Koninkryksverkondigers berig
Waardeer jy die openbare bediening?
DIE huis-tot-huisbediening is Skriftuurlik, en Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend vir hierdie aspek van hulle openbare diens (Handelinge 20:20, 21). Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Handelinge 5:42 toon dat daardie vroeë Christene sonder ophou “van huis tot huis” gegaan het.
In HaÏti was daar ’n konfrontasie oor die huis-tot-huisbediening van Jehovah se Getuies. Dit het plaasgevind toe ’n spesiale pionier ’n eng Protestantse vrou ontmoet het. Gedurende die gesprek het die broer daarop gewys dat net Jehovah se Getuies van huis tot huis preek soos die Bybel sê. Die vrou het geantwoord dat lidmate van haar kerk van huis tot huis kan gaan en dat hulle dit wel soms gedoen het. Die volgende Saterdag het die Getuie dan ook ’n groep teëgekom wat onder leiding van hierdie vrou van huis tot huis gegaan het. Daar was nagenoeg honderd in die groep. Die vrou, wat baie trots op hierdie prestasie was, het die broer geroep om dit te aanskou.
’n Week later het dieselfde vrou nog ’n groep gelei en dit met genoeë onder die broer se aandag gebring. Hy het egter daarop gewys dat daar net sowat die helfte soveel as die vorige week was. Teen die vierde Saterdag het die groep tot 20 afgeneem, en op die vyfde Saterdag was die vrou alleen. Sy het nederig na die broer gekom en erken: “Net Jehovah se Getuies het die waarheid, want net hulle kan week na week in die getuieniswerk volhard.”
Die spesiale pionier het die vrou ’n Bybelstudie aangebied wat vir haar sou toon waarom die Getuies kon volhou om van huis tot huis te preek en waarom ander dit nie kan doen nie. Die vrou het dit aanvaar. Sy en haar man het begin studeer en goeie vooruitgang gemaak. Albei assosieer nou met Jehovah se Getuies en verkondig ywerig die Koninkryk in die openbaar en van huis tot huis!
Die huis-tot-huiswerk en ander aspekte van die openbare bediening is ’n wonderlike en liefdevolle voorsiening wat Jehovah gemaak het sodat opregte persone gevind en sy vereistes vir die lewe geleer kan word. Gevolglik neem Jehovah se Getuies met blydskap aan hierdie en ander aspekte van hulle heilige diens aan God deel. Hulle gesindheid is soortgelyk aan dié van die apostel Paulus wat gesê het: “Ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het.”—1 Timotheüs 1:12.