Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 11/1 bl. 11-14
  • Hoe ek my vurige ambisie oorwin het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ek my vurige ambisie oorwin het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek laat armoede agter
  • Ken jy God se naam?
  • Waarom die waarheid my aangetrek het
  • Bevry van bygelowigheid
  • ’n Toets van lojaliteit
  • ’n Ernstige gesondheidsprobleem
  • Bevrediging in die diens, nie ambisie nie
  • My loopbaan as voltydse onderrigter
  • Tarawera—Nieu-Seeland se vulkaniese ramp
    Ontwaak!—1992
  • Jehovah sorg nog altyd goed vir my
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die uitdaging en vreugde om agt kinders in Jehovah se weë groot te maak
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Ek is beloon vir my godvrugtige toegewydheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 11/1 bl. 11-14

Hoe ek my vurige ambisie oorwin het

Soos vertel deur Waikato Gray

MY GEBOORTE op 2 Desember 1928 was nie sonder voorval nie. Dit was ’n stuitligging wat amper my lewe sowel as my moeder s’n gekos het. Ek is gevolglik met skewe voete gebore. Gelukkig het ’n groottante my te hulp gekom en hulle eindelik reguit gemaak. Vir die lewe wat ek as ’n Maori in Nieu-Seeland sou lei, was daardie hulp van haar noodsaaklik.

My vader, Clark Gray, was ’n Maori van die Ngati-Tuwharetoa-stam, en my moeder, Hore Teree, van die Ngati-Kahungunu-stam. Volgens die ou Maori-stamboom het ek ’n goeie erfenis gehad, aangesien ek van twee baie ambisieuse stamhoofde afgestam het. Ambisie het ook die dryfkrag in my lewe geword.

Ek laat armoede agter

Ek was die derde van wat mettertyd ’n gesin van agt kinders geword het. Dit was die Groot Depressie, en my ouers was brandarm. Ons al tien het in ’n tweekamerhuisie in Bay View, naby Napier, Noord-Eiland, Nieu-Seeland, gewoon. Ek onthou goed hoe ons elke dag hout op die Strand moes optel en water in ’n 15-liter-paraffienblik van ’n buurman se put af moes dra. Ons het somer en winter agt kilometer kaalvoet skool toe geloop.

Die armoede het my ambisie versterk om ’n beter toekoms te bou​—om ’n goeie opvoeding te verkry en naam te maak. Die skool was die plek om te begin. Terwyl ek my akademiese studies bygehou het, het ek ook in atletiek en rugby uitgeblink. Ek het die vinnigste naelloper in ons hoërskool geword en is weldra ’n lid van die rugbyspan gemaak. Op skool het my rugbyroem as puik vleuel dwarsoor die Noord-Eiland versprei.

Toe ek die skool verlaat het, is ek na ’n onderwyskollege in Wellington, en ek het ook ’n jaar aan die Victoria-Universiteit gestudeer voordat ek ’n onderwyspos by die Manutahi-Distrikshoërskool aanvaar het. Terwyl ek daar was, is ek as proefspeler vir die Maori-All Black-rugbyspan gekies. Dit is die droom van baie Maori’s om vir Nieu-Seeland se nasionale rugbyspan te speel. Dit was vir my ’n groot eer om in hierdie proewe te speel.

My ambisie was besig om vervul te word. Ek was ’n Maori-onderwyser en het as sodanig erkenning op akademiese sowel as op sportgebied ontvang. Armoede het tot die verlede behoort​—wat ’n groot sprong van die arm Maori-seun van die dertigerjare!

Ken jy God se naam?

Terwyl ek op kollege was, het ek rede gehad om godsdiens noukeurig te beskou. Ek is as Anglikaan grootgemaak. Trouens, op een stadium is kerkdienste in ons huis gehou. Dit was vir my ’n groot toets toe my vader gesterf het. Ek het voortdurend gewonder waarom God my vader weggeneem het terwyl my moeder en haar agt kinders hom so broodnodig gehad het. Dit het so onregverdig gelyk.

Omtrent hierdie tyd het my moeder Bybelstudies begin bywoon wat Jehovah se Getuies met party van die bure gehou het. Ek was verontwaardig. Ons het mos ons eie geloof; waarom moes sy haar met daardie Getuies bemoei?

Toe het Rudolph Rawiri, ’n plaaslike Getuie, my eendag kom besoek. Ek het besluit dat ek hom op sy plek gaan sit. Maar sy glimlag en innemende geaardheid het my ontwapen. Hy het ’n eenvoudige vraag gevra: “Ken jy God se naam?” Ek het geantwoord: “Jesus.” Hy het my genooi om my King James-Bybel by Psalm 83:18 oop te slaan. Wat ’n verrassing! Daar was God se naam in my eie Bybel: “Dat hulle kan weet dat u, wie se naam alleen JEHOVAH is, die Allerhoogste oor die hele aarde is.”

Ek was beïndruk. Waarom het my kerk nie daardie heilige naam beklemtoon nie? Later het ’n ander Maori-Getuie, Charles Tareha, na ons huis gekom en ’n gereelde Bybelstudie met ons gehou. Ons het die klank van Bybelwaarheid herken en alle bande met die Anglikaanse Kerk verbreek. Ek het in 1955 ’n gedoopte Getuie geword.

Waarom die waarheid my aangetrek het

Waarom het die leringe van Jehovah se Getuies my aangetrek, daar ek as Anglikaan grootgemaak is? Toe hulle God se Woord uiteengesit het, het die eenvoud en logika daarvan my beïndruk. Vir talle mense is juis daardie eenvoud natuurlik ’n struikelblok. Maar ek het gesien dat die Bybel basiese beginsels, wette en riglyne bevat vir enige probleem wat in die lewe kan opduik.​—Vergelyk Psalm 119.

Dit geld veral vir die huwelikslewe. In die Bybel het ek riglyne vir ’n suksesvolle huwelik gevind. Dit het my gehelp om te sien hoe ek ’n beter man en vader kon wees deur my verantwoordelikhede te aanvaar. Ek was natuurlik baie gelukkig om so ’n goeie vrou soos Hinewaka, van die Ngati-Porou-stam van die Ooskus, te vind. Ons is in 1954 getroud. Sy het die Bybelwaarheid geredelik aanvaar, en ons werk saam om die beginsels van God se Woord toe te pas.​—Kyk Spreuke 31:10-31.

Die hoë sedelike standaarde wat die Getuies volg, het my ook diep beïndruk. Om ’n goeie posisie voor Jehovah te hê, moet alle onsedelike gedrag gestaak word​—hoerery, owerspel, leuens, diefstal, geweld, moord, haat en rassisme word alles deur God se Woord veroordeel. Ek kon die voordeel van goeie gedrag vir my sowel as vir ander sien. Daar is geen slegte vrugte om jou oor te berou nie.​—1 Korinthiërs 6:9, 10.

Bevry van bygelowigheid

Maori-bygelowe gaan hand aan hand met ’n Maori-erfenis. Ons was baie bang vir die siele van die dode, en die Anglikaanse leerstellings oor die onsterflike siel het net my Maori-vrese versterk. Maar toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek geleer dat Jesus gesê het: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Ja, juiste kennis van God se Woord het my van gebondenheid aan Maori-bygelowe bevry.

Ek onthou ’n pertinente geval. My oupa het gesterf, en binne 48 uur het my ouma ook gesterf weens ’n gebroke hart. Sy is op die sitkamervloer uitgelê, langs my oupa wat in ’n kis was. Talle ouer Maori’s het om die liggaam gestaan, maar toe die lykbesorger hulp vra om haar in die kis te sit, het hulle almal uit die vertrek verdwyn! As dit nie vir my kennis van die waarheid was nie, sou ek ook gevlug het. Wetende dat die dode net in die dood slaap, het ek nie gehuiwer om my dierbare ouma se liggaam in haar kis te help sit nie.

Sedertdien het ek, as ’n bedienaar van Jehovah se Getuies, baie begrafnisdienste waargeneem en kon ek talle met die Bybel se eenvoudige leer oor die dode vertroos. Ek dink die eenvoud van die verslag in Johannes 11:11-44 maak die kwessie werklik duidelik. Jesus het die dood met slaap vergelyk. Die dode ly nie. Dit is bloot asof hulle slaap en op die opstanding wag.

’n Toets van lojaliteit

Dieper kennis van die Bybel en van Christus se voorbeeld het my op die proef begin stel. Ambisie was steeds ’n dryfkrag in my lewe. ’n Onderwysloopbaan en sport het my alles gebied wat ek wou hê. Maar toe moes ek besluit of ek die nederige, eenvoudige lewe van ’n Christengetuie van Jehovah gaan aanvaar of gaan probeer om my ambisie by my nuutgevonde geloof aan te pas.

In 1957 het ek voor ’n moeilike besluit te staan gekom, ’n groot toets van my lojaliteit aan God. Ek het ’n toewysing ontvang om ’n Bybeltoespraak by ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Lower Hutt te hou. Maar as onderwyser moes ek spesiale verlof vra om die byeenkoms by te woon. Hawke Bay se Onderwysraad het my aansoek afgekeur.

Ek was by die kruispad​—moes ek by die skool aanbly en die byeenkomstoewysing van die hand wys? Of moes ek my werk op die spel sit en die byeenkoms sonder toestemming bywoon? Dit was nie ’n maklike besluit nie. Ek het daarvan gehou om onderwys te gee, en die kinders en die ouers het op my staat gemaak. Die hoof het my gesmeek om by die skool aan te bly. Maar ek het Jesus se woorde onthou: “Wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie” (Mattheüs 10:38). Was ek bereid om ’n materiële opoffering te maak ten einde ’n geestelike seën te ontvang? Of sou my verterende ambisie my verhinder?

Ek het my lewensambisie en ’n werk wat ek lief gehad het, naamlik om kinders te leer, prysgegee. Ek het die Christenbyeenkoms bygewoon en my onderwyspos verloor. Maar as ek terugdink, weet ek dat dit die regte besluit was. Ek het kinderonderrig laat vaar, maar dit het eindelik daartoe gelei dat ek volwassenes oor ’n baie groter gebied leer. Ek het skoonmaak- en tuinwerk gedoen om my gesin te onderhou. Later het ek deeltyds in kantore en winkels gewerk, wat my in staat gestel het om meer tyd aan die bediening te wy.

’n Ernstige gesondheidsprobleem

Op een stadium is ek werklik swaar getref. As ’n atleet het ek altyd na my liggaam omgesien. Toe tref die wit plaag​—tuberkulose—​my skielik. Ek is in die Waipukurau-sanatorium opgeneem om my siekte te probeer genees. My long wou nie op die behandeling reageer nie. Die dokter se bevinding was dat ek ’n operasie moes ondergaan om die boonste lob van die linkerlong te verwyder. Die chirurg wou nie die operasie sonder ’n bloedoortapping doen nie. Bybelbeginsels het my nie toegelaat om iemand anders se bloed in my gestel te laat oortap nie (Handelinge 15:28, 29). Ek het vir die dokter voorgestel dat hy bloedsurrogate oortap wat ek bereid was om te aanvaar. Hy het geweier. Ek het tot Jehovah oor die saak gebid.

Die dokters het besluit om alle mediese behandeling te staak. In plaas daarvan het ek twee weke lank liggaamlike terapie in die vorm van loopoefeninge ontvang. Daarna is X-strale geneem en is ek na die Superintendent se kantoor ontbied vir die uitslag. Ek het in spanning gewag! “Jou long is gesond. Jy kan huis toe gaan”, het hy gesê. My gebed is verhoor, en ek is terug huis toe na my vrou en my kind.

Bevrediging in die diens, nie ambisie nie

Namate ek as ’n Getuie vordering gemaak het, het ek geleer om tevrede te wees met die lewensnoodsaaklikhede in plaas van ambisieus te strewe na die uiterlike tekens van wêreldlike sukses. Ek het 28 jaar as ouere man in die Wairoa-gemeente van Jehovah se Getuies gedien. Wairoa is ’n dorp met slegs 5 000 inwoners en ’n plattelandse bevolking van nog sowat 7 000. Die meeste is Maori’s, en soos alle Polinesiese volke is hulle vriendelik, inskiklik en gulhartig. Hierdie gees is in ons gemeente weerspieël, wat tot meer as 90 bedrywige verkondigers van die goeie nuus gegroei het.

’n Spesiale aspek van my bediening was om susters se ongelowige mans te help. Een van hulle was John McAndrew, ’n strawwe roker en drinker, wat bekend was as die rofste en taaiste man in die dorp. Maar Bybelwaarheid het hom laat verander, en hy dien nou as die presiderende opsiener in die Wairoa-gemeente.

Nog ’n ongelowige eggenoot was John Salmon, ’n sakeman, wat na Wairoa verhuis het om sy vrou van die Getuies weg te kry. Toe ek hom ontmoet het, was hy net bereid om te gesels as ek die King James-Bybel gebruik. Dit was glad nie ’n probleem nie. Dit was immers die vernaamste vertaling wat Jehovah se Getuies voor 1950 gebruik het, toe die New World Translation verskyn het. Ons het hom dus gehelp om die waarheid in sy eie Bybel te sien en te aanvaar.

Tutura Waihape, ’n jong, getroude Maori met ’n skitterende rugbyloopbaan voor hom was ’n sonderlinge kêrel. Toe ek die Bybel met hom begin studeer het, het hy die langste hare gehad wat ek nog aan ’n man gesien het. Namate sy kennis van Jehovah en Christus Jesus toegeneem het, het sy gesindheid verander. Sy liefde vir die waarheid was belangriker as om af te steek weens sy lang hare, en hy het dit laat afsny. Vandag dien hy as bedieningskneg in die gemeente.

My loopbaan as voltydse onderrigter

Ek dien die afgelope tien jaar as ’n gewone pionier en wy gemiddeld 90 uur per maand aan die bediening. My vrou is al 15 jaar lank ’n pionier, en my drie kinders het ook pionierdiens gedoen nadat hulle die skool verlaat het.

Die hoogtepunt van ons diens aan Jehovah is dat ek en my vrou nou op Niue-eiland dien, waar hulp nodig is. Die eiland lê noord van Nieu-Seeland in die Stille Oseaan. Ons het gevind dat die klein bevolking van sowat 2 800 bewoners godsdienstig is, en talle hou daarvan om die Bybel te bespreek. Ons het ook ’n gemeentetjie hier gehelp om beter georganiseer te wees.

My vurige ambisie om persoonlike vooruitgang te maak en roem te verwerf, het verdwyn. Ek het tot die besef gekom dat die eer wat mense aan Jehovah God moet toeskryf baie belangriker is. Soos koning Dawid dit gestel het: “Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte. Gee aan die HERE die eer van sy Naam.” Dit is wat ons hier op ons eilandjie, Niue, probeer doen.​—1 Kronieke 16:28, 29.

[Prent op bladsy 12]

In tradisionele Maori-drag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel