Vrae van lesers
As Jesus van Isai sowel as Dawid afgestam het, waarom word hy dan “die wortel” van sy voorvaders Isai en Dawid genoem?
’n Mens dink gewoonlik dat ’n wortel van ’n boom of ’n plant voor die stam of die takke verskyn. Gevolglik sou ’n mens dink dat daar van Isai (of sy seun Dawid) gepraat sou word as die wortel waaruit Jesus mettertyd gespruit het. Nogtans het Jesaja 11:10 voorspel dat die komende Messias “die wortel van Isai” sou wees, en Romeine 15:12 het hierdie profesie op Jesus Christus toegepas. Later het Openbaring 5:5 hom “die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid”, genoem. Daar is redes vir hierdie benamings.
Die Bybel gebruik dikwels ’n plant, soos ’n boom, in illustrasies. Soms word die illustrasie ontleen aan die feit dat wanneer ’n saad ontkiem en groei die wortels voor die hooftak, ander sytakke en vrugte ontwikkel en dat hulle almal deur die wortels gevoed word. Ons lees byvoorbeeld in Jesaja 37:31: “Die . . . vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, [sal] weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe.”—Job 14:8, 9; Jesaja 14:29.
As die wortel beskadig word, ly die res van die boom daaronder. (Vergelyk Mattheüs 3:10; 13:6.) Gevolglik het Maleagi geskryf: “Die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie” (Maleagi 4:1). Die betekenis is duidelik—algehele vernietiging. Die ouers (wortels) sowel as hulle nageslag (takke) sou vernietig word.a Dit onderstreep die verantwoordelikheid wat ouers teenoor hulle minderjarige kinders het; die ewige toekoms van minderjarige kinders kan bepaal word deur hulle ouers se posisie voor God.—1 Korinthiërs 7:14.
Die taal in Jesaja 37:31 en Maleagi 4:1 word ontleen aan die feit dat hooftakke (en die vrugte aan die sytakke) hulle lewe van die wortel kry. Dit gee ons ’n leidraad om te verstaan in watter opsig Jesus die “wortel van Isai” en die “wortel van Dawid” is.
Na die vlees was Isai en Dawid Jesus se voorvaders; hulle was die wortels, hy was die loot of tak. Jesaja 11:1 het aangaande die komende Messias gesê: “Daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.” In Openbaring 22:16 verwys Jesus insgelyks na homself as “die nakomeling van Dawid” (NW). Maar hy noem homself ook “die wortel van Dawid”. Waarom?
Een opsig waarin Jesus die “wortel” van Isai en Dawid is, is dat hulle geslagslyn deur middel van hom voortbestaan. Geen mens kan vandag bewys dat hy uit die stam van Levi, Dan, of selfs Juda, is nie, maar ons kan seker wees dat die geslagslyn van Isai en Dawid voortbestaan omdat Jesus nou in die hemel lewe.—Mattheüs 1:1-16; Romeine 6:9.
Jesus is ook as hemelse Koning aangestel (Lukas 1:32, 33; 19:12, 15; 1 Korinthiërs 15:25). Dit raak selfs sy verhouding met sy voorvaders. Profeties het Dawid Jesus sy Here genoem.—Psalm 110:1; Handelinge 2:34-36.
Laastens, Jesus Christus het volmag as Regter. Gedurende die komende Millennium sal die voordele van Jesus se losprys ook ten behoewe van Isai en Dawid aangewend word. Hulle lewe op aarde sal dan van Jesus afhang, wat as hulle “Ewige Vader” sal optree.—Jesaja 9:5.
Hoewel Jesus dus in die geslagslyn van Isai en Dawid gebore is, kan hy op grond van wat hy geword het en nog gaan doen tereg “die wortel van Isai” en “die wortel van Dawid” genoem word.
[Voetnoot]
a ’n Eertydse Fenisiese grafinskripsie het soortgelyke taal gebruik. Dit het van enige mense wat die grafkelder sou oopbreek, gesê: “Mag hulle geen wortel onder of vrug bo hê nie!”—Vetus Testamentum, April 1961.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.