) Waarom is dit logies om te vra of Ebed-Meleg ’n klas van vandag afgebeeld het, en wat is die antwoord?
13 Hou al daardie ou geskiedenis enige verband met ons 20ste eeu? Ja! Ongeveer twee maanmaande nadat die ramp koning Sedekia getref het, het sy ryk, die land Juda, heeltemal verlate geword. Dit was die begin van die “sewe tydperke” van die nasies, “die tye van die nasies” wat 2 520 jaar lank was, en in 1914 G.J. geëindig het (Dan. 4; Luk. 21:24). Vandag nader dit wat deur Jerusalem in Sedekia se dag afgeskadu is sy vernietiging volgens die regsbeslissing van Jehovah, die “Koning van die nasies” (Jer. 10:7). Hoe gepas is dit dan tog dat daar tydens hierdie kritieke tydperk ’n klas aanbidders van Jehovah God op aarde is wat deur die profeet-priester Jeremia afgebeeld is. In die lig hiervan kan ons tereg vra: Is daar ook ’n klas op aarde wat afgebeeld is deur die Ethiopiese eunug wat aan Jeremia guns bewys het, naamlik Ebed-Meleg, die kneg van koning Sedekia? Hedendaagse feite toon dat dit die geval is.
14. (a) Wat was Ebed-Meleg se velkleur? (b) Waarom het hy nie probeer om saam met sy koninklike meester uit Jerusalem te vlug nie?
14 Ebed-Meleg het nie probeer om saam met sy koninklike heer, Sedekia, uit Jerusalem te vlug nie. Hy was ’n Ethiopiër, die soort man oor wie Jeremia die vraag gestel het: “Kan ’n Kusiet [of, Ethiopiër] sy vel verander of ’n luiperd sy vlekke?” (Jer. 13:23). Ebed-Meleg was ’n Swart man,a en in Byington se vertaling van die Bybel word hy “Ebed-Meleg die Neger” genoem (Jer. 38:7, 12; 39:16, The Bible in Living English). Dit was nie vir hom nodig om uit Jerusalem te vlug om veiligheid te vind nie. Hy het die belofte van die God van Jeremia gehad dat hy bewaar sou word. Dit is waarom Jeremia se verslag, nadat ons meegedeel is wat Nebukadnesar met ’n paar arme Jode en met Jeremia gedoen het, aansluit by Jeremia 38:28. Trouens, Moffatt se A New Translation of the Bible plaas Jeremia 39:15-18 reg na Jeremia 38:28, om soos ’n ononderbroke verhaal te lui.
15. (a) Wanneer het Jehovah se woord oor Ebed-Meleg tot Jeremia gekom? (b) Wat het hierdie woord oor die Kusiet gesê?
15 Die gedagte is dus dat die verse wat hieronder aangehaal word, vertel wat plaasgevind het voordat Jerusalem op 9 Tammus 607 v.G.J., in die 11 de jaar van koning Sedekia se bewind, deur die beleërende Babiloniërs ingeneem is:
“Ook het die woord van die HERE tot Jeremia gekom, terwyl hy in die voorhof van bewaking opgesluit was, [en voordat die Joodse soldate ten tye van Jerusalem se val daarvandaan gevlug het], naamlik: Gaan en spreek met Ebed-Meleg, die Kusiet, en sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring my woorde oor hierdie stad ten kwade en nie ten goede nie, en dit sal voor jou oë vervul word in dié dag. Maar Ek sal jou in dié dag red, spreek die HERE; en jy sal nie oorgegee word in die hand van die manne vir wie jy bang is nie. Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard [van die Babiloniërs] nie val nie; maar jou siel sal vir jou ’n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die HERE.”—Jer. 39:15-18.
16. Waaroor moes Ebed-Meleg hom verheug soos diegene wat hulle oor buit verheug, en wat bestaan nietemin voort, al hoor ons daarna niks meer van hom nie?
16 Met die val van Jerusalem het hierdie vriend van Jehovah se profeet homself dus in die hande van Jeremia se God gelaat. Die Bybel sê nie of hy na Babilon weggevoer is en daar aan natuurlike oorsake gesterf het en of hy as een van die armes van die land onder goewerneur Gedalja in die land Juda gelaat is nie. Hoe dit ook al sy, sy siel of lewe is nie deur die Babiloniese soldate geneem nie, maar hy is toegelaat om sy menslike siel te behou soos een wat hom oor buit verheug. Hy kon dus voortlewe en die God aanbid waarop hy vertrou het, die God wie se profeet hy gered het van die dood in die modderput in beleërde Jerusalem. Hy het hom aldus ongetwyfeld die haat van die vorste wat Jeremia in die put in die gevangenis gewerp het om daar te sterf op die hals gehaal. Maar Ebed-Meleg is nie in hulle hand oorgegee sodat hulle wraak kon neem nie. Onder Jehovah se beloofde beskerming het hy geen rede gehad om bang te wees vir enige vergeldingstappe wat daardie vorste dalk wou doen nie. Hier verdwyn hy uit Bybelgeskiedenis, maar sy naam en God se belofte aan hom bestaan voort.
HEDENDAAGSE TEENBEELD VAN EBED-MELEG
17. Wat beteken die Kusiet Ebed-Meleg se naam, en hoe was dit waar van hom?
17 Bestaan daar vandag werklik ’n teenbeeld van Ebed-Meleg vir die hedendaagse Jeremia-klas. Ja! Wie maak dan die hedendaagse teenbeeld van Ebed-Meleg uit? Ons weet nie presies hoe hy daardie naam gekry het nie. Die naam Ebed-Meleg beteken “Kneg van ’n koning” of “Koning se kneg”. As ’n eunug is hy dalk ontmanb en verhoed om sy eie gesin te hê. Maar getrou aan sy naam het hy die koning van Juda in die hof gedien. Weens sy vertroue op Jehovah was hy egter in diens van meer as net ’n aardse koning. Sedekia het op die koninklike troon te Jerusalem gesit wat “die troon van die HERE” genoem is (1 Kron. 29:23). Logieserwys het Ebed-Meleg dus getoon dat hy inderdaad in die diens van die “Koning van die nasies”, Jehovah, is. Hy is ruim beloon vir sy diens aan Jehovah se tipiese koninkryk in die land Juda deurdat hy bewaar is toe ontroue Jerusalem vernietig is.
18. Deur watter indiwidu van Jeremia se dag is die “groot menigte” volgens die beskrywing in Openbaring 7:14, 15 afgebeeld?
18 Waar dit kom by die oorlewing van die valse Christendom se “groot verdrukking”, sê Openbaring 7:14, 15 van die “groot menigte” wat daar beskryf word: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel.” As ’n klas is diegene wat daardie “groot menigte” verdrukking-oorlewendes uitmaak, afgebeeld deur Ebed-Meleg, ’n besondere oorlewende van Jerusalem se vernietiging.
19. In wie se diens is dit die Ebed-Meleg-klasse grootste begeerte om te wees, en wat is hulle bereid om vir hulself op die hals te haal ter wille van die Jeremia-klas?
19 Hierdie klas leer om Jehovah werklik te vrees en om op hom te vertrou. Hulle grootste begeerte is om in diens van die Universele Soewerein, die “Koning van die nasies”, te wees eerder as om politieke heersers en die konings van mensgemaakte regerings te dien. Hulle sien hoe magsugtige heersers, soos Adolf Hitler wat in 1933 G.J. in Duitsland aan bewind gekom het, probeer het en steeds probeer om Jehovah se gesalfde oorblyfsel, wat deur sy profeet Jeremia afgebeeld is, uit te wis. Die Ebed-Meleg-klas protesteer daarteen en wend ’n moedige poging aan om die Jeremia-klas te help, selfs al beteken dit dat hulle hulle die haat en vervolging van die godsdienstige en politieke vyande van die Jeremia-klas op die hals haal.
20, 21. (a) Veral van watter jaar af het die Ebed-Meleg-klas na vore gekom? (b) Hoe probeer hierdie klas om die Ebed-Meleg van Jeremia se dag na te volg, en wat spoor hulle ander mense aan om ten opsigte van die wêreldryk van valse godsdiens te doen?
20 Hierdie ondersteuners van Jehovah se gesalfde oorblyfsel getuies het veral na vore gekom in die jaar 1935, toe die “groot menigte” “verdrukking”-oorlewendes geïdentifiseer is.
21 Of die Ebed-Meleg-klas nou enige invloed by die regerings van die valse Christendom het of nie, hulle was nog nooit ten gunste van die pogings deur godsdienstiges en politici om die Jeremiaklas dood te maak of om die Jeremia-klas kragteloos in Jehovah se openbare diens te maak deur hulle as’t ware in ’n modderige put in ’n gevangenis te gooi nie. Ondanks die vreeswekkende afkeer van die politieke en godsdiensowerhede, het hulle alles in hulle vermoë gedoen om die Jeremia-klas uit die modderige “put” van onaktiwiteit op te trek. Tot vandag toe het hulle dwarsoor die wêreld moedig opgetree aan die kant van die Jeremia-klas en die ondergang van die valse Christendom en die wêreldryk van valse godsdiens, Babilon die Grote, verkondig. Hulle spoor allerhande mense aan om hierdie gedoemde stelsel van dinge te verlaat en ’n ferme standpunt in te neem aan die kant van Jehovah se teregstellingsmagte onder aanvoering van ’n generaal wat groter is as Nebukadnesar, naamlik Jesus Christus. Hulle bewys sodoende dat hulle hulle volle vertroue gestel het op Jehovah, die “Koning van die nasies”.
22. Deur watter simboliese “swaard” sal hierdie klas nie val nie?
22 Jehovah het hierdie saamgestelde Ebed-Meleg lief weens laasgenoemde se onwrikbare toewyding aan hom en sy hedendaagse Jeremia-klas. Hy belowe dat hierdie klas nie sal val deur die “swaard” van die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon nie.—Openb. 16:13-16.
23. Wat is die buit wat hulle in besit sal neem, en hoe het hulle opgetree soos die “skape” in Jesus se gelykenis in Mattheüs 25:31-34?
23 As beloning van Jehovah sal hulle aardse lewens, hulle siele, bewaar word soos die buit van oorlogvoering, en sal hulle lewe tereg gespaar word. Net soos die “skape” in Jesus se gelykenis van die “skape” en die “bokke”, het hulle goed gedoen aan die oorblyfsel van Christus se geestelike broers. Toe laasgenoemdes “in die gevangenis”, in ’n modderige “put” of dodesel was, het hulle hulle ondergronds of openlik besoek en hulle bevry vir verdere diens in die groot finale van Jehovah se getuieniswerk te midde van ’n gedoemde wêreldlike stelsel van dinge.—Matt. 25:31-36, 46.
24. Vir watter klas se dienste dank die Jeremia-klas God vandag, en wat sal hulle eensgesind doen nadat hulle die “groot verdrukking” oorlewe het?
24 Laat dit orals bekend wees dat die Jeremia-klas Jehovah dank omdat hy die “groot menigte” “ander skape” verwek het wat afgebeeld is deur die Kusitiese eunug Ebed-Meleg tydens die laaste dae van ontroue Jerusalem, die hoofstad van die koninkryk van Juda. Dit sal vir die Jeremia-klas onbeskryflik aangenaam wees om die “groot verdrukking” saam met die Ebed-Meleg-klas aan hulle sy te oorlewe. Skouer aan skouer sal hulle saam begin werk in die Nuwe Orde wat hulle onder Christus se duisendjarige bewind sal betree. So ’n betreding van die wonderlike Nuwe Orde sal hulle beloning wees omdat hulle nou die Soewerein van die heelal, Jehovah, die “Koning van die nasies”, gedien het.
Nog ’n bespreking in die reeks oor Jeremia se profesie sal in “Die Wagtoring” van 15 Mei 1980 verskyn.
[Voetnote]
a Volgens A Greek-English Lexicon, wat deur Liddell en Scott saamgestel is (1948), beteken die Griekse woord vir Kusiet of Ethiopiër (Aithiops): “Gebronsde gesig, d.w.s. Ethiopiër, neger, Homer, ens.”
b Geen ontmande nie-Joodse eunug kon ’n Joodse proseliet of lid van die besnede gemeente van Israel word nie.—Deut. 23:1; vergelyk Jesaja 56:3-5.
Nog ’n bespreking in die reeks oor Jeremia se profesie sal in “Die Wagtoring” van 15 Mei 1980 verskyn.
[Prent op bladsy 25]
Ebed-Meleg, vergesel van 30 man, red Jeremia