Beter tye in die vooruitsig
“ONS kry een-nul-een”, sê ’n vrou.
“Met my gaan dit selfs slegter”, antwoord haar vriendin. “Ek kry nul-nul-een.”
In party dele van Wes-Afrika het so ’n gesprek geen verduideliking nodig nie. Pleks van drie maaltye ’n dag te eet (een-een-een), kan ’n persoon wat een-nul-een kry dit bekostig om slegs twee keer per dag te eet—een keer in die oggend en een keer in die aand. ’n Jong man wat nul-nul-een kry, verduidelik sy situasie: “Ek eet een keer per dag. Ek pak my yskas vol houers met water. Ek eet gari [kassawe] in die aand voordat ek gaan slaap. Dit is hoe ek aan die gang bly.”
Dit is vandag die benarde toestand van al hoe meer mense. Pryse styg en die koopkrag van geld word minder.
Voedseltekorte is voorspel
In ’n reeks gesigte wat aan die apostel Johannes gegee is, het God die moeilike toestande voorspel waarvoor baie vandag te staan kom. Dit sou ’n tekort aan voedsel insluit. Johannes vertel: “Ek het gesien, en kyk! ’n swart perd; en die een wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand gehad” (Openbaring 6:5). Hierdie onheilspellende perd en ruiter beeld hongersnood af—voedsel sal so skaars wees dat rantsoene op skale afgeweeg sal word.
Die apostel Johannes sê voorts: “En ek het ’n stem . . . hoor sê: ‘’n Liter koring vir ’n denarius, en drie liter gars vir ’n denarius.’” In Johannes se dag was ’n liter koring die daaglikse rantsoen van ’n soldaat, en ’n denarius was die geld wat vir ’n dag se werk betaal is. Daarom lui Richard Weymouth se vertaling van die vers: “’n Hele dag se loon vir ’n brood, ’n hele dag se loon vir drie garskoeke.”—Openbaring 6:6.
Wat is vandag ’n hele dag se loon? Die verslag State of World Population, 1994 sê: “Nagenoeg 1,1 miljard mense, ongeveer 30 persent van die ontwikkelende wêreld se bevolking, lewe op ongeveer $1 [R3,50] per dag.” Die wêreld se armes kan dus met min of meer ’n dag se loon letterlik ’n brood koop.
Dit verbaas die brandarmes natuurlik nie. “Brood!” het een man uitgeroep. “Wie eet brood? Deesdae is brood iets luuks!”
Ironies genoeg is daar geen tekort aan voedsel nie. Volgens VN-bronne het die wêreld se voedselproduksie gedurende die afgelope tien jaar met 24 persent toegeneem, wat meer as die groei van die wêreldbevolking is. Hierdie groter voedselvoorraad is egter nie iets waarby almal gebaat het nie. In Afrika het voedselproduksie byvoorbeeld in werklikheid met 5 persent afgeneem terwyl die bevolkingsgroei met 34 persent toegeneem het. Ten spyte van die feit dat daar oor die algemeen ’n oorvloed van voedsel regoor die wêreld is, is daar steeds voedseltekorte in baie lande.
Voedseltekorte beteken hoër pryse. ’n Tekort aan werk, lae lone en stygende inflasie maak dit moeiliker om die geld te kry om te koop wat beskikbaar is. Die Human Development Report 1994 sê: “Mense is honger, nie omdat voedsel nie beskikbaar is nie—maar omdat hulle dit nie kan bekostig nie.”
Daar is al hoe meer wanhoop, frustrasie en radeloosheid. “Mense voel dat dit vandag sleg gaan, maar dat dit môre erger sal wees”, het Glory, wat in Wes-Afrika woon, gesê. ’n Ander vrou het gesê: “Mense meen dat hulle ’n ramp nader. Hulle meen dat die dag gaan kom wanneer daar niks meer by die mark oor sal wees nie.”
Jehovah het in die verlede na sy knegte omgesien
Knegte van God weet dat Jehovah sy getroue volgelinge beloon deur in hulle behoeftes te voorsien en hulle krag te gee om moeilike omstandighede die hoof te bied. Sulke vertroue in God se vermoë om te voorsien, is in werklikheid ’n onontbeerlike deel van hulle geloof. Die apostel Paulus het geskryf: “Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.
Jehovah het nog altyd na sy getroue knegte omgesien. Gedurende ’n droogte van drie en ’n half jaar het Jehovah die profeet Elia van voedsel voorsien. Aanvanklik het God kraaie beveel om vir Elia brood en vleis te bring (1 Konings 17:2-6). Later het Jehovah wonderbaarlik gesorg dat die meel en olie van ’n weduwee wat vir Elia van voedsel voorsien het, nie opraak nie (1 Konings 17:8-16). Gedurende dieselfde hongersnood het Jehovah, ondanks hewige godsdiensvervolging wat die slegte koningin Isebel oor sy profete gebring het, toegesien dat hulle van brood en water voorsien is.—1 Konings 18:13.
Later, toe die koning van Babilon die afvallige Jerusalem beleër het, moes die mense “brood by die gewig en met kommer eet” (Esegiël 4:16). Die situasie het so erg geword dat party vroue hulle eie kinders geëet het (Klaagliedere 2:20). Maar selfs al was die profeet Jeremia as gevolg van sy predikingswerk onder bewaking, het Jehovah toegesien dat daar ‘daagliks ’n skyf brood uit die Bakkerstraat aan Jeremia gegee is, totdat al die brood van die stad op was’.—Jeremia 37:21.
Het Jehovah van Jeremia vergeet toe die broodvoorraad op was? Blykbaar nie, want toe die stad voor die Babiloniërs geval het, is Jeremia ‘padkos en ’n geskenk gegee, en laat gaan’.—Jeremia 40:5, 6; sien ook Psalm 37:25.
God ondersteun sy hedendaagse knegte
Net soos Jehovah sy knegte van lank gelede ondersteun het, doen hy dit vandag en sorg hy materieel sowel as geestelik vir hulle. Neem byvoorbeeld die ondervinding van Lamitunde wat in Wes-Afrika woon. Hy vertel: “Ek het ’n redelike groot pluimveeboerdery gehad. Eendag het gewapende rowers na die plaas toe gekom en die meeste van die hoenders, die noodkragopwekker en die geld wat ons gehad het, gesteel. Kort daarna het die paar hoenders wat oor was aan ’n siekte doodgegaan. Dit het my pluimveebedryf geruïneer. Ek het twee jaar lank sonder welslae werk probeer kry. Dit het maar moeilik gegaan, maar Jehovah het ons ondersteun.
“Wat my gehelp het om die moeilike tye te deurstaan, was die besef dat Jehovah toelaat dat dinge met ons gebeur om ons te louter. Ek en my vrou het by ons roetine vir gesinsbybelstudie gehou, en dit het ons werklik gehelp. Gebed was ook ’n groot bron van krag. Soms wou ek nie bid nie, maar wanneer ek wel gebid het, het ek beter gevoel.
“Gedurende daardie moeilike tydperk het ek geleer hoe waardevol dit is om oor die Skrif te peins. Ek het baie oor Psalm 23 gedink, wat van Jehovah as ons Herder praat. ’n Ander teks wat my bemoedig het, was Filippense 4:6, 7 wat verwys na ‘die vrede van God wat alle denke te bowe gaan’. Nog ’n skrifgedeelte wat my versterk het, was 1 Petrus 5:6, 7 wat sê: ‘Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy is besorg oor julle.’ Al hierdie verse het my gedurende daardie moeilike tye gehelp. Wanneer ’n mens hieroor peins, is jy in staat om die gedagtes te vervang wat depressie veroorsaak.
“Ek het nou weer werk, maar dinge is eerlikwaar nie maklik nie. Ons lewe in ‘die laaste dae’ wat gekenmerk word deur ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, net soos die Bybel in 2 Timoteus 3:1-5 voorspel het. Ons kan nie dít wat die teks sê, verander nie. Daarom verwag ek nie dat die lewe maklik sal wees nie. Tog voel ek dat Jehovah se gees my help om die mas op te kom.”
Ondanks die kritieke tye waarin ons lewe, sal diegene wat op Jehovah en sy Koning-Seun, Christus Jesus, vertrou nie teleurgestel word nie (Romeine 10:11). Jesus self verseker ons: “Om dié rede sê ek vir julle: Hou op om besorg te wees oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra. Beteken die siel nie meer as voedsel en die liggaam meer as klere nie? Hou die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle maai nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur besorg te wees een el by sy lewensduur voeg? Ook wat klere betref, waarom is julle besorg?”—Matteus 6:25-28.
Dit is beslis vrae wat in hierdie kritieke tye selfondersoek aanmoedig. Maar Jesus gaan voort met hierdie gerusstellende woorde: “Leer ’n les by die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle swoeg nie, en hulle spin ook nie; maar ek sê vir julle dat nie eens Salomo in al sy heerlikheid soos een van hulle geklee was nie. As God dan die plantegroei van die veld, wat vandag hier is en môre in die oond gegooi word, so klee, sal hy julle nie veel eerder klee nie, julle kleingelowiges? Moet dus nooit besorg wees en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge streef die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:28-33.
Beter tye in die vooruitsig
Alles dui daarop dat die verslegtende ekonomiese en maatskaplike toestande in baie dele van die wêreld steeds sal vererger. Tog besef God se volk dat hierdie toestande tydelik is. Die glorieryke bewind van koning Salomo het die regverdige heerskappy afgebeeld van ’n Koning groter as Salomo wat oor die ganse aarde sal heers (Matteus 12:42). Daardie Koning is Christus Jesus, die “Koning van die konings en Here van die here”.—Openbaring 19:16.
Psalm 72, wat aanvanklik in koning Salomo se tyd vervul is, beskryf die luisterryke heerskappy van Jesus Christus. Kyk na ’n paar van die wonderlike dinge wat dit aangaande die aarde se toekoms onder Christus as Koning voorspel.
Vreedsame toestande wêreldwyd: “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.”—Psalm 72:7, 8.
Besorgdheid oor die geringe: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme [“geringe”, NW] en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:12-14.
’n Oorvloed van voedsel: “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge.”—Psalm 72:16.
Jehovah se heerlikheid sal die aarde vul: “Geloofd sy die HERE God, die God van Israel, wat alleen wonders doen! En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!”—Psalm 72:18, 19.
Daar is dus beslis beter tye in die vooruitsig.