“Volg die weg van gasvryheid”
“Deel met die heiliges na gelang van hulle behoeftes. Volg die weg van gasvryheid.”—ROMEINE 12:13.
1. Wat is ’n basiese menslike behoefte, en hoe word dit geopenbaar?
DIT kan deesdae ’n angswekkende ondervinding wees om laatnag in ’n verlate straat in ’n vreemde buurt te loop. Maar dit kan net so spanningsvol wees om tussen ’n klomp mense te wees en niemand te ken of deur niemand herken te word nie. Trouens, ’n integrale deel van die menslike natuur is die behoefte om te voel dat mense vir jou omgee, jou nodig het en liefhet. Niemand hou daarvan om as ’n vreemdeling of ’n buitestander behandel te word nie.
2. Hoe het Jehovah in ons behoefte aan kameraadskap voorsien?
2 Jehovah God, die Maker en Skepper van alle dinge, is deeglik bewus van die menslike behoefte aan kameraadskap. As die Ontwerper van sy menseskepping het God reg van die begin af geweet dat dit “nie goed [is] dat die mens alleen is nie”, en hy het iets daaraan gedoen (Genesis 2:18, 21, 22). Die Bybelverslag is vol voorbeelde van dade van goedhartigheid wat deur Jehovah en deur sy knegte teenoor mense betoon is. Dit stel ons in staat om te leer hoe om ‘die weg van gasvryheid te volg’, tot die vreugde en genot van ander en tot ons eie bevrediging.—Romeine 12:13.
Geneentheid vir vreemdelinge
3. Verduidelik die basiese betekenis van gasvryheid.
3 Die woord “gasvryheid” soos dit in die Bybel gebruik word, is ’n vertaling van die Griekse woord fi·lo·xe·niʹa, wat uit twee grondwoorde bestaan wat “liefde” en “vreemdeling” beteken. In wese beteken gasvryheid dus “liefde vir vreemdelinge”. Dit is egter nie net ’n formaliteit of iets wat uit beleefdheid gedoen word nie. Dit sluit ’n mens se gevoelens en emosies in. Die werkwoord fi·leʹo beteken volgens James Strong se Exhaustive Concordance of the Bible “om ’n vriend te wees van (geneentheid te hê vir [iemand of iets]), d.w.s. om toegeneentheid te hê vir (wat persoonlike gehegtheid aandui, ’n saak waarby sentiment of gevoel betrokke is)”. Gasvryheid gaan derhalwe verder as liefde wat op beginsel gegrond is, wat moontlik weens ’n pligsgevoel of verpligting gedoen word. Dit is gewoonlik ’n blyk van opregte geneentheid, liefde en vriendskap.
4. Aan wie moet gasvryheid betoon word?
4 Die ontvanger van hierdie geneentheid en liefde is die “vreemdeling” (Grieks, xeʹnos). Wie kan dit wees? Weer eens definieer Strong se Concordance die woord xeʹnos as ‘vreemd (letterlik uitlander, of figuurlik nuut); by implikasie ’n gas of (omgekeerd) ’n vreemdeling’. Gasvryheid, soos dit in die Bybel toegelig word, kan dus goedhartigheid beteken wat teenoor iemand betoon word vir wie ons geneentheid het of dit kan selfs teenoor ’n wildvreemde betoon word. Jesus het verduidelik: “As julle dié liefhet wat julle liefhet, watter beloning het julle? Doen die belastinggaarders nie ook dieselfde nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle wat buitengewoon is? Doen die mense van die nasies nie ook dieselfde nie?” (Matteus 5:46, 47). Opregte gasvryheid oorkom die skeiding en diskriminasie wat deur vooroordeel en vrees veroorsaak word.
Jehovah, die volmaakte gasheer
5, 6. (a) Wat het Jesus in gedagte gehad toe hy gesê het: “Julle hemelse Vader [is] volmaak”? (b) Hoe word Jehovah se vrygewigheid geopenbaar?
5 Nadat Jesus op die tekortkominge gewys het van die liefde wat mense aan mekaar betoon, soos hierbo aangehaal word, het hy hierdie opmerking bygevoeg: “Julle moet gevolglik volmaak wees, soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matteus 5:48). Jehovah is natuurlik in alle opsigte volmaak (Deuteronomium 32:4, NW). Jesus het egter die aandag op een besondere aspek van Jehovah se volmaaktheid gevestig, soos hy vroeër gesê het: ‘God laat sy son opgaan oor goddeloses en goeies en laat dit reën op regverdiges en onregverdiges’ (Matteus 5:45). Wat die betoning van goedhartigheid betref, ken Jehovah geen partydigheid nie.
6 Omdat Jehovah die Skepper is, behoort alles aan hom. “Al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My”, sê Jehovah (Psalm 50:10, 11). Maar hy hou niks op selfsugtige wyse vir homself nie. In sy vrygewigheid sorg hy vir al sy skepsele. Die psalmis het van Jehovah gesê: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.”—Psalm 145:16.
7. Wat kan ons leer uit die manier waarop Jehovah vreemdelinge en behoeftiges behandel?
7 Jehovah gee aan mense wat hulle nodig het—selfs aan mense wat hom nie ken nie, wat vreemdelinge is. Paulus en Barnabas het die afgodedienaars in die stad Listra daaraan herinner dat Jehovah “homself . . . nie sonder getuienis gelaat het nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul” (Handelinge 14:17). Jehovah is veral goedhartig en vrygewig teenoor diegene wat behoeftig is (Deuteronomium 10:17, 18). Daar is baie wat ons by Jehovah kan leer oor die betoning van goedhartigheid en vrygewigheid teenoor ander, met ander woorde, oor hoe om gasvry te wees.
8. Hoe het Jehovah sy milddadigheid getoon deur na ons geestelike behoeftes om te sien?
8 Benewens die feit dat Jehovah oorvloedig in die materiële behoeftes van sy skepsele voorsien, sien hy ook in geestelike sin na hulle behoeftes om. Jehovah het op uiters groothartige manier in die belang van ons geestelike welsyn opgetree, selfs voordat enigeen van ons besef het dat hy geestelik gesproke in ’n haglike situasie was. Ons lees in Romeine 5:8, 10: “God beveel sy eie liefde by ons aan daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was. . . . Toe ons vyande was, [het ons] met God versoen geraak . . . deur die dood van sy Seun.” Daardie voorsiening maak dit vir sondige mense moontlik om in ’n gelukkige gesinsverhouding met ons hemelse Vader te tree (Romeine 8:20, 21). Jehovah het ook toegesien dat ons behoorlike leiding en riglyne het sodat ons ten spyte van ons sondige en onvolmaakte toestand sukses in die lewe kan behaal.—Psalm 119:105; 2 Timoteus 3:16.
9, 10. (a) Waarom kan ons sê dat Jehovah die volmaakte gasheer is? (b) Hoe moet ware aanbidders Jehovah in hierdie opsig navolg?
9 In die lig hiervan kan ons sê dat Jehovah waarlik in soveel opsigte die volmaakte gasheer is. Hy ignoreer nie die behoeftiges, die nederiges en die geringes nie. Hy toon opregte belangstelling in en besorgdheid oor vreemdelinge, selfs sy vyande, en hy wil nie enige materiële vergoeding daarvoor hê nie. Is hy nie in al hierdie opsigte die allerbeste voorbeeld van ’n volmaakte gasheer nie?
10 As ’n God wat sulke liefderyke goedhartigheid en vrygewigheid betoon, wil Jehovah hê dat sy aanbidders hom moet navolg. Deur die hele Bybel vind ons uitstekende voorbeelde van hierdie goedhartige hoedanigheid. Die Encyclopaedia Judaica sê dat “gasvryheid in eertydse Israel nie bloot ’n kwessie van goeie maniere was nie, maar ’n morele instelling . . . Die Bybelse gebruike om die moeë reisiger te verwelkom en om die vreemdeling in jou midde te ontvang, was die kern waaruit gasvryheid en al die verwante aspekte daarvan ontwikkel het tot ’n deug waaraan daar in die Joodse tradisie groot waarde geheg word.” Gasvryheid is nie eie aan ’n spesifieke nasionaliteit of etniese groep nie, maar behoort ’n kenmerk van alle ware aanbidders van Jehovah te wees.
’n Gasheer vir engele
11. Watter uitstekende voorbeeld toon dat gasvryheid onverwagte seëninge meegebring het? (Sien ook Genesis 19:1-3; Rigters 13:11-16.)
11 Een van die bekendste Bybelverslae waarin gasvryheid betoon is, is dié van Abraham en Sara toe hulle kamp tussen die groot bome van Mamre, naby Hebron, opgeslaan was (Genesis 18:1-10; 23:19). Die apostel Paulus het ongetwyfeld hierdie gebeurtenis in gedagte gehad toe hy hierdie vermaning gegee het: “Moenie die gasvryheid vergeet nie, want daardeur het party, sonder dat hulle dit geweet het, engele onthaal” (Hebreërs 13:2). ’n Studie van hierdie verslag sal ons help om te sien dat gasvryheid nie bloot deur gebruike of opvoeding bepaal word nie. Dit is eerder ’n goddelike eienskap wat wonderlike seëninge meebring.
12. Hoe het Abraham sy liefde vir vreemdelinge geopenbaar?
12 Genesis 18:1, 2 toon dat Abraham nie die besoekers geken en verwag het nie, asof hulle net drie vreemdelinge was wat deur die gebied gereis het. Volgens sommige kommentators was dit die gebruik onder die Oosterlinge dat ’n reisiger in ’n vreemde land die reg gehad het om gasvryheid te verwag selfs as hy niemand daar geken het nie. Maar Abraham het nie vir die vreemdelinge gewag om hulle prerogatief uit te oefen nie; hy het die inisiatief geneem. Hy het “begin hardloop” (NW) om hierdie vreemdelinge te ontmoet wat ’n hele ent van hom af was—dit alles het “op die warmste van die dag” gebeur, en Abraham was toe 99 jaar oud! Toon dit nie waarom Paulus na Abraham verwys het as ’n voorbeeld vir ons om te volg nie? Dit is wat gasvryheid behels, die geneentheid of liefde vir vreemdelinge, die besorgdheid oor hulle behoeftes. Dit is ’n positiewe eienskap.
13. Waarom het Abraham voor die besoekers ‘gebuig’?
13 Die verslag deel ons ook mee dat Abraham ‘hom na die aarde toe gebuig’ het nadat hy die vreemdelinge ontmoet het. Voor volslae vreemdelinge neergebuig? Wel, om neer te buig, soos Abraham gedoen het, was ’n manier waarop ’n geëerde gas of ’n hooggeplaaste persoon gegroet is, en dit moenie met ’n daad van aanbidding, wat slegs God toekom, verwar word nie. (Vergelyk Handelinge 10:25, 26; Openbaring 19:10.) Deur te buig, nie net ’n knik van die hoof nie, maar deur hom “na die aarde toe” neer te buig, het Abraham aan hierdie vreemdelinge eer bewys as persone wat belangrik is. Hy was die hoof van ’n groot, welvarende patriargale familie, tog het hy hierdie vreemdelinge waardig geag om groter eer as hy te ontvang. Hoe verskil dit tog van die agterdog waarmee vreemdelinge gewoonlik bejeën word, die kyk-wat-gebeur-gesindheid! Abraham het waarlik getoon wat die volgende woorde beteken: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—Romeine 12:10.
14. Watter inspanning en opoffering het dit van Abraham geverg om gasvryheid aan die vreemdelinge te betoon?
14 Die res van die verslag toon dat Abraham se gevoelens opreg was. Die maaltyd self was uitsonderlik. Selfs in ’n groot huisgesin wat baie vee het, is “’n jong, mooi kalf” nie alledaagse kos nie. John Kitto se Daily Bible Illustrations sê oor die algemene gebruike van die gebied: “Hulle veroorloof hulle nooit luukshede nie behalwe op sekere feesdae of by die aankoms van ’n vreemdeling; en dit is slegs by sulke geleenthede dat vleis ooit geëet word, selfs deur diegene wat groot kuddes het.” As gevolg van die warm klimaat kon geen bederfbare kos gestoor word nie, en daarom moes alles op die plek gedoen word om so ’n maaltyd voor te sit. Dit is geen wonder dat die woord “gou” of “haastig” drie keer in hierdie kort verslag voorkom nie, en Abraham het letterlik “gehardloop” om die maaltyd gereed te kry!—Genesis 18:6-8, vgl. NW.
15. Wat is die regte beskouing van materiële voorsienings wanneer gasvryheid betoon word, soos Abraham se voorbeeld dit toelig?
15 Maar die doel is nie bloot om ’n groot fees voor te berei om iemand te beïndruk nie. Hoewel Abraham en Sara al daardie moeite gedoen het om die maaltyd voor te berei en aan te bied, let op hoe Abraham vroeër daarna verwys het: “Laat hulle tog ’n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. En laat ek ’n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom” (Genesis 18:4, 5). Daardie “stukkie brood” was toe uiteindelik ’n feesmaal van vetgemaakte kalf met roosterkoeke van die beste meel, dikmelk en soetmelk—’n fees geskik vir ’n koning. Wat leer ons hieruit? Wanneer gasvryheid betoon word, is die belangrike ding, of wat beklemtoon moet word, nie hoe lekker die eet- en drinkgoed gaan wees of watter oordadige vermaak, ensovoorts voorsien gaan word nie. Gasvryheid hang nie daarvan af of ’n mens duur dinge kan bekostig nie. Dit is eerder gegrond op ’n opregte besorgdheid oor ander se welsyn en op ’n begeerte om aan ander goed te doen in die mate wat dit vir jou moontlik is. “Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby”, sê ’n Bybelspreuk, en daarin lê die sleutel tot ware gasvryheid.—Spreuke 15:17.
16. Hoe het Abraham waardering vir geestelike dinge getoon deur wat hy vir die besoekers gedoen het?
16 Ons moet egter daarop let dat die hele gebeurtenis ook ’n geestelike inslag gehad het. Abraham het op die een of ander manier besef dat hierdie besoekers boodskappers van Jehovah af was. Dit word aangedui deur die woorde waarmee hy hulle aangespreek het: “Jehovah, as ek nou guns in u oë gevind het, moet dan asseblief nie verby u kneg gaan nie.”a (Genesis 18:3, NW; vergelyk Exodus 33:20.) Abraham het nie vooraf geweet of hulle ’n boodskap vir hom gehad het en of hulle net deur die gebied gereis het nie. Hy het nietemin besef dat Jehovah se voorneme uitgevoer word. Hierdie persone was besig met ’n sending van Jehovah. As hy iets kon doen om daartoe by te dra, sou hy dit met graagte doen. Hy het besef dat Jehovah se knegte die beste verdien, en hy sou die beste onder die omstandighede voorsien. Sodoende sou daar ’n geestelike seëning wees, hetsy vir homself of vir iemand anders. Abraham en Sara is uiteindelik grootliks geseën vir hulle opregte gasvryheid.—Genesis 18:9-15; 21:1, 2.
’n Gasvrye volk
17. Wat het Jehovah van die Israeliete vereis met betrekking tot vreemdelinge en behoeftiges onder hulle?
17 Die uitstekende voorbeeld wat Abraham gestel het, is nie vergeet deur die nasie wat uit hom voortgespruit het nie. Die Wet wat Jehovah die Israeliete gegee het, het daarvoor voorsiening gemaak dat gasvryheid aan die vreemdelinge onder hulle betoon word. “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God” (Levitikus 19:34). Die volk moes veral diegene in ag neem wat materiële hulp nodig gehad het en hulle nie sommer net wegstuur nie. Wanneer Jehovah hulle met ryk oeste geseën het, wanneer hulle tydens hulle feeste vreugdevol was, wanneer hulle tydens die Sabbatsjare van hulle arbeid gerus het en by ander geleenthede, moes die volk die minderbevoorregtes onthou—die weduwees, die wese en die vreemdelinge.—Deuteronomium 16:9-14; 24:19-21; 26:12, 13.
18. Hoe belangrik is gasvryheid as ons Jehovah se guns en seën wil ontvang?
18 Die belangrikheid van goedhartigheid, vrygewigheid en gasvryheid teenoor ander, veral teenoor die behoeftiges, kan gesien word in die manier waarop Jehovah met die Israeliete gehandel het wanneer hulle nagelaat het om hierdie eienskappe te openbaar. Jehovah het dit duidelik gemaak dat goedhartigheid en vrygewigheid teenoor vreemdelinge en behoeftiges van die vereistes vir sy volk was as hulle sy voortgesette seëninge wou ontvang (Psalm 82:2, 3; Jesaja 1:17; Jeremia 7:5-7; Esegiël 22:7; Sagaria 7:9-11). Wanneer die nasie hierdie en ander vereistes getrou uitgevoer het, was hulle voorspoedig en het hulle materiële en geestelike oorvloed geniet. Wanneer hulle lewe om hulle selfsugtige persoonlike strewes begin draai het en hulle nagelaat het om hierdie minsame eienskappe aan die behoeftiges te betoon, het Jehovah hulle veroordeel en uiteindelik is ongunstige oordeel aan hulle voltrek.—Deuteronomium 27:19; 28:15, 45.
19. Wat moet ons vervolgens bespreek?
19 Hoe belangrik is dit dan tog dat ons onsself ondersoek en sien of ons in hierdie verband aan Jehovah se verwagtinge voldoen! Dit geld veral vandag met die oog op die selfsugtige en verdelende gees in die wêreld. Hoe kan ons Christelike gasvryheid in ’n verdeelde wêreld betoon? Dit is die onderwerp wat in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Het enigiemand God gesien?” in Die Wagtoring van 15 Mei 1988, bladsye 21-3, vir ’n breedvoeriger bespreking van hierdie punt.
Onthou jy?
◻ Wat is die betekenis van die Bybelwoord wat met “gasvryheid” vertaal word?
◻ In watter opsigte is Jehovah die volmaakte voorbeeld in die betoning van gasvryheid?
◻ Watter moeite het Abraham gedoen om gasvry te wees?
◻ Waarom moet alle ware aanbidders ‘die weg van gasvryheid volg’?