Getuies tot in die mees afgeleë deel van die aarde
ETAH
THULE
GODHAVN
GODTHAAB
JULIANEHAAB
ANGMAGSSALIK
THULE is deel van ’n naam wat sedert die ou tyd gebruik word om ’n einddoel, geografies of andersins, te beskryf. Vandag is Thule die naam van ’n nedersetting in die verre noorde van Groenland, die wêreld se grootste eiland. Die nedersetting het in 1910 hierdie naam gekry, toe die Deense ontdekker Knud Rasmussen dit as die basis vir poolekspedisies gebruik het. Selfs vandag is dit meer van ’n ekspedisie as ’n plesierreis om na Thule te gaan.
Daar is nietemin ’n dringende behoefte aan ekspedisies na Thule. In antwoord op Jesus se bevel: ‘Wees getuies van my tot in die mees afgeleë deel van die aarde’, is Jehovah se Getuies gretig om die goeie nuus van God se Koninkryk na hierdie plek, een van die noordelikste vaste nedersettings op die aarde, te bring.—Handelinge 1:8; Matteus 24:14.
‘Wanneer kan ons na Thule gaan?’
In 1955 het twee Deense Getuies wat graag ’n aandeel wou hê aan die verkondiging van die goeie nuus “in die mees afgeleë deel van die aarde” in Groenland aangekom. Later het ander gekom, en gaandeweg het hulle predikingswerk die suidelike en westelike kus tot by Melville-baai en gedeeltelik teen die oostelike kus op gedek. Maar meer afgeleë dele soos Thule is byna uitsluitlik per brief of telefoon bereik.
Eendag in 1991 het Bo en sy vrou, Helen, twee voltydse bedienaars, op ’n rots gestaan wat op Melville-baai uitkyk. Hulle het noord gekyk en gewonder: ‘Wanneer sal ons tot reg bo in Thule kan gaan om die goeie nuus van die Koninkryk na die mense daar te neem?’
In 1993 het Werner, ’n ander voltydse bedienaar, dit gewaag om Melville-baai in sy vyf en ’n half meter lange snelboot Qaamaneq (Lig) oor te steek. Hy het reeds 1 200 kilometer van Godthaab tot bo by die Upernavik-gebied gevaar. Maar om Melville-baai—400 kilometer oop Arktiese water—oor te steek, is ’n heeltemal ander saak. Ys blokkeer die baai die grootste deel van die jaar. Werner het daarin geslaag om die baai oor te steek, selfs al het hy ’n motor as gevolg van die ys verloor. En hy kon dit regkry om ’n bietjie tyd in die predikingswerk te bestee voor hy moes terugkeer.
Op pad na Thule
Ná daardie tog het Werner nuwe planne begin maak. Hy het met Arne en Karin gepraat oor ’n gesamentlike tog na Thule, aangesien hulle ’n sewe meter lange boot met vier slaapbanke en bowenal moderne navigasietoerusting gehad het. Die bote sou verblyf voorsien, en aangesien die twee bote saam sou vaar, sou dit nie so gevaarlik wees om Melville-baai oor te steek nie. Hulle het nog hulp nodig gehad om die dorp met sy 600 inwoners en die ses nedersettings in die gebied te dek. Hulle het gevolglik vir Bo en Helen asook vir Jørgen en Inge—almal ervare bedienaars wat al baie in hierdie land gereis het—genooi om saam met hulle te gaan. Vyf van hierdie groep praat ook Groenlands.
Hulle het ’n voorraad Bybellektuur vooruitgestuur. Die bote is ook vol lektuur sowel as die nodige kos- en watervoorraad, brandstof, ’n ekstra motor en ’n rubberroeibootjie gelaai. Toe, op 5 Augustus 1994, ná maande se voorbereiding, was die span bymekaar en was albei bote gereed en gelaai in die Ilulissat-hawe. Die noordwaartse reis het begin. Werner, Bo en Helen het in die kleiner boot gevaar. “Al wat ’n mens kon doen, was om te sit of om in jou slaapbank te lê en aan iets vas te hou”, skryf Bo. Kom ons volg die reis in die skeepsjoernaal.
“Die see was lang tye baie kalm. Pragtige panoramas het voor ons oë ontvou—die glinsterende see, dik misbanke, die helder son en blou hemele, ysberge met die fassinerendste vorms en kleurskakerings, ’n bruin walrus wat op ’n stuk dryfys in die son bak, die kuslyn met donker berghange en klein vlaktes—die omgewing het voortdurend verander.
“Die interessantste deel was natuurlik om die nedersettings onderweg na ons bestemming te besoek. Daar was altyd mense, gewoonlik kinders, onder by die pier om te sien wie die besoekers is en om hulle te verwelkom. Ons het Bybellektuur versprei en ’n video oor ons organisasie aan die mense geleen. Baie kon dit sien voor ons moes vertrek. By Suid-Upernavik het ’n hele klompie mense na ons bote uitgevaar selfs voordat ons ’n geleentheid gehad het om aan land te gaan. Ons het gevolglik ’n hele aand gaste aan boord gehad en het baie Bybelvrae beantwoord.”
Nou, met die eerste 700 kilometer van die reis agter die rug, was die bote gereed om Melville-baai oor te steek.
Die kritieke uitdaging
“Dit is algemeen as die kritieke deel van die reis beskou. En ons moes die baai oorsteek sonder om by Savissivik aan te gaan omdat hierdie dorpie (waar die gebied begin en waar ons andersins skuiling sou kon vind) nog deur die ys geblokkeer was.
“Ons het dus uitgevaar. Omdat daar baie ys was, het ons verder uit op die oop see gevaar. Gelukkig was die water kalm. Daar het nie veel in die eerste paar uur gebeur nie—ons het deur kilometers en kilometers oseaan geklief. Teen die aand se kant het ons Kaap York gesien en stadig noordwaarts gedraai, nader aan die land. Nou was daar weer ys—ou, dik en verbrokkelende dryfys so ver as ’n mens kan sien. Ons het vir ’n hele ent al langs die rand van die ys gevaar, en soms moes ons tussen nou gangetjies deurbeweeg. Dan was daar die mis, ’n dik gryserige sop, wat in die lig van die ondergaande son besonder mooi was. En die golwe! Mis, golwe en ys tegelykertyd—een op ’n slag is gewoonlik erg genoeg.”
Ons verwelkoming
“Ons het kalmer waters ingegaan namate ons Pituffik genader het. Die skepping het ons ’n oorweldigende verwelkoming gegee: die son hoog bo in ’n diepblou hemel; voor ons was die breë, blink fjords wat met drywende ysberge besaai is en in die verte die kenmerkende silhoeët van die rots by Dundas—die ou Thule!” Ongeveer 100 kilometer verder noord het die reisigers hulle eindbestemming bereik.
Hulle was nou gretig om met die predikingswerk van huis tot huis te begin. Twee van hulle het ’n onvriendelike ontvangs by hulle eerste deur gehad. “Ons is weggewys asof ons in Denemarke was”, het hulle gesê. “Maar die meeste mense het ons vriendelik verwelkom. Die mense was nadenkend en goed ingelig. Party het gesê dat hulle al van ons gehoor het en dat hulle bly was dat ons uiteindelik gekom het. Ons het wonderlike mense ontmoet, soos robbejagters wat op Noordpoolekspedisies was, en inboorlinge wat vergenoeg en spaarsamig is en ’n ietwat skeptiese beskouing van die moderne samelewing het.”
Ons almal het in die volgende paar dae goeie ondervindinge geniet. Die Bybellektuur is oral met waardering ontvang. In verskeie huise het die Getuies daar en dan ’n Bybelstudie begin. Inge vertel van ’n huis waar sy belangstelling gevind het: “Dit was ’n skoon en gesellige eenvertrekhuisie. Ons het die sagmoedige man wat daar woon drie dae agter mekaar besoek en het baie lief vir hom geword. Hy was nou ’n regte robbejagter, met sy kajak buite sy huis. Hy het al baie ysbere, walrusse en natuurlik robbe geskiet. Op ons laaste besoek het ons ’n gebed saam met hom gedoen, en sy oë het vol trane geskiet. Nou moet ons alles aan Jehovah oorlaat en hoop dat ons weer die tyd en geleentheid sal hê om na hom terug te gaan.”
Thule word dikwels deur Kanadese Eskimo’s besoek. Inge vertel: “Ek en Helen het talle Eskimo’s uit Kanada ontmoet. Dit is interessant dat hulle met die Groenlanders kan kommunikeer; mense wat in die Noordpoolgebied woon se taal is blykbaar nou verwant. Hoewel die Kanadese Eskimo’s hulle eie skryftaal het, kon hulle ons Groenlandse lektuur lees. Dit kan dalk opwindende geleenthede vir hulle moontlik maak.”
Die nedersettings wat 50 tot 60 kilometer per boot daarvandaan is, is ook besoek. “Onderweg na die nedersetting Qeqertat het ons na aan die kuslyn gebly, met die hoop dat ons narwaljagters sal vind. En jou waarlik, ons het op ’n rotsbank ’n kamp gevind, bestaande uit drie of vier gesinne wat in pelse geklee was, met hulle tente en kajaks. Die mans het beurte gemaak om met ’n harpoen in die hand op ’n rots te sit en te kyk of hulle die baie gesogte narwals kan raaksien. Aangesien hulle al ’n hele klompie dae tevergeefs gewag het, was hulle nie te bly om ons te sien nie omdat ons die walvisse dalk sou verskrik! Dit het gelyk asof hulle heeltemal in hulle eie wêreld lewe. Die vroue het lektuur geneem, maar dit was nie die regte tyd om verder te praat nie. Ons het uiteindelik om 11 uur die aand by Qeqertat aangekom en het ons laaste besoek in die nedersetting om 2 uur die oggend voltooi!”
“Uiteindelik het ons Siorapaluk bereik, die noordelikste nedersetting in Groenland. Dit is geleë op ’n sanderige strand aan die onderkant van groen, grasbedekte rotse in ’n andersins kaal landskap.” Die Getuies het letterlik afgeleë dele van die aarde met hulle predikingswerk bereik, ten minste in die noordelike rigting.
Die einde van die reis
Die Getuies het hulle werk voltooi. Hulle het van huis tot huis en van tent tot tent gepreek, lektuur versprei, intekeninge verkry, video’s vertoon, met baie Groenlanders gepraat en Bybelstudies gehou. Nou is dit tyd om huis toe te gaan. “Toe ons daardie aand in ons roeibootjie geklim het om die dorpie Moriusaq te verlaat, het ’n hele klompie mense ons op die strand kom afsien en die boeke of brosjures gewaai wat hulle by ons geneem het.”
Later, op ’n verlate deel van die kus, was die Getuies verstom om ’n man van ’n rots af te sien waai—daar in die middel van nêrens! “Ons het natuurlik aan land gegaan om hom te ontmoet. Hy was ’n jong man van Berlyn, Duitsland, wat toe reeds ’n maand lank met sy kajak teen die kus opgeroei het. In Duitsland is hy gereeld deur Jehovah se Getuies besoek en hy het talle van hulle boeke gehad. Ons het ’n paar uur saam met hom deurgebring, en hy was werklik beïndruk om Getuies op so ’n plek te vind.”
In die dorpie Savissivik, wat op die heenreis oorgeslaan is, het die reisende bedienaars ’n hartlike verwelkoming ontvang. Party mense wat daar woon, het die vorige jaar lektuur ontvang en gelees, en hulle het na nog geestelike voedsel gehonger.
Dit het 14 uur geneem om Melville-baai op die terugreis oor te steek. “Ons het ’n sonsondergang gesien, wat hierbo baie ure duur en waarvan die betowerende kleure voortdurend verander. Die sonsopkoms, wat onmiddellik hierop gevolg het, het ook ’n lang ruk geduur. Terwyl die sonsondergang die noordoostelike hemele nog in rooi en karmosyn gekleur het, het die son net ’n bietjie suid daarvandaan opgekom. Dit is ’n gesig wat onmoontlik is om behoorlik te beskryf—of selfs te fotografeer.” Die bemanning het heelnag opgebly.
“Toe ons in Kullorsuaq aangekom het, was ons baie moeg. Maar ons was gelukkig en tevrede. Ons het die reis suksesvol voltooi! Ons het gedurende die res van die tog baie belangstelling in dorpies en nedersettings langs die kus gevind. Ons is dikwels gevra: ‘Waarom kan party van julle nie by ons bly nie? Ons is hartseer om julle so gou te sien gaan!’”
In Qaarsut het ’n vriendelike gesin vyf van die besoekers uitgenooi om ’n ete saam met hulle te geniet. “Die gesin wou hê dat ons daar moes oornag. Maar aangesien daar 40 kilometer daarvandaan beter ankerplekke was, het ons die uitnodiging van die hand gewys en verder gevaar. Later het ons gehoor dat ’n groot ysberg vroeg die volgende oggend afgebreek het en dat ’n golf 14 klein bootjies laat omslaan het waar ons geanker was!”
Uiteindelik was die groep weer terug in Ilulissat nadat hulle hulle Thule-ekspedisie voltooi het. Om en by dieselfde tyd het twee ander verkondigers na afgeleë dele aan die ooskus van Groenland gereis. Op daardie twee reise het die verkondigers altesaam 1 200 boeke, 2 199 brosjures en 4 224 tydskrifte versprei, en hulle het 152 intekeninge verkry. Hulle bly nou per telefoon en per brief in aanraking met die baie nuwe belangstellendes.
Ondanks die tyd, energie en geld wat daarby betrokke is, put Jehovah se Getuies groot vreugde uit die uitvoering van hulle Meester se opdrag om ‘getuies van hom te wees tot in die mees afgeleë deel van die aarde’.—Handelinge 1:8.
[Venster op bladsy 28]
Aan die ooskus van Groenland
OM EN by dieselfde tyd wat die groep verkondigers in Thule aangekom het, het ’n Getuie-egpaar, Viggo en Sonja, na ’n ander ongewerkte gebied gereis—Ittoqqortoormiit (Scoresbysund) aan die ooskus van Groenland. Om daar uit te kom, moes hulle na Ysland reis, na Constable Point aan die kus van Groenland terugvlieg en daarna per helikopter verder gaan.
“Dit was die eerste keer dat Jehovah se Getuies hier was”, vertel hierdie twee pioniers, wie se moedertaal Groenlands is. “Ondanks die feit dat hulle afgesonder is, was die mense nogal verbasend goed ingelig. Nietemin was hulle ook bly om nuwe dinge te leer. As begaafde storievertellers het hulle ons lustig van hulle robbejagte en ander ondervindings in die natuur vertel.” Hoe het hulle op die predikingswerk gereageer?
“Terwyl ons van huis tot huis getuig het, het ons J—— ontmoet, wat ’n kategis is. ‘Dankie dat julle my ook kom besoek het’, het hy gesê. Ons het hom ons lektuur gewys asook hoe om dit te gebruik. Die volgende dag het hy na ons toe gekom en wou hy meer omtrent die naam Jehovah weet. Ons het hom ’n verduideliking in ’n voetnoot in sy eie Groenlandse Bybel gewys. Nadat ons vertrek het, het hy ons vriende in Nuuk gebel om dankie te sê vir ons besoek. Ons moet hierdie man verder probeer help.
“Ons het ook vir O—— ontmoet, ’n onderwyser wat kennis dra van Jehovah se Getuies. Hy het ons twee uur toegestaan om met sy klas van 14- tot 16-jariges te praat. Ons het dus vir hulle ons video gewys en hulle vrae beantwoord. Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werka en ander boeke het soos soetkoek gegaan. Ons het later weer drie van die meisies teëgekom. Hulle het baie vrae gehad, en een van hulle het besonder baie belanggestel. Sy het gevra: ‘Hoe word ’n mens ’n Getuie? Dit is seker wonderlik om soos julle te wees. My pa hou ook van julle.’ Ons het belowe om aan haar te skryf.
“In een van die nedersettings het ons nog ’n kategis, M——, ontmoet, en ons het ’n interessante bespreking gehad. Hy het gesê dat hy seker sou maak dat die manne wat gaan jag het ons lektuur kry sodra hulle terugkeer. Hy is dus nou ons ‘verkondiger’ in daardie afgeleë plekkie.”
Hoewel dit ’n lang en uitputtende reis was, het die twee pioniers gevoel dat hulle pogings ryklik geseën is.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.