Die droom van wêreld-vrede—’n skewe beeld
OPTIMISME oor die vooruitsigte vir wêreldvrede loop hoog. Carol Goar het in haar rubriek vir The Toronto Star geskryf: “Van Afganistan tot Angola is daar ’n skielike toename in vredesooreenkomste. Daar is nou tekens dat streekkonflikte wat ’n paar maande gelede onoplosbaar gelyk het, bedaar. En die Verenigde Volke ondergaan ’n bemoedigende herlewing.” Goar sê dat dit ’n “wêreldwye epidemie van hoop” laat ontvlam het. ’n Hoofartikel in USA Today het eweneens gesê: “Vrede breek oral in die wêreld uit.”
Veral opmerklik in die laaste tyd is wat die UN Chronicle beskryf het as “die voortgesette rapprochement tussen die Sowjetunie en die Verenigde State”. Onttrekkings van troepe, verbasende gebeure in Oos-Europa, sprake van verminderings in troepe en wapens—hierdie ontwikkelings het verwagtinge gewek dat die supermoondhede dalk uiteindelik die wapenwedloop in sy vaart gaan stuit. In ’n wêreld waar militêre besteding die ekonomie na bewering jaarliks van meer as R2,2 biljoen beroof, is dit ’n uiters welkome vooruitsig.
Maar bestaan daar ’n moontlikheid dat die mens se droom van wêreldvrede verwesenlik sal word? Selfs die optimistiesste waarnemers erken dat daar ’n reusegaping tussen wapenvermindering en wapeneliminasie is. Kernontwapening sal onvoorwaardelike wedersydse vertroue vereis. Maar ongelukkig het die supermoondhede ’n lang geskiedenis van wedersydse wantroue. Soos in die Bybel voorspel is, is hierdie era ’n tydperk waarin mense ‘nie ontvanklik is vir enige ooreenkoms nie [“verbrekers van vredesverdrae”, King James Version]’.—2 Timotheüs 3:3, NW.
Buitendien is nie almal daarvan oortuig dat die eliminasie van kernwapens vrede sal meebring nie. Selfs al kan die nasies oorreed word om hulle kernwapens te vernietig, is konvensionele wapens steeds uiters doeltreffend om mense mee dood te maak. Die Eerste en Tweede Wêreldoorlog is ’n sombere bewys van hierdie feit. Daarbenewens sal die tegnologie wat nodig is om weer kernwapens te maak steeds bestaan—byderhand vir die eerste teken van politieke spanning. Sommige, soos politoloog Richard Ned Lebow, redeneer selfs: “Miskien sal mense versigtiger wees as daar ’n paar kernwapens is.”
Maar solank as wat daar kernwapens is, sal die skrikbeeld van kernuitwissing ’n bespotting maak van enige bewering dat vrede bereik is; en die voortdurende nie-militêre probleme wat miljoene daagliks van vrede in hulle lewe beroof, sal ook toon dat dit ’n klug is. Die VV se sekretaris-generaal, Javier Pérez de Cuéllar, het melding gemaak van “die benarde toestand van miljoene van ons medeburgers wat dakloos is of wat in hopeloos onvoldoende beskuttings woon. Die probleem word geleidelik erger.” Die UN Chronicle berig verder dat ekonomiese onderontwikkeling “twee derdes van die mensdom [teister], in sommige gevalle met armoede en ontberinge wat erger is as die lyding wat deur oorlog veroorsaak word”. En wat van die situasie van die wêreld se nagenoeg 12 miljoen vlugtelinge? Sal wapenvermindering of selfs algehele ontwapening vrede in hulle lewe meebring?
Dit is duidelik dat die mens se droom van wêreldvrede ’n skewe beeld is—kortsigtig, eng, beperk. Is daar ’n beter vooruitsig op vrede? Daar is beslis. In die vorige nommer van hierdie tydskrif het ons gesien dat die Bybel ons ’n vaste hoop op vrede gee.a Jesus Christus sal binnekort as Koning van God se Koninkryk vrede bewerkstellig wat alle menseverwagtinge ver sal oortref. Maar wat sal hierdie vrede werklik vir die mensdom beteken? Die volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnoot]
a Sien “Wie sal die mensdom na vrede lei?” in ons nommer van 1 April 1990.