Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 7/1 bl. 23-28
  • Skaar jou by Jehovah se handhawers van onkreukbaarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skaar jou by Jehovah se handhawers van onkreukbaarheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die doop maak ’n verskil
  • Onkreukbaarheid berus op liefde en volharding
  • Bereken die koste van onkreukbaarheid
  • Die voordele van ’n weg van onkreukbaarheid
  • Sal jy vashou aan jou onkreukbaarheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Waarom moet jy jou onkreukbaarheid handhaaf?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Verbly Jehovah se hart deur onkreukbaarheid te handhaaf!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Doop en jou verhouding met God
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 7/1 bl. 23-28

Skaar jou by Jehovah se handhawers van onkreukbaarheid

“Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel. . . . Onder die vergaderde menigte sal ek Jehovah seën.”​—PSALM 26:11, 12, NW.

1, 2. (a) Hoe het sommige godsdienste van die Christendom ’n aanhang verkry? (b) Watter onderrigmetode het Jesus gebruik? (Mattheüs 11:28-30).

IN 1985 is 189 800 mense gedoop om hulle toewyding aan Jehovah as sy Christengetuies te simboliseer. Dit is gemiddeld 520 per dag. Hoe het al daardie mense die besluit geneem om gedoop te word? Het hulle groot saamtrekke bygewoon, na ’n emosionele prediker geluister en toe ’n emosionele besluit geneem om hulleself aan Christus oor te gee? Dit is hoe sommige Protestantse en Evangeliese godsdienste funksioneer. Maar is dit die manier waarop Christus ’n aanhang verkry?

2 Wanneer ons Jesus se openbare prediking noukeurig ondersoek, vind ons nie dat hy mense se emosies uitgebuit het nie. Het hy byvoorbeeld sy gehoor met kore en sang opgesweep? Of het hy slim sielkunde gebruik om ’n skuldgevoel by sy gehoor te wek sodat hulle die hand diep in die sak sal steek? Inteendeel, sy onderrigmetode het mense laat nadink en redeneer. Aangesien die meeste van sy toehoorders Jode was, het hulle reeds agtergrondkennis van die Hebreeuse Skrifte gehad. Hy kon hulle help om op grond van hulle bestaande kennis te redeneer sodat hulle hom as die Messias sou erken.​—Mattheüs, hoofstukke 5-7; Lukas 13:10-21.

3. Hoe weet ons dat Paulus nie bloot mense se emosies opgesweep het wanneer hy hulle onderrig het nie?

3 Paulus het hom eweneens beroep op mense se redeneervermoë, ofskoon sommige hom as ’n swak spreker beskou het (Handelinge 20:7-9; 2 Korinthiërs 10:10; 11:6). Hy het geskryf: “Ek [versoek] julle dringend, broeders, by die ontferminge van God, om julle liggame aan te bied as ’n slagoffer wat lewend, heilig en aan God welgevallig is, ’n heilige diens met julle denkvermoë. . . . word verander deur julle verstand te hervorm [“sodat julle hele gesindheid verander word”, Phillips], sodat julle julle kan vergewis van die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God.”​—Romeine 12:1, 2, NW.

4. Watter stappe moet iemand doen voor hy as een van Jehovah se Getuies gedoop kan word?

4 Die wat vandag gedoop word, is eweneens mense wat die Skrif bestudeer en deeglik daaroor geredeneer het voordat hulle oorgegaan het tot hierdie ernstige stap, naamlik die doop, of algehele onderdompeling in water (Handelinge 17:11, 12). Hulle het nie ’n haastige, emosionele besluit geneem nie. Inteendeel, voordat hulle as dopelinge aanvaar is, het hulle gereeld Christelike vergaderinge bygewoon met die doel om juiste kennis van Jehovah God en sy voornemens deur middel van Christus Jesus te verkry (Hebreërs 10:25). Hulle het ook gereeld aan die Christelike bediening deelgeneem deur die goeie nuus van die Koninkryk met ander te deel (Handelinge 5:42; 1 Korinthiërs 9:16). Toe, gedurende die laaste weke voor hulle gedoop is, het verskeie gemeentelike ouere manne sorgvuldig meer as 120 vrae oor Christelike leringe en gedrag, sowel as honderde stawende Bybeltekste, met hulle behandel​—dit alles om voor hulle doop goedgekeurde handhawers van onkreukbaarheid te word.​—Handelinge 8:34-36.a

Die doop maak ’n verskil

5. Met watter handelwyse vereenselwig ’n persoon hom wanneer hy gedoop word?

5 Wat bereik ’n persoon deur gedoop te word? Ten eerste, hy skaar hom aan die kant van die grootste handhawer van onkreukbaarheid wat nog ooit op die aarde was​—Christus Jesus. Hy het self die voorbeeld gestel deur gedoop te word toe hy ongeveer 30 jaar oud was (Lukas 3:21-23). Later het hy sy volgelinge beveel om mense wêreldwyd te leer en te doop (Mattheüs 28:19). Maar het dit beteken dat sy dissipels mense voor die voet moes doop sonder om hulle gedrag in aanmerking te neem?

6, 7. (a) Wat word van ’n ware volgeling van Christus vereis? (b) Waarop dui heiligheid?

6 Die apostel Petrus stel die regte beskouing wanneer hy skryf: “Julle [moet] ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:15, 16). Maar wat beteken dit vir ’n toegewyde Christen om “heilig” te wees?

7 Volgens An Expository Dictionary of New Testament Words deur W. E. Vine beteken die Griekse woord haʹgi·os (vertaal met “heilig”) basies “afgeskeie . . . en derhalwe, in die morele en geestelike betekenis van die Skrif, afgeskeie van sonde en derhalwe gewy aan God”. ’n Ander Grieksgeleerde sê dat dit “kenmerkend soos God” beteken. Hierdie begrip stel ’n hoë standaard aan persone wat as ware Christene gedoop wil word. Dit is die standaard van onkreukbaarheid, en onkreukbaarheid is ‘streng getrouheid aan ’n stel morele waardes’​—in die geval van die Christen, Christus se waardes.​—Johannes 17:17-19; 18:36, 37.

8. (a) Watter gedragstandaarde het in die vroeë Christengemeente bestaan? (b) Het die Christendom daardie standaarde gevolg? Meld voorbeelde uit plaaslike gebeure.

8 Die ware Christengemeente het nog altyd aangedring op onkreukbaarheid en sodoende ’n rein organisasie behou. Daarom het Paulus vroeë Christene beveel om “nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. . . . Verwyder tog die slegte mens onder julle uit” (1 Korinthiërs 5:9-13; 2 Johannes 10, 11). Het die geestelikes van die Christendom daardie hoë standaard van onkreukbaarheid aan hulle kuddes opgelê? Die Christendom aanvaar mense wat hulle gereeld aan allerhande growwe sondes en misdade skuldig maak as òf passiewe òf aktiewe lidmate. Bybelbeginsels maak geen voorsiening vir sulke permissiwiteit nie.​—Vergelyk Jeremia 8:5, 6, 10.

9. Wat trek baie mense sodat hulle hulle toewy en laat doop?

9 Dit is juis hierdie hoë standaard onder Jehovah se Getuies wat liefhebbers van die waarheid en onkreukbaarheid trek sodat hulle hul aan die Soewereine Heer van die heelal, Jehovah God, toewy (Habakuk 3:18, 19, NW). Hulle sien ’n duidelike kontras tussen die gedrag van wêreldlike godsdienste en dié van Jehovah se Getuies. Dit is waar dat die meeste mense reine aanbidding verag (1 Petrus 4:3, 4). Tog wend liefhebbers van onkreukbaarheid hulle by die duisende tot die waarheid. Hulle toon hulle liefde vir God en sy standaarde wanneer hulle hulle laat doop.​—Vergelyk Markus 1:10; Johannes 3:23; Handelinge 8:36.

Onkreukbaarheid berus op liefde en volharding

10. Wat het ’n Christen nodig om sy onkreukbaarheid te handhaaf?

10 Onkreukbaarheid verg opoffering. Jesus het dit duidelik gestel toe hy mense genooi het om hom te volg. “Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën [“sy eie belange prysgee”, Die Lewende Bybel] en sy kruis opneem en My volg [“my voortdurend volg”, NW]” (Markus 8:34). Die weg van Christelike onkreukbaarheid behels beproewinge en opofferings, en dit om dieselfde rede as waarom Christus dit verduur het​—ons het ’n gemeenskaplike vyand, Satan (Efesiërs 6:11, 12). Daarom is volharding nodig om Jesus “voortdurend” te volg. Toewyding is dus geen geringe besluit nie; dit moet nie ’n tydelike gril wees nie. En tog is daar ’n paar wat die waarheid binne enkele maande of jare na hulle doop verlaat het. Hoe kan ons dit verklaar?

11. Waarom het sommige nie hulle onkreukbaarheid bly handhaaf nie?

11 Miskien het sommige die doop met ’n emosionele in plaas van ’n rasionele gemoedstemming benader. Ander het moontlik vinnige resultate gesoek en hulle met selfsugtige voorbehoud op kort termyn toegewy. Wat ook al die rede, hulle het hulle sterk verhouding met Jehovah verloor. Hulle het nie ‘die oog gevestig gehou’ op hulle Voorbeeld, Jesus Christus, nie (Hebreërs 12:1, 2). Die gevolg was dat hulle liefde vir God getaan het en hulle onkreukbaarheid kort van duur was. En waarom is liefde so ’n belangrike faktor? Omdat dit die enigste vaste grondslag vir ’n blywende toewyding aan Jehovah is.​—Markus 12:30, 31; 1 Johannes 4:7, 8, 16; 5:3.

Bereken die koste van onkreukbaarheid

12. Wat is dit verstandig om te doen voordat ’n mens gedoop word?

12 Jesus het nie sy dissipels aangemoedig om hom blindelings te volg sonder om die koste te bereken nie. Hy het hulle aangeraai: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?” Ja, ’n verstandige persoon oorweeg sy toekomstige handelwyse sorgvuldig. Hy moet seker wees van sy motief voor hy die volle verantwoordelikheid van Christelike toewyding en doop aanvaar. En Jesus het getoon wat dit kan behels toe hy afgesluit het: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”​—Lukas 14:28-33.

13. Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ’n mens jou gesinslede moet ‘haat’, aangesien liefde die kern van sy leer was? (Mattheüs 22:37-40).

13 Toewyding aan Jehovah verg heelhartige onkreukbaarheid in die uitvoering van die goddelike wil. Ons kan nooit toelaat dat mense of besittings ons liefde vir God verdring nie. Dit is waarom Jesus gesê het: “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26). Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ’n mens jou eie gesinslede en selfs jouself moet haat? In watter sin het hy die woord haat hier gebruik, aangesien hy sy volgelinge geleer het om selfs hulle vyande lief te hê? (Lukas 6:27, 35). Haat bevat hier die gedagte van minder liefhê.​—Vergelyk Mattheüs 12:46-50.

14. Hoe reageer sommige vriende en familielede wanneer iemand ’n getuie van Jehovah word? (Johannes 15:18, 19).

14 Wanneer iemand ’n Christengetuie van Jehovah word, vind hy beslis gou uit wie sy ware vriende is. Sommige sal hom miskien vermy of verstoot omdat hy sy vroeëre godsdiens verlaat het, al beoefen hulle self geen godsdiens behoorlik nie. Maar Jesus het beloof dat enige sodanige verlies vergoed sal word, en gesê: “Daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel . . . en in die eeu wat kom, die ewige lewe.”​—Markus 10:29, 30.

15. Waarom kyk sommige neer op Jehovah se Getuies?

15 In sommige gevalle kan die weg van toewyding en onkreukbaarheid beteken dat ’n mens aansien verloor in die oë van ander (1 Korinthiërs 4:12, 13). Waarom sou dit wees? Omdat jy nou ’n godsdiens aanhang wat nie as “ordentlik” beskou word nie. (Vergelyk Markus 2:15, 16.) Ordentlike mense gaan immers nie ‘van huis tot huis om ander mense met hulle godsdiens te verpes nie’. Ordentlike mense gaan nie eerder tronk toe as om hulle neutraliteit ten opsigte van nasionalisme en patriotisme prys te gee nie (Johannes 18:36). Ordentlike mense weier nie bloedoortappings op grond van ’n gewete wat deur die Bybel opgelei is nie​—al het die huidige VIGS-plaag sommige mense opnuut laat nadink oor die saak.​—Vergelyk Handelinge 15:28, 29; 17:6, 7; 24:5.

16. Hoe word ons gehelp om ons onkreukbaarheid te handhaaf?

16 Hoewel die weg van Christelike onkreukbaarheid smal en beproewend is, is daar voortdurend hulp tot ons beskikking (Mattheüs 7:13, 14). Paulus kon derhalwe sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Filippense 4:13, NAV). En ons kan daardie krag ontvang deur voortdurende gebed, deur ’n studie van God se Woord en deur omgang met die Christengemeente. As gedoopte handhawers van onkreukbaarheid kan ons getrou en lojaal bly danksy die krag wat God ons gee.​—Efesiërs 4:11-13; 6:18; Psalm 119:105.

Die voordele van ’n weg van onkreukbaarheid

17. Tot watter seëninge kan die doop lei?

17 Toewyding en doop lei tot talle seëninge. Dit kan byvoorbeeld ’n ruimer en bevredigender bediening beteken. Daar is die vooruitsig van toekomstige diens as ’n hulppionier, wat in sommige gevalle tot gewone en spesiale pionierdiens, sendingdiens, kring- en streekwerk en Betheldiens kan lei. (Kyk venster op bladsy 26.) Vir gedoopte broers bestaan daar die moontlikheid om ander in die gemeente as ’n bedieningskneg en later as ’n ouere man te dien. Maar vir al hierdie seëninge geld dieselfde voorvereiste​—onkreukbaarheid.​—1 Timotheüs 3:1-10.

18. Hoe moet ons lewe van toewyding ander raak met wie ons in kontak kom?

18 Die voordele van ’n lewe van toewyding en onkreukbaarheid raak ook ander. Wanneer ’n mens Christus se voorbeeld getrou navolg, word jy ’n beter eggenoot, vader of moeder (1 Petrus 2:21; Efesiërs 5:21-33; 6:4). Kinders kweek ’n opbouende verhouding met hulle ouers, onderwysers en die gemeentelike ouere manne aan (Titus 2:6, 7). Elke gedoopte Christen word ’n beter buurman of buurvrou, werkgewer of werknemer (Mattheüs 22:39; Efesiërs 6:5-9; Titus 2:9, 10). En soos Christus moet elke Christen ’n verkwikkende metgesel vir ander word, soos Jesus gesê het: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus [“verkwikking”, NW] vind vir julle siele.”​—Mattheüs 11:29.

19. Watter ander groot voordeel spruit uit toewyding voort?

19 ’n Groot voordeel van toewyding en doop is dat ons ’n vreedsame verhouding met die Skepper verkry. Dit lei tot gemoedsrus. Soos Paulus vermaan het: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”​—Filippense 4:6, 7.

20. (a) Waarop is “die vrede van God” gegrond? (b) Watter geleentheid gaan vir die persoon oop wat gedoop word?

20 “Die vrede van God” is gebaseer op ’n grondige begrip van Jesus se voorbeeld en offerande. Hierdie kennis van Christus lei baie tot ware berou en ’n opregte gedragsverandering, of ‘bekering’ van die sonde (Handelinge 3:19, 20). Gevolglik sê toegewyde persone soos die psalmis gesê het: “Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel. . . . Onder die vergaderde menigte sal ek Jehovah seën” (Psalm 26:11, 12, NW). Iemand wat in water gedoop word om sy toewyding aan God te simboliseer, skaar hom by Jehovah se handhawers van onkreukbaarheid rondom die wêreld (1 Petrus 2:17). Hy gryp ook “die ware lewe” vas, dit wil sê, die ewige lewe, wat Jehovah deur Christus Jesus beloof het.​—1 Timotheüs 6:19, vgl. NW; Titus 1:2.

[Voetnote]

a Die Wagtoring van 1 Junie 1985, bladsye 29-31, bespreek die korrekte prosedure in verband met die doop, en bevat ook die twee vrae wat aan die einde van die dooptoespraak aan dopelinge gestel word.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat het vroeë Christene in die eerste plek getrek na die waarheid wat deur Christus en die apostels verkondig is?

◻ Hoe hou heiligheid met die individuele Christen en die gemeente verband?

◻ Waarop moet onkreukbaarheid gegrond wees?

◻ Wat behels dit om die koste van onkreukbaarheid te bereken?

◻ Watter voordele hou die handhawing van onkreukbaarheid in?

[Venster op bladsy 26]

Voorregte in die voltydse bediening

Hulppionier: ’n Gedoopte bedienaar wat gedurende ’n maand minstens 60 uur aan die predikingswerk wy.

Gewone pionier: ’n Gedoopte bedienaar wat gemiddeld 90 uur per maand aan die predikingswerk wy.

Spesiale pionier: ’n Gedoopte bedienaar wat minstens 140 uur per maand aan die bediening wy en ’n klein maandelikse toelae vir sy basiese uitgawes ontvang. Hierdie pioniers word gewoonlik na afgesonderde groepe en klein gemeentes gestuur.

Gileadsendeling: ’n Gedoopte bedienaar wat aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead opgelei is vir buitelandse diens en ook minstens 140 uur per maand aan die bediening wy.

Kring- en streekopsieners: Reisende ouere manne wat gemeentes en kringe besoek met die doel om die broers in hulle bediening en vergaderinge op te bou. Hulle bestee baie ure aan die velddiens.

Betheldiens: Word verrig deur voltydse bedienaars in enige van die Wagtoringgenootskap se takkantore en drukkerye rondom die wêreld.

[Prent op bladsy 24]

Die doop baan die weg . . .

[Prent op bladsy 25]

. . . vir ’n bediening van onkreukbaarheid

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel