Vrae van lesers
◼ Is dit gepas dat ’n Christin juwele of grimering dra, haar hare kleur of iets dergeliks doen?
In die verlede en in ons dag het sommige wat sê dat hulle die Bybel volg sterk maar baie uiteenlopende opvattinge oor versiering ontwikkel.a
Vroue in sekere kerke vermy grimering en juwele geheel en al. Die boek The Amish People sê byvoorbeeld dat hulle “nie hulle fisiese voorkoms beklemtoon nie omdat hulle meen dat enige lid wat ’n lewendige belangstelling in ’n wêreldse voorkoms het, bedreig word, aangesien [daardie] belangstelling op geestelike eerder as fisiese dinge toegespits moet word. Sommige . . . sal uit die Skrif aanhaal.”
Die teks 1 Samuel 16:7 is toe aangehaal: “Die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie . . . Die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” Maar daardie teks het van Dawid se broer Eliab se lengte gepraat. Dit is duidelik uit die konteks dat God nie hier oor persoonsversorging gepraat het, soos of Dawid of sy broers hulle hare versorg het of versiersels aan hulle klere gedra het nie.—Genesis 38:18; 2 Samuel 14:25, 26; Lukas 15:22.
Dit lig toe dat sommige wat meen dat Christinne kenmerkend onopgesmuk moet wees, en geen grimering of juwele moet dra nie, bewyse soek deur tekste verkeerd toe te pas. Trouens, die Bybel bevat geen uitvoerige bespreking oor persoonsversorging nie. Dit keur ook nie sekere skoonheidsgebruike goed terwyl ander verbied word nie. Dit gee wel redelike riglyne. Laat ons hulle bespreek en sien hoe hulle vandag toegepas kan word.
Die apostel Paulus het dié geïnspireerde raad gegee: “Ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie” (1 Timotheüs 2:9). Petrus het op soortgelyke trant geskryf: “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere [“bo-klere”, NW] nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”—1 Petrus 3:3, 4.
Die Griekse woorde wat daar met “versier”, “behoorlike” en “versiering” weergegee word, is vorme van koʹsmos, wat ook die grondbetekenis is van die woord “kosmetiek” wat beteken “om mooi te maak veral met betrekking tot die gesig”. Daardie tekste help ons dus om vrae te beantwoord oor die gebruik van skoonheidsmiddels of grimering, juwele en oor ander aspekte van vroulike versiering.
Het Paulus en Petrus bedoel dat Christinne nie hulle hare moet vleg, pêrels en goue juwele moet dra of, by uitbreiding, skoonheidsmiddels moet gebruik nie? Nee. As daar beweer word dat dít die betekenis is, sal dit vereis dat Christensusters ook nie ‘bo-klere aantrek’ nie. Tog was Dorkas, vir wie Petrus opgewek het, bemind omdat sy “bo-klere” vir ander susters gemaak het (Handelinge 9:39). Daarom beteken 1 Timotheüs 2:9 en 1 Petrus 3:3, 4 nie dat susters vlegsels, pêrels, bo-klere, ensovoorts moet vermy nie. Paulus het eerder die nodigheid van beskeidenheid en ingetoënheid beklemtoon wanneer dit by vroulike persoonsversorging kom. Petrus het getoon dat vrouens meer aandag aan hulle innerlike moet gee sodat hulle hulle ongelowige mans kan wen, en dat hulle nie die uiterlike of hulle grimering moet beklemtoon nie.
Om dit eenvoudig te stel, die Bybel verbied nie alle pogings om ’n mens se voorkoms te verbeter of te verfraai nie. Party van God se knegte, mans sowel as vroue, het juwele gedra (Genesis 41:42; Exodus 32:2, 3; Daniël 5:29). Getroue Ester het tot ’n volledige skoonheidsbehandeling met kosmetiese olies, parfuums en masserings ingestem. (Ester 2:7, 12, 15; vergelyk Daniël 1:3-8.) God het gesê dat hy Israel figuurlik met armbande, ’n halsketting, ’n neusring en oorringe versier het. Dit het daartoe bygedra dat sy “buitengewoon mooi” geword het.—Esegiël 16:11-13.
Maar die verslag in Esegiël leer ons dat die klem nie op ons voorkoms moet val nie. God het gesê: “Jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam; en jy het jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het” (Esegiël 16:15; Jesaja 3:16, 19). Esegiël 16:11-15 onderstreep derhalwe die wysheid van Paulus en Petrus se latere raad om nie die klem op die uiterlike te lê nie. As ’n vrou haar met juwele wil versier, moet die hoeveelheid en styl daarvan beskeie wees en nie oordadig of opsigtig, uitspattig, nie.—Jakobus 2:2.
Wat daarvan as ’n Christin grimering gebruik, soos lipstiffie, wangrooisel of oogskaduwee en oogomlyner? Argeoloë in Israel en nabygeleë plekke het kosmetiekhouertjies, asook spatels en spieëls gevind. Ja, vroue in die antieke Ooste het skoonheidsmiddels gebruik wat die voorlopers was van baie van vandag se produkte. Die naam van Job se dogter Kerenhappug het waarskynlik beteken “Horing van die swart (oog)verf”, of ’n houer vir ooggrimering.—Job 42:13-15.
Skoonheidsmiddels is wel in Israel gebruik, maar Bybelvoorbeelde toon die gevaar daarvan om oordadig te wees. Jare nadat Isebel die koningin van Israel geword het, het sy “haar oë swart geverf en haar hoof versier” (2 Konings 9:30). Toe God later beskryf het hoe Israel die onsedelike aandag van heidense nasies gesoek het, het hy gesê: ‘Jy versier jou met goue sieraad, jy laat jou oë groter lyk met swart verf, jy maak jou mooi’ (Jeremia 4:30; Esegiël 23:40). Nie daardie verse of enige ander verse sê dat dit verkeerd is om kunsmatige middele te gebruik om ’n mens se voorkoms te verfraai nie. Maar die verhaal van Isebel gee nietemin te kenne dat sy soveel swart verf om haar oë gesit het dat dit van ver af gesien kon word, selfs deur Jehu buite die paleis. Wat is die les? Moenie jou swaar en oordadig grimeer nie.b
Min vroue wat juwele of grimering dra, sal natuurlik sê dat hulle eie metodes en hoeveelhede ongepas is. Tog kan dit nie betwis word dat ’n vrou, weens onsekerheid of die invloed van uitbuitende advertensies, die gewoonte kan aanleer om te veel grimering te dra nie. Sy kan so gewoond wees aan hoe sy met die grimering lyk dat sy nie besef dat dit teenstrydig is met die “beskeidenheid en ingetoënheid” van die meeste Christinne nie.—Sien Jakobus 1:23, 24.
Smaak verkil weliswaar; sommige vroue dra min of geen grimering of juwele nie, ander dra meer. Dit is dus nie verstandig om ander wat nie dieselfde hoeveelheid grimering of juwele dra te oordeel nie. Nog ’n faktor is plaaslike gebruik. Die feit dat sommige style in ’n ander land aanvaar word (of in die ou tyd iets algemeens was), beteken nie dat hulle vandag in jou kontrei aanneemlik is nie.
’n Verstandige Christin sal haar persoonsversorging van tyd tot tyd opnuut in oënskou neem en haar in alle eerlikheid afvra: ‘Dra ek gewoonlik meer (of opsigtiger) juwele of grimering as die meeste Christinne in my omgewing? Volg ek in my persoonsversorging verwaande mense wat in hoë sosiale kringe beweeg of ydel rolprentsterre na, of laat ek my hoofsaaklik deur die raad in 1 Timotheüs 2:9 en 1 Petrus 3:3, 4 lei? Ja, is my persoonsversorging werklik beskeie, sodat dit ware respek vir ander se opinies en gevoelens toon?’—Spreuke 31:30.
Vrouens wie se mans Christene is, kan hulle om kommentare en raad vra. Nuttige raad kan ook by ander susters verkry word as jy opreg daarna soek. Maar pleks van ’n vriendin te vra wat dieselfde smaak as jy het, kan dit beter wees om met ouer susters te praat wie se balans en wysheid gerespekteer word. (Vergelyk 1 Konings 12:6-8.) Die Bybel sê eerbiedige ouer vroue “kan die jong vroue leer om versigtig te wees . . . ingetoë te wees, kuis . . . sodat die woord van God nie belaster word nie” (Titus 2:2-5). Geen ryp Christin sal tog wil hê dat haar onbeskeie gebruik van juwele of grimering veroorsaak dat God se Woord of sy volk “belaster word” nie.
Die Bybelverslag van Tamar toon dat ’n vrou se persoonsversorging haar kan tipeer en ’n kragtige boodskap kan uitstuur (Genesis 38:14, 15). Watter boodskap stuur ’n Christin se haarstyl en haarkleur (as dit gekleur is), of die juwele en die skoonheidsmiddels wat sy dra uit? Is dit: Hierdie is ’n rein, beskeie en gebalanseerde kneg van God?
Iemand wat Christinne in die veldbediening sien, of wat ons vergaderinge bywoon, moet ’n goeie indruk kry. Dit is gewoonlik die geval. Die meeste Christinne gee buitestaanders geen rede om te dink dat hulle óf slonsig is, óf oordadig gegrimeer of versier is nie; hulle versorg hulleself eerder “soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely”.—1 Timotheüs 2:10.
[Voetnote]
a In die derde eeu G.J. het Tertullianus beweer dat vroue “wat geneesmiddels aan hulle vel vryf, hulle wange met rooisel kleur, hulle oë met [swart] antimoon beklemtoon teen Hom sondig”. Hy het ook dié gekritiseer wat hulle hare kleur. Tertullianus het Jesus se woorde in Mattheüs 5:36 verkeerd toegepas met hierdie aantyging: “Hulle weerspreek die Here! ‘Siedaar’, sê hulle, ‘pleks van wit of swart maak ons [ons hare] geel.’” Hy het bygevoeg: “Jy kan selfs mense vind wat hulle skaam dat hulle oud is en probeer om hulle wit hare swart te maak.” Dit was Tertullianus se persoonlike opinie. Maar hy het sake verdraai, want sy hele argument was gegrond op sy beskouing dat vroue die oorsaak van die mensdom se verdoemenis is, en hulle behoort dus ‘soos Eva rond te loop, bedroef en berouvol’ oor die ‘skande van die eerste sonde’. Die Bybel sê glad nie so iets nie; God het Adam vir die mensdom se sondigheid verantwoordelik gehou.—Romeine 5:12-14; 1 Timotheüs 2:13, 14.
b ’n Skandaal van ’n TV-evangelis het nie lank gelede nie groot opslae in die Verenigde State se nuusmedia gemaak, terwyl sy medester, sy vrou, byna net soveel aandag getrek het. Volgens nuusberigte het sy grootgeword met die opvatting dat “grimering sowel as rolprente” sonde is, maar later het sy haar opinie verander en bekend geword vir skokkende “grimering wat so dik was dat dit na beeldhouwerk gelyk het”.
[Prente op bladsy 31]
Argeologiese vondste uit die Midde-Ooste: Ivoorkosmetiekdosie, spieël en halskettings van goud en karneool
[Erkenning]
All three: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.