Hoe om jou vreugde in die voltydse diens te behou
DIE vervulling van Bybelprofesieë toon duidelik dat ons in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel lewe. Omdat knegte van Jehovah God hiervan bewus is, bestee hulle soveel tyd as wat hulle redelik kan om die goeie nuus van sy Koninkryk te verkondig. Meer as 600 000 Getuies van Jehovah het hulle lewe so ingerig dat hulle in die voltydse diens kan wees. Party van hulle is voltydse Koninkryksverkondigers wat pioniers genoem word. Ander is Bethelvrywilligers by die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap of sy takkantore. Nog ander is sendelinge en reisende opsieners.
Die Bybel toon dat daar in die laaste dae “kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5). Die Griekse Bybelteks gebruik ’n uitdrukking wat met “vasgestelde tye wreed” weergegee kan word. Niemand moet dus in ons dag ’n probleemlose lewe verwag nie. Vir party Christenbedienaars lyk die probleme so ernstig dat hulle hulle dalk afvra: ‘Kan ek voortgaan in die voltydse diens, of moet ek daarmee ophou?’
Watter situasies kan maak dat iemand sy situasie as pionier, Bethelvrywilliger, reisende opsiener of sendeling moet heroorweeg? Miskien is daar ’n ernstige gesondheidsprobleem. Moontlik het ’n bejaarde of sieklike familielid voortdurende sorg nodig. Dalk begin ’n egpaar met ’n gesin. Enigiemand wat die voltydse diens om sulke redes en weens skriftuurlike verpligtinge staak, hoef nie skaam te voel omdat hulle so ’n aanpassing maak nie.
Maar sê nou iemand is van plan om die voltydse diens te staak weens ’n gebrek aan vreugde? Miskien het ’n pionier min welslae in sy bediening en vra hy: ‘Waarom moet ek met my selfopofferende lewenswyse voortgaan terwyl baie min mense luister?’ Miskien hou ’n Bethelvrywilliger nie van sy toewysing nie. Of hoewel knaende swak gesondheid die pionierdiens dalk nie onmoontlik maak nie, kan dit uiteindelik ’n mens se geluk heeltemal laat verdwyn. Hoe kan sulke persone hulle vreugde behou? Let op na wat ’n paar ervare bedienaars sê.
Bied teleurstellings die hoof
Anny, wat van Switserland af kom, het in 1950 die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon. Sy het uitgesien na ’n buitelandse sendingtoewysing. Anny was teleurgesteld toe sy weer ’n toewysing ontvang het om Bethelwerk in Europa te doen. Maar sy het haar toewysing in die Vertaalafdeling aanvaar en werk nog steeds daar. Hoe het sy haar teleurstelling te bowe gekom? “Daar was en is baie werk wat gedoen moet word. My gevoelens en voorkeure is nie so belangrik soos die werk nie”, verduidelik Anny.
As ons teleurgesteld is met ons toewysing, kan ons Anny se gesindheid probeer aankweek. Ons persoonlike voorkeur is nie van die allergrootste belang nie. Die belangrikste saak is dat al die verantwoordelikhede wat met die verspreiding van die Koninkryksboodskap verband hou goed nagekom word. Spreuke 14:23 sê vir ons dat daar ‘in enige moeitevolle arbeid voordeel is’. Ongeag watter toewysing ons ontvang het, ons getroue uitvoering daarvan dra by tot die volbrenging van die Koninkrykswerk. En ’n mens kan groot tevredenheid—ja, vreugde—uit sulke godgegewe werk put.—Vergelyk 1 Korintiërs 12:18, 27, 28.
Kom met ander oor die weg
Voltydse diens verg noue kontak met allerhande soorte mense—in die veldbediening, by Bethel, in ’n sendinghuis of terwyl ’n reisende opsiener een gemeente ná die ander besoek. Gevolglik is vreugde in groot mate daarvan afhanklik dat ’n mens goed met ander oor die weg kom. Maar die ‘wrede tye’ wat vir hierdie laaste dae voorspel is, plaas groot druk op menseverhoudings. Hoe kan ’n bedienaar dit vermy om sy vreugde te verloor, selfs al het iemand hom ontstel? Ons kan dalk iets by Wilhelm leer.
Wilhelm het in 1947 ’n lid van ’n Bethelgesin in Europa geword. Daarna het hy ’n tyd lank pionierdiens gedoen en as ’n reisende opsiener gedien. “As ek en my vrou dinge sien wat na ons mening nie reg is nie of wat ons persoonlik kwel, vertel ons vir Jehovah hoe ons voel en laat ons sake dan aan hom oor om dit op te los”, verduidelik Wilhelm.—Psalm 37:5.
Miskien word jy gekwel deur die gedrag van ’n mede-Christen wat op ’n oneerbiedige of onbedagsame manier met jou gepraat het. Onthou dat ons almal baie kere in ons spraak struikel (Jakobus 3:2). Gebruik dus eerder hierdie situasie om nader aan die “Hoorder van die gebed” te kom (Psalm 65:3). Praat met Jehovah oor die saak, en laat dit dan in sy hande. As God veranderinge wil aanbring, dan sal hy. Diegene wat in ’n sendinghuis woon, moet dit dalk onthou wanneer spanning in hierdie verband ontstaan, aangesien dit hulle sal help om hulle vreugde in Jehovah se diens te behou.
Wanneer jy swak gesondheid het
Min mense geniet altyd goeie gesondheid. Selfs diegene wat in die so genoemde fleur van hulle lewe is, kan deur depressie of siekte getref word. Swak gesondheid maak dit vir party nodig om hulle voltydse diens te staak, maar daarna doen hulle uitstekende werk as Koninkryksverkondigers. Ander kan egter ondanks swak gesondheid in die voltydse diens voortgaan. Kyk byvoorbeeld na Hartmut en Gislind.
Hartmut en Gislind is ’n egpaar wat al 30 jaar lank aan die pionierdiens, sendingwerk en reisende werk deelneem. Hulle albei het al ernstige siektes gehad wat hulle soms fisies en emosioneel uitgeput het. Hulle het nogtans uitstekende werk gedoen en kon ander aanmoedig wat soortgelyke beproewinge deurmaak. Wat is hulle raad? “Kyk na die toekoms en nie na die verlede nie. Kry die meeste voordeel uit elke situasie. Elke dag bring dalk net een geleentheid om Jehovah te loof. Gebruik daardie geleentheid en geniet dit.”
Beskou die geval van Hannelore. Sy is gedurende haar 30 jaar as ’n pionier, ’n sendeling, in die reisende werk saam met haar man en in Betheldiens herhaaldelik deur siekte geteister. Hannelore sê: “Ek vestig my aandag op die geskil wat Satan geopper het—dat mense Jehovah net dien wanneer dit vir hulle maklik is. Ek kan ’n deel daaraan hê om te bewys dat Satan verkeerd is as ek beproewinge verduur.” Dit kan ’n sterk aansporing wees. Onthou dat jou persoonlike lojaliteit teenoor Jehovah wanneer jy beproef word vir hom belangrik is.—Job 1:8-12; Spreuke 27:11.
Wanneer jy probeer om ’n gebalanseerde besluit te neem wat jou gesondheid betref, kan jy aan twee kenmerke van Jesus Christus se profesie oor die voleinding van die stelsel van dinge dink. Jesus het peste op een plek na die ander voorspel. Hy het ook gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matteus 24:3, 14; Lukas 21:11). Jesus het geweet dat sy volgelinge in die laaste dae deur siekte geteister sou word. Maar hy het besef dat die predikingswerk nie net deur mense met goeie gesondheid gedoen sou word nie, maar ook deur mense wat ernstige siektes het. As ons ondanks swak gesondheid met die voltydse diens kan voortgaan, sal Jehovah die liefde wat ons vir sy naam toon, nie vergeet nie.—Hebreërs 6:10.
Behou jou vreugde ondanks openbare onverskilligheid
Ons gesindheid kan beïnvloed word deur die reaksie van mense op die Koninkrykspredikingswerk. “Selfs pioniers vind dit moeilik om ’n gesprek met ’n huisbewoner aan te knoop”, het een ervare bedienaar gesê. “Ons moet almal hard werk om ons vreugde te behou.” Ja, openbare onverskilligheid kan ons vreugde in die velddiens laat verflou. Hoe kan ’n pionier wat gereeld met ’n gebrek aan belangstelling te doen kry dan sy vreugde behou? Ervare bedienaars gee die volgende beproefde wenke.
Onverskilligheid bied ’n uitdaging, maar dit hoef jou nie onder te kry nie. ’n Algemene gebrek aan belangstelling is op sigself nie ’n rede om die voltydse diens te staak nie. Ons kan ondanks onverskilligheid ons vreugde behou as ons genoeg tyd opsy sit vir ywerige Bybelstudie. Dit ‘rus ons vir elke goeie werk toe’, onder andere om met diegene te praat wat nie na die goeie nuus wil luister nie (2 Timoteus 3:16, 17). Hoewel mense nie na die profeet Jeremia wou luister nie, het dit hom nie laat ophou nie (Jeremia 7:27). Wanneer ons die Bybel met behulp van Christelike publikasies bestudeer, kan ons grootliks baat daarby vind as ons op gedagtes let wat ons geloof versterk en ons help om opgewasse te wees teen onverskilligheid.
Onverskilligheid is weliswaar ’n uitdaging, maar kom ons ondersoek ons gesindheid teenoor dié vir wie ons getuig. Waarom stel hulle nie belang nie? Een rede vir die algemene onverskilligheid in dele van Europa is byvoorbeeld die betreurenswaardige reputasie van valse godsdiens. Mense voel nie meer dat godsdiens ’n plek in hulle lewe het nie, en hulle wil niks daarmee te doen hê nie. Ons moet aanpasbaar wees en met mense praat oor sake wat hulle wel raak, soos werkloosheid, gesondheid, misdaad, onverdraagsaamheid, die omgewing en die bedreiging van oorlog.
In ons eerste woorde aan ’n huisbewoner kan ons iets van plaaslike belang noem. Dit is wat Dietmar probeer doen het toe hy in ’n dorpie getuig het waar hy min sukses gehad het. Een inwoner het vir hom gesê dat daar die vorige dag ’n tragedie op die dorpie was. By elke deur daarna het Dietmar opregte meegevoel uitgespreek. “Skielik het die mense begin praat”, het hy gesê. “Almal het aan die tragedie gedink. Ek het daardie dag talle goeie gesprekke gehad omdat ek in hulle lewe belanggestel het.”
Ons moet vir mense van die Koninkryk getuig waar ons hulle ook al ontmoet. Informele getuieniswerk kan goeie vrugte afwerp, en ons kan onsself leer om hierdie werk te doen deur die wenke in Bybelpublikasies te gebruik. Jy kan vreugde ervaar deur ’n paar vriendelike woorde te wissel of deur eksemplare van die Wagtoring en Ontwaak! by ’n huisbewoner te laat. As ons herbesoeke gedoen het en ’n Bybelstudie met ’n belangstellende persoon begin hou het, kan ons ’n verwysing kry deur te vra: “Ken jy enigiemand anders wat daarvan sal hou om die Bybel te bestudeer?” Dit kan daartoe lei dat nog ’n tuisbybelstudie begin word. Laat ons in elk geval positief wees, biddend op Jehovah vertrou en nie toelaat dat onverskilligheid ons mismoedig maak nie.
Aanmoediging van ander
Jürgen en Christiane neem al meer as 30 jaar aan die pionierdiens en reisende werk deel. Hulle het eenkeer ’n toewysing gehad wat behels het dat hulle in ’n gebied moes getuig waar die meeste mense onverskillig en eiesinnig was. Hoe het Jürgen en sy vrou tog na ’n bietjie aanmoediging gesmag! Maar om die een of ander rede het ander in die gemeente nie ag geslaan op hulle behoefte nie.
Jürgen het dus uit ondervinding geleer dat “party pioniers sukkel. Hulle het meer aanmoediging van ouer manne en ander verkondigers nodig.” God het vir Moses gesê dat hy Josua moet bemoedig en versterk (Deuteronomium 3:26-28). En Christene moet bronne van aanmoediging vir mekaar wees (Romeine 1:11, 12). Koninkryksverkondigers kan voltydse dienaars aanmoedig deur opbouende woorde en deur van tyd tot tyd in die bediening saam met hulle te werk.
Die vreugde van Jehovah —ons vesting
Christene wat die grootste deel van hulle lewe gebruik het as pioniers of sendelinge, in Betheldiens of deur gemeentes in die reisende werk te besoek, het tot die besef gekom dat die meeste probleme van korte duur is, maar dat party langdurig is. Selfs die paar probleme wat skynbaar nooit weggaan nie, moet ons nie van ons vreugde beroof nie. Ramon, wat al meer as 45 jaar in ’n buitelandse toewysing dien, stel voor dat ons, wanneer probleme ons mismoedig laat voel, “aan al die seëninge moet dink wat ons geniet en aan al die duisende ander mense wat groter probleme het”. Ja, ons medegelowiges in die hele wêreld kry swaar, en Jehovah is werklik besorg oor ons almal.—1 Petrus 5:6-9.
As ons persoonlike omstandighede ons dan toelaat om aan die voltydse diens deel te neem en daarmee voort te gaan, laat ons ons vreugde behou deur op ons hemelse Vader te vertrou. Hy versterk sy knegte, en ons moet almal onthou dat ‘die vreugde van Jehovah ons vesting is’.—Nehemia 8:10, NW.
[Prent op bladsy 21]
“My gevoelens en voorkeure is nie so belangrik soos die werk nie”
[Prent op bladsy 22]
‘Ons vertel Jehovah hoe ons voel en laat sake dan aan hom oor’
[Prente op bladsy 23]
“Kry die meeste voordeel uit elke situasie. Elke dag bring dalk net een geleentheid om Jehovah te loof”
[Prent op bladsy 23]
“Ek kan ’n deel daaraan hê om te bewys dat Satan verkeerd is as ek beproewinge verduur”
[Prente op bladsy 24]
“Party pioniers sukkel. Hulle het meer aanmoediging van ouer manne en ander verkondigers nodig”
[Prent op bladsy 24]
‘Ons moet dink aan al die seëninge wat ons geniet’