Lewe vir God se wil—vandag en vir ewig
“[Lewe] die res van [julle] tyd in die vlees nie meer vir die begeertes van mense . . . nie, maar vir God se wil.”—1 PETRUS 4:1, 2, NW.
1, 2. (a) Hoe reageer baie op die gedagte dat hulle hulle aan iemand anders se wil moet onderwerp? (b) Hoe reageer sommige in die Christengemeente miskien? (c) Watter vrae word dus gestel?
SAL jy toelaat dat God jou lewe beheers? Die blote gedagte dat hulle hulle aan die wil van iemand anders moet onderwerp, stuit baie vandag teen die bors. Selfs in sogenaamd bestendige gemeenskappe kom mense al hoe meer in opstand teen gesag. Onluste, protesoptogte, wanorde en geweld is aan die orde van die dag. Onder druk blyk die lagie beskawing dun en bros te wees.—2 Timotheüs 3:1-3.
2 Jehovah se Getuies toon daarenteen dat hulle vir God se wil lewe, byvoorbeeld deur hulle getrouheid in hulle bediening van huis tot huis. Tog is daar soms selfs binne die Christengemeente ’n paar wat ’n gees van onafhanklikheid openbaar. Hulle skop moontlik teen die dissipline van die ouere manne. ’n Paar toon minagting vir “die getroue en verstandige dienskneg”-klas en sy Bestuursliggaam (Mattheüs 24:45-47; Handelinge 15:2, 23). Gevolglik ontstaan die vrae: Waarom moet ek my aan God se wil onderwerp? Waarom moet God my lewe beheers?
Christus se voorbeeld van selfopoffering
3. Watter raad het Petrus oor ons gesindheid gegee?
3 Petrus, wat baie ondervindinge met Jesus gedeel het, was van mening dat daar ’n baie goeie rede bestaan om vir God se wil pleks van jou eie te lewe. Hy het gesê: “Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte [“gesindheid”, NW], dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te lewe nie, maar volgens die wil van God.”—1 Petrus 4:1, 2.
4. Hoe het Jesus getoon dat hy hom aan sy Vader onderwerp?
4 Waarom het Jesus in die vlees gely? Omdat hy sy Vader se kant in die geskil oor universele soewereiniteit, of heerskappy, gesteun het. Hy het bewys dat God waaragtig en Satan ’n leuenaar is. En hy het dit gedoen deur toe te laat dat God sy aardse lewe beheers, al het dit op ’n marteldood uitgeloop.—2 Korinthiërs 5:14, 15.
5. Voor watter uitdaging stel Christus se voorbeeld ons?
5 Daardie dood was nietemin ’n blyk van God se liefde deur Christus (1 Johannes 4:10). Hoe so? Omdat dit voordele aan die hele mensdom beskikbaar gestel het (Romeine 5:8; 6:23). Maar hoeveel is bereid om daardie voordele te aanvaar? Hoeveel is bereid om Christus na te volg en hulle eie begeertes prys te gee omdat hulle hulle aan God se wil onderwerp?—Hebreërs 13:15, 17.
Voordele nou en in die toekoms
6, 7. Watter voordele hou dit in om ons aan Jehovah se wil te onderwerp?
6 Hoe gepas dus, selfs in ons tyd, is die uitnodiging wat Jehovah 2 700 jaar gelede aan Israel gerig het: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:17, 18; vergelyk Genesis 22:18, NW.
7 Jehovah leer ons wat heilsaam is deur te beveel dat ons vir sy wil lewe—en daardie heilsame voordele is nie net vrede en geregtigheid nóú nie. Dit sluit die toekomstige seëninge van die ewige lewe in, soos Jesus beloof het: “Dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”—Johannes 6:40.
8. Waarom is Jesus se belofte van ’n opstanding vandag vertroostend?
8 Daardie woorde is vandag ’n groot bron van vertroosting vir getroue Christene wat gevorderd is in jare. Hierdie stelsel is reeds in sy 72ste jaar sedert die kritieke jaar 1914. Satan se wêreld het langer bly staan as wat baie verwag het. Trouens, sommige getroue Christene wat verwag het om Armageddon en die begin van die nuwe stelsel te beleef, het gesterf. Hulle lewens, toegewy aan God se wil, was egter nie tevergeefs nie. Jesus sal sy woord hou deur hulle op te wek en met die ewige lewe te bevoordeel.—Johannes 5:28, 29; 1 Korinthiërs 15:58.
Christus se gesindheid
9, 10. (a) Waarmee moet ons ons wapen? (Filippense 2:5-8, NW), (b) Wat is besonders omtrent die Griekse woord vir “gesindheid” wat Petrus in 1 Petrus 4:1 gebruik het?
9 Wat kan dit vir ons makliker maak om ons aan God se wil te onderwerp? Volgens Petrus se raad, soos in paragraaf 3 aangehaal, moet ons ons wapen met “dieselfde gesindheid” as wat Jesus gehad het.—1 Petrus 4:1, NW.
10 Petrus gebruik hier ’n Griekse woord wat net twee maal in die Griekse Skrifte aangetref word—enʹnoi·a. Ofskoon sommige vertalers dit met “gedagte” weergee, is dit nie die gewone Griekse woord vir “gedagte”, naamlik nous, nie. Petrus het dus, onder inspirasie, ’n bepaalde punt in gedagte gehad toe hy hierdie minder bekende selfstandige naamwoord gebruik het. Grieksgeleerde W. E. Vine sê dat enʹnoi·a “op voorneme, bedoeling, opset dui”. A Greek-English Lexicon deur J. H. Thayer omskryf dit as “denk- en gevoelswyse”.
11. Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld leer in verband met die manier waarop ons ons lewe gebruik?
11 Jesus se selfopofferende handelwyse het duidelik sy voorneme, of opset, getoon. Hy het nie ’n oppervlakkige lewe gely deur net plesier en pret na te jaag nie. Hy het geweet dat hy nie sy vroeëre lewe in die hemel prysgegee het om ’n paar jaar op aarde in selfsugtige strewes te kom verkwis nie. (Let op die kontras in Genesis 6:1, 2, 4 en Judas 6.) Daarom het hy gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Johannes 6:38). Jesus was doelgerig in sy toewyding aan sy Vader se saak en het dit altyd bo sy eie wil gestel, selfs tot met sy oneervolle dood.—Lukas 22:42.
12, 13. (a) Hoe het Jesus sy gesindheid by die fontein van Jakob geopenbaar? (b) Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie”?
12 Selfs wanneer hy moeg en honger was, het Jesus duidelik getoon wat sy gesindheid teenoor sy Vader se wil is. Eenmaal het hy by die fontein van Jakob gerus terwyl sy dissipels kos gaan koop het. In plaas van ’n welverdiende uiltjie te knip tot die dissipels teruggekom het, het hy hom ingespan om God se wil te doen. Hy het iets gedoen wat vir ’n Jood ongewoon was. Hy het ’n gesprek met ’n Samaritaanse vrou aangeknoop. Hy het haar oë geopen sodat sy ’n begrip van die ware God verkry het. Die gevolg was dat “baie van die Samaritane uit daardie stad . . . in Hom geglo [het] oor die woord van die vrou”.—Johannes 4:6-26, 39-42.
13 Toe sy dissipels teruggekom het, het hulle by hom aangedring om te eet. Hoe het hy hulle geantwoord? “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie.” Hulle was dronkgeslaan oor sy antwoord totdat hy bygevoeg het: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” Jesus het beslis genot daaruit geput om hom aan sy Vader se wil te onderwerp. Vir hom was dit soos voedsel, en net soos wanneer ’n mens goeie voedsel eet, het dit hom waarlik bevredig. As ons ware bevrediging in ons lewe wil geniet, kan ons nie beter doen as om die voorbeeld van Jesus Christus te volg nie.—Johannes 4:31-38.
Die uitwerking van Christus se gesindheid
14. Wat het ons nodig indien ons die gesindheid van Christus wil openbaar? Lig dit toe.
14 Watter uitwerking sal dit op ons hê as ons die gesindheid van Christus toon? As ons leer om soos Christus te dink, sal ons ’n innerlike krag hê wat ons sal lei om onder alle omstandighede te doen wat Jesus sou gedoen het (Lukas 22:42; Efesiërs 4:23, 24, NW). Hierdie krag spruit nie uit blote vrees vir straf, soos dissipline deur die ouere manne in die gemeente nie, maar eerder uit ’n oorweldigende waardering vir Jehovah se wette en beginsels. Ons kan dit vergelyk met iemand wat verkeerswette gehoorsaam net wanneer daar ’n verkeerskonstabel in sig is—hy onderwerp hom net aan ’n invloed van buite. Maar iemand wat waarde heg aan die lewe, sy naaste liefhet en die wysheid van verkeerswette insien, sal gehoorsaam wees omdat hy die wet eerbiedig. Hy het ’n sterk innerlike dryfveer.—Psalm 51:12.
15. (a) Wat bewys dat daar ’n innerlike krag was wat Jesus se denke aangedryf het? (Efesiërs 4:23, NW), (b) Watter voorbeelde van Christelike onkreukbaarheid lewer bewys van die gesindheid van Christus in hedendaagse Christene?
15 Jesus het daardie innerlike krag gehad wat sy denke aangedryf het. Gevolglik was hy tot die dood toe getrou aan sy Vader se wil. Hy het lyding verduur sonder om te kla of sy vervolgers uit te skel (1 Petrus 2: 21-24). Ons as Christene kan soms soortgelyke druk ondervind. Vyandige owerhede kan probeer om ons predikingswerk en vergaderinge te onderdruk, soos die geval was in Spanje gedurende die Franco-bewind en in verskeie Europese lande tydens die Nazi-besetting. Baie broers en susters is mishandel in ’n poging om hulle te dwing om die verantwoordelike broers in die gemeente te verraai. Die meeste het vasgestaan ondanks vervolging. (Kyk 1978 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 171-172, 182-183; 1986 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 137-159.)
16. Wat is sommige van die maniere waarop ons vandag versoek kan word? Hoe kan ons sulke versoekings weerstaan?
16 Druk kan op ons uitgeoefen word in verband met Christelike neutraliteit of die gebruik van bloedoortappings (Handelinge 5:29; 15:28, 29). Dit opper die vraag: Lewe ons vir God se wil of vir mense s’n? Of versoeking kan kom weens ’n kombinasie van vleeslike begeertes en ongure metgeselle. Miskien doen die geleentheid hom by die skool of by die werk voor om te rook of dwelms te neem sonder dat iemand in die gemeente daarvan sal weet. Of wat van die versoeking om aan ’n lotery deel te neem? Of om hoerery of owerspel te pleeg? ’n Wêreldse atmosfeer by die werk kan so dikwels bevorderlik wees vir verkeerde denke en verkeerde gedrag—tensy ons net so vasbeslote soos Christus is om God se wil te doen. Wat gaan jy doen? Sal jou denke aangedryf word deur ’n regverdige krag sodat jy onder sulke omstandighede Christus se handelwyse sal navolg?—Efesiërs 4:17-20; 1 Johannes 2:15, 16.
17, 18. (a) Watter kragtige punt stel Petrus in verband met die wat sonde beoefen? (b) Wat is nodig om die invloed van sonde te weerstaan?
17 Petrus lê verder klem op die nodigheid om God se wil te doen wanneer hy vermaan: “Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster. Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel.”—1 Petrus 4:3-5.
18 Petrus stel hier ’n kragtige punt—diegene wat God se wil ignoreer, moet rekenskap gee. (Vergelyk Romeine 14:12 en Hebreërs 13:17.) Paulus kom tot ’n soortgelyke slotsom in sy brief aan die Kolossense, waar hy skryf: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God . . . kom.” Almal wat sulke dinge bedryf, lewe beslis nie vir God se wil nie maar eerder vir die bevrediging van hulle eie hebsugtige drange. Mense kan nietemin sulke sedelike verdorwenheid die rug toekeer, soos Paulus gesê het: “Vroeër het julle ook aan die dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het.”—Kolossense 3:5-7, vgl. NAV; Efesiërs 4:19; kyk ook 1 Korinthiërs 6:9-11.
Onderskei wat God se wil is
19. Hoe toon baie nou dat hulle vir die wil van Jehovah lewe? (Romeine 12:1, 2).
19 Gedurende hierdie laaste jare van die 20ste eeu het meer as driemiljoen mense reeds onderskei wat God se wil vir hulle is. As gevolg daarvan verkondig hulle ywerig die goeie nuus van God se Koninkryksregering (Handelinge 8:12; Markus 13:10). Hulle lewe nie, soos die meeste ander, net vir hulleself nie. Hulle weet dat God binnekort ’n einde gaan maak aan hierdie verdorwe stelsel, en hulle maak opofferings om ander te help om hierdie juiste kennis te verkry, soos die apostel Paulus dan ook vermaan het: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan [“onderskei”, NW] wat die wil van die Here is.”—Efesiërs 5:15-17.
20, 21. (a) Hoe moet ons die lewe beskou? (Jakobus 4:13-17). (b) Hoe kan ons sorg dat ons nie aan die wêreld gelykvormig word nie?
20 Die lewe is soos ’n glas koel, verkwikkende water. In die eerste dekades van ’n mens se lewe, “drink” hy gulsig en haastig—tot hy begin wonder hoeveel lewensjare nog in die “glas” oor is. Dit is die raaisel wat almal dronkslaan. Hoe belangrik is dit dus om met verantwoordelikheidsin teenoor God en ons naaste te lewe! Hoe noodsaaklik dat ons rekening hou met God se wil en nie net met ons eie selfsugtige wil nie!—Mattheüs 7:21, 24, 26.
21 Aangesien ons egter in ’n wêreld lewe wat deur die gees van Satan beheers word, is dit nie altyd maklik om vir God se wil te lewe nie (Openbaring 12:9). Daar word gedurig druk uitgeoefen om ons die wêreld se wil en gesindheid te laat aanneem. Modegiere kan selfs sommige in die gemeente beïnvloed sodat hulle naderhand soos ’n afdruk van die een of ander beroemde vermaaklikheidspersoonlikheid lyk. Hoe gepas is Paulus se raad tog: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is”!—Romeine 12:2.
22. (a) Wat is God se wil vir ons tyd? (b) Hoe kan ons toon dat ons vir God se wil lewe? (c) Watter seëninge wag op die wat vir God se wil lewe?
22 God se wil is dat “hierdie evangelie van die koninkryk” wêreldwyd verkondig word voordat hy die teenswoordige wêreldstelsel te gronde rig (Mattheüs 24:14; Openbaring 14:6, 7). Dit gee ons des te meer rede om te reageer op die oproep om meer voltydse bedienaars, indien ons omstandighede dit toelaat. Dit gee ouere manne en bedieningsknegte ook rede om hulself beskikbaar te stel om na gemeentes te verhuis waar hulle hulp nodig is. En dit gee aan elke Getuie oorweldigende rede om ’n ware Christengetuie te wees—nie net in naam nie, maar deur nou en tot in ewigheid daadwerklik vir die wil van God te lewe. Jy kan daarvan seker wees dat jy sodoende ‘’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat jy die ewige lewe kan verwerf’.—1 Timotheüs 6:19.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe het Jesus getoon dat hy vir God se wil lewe?
◻ Watter voordele kan diegene geniet wat vir God se wil lewe?
◻ Wat was Christus se gesindheid teenoor God se wil?
◻ Watter uitwerking moet ‘die krag wat die denke aandryf’ op ons hê?
◻ Hoe moet ons die lewe beskou?
[Prent op bladsy 21]
Gehoorsaam jy die wet uit waardering, of net omdat die polisie in sig is?