Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 10/15 bl. 24-27
  • Die goeie nuus van ’n paradys in Tahiti

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die goeie nuus van ’n paradys in Tahiti
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • ’n Klein begin
  • Die werk het vooruitgegaan
  • Tahiti kry ’n takkantoor
  • Daar is nog baie om te doen
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 10/15 bl. 24-27

Die goeie nuus van ’n paradys in Tahiti

TAHITI! Die naam het ’n eksotiese soort aantrekkingskrag. Dit is beroemd gemaak deur kunstenaars en skrywers soos Paul Gauguin, Robert Louis Stevenson en Herman Melville, wie se uitbeeldings van die tropiese skoonheid en rustigheid van die Suidsee-eilande die verbeelding van baie mense aangegryp het.

Tahiti is die grootste eiland van die meer as 120 in Frans-Polinesië in die Stille Suidsee. Hoewel hierdie Suidsee-eiland in die gedagte van die meeste mense amper sinoniem is met die paradys, moet die mense in Tahiti nog steeds hoor van ’n ander paradys wat binnekort gaan kom (Lukas 23:43). Jehovah se Getuies, waarvan daar tans 1918 in Tahiti is, is besig om die 220 000 mense van die goeie nuus te vertel dat God se Koninkryk binnekort ware paradystoestande nie net in Tahiti nie, maar oor die hele aarde sal bring.—Matteus 24:14; Openbaring 21:3, 4.

Die predikingswerk in Tahiti was jare lank onder die toesig van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Fidji, sowat 3500 kilometer hiervandaan. Die geweldige afstand het sake bemoeilik, en die vordering was stadig. Daarom is daar op 1 April 1975 ’n takkantoor in Tahiti gestig, en dit was die keerpunt in die werk van ware Christene in hierdie gebied. Wat het aanleiding gegee tot hierdie gebeurtenis, en hoe het die predikingswerk in Tahiti begin?

’n Klein begin

Die goeie nuus van die Koninkryk is gedurende die dertigerjare vir die eerste keer in Tahiti gehoor, en baie van die eilandbewoners, wat hoë agting vir die Bybel het, het met groot belangstelling daarop gereageer. Maar as gevolg van ’n verbod deur die regering en ander beperkings, was daar teen die laat vyftigerjare nog geen Getuies op die eiland nie. Toe het Agnès Schenck, wat in Tahiti gebore is en in die Verenigde State gewoon het, besluit om saam met haar man en seun na Tahiti terug te keer. Sy verduidelik hoe dit gebeur het.

“By die 1957-streekbyeenkoms in Los Angeles het broer Knorr [destyds die president van die Wagtoringgenootskap] verduidelik dat daar ’n groot behoefte aan Koninkryksverkondigers in Tahiti is. Ek was toe al ’n jaar lank gedoop, en ek het uitgeroep: ‘Kom ons gaan dan Tahiti toe!’ Twee gesinne, die Neills en die Carano’s, wat goed bevriend was met ons, het my gehoor. Hulle het gesê dat hulle graag saam met ons sou gaan, maar ons het nie veel geld gehad nie. My man was lank siek, en my seun was baie jonk. Dit was dus vir ons moeilik om weg te gaan. Getuies in die buurgemeentes het gehoor van ons doelwit en het vir ons geld en huishoudelike ware gestuur. In Mei 1958 het ons toe na Tahiti vertrek met, onder andere, 36 lakens!

“Toe ons in Tahiti aankom, het ek heeltemal verlore gevoel, want ek was 20 jaar lank weg van die eiland. Ons het begin getuig, maar moes versigtig wees omdat ons Christelike werk verbied was. Ons moes die tydskrifte wegsteek, en ons het net die Bybel gebruik. Ons het aanvanklik net vir mense getuig wat reeds intekeninge op die Wagtoring en Ontwaak! gehad het.

“Clyde Neill en David Carano het ná die internasionale byeenkoms in die stad New York in 1958, saam met hulle gesinne, by ons aangesluit. Ons het saam getuig en mense genooi om na toesprake te kom luister wat in die broers se huise gehou is. Dinge het stadig maar seker georganiseerd geraak, en ons het ’n Bybelstudiegroep met 15 mense op die been gebring. Ná drie maande moes die Neills en die Carano’s vertrek omdat hulle toeristevisums verstryk het. Daarom het die broers besluit om al die belangstellendes wat aan die vereistes voldoen te doop voor hulle vertrek. Ek het die voorreg gehad om as die tolk vir die eerste dooptoespraak te dien. By hierdie geleentheid het agt eilandbewoners hulle toewyding aan Jehovah deur doop gesimboliseer. Toe het die Neills en Carano’s na die Verenigde State teruggegaan.

“Die predikingswerk het voortgegaan. Ons het ons in klein groepies georganiseer en het mense saans besoek. Gesprekke met belangstellendes het dikwels tot middernag geduur. Soms het selfs Protestantse leraars saam gesels. Teen 1959 is die eerste gemeente gestig. Toe, in 1960, het die regering tot ons groot vreugde die organisasie van Jehovah se Getuies amptelik erken. Daardie vroeë jare was vol vreugde en geestelike hoogtepunte. Jehovah het werklik ons besluit om te verhuis na waar hulp nodig was, geseën.” Suster Schenck is nou 87 jaar oud, en sy dien Jehovah nog steeds getrou in haar gemeente.

Die werk het vooruitgegaan

In 1969 is twee Getuies uit Frankryk, Jacques en Paulette Inaudi, as spesiale pioniers na Tahiti gestuur. Jacques onthou: “Toe ons in Tahiti aangekom het, was daar net 124 verkondigers, een gemeente in Papeete en twee spesiale pioniers in Vairao, op die skiereiland.” Die skiereiland word deur ’n landengte aan Tahiti verbind. Die “Vrede op Aarde”- Internasionale Byeenkoms sou binnekort gehou word. “Dit was die eerste keer dat ek ’n byeenkoms moes organiseer”, vertel Jacques verder. “Ons moes reëlings tref vir ’n Engelse sessie vir die besoekers, ’n orkes vir die Koninkryksliedere saamstel en twee dramas oefen. Al hierdie werk is deur net 126 verkondigers gedoen. Ek is seker dat Jehovah die grootste deel daarvan gedoen het.” Die eilandbewoners was verheug oor die opkoms van 488. Dit was vir baie van hulle die eerste keer dat hulle mede-Getuies uit ander lande ontmoet het.

Kort daarna is Jacques Inaudi as die reisende opsiener aangestel. Terwyl hy die verskillende eilande besoek het, het hy gesien dat daar baie belangstelling was, maar min Koninkryksverkondigers om dit verder te kweek. “Gevolglik het ek baie gesinne aangespoor om na daardie eilande te verhuis en te dien waar hulp nodig was”, verduidelik Jacques. “Langsamerhand het die goeie nuus dus na daardie eilandgroepe versprei.” Broer Inaudi het van 1969 tot 1974 as ’n reisende opsiener gedien, en vandag is hy ’n ouer man in een van die gemeentes in Tahiti.

Een van dié wat gehoor gegee het aan broer Inaudi se aanmoediging was Auguste Temanaha, een van die agt persone wat in 1958 gedoop is. Hy vertel wat gebeur het. “In 1972 het die kringopsiener, Jacques Inaudi, ons aangespoor om daaraan te dink om te verhuis en in Huahine, een van die Benedewindse eilande in die Genootskapseilande te gaan dien. Ek was huiwerig omdat ek nog net Bybelleesgedeeltes in die gemeente behartig het en nie gevoel het dat ek bevoeg is om so ’n verantwoordelikheid te ontvang nie. Maar broer Inaudi het die hele tyd vir my gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie, jy kan dit doen!’ Na ’n ruk het ons besluit. Gevolglik het ons in 1973 alles verkoop en met ons drie jong kinders na Huahine gegaan.

“Toe ons daar aankom, het ek gevind dat ek met alles moes begin—die Wagtoring-studie, die Teokratiese Bedieningskool, ensovoorts. Dit was nie maklik nie, maar Jehovah het ons beskerm en gehelp. Hy het ons etlike kere gehelp om ’n blyplek te kry. En toe ’n groep teenstanders probeer om die Getuies van die eiland af te kry, het ’n plaaslike politikus vir ons opgekom en ons verdedig. Jehovah het beslis destyds oor ons wag gehou.” Nou is daar twee gemeentes in Huahine—’n Franse gemeente met 23 verkondigers en ’n Tahitiaanse gemeente met 55 verkondigers.

In 1969 is Hélène Mapu gestuur om as ’n spesiale pionier op die skiereiland te werk. “Daar was baie belangstelling op die skiereiland, en ek het sommer gou ’n hele klomp Bybelstudies begin”, sê Hélène. ’n Gemeentetjie is kort voor lank in Vairao gestig, maar ouer manne was nodig. Mettertyd kon Colson Deane, wat 35 kilometer daarvandaan in Papara gewoon het, help. “Ons moes goed georganiseer wees om in Vairao te kon dien”, vertel broer Deane. “Ek het in Faaa, 70 kilometer van Vairao af, aan die ander kant van die eiland, gewerk. Ná werk moes ek huis toe jaag, my gesin oplaai en dan na Vairao toe ry. Later moes ons ter wille my werk na Faaa verhuis. Sou ons nog steeds die Vairao-gemeente kon help? Ons wou die broers daar werklik baie graag help, en ons het besluit om daarmee voort te gaan. Op vergaderingaande het ons selde voor middernag tuisgekom, want ons moes ’n hele paar draaie ry om dié wat nie motors gehad het nie huis toe te neem. Ons het dit vyf jaar lank gedoen. Dit is nou baie verblydend om te sien dat daar vier gemeentes in hierdie deel van die eiland is, en ons het goeie herinneringe aan daardie dae.”

Tahiti kry ’n takkantoor

Teen 1974 het die getal Koninkryksverkondigers in Tahiti tot 199 toegeneem. Die volgende jaar, toe N. H. Knorr en F. W. Franz, destyds die president en visepresident van die Wagtoringgenootskap, Frans-Polinesië besoek het, het hulle gesien dat dit praktieser sou wees as die toesig oor die predikingswerk in Frans-Polinesië, nie uit Fidji, meer as 3500 kilometer hiervandaan, kom nie, maar uit Tahiti. Gevolglik het die Tahiti-takkantoor op 1 April 1975 begin funksioneer, en die kringopsiener, Alain Jamet, is as die takopsiener aangestel.

’n Paar jaar gelede het broer Jamet van die wonderlike seëninge van Jehovah vertel. “Sedert 1975 is ’n groot poging aangewend om die goeie nuus na al die eilande en eilandgroepe in ons gebied te neem, ’n streek so groot soos die hele Wes-Europa. Die resultate was verblydend. Teen 1983 het die getal verkondigers tot 538 toegeneem. Daardie jaar is ’n gebou vir ’n takkantoor en Bethelhuis in Paea opgerig. Nou is daar ongeveer 1900 verkondigers in ongeveer 30 gemeentes in die Genootskapseilande, een gemeente en een afgesonderde groep in die Suidelike eilande, een gemeente en twee afgesonderde groepe in die Marquesas-eilande en etlike afgesonderde groepe in die Tuamotu-argipel en die Gambier-eilande. Talle nuwe Koninkryksale word gebou—drie in die Marquesas-eilande en sewe in Tahiti—om na die immer toenemende aantal nuwelinge om te sien wat na die vergaderinge kom. In die afgelope 20 jaar het Jehovah waarlik ons pogings in die Tahitiaanse veld geseën.”

Daar is nog baie om te doen

In Frans-Polinesië is die potensiaal vir groei uitstekend. Op 23 Maart 1997 het sowat 5376 mense dwarsdeur Frans-Polinesië saam met Jehovah se Getuies vergader vir die herdenking van die dood van Jesus Christus. Om in die geestelike behoeftes van hierdie belangstellendes te voorsien, word ons Bybelpublikasies in verskeie van die plaaslike tale beskikbaar gestel. Buiten in Tahitiaans word lektuur voorberei in Puamotu, wat in die Tuamotu-argipel gepraat word, en in Noord- en Suid-Marquesaans.

Die bestendige groei en die uitstekende ondervindinge het die Koninkryksverkondigers in Tahiti gehelp om groter waardering te hê vir die liefde en geduld van Jehovah, “wie se wil dit is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”, selfs in die afgeleë eilande van die Suidsee (1 Timoteus 2:4). Jehovah se Getuies in Tahiti en die ander eilande van Frans-Polinesië het volle vertroue in Jehovah se belofte: “Op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop.”—Jesaja 51:5.

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die Tahiti-takkantoor sien om na die behoeftes van Frans-Polinesië

AUSTRALIË

[Prent op bladsy 25]

Van links na regs: Alain Jamet, Mary-Ann Jamet, Agnès Schenck, Paulette Inaudi en Jacques Inaudi

[Prent op bladsy 27]

Tahiti-takkantoor

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel