Die oorsprong van die hedendaagse kersfees
VIR miljoene mense in alle wêrelddele is Kerstyd ’n baie vreugdevolle tyd van die jaar. Dit is ’n tyd van heerlike maaltye, eeue oue tradisies en familiesamesyn. Die Kersvakansie is ook ’n tyd wanneer vriende en familielede dit geniet om kaartjies en geskenke vir mekaar te gee.
Net 150 jaar gelede is Kersfees egter baie anders gevier. In sy boek The Battle for Christmas skryf geskiedenisprofessor Stephen Nissenbaum: “Kersfees . . . was ’n tyd van strawwe drinkery en wanneer die reëls wat mense se openbare gedrag gerig het tydelik laat vaar is ten gunste van ’n bandelose ‘karnaval’, ’n soort Mardi Gras in Desember.”
Vir diegene wat eerbiedige ontsag vir Kersfees het, is hierdie beskrywing dalk ontstellend. Waarom sou enigiemand ’n feesdag ontheilig wat veronderstel is om die geboorte van God se Seun te herdenk? Die antwoord sal jou moontlik verbaas.
’n Gebrekkige grondslag
Sedert Kersfees sy ontstaan in die vierde eeu gehad het, was dit nog altyd die middelpunt van polemiek. Daar was byvoorbeeld die kwessie van Jesus se geboortedag. Aangesien die Bybel nie die dag of die maand van Christus se geboorte spesifiseer nie, is ’n verskeidenheid datums voorgestel. In die derde eeu het een groep Egiptiese teoloë dit op 20 Mei gestel terwyl ander ten gunste van vroeër datums was, soos 28 Maart, 2 April of 19 April. Teen die 18de eeu is Jesus se geboorte al met elke maand van die jaar verbind! Hoe het dit dan gekom dat 25 Desember uiteindelik gekies is?
Die meeste geleerdes is dit eens dat die Katolieke Kerk op 25 Desember besluit het as Jesus se geboortedag. Waarom? “Die waarskynlikste rede”, sê The New Encyclopædia Britannica, “is dat vroeë Christene wou hê dat die datum moes ooreenkom met die heidense Romeinse fees wat die ‘geboortedag van die onoorwonne son’ gevier het.” Maar waarom sou Christene wat langer as twee en ’n half eeue wreed vervolg is deur die heidene skielik aan hulle vervolgers toegee?
Verdorwenheid word ingevoer
In die eerste eeu het die apostel Paulus Timoteus gewaarsku dat “goddelose mense en bedrieërs” in die Christengemeente sou insluip en baie sou mislei (2 Timoteus 3:13). Hierdie groot afval het ná die dood van die apostels begin (Handelinge 20:29, 30). Ná die sogenaamde bekering van Konstantyn in die vierde eeu het baie heidene gestroom na die vorm van die Christelike godsdiens wat toe algemeen was. Wat was die gevolg? Die boek Early Christianity and Paganism sê: “Die betreklike klein groepie waarlik opregte gelowiges het in die groot menigte voorgewende Christene verdwyn.”
Hoe waar was Paulus se woorde tog! Dit was asof die ware Christelike godsdiens deur heidense verdorwenheid verslind is. En nêrens was hierdie besmetting duideliker as in die viering van feesdae nie.
Die enigste viering wat Christene in werklikheid beveel is om te hou, is die Here se Aandmaal (1 Korintiërs 11:23-26). As gevolg van die afgodiese gebruike wat met die Romeinse feeste gepaardgegaan het, het die vroeë Christene nie daaraan deelgeneem nie. Om hierdie rede het derde-eeuse heidene die Christene verwyt en gesê: “Julle besoek nie uitstallings nie; julle stel glad nie belang in openbare vertonings nie; julle verwerp die openbare feesmaaltye en verafsku die heilige gevegte.” Die heidene daarenteen het gespog: “Ons aanbid die gode met vrolikheid, met feeste, sang en spele.”
Teen die middel van die vierde eeu het hulle ontevredenheid afgeneem. Hoe so? Namate al hoe meer valse Christene in die kudde ingesluip het, het afvallige idees vermenigvuldig. Dit het tot kompromisse met die Romeinse wêreld gelei. Die boek The Paganism in Our Christianity lewer kommentaar hieroor en sê: “Dit was ’n besliste Christelike beleid om die heidense feeste oor te neem wat deur tradisie by mense gelief gemaak is en dit ’n Christelike betekenis te gee.” Ja, die groot afval het sy tol geëis. Die bereidwilligheid van die sogenaamde Christene om heidense vieringe aan te neem, het hulle nou aanvaarbaarder vir die gemeenskap gemaak. Kort voor lank het die Christene net soveel jaarlikse feeste as die heidene gehad. Dit is glad nie verbasend dat Kersfees die belangrikste van hulle was nie.
’n Internasionale feesdag
Namate die oorheersende vorm van die Christelike godsdiens deur Europa versprei het, het die viering van Kersfees ook uitgebrei. Die Katolieke Kerk het die standpunt ingeneem dat dit gepas was om die voortbestaan van ’n vreugdevolle fees ter ere van Jesus se geboortedag te bevorder. Gevolglik het die Konsilie van Tours in 567 G.J. “die 12 dae vanaf Kersfees tot Driekoningedag as heilige dae en ’n feestyd verklaar”.—The Catholic Encyclopedia for School and Home.
Kersfees het gou baie kenmerke van die heidense oesfeeste van Noord-Europa oorgeneem. Feesvieringe was algemener as vroomheid aangesien fuiwers hulle aan vraatsugtige etery en drinkery oorgegee het. Pleks van die losbandige gedrag te veroordeel, het die kerk dit goedgekeur. (Vergelyk Romeine 13:13; 1 Petrus 4:3.) In 601 G.J. het pous Gregorius I aan Mellitus, sy sendeling in Engeland, geskryf en vir hom gesê om “nie ’n einde te maak aan sulke ou heidense feesvieringe nie, maar hulle aan te pas by die ritusse van die Kerk en net die rede daarvoor van ’n heidense na ’n Christelike beweegrede te verander”. So vertel Arthur Weigall, wat vroeër inspekteur-generaal van oudhede vir die Egiptiese regering was.
Gedurende die Middeleeue het persone wat ten gunste van hervorming was dit nodig geag om hulle teen sulke oordadighede uit te spreek. Hulle het talle verordeninge uitgevaardig teen “die misbruike van Kersvieringe”. Dr. Penne Restad sê in haar boek Christmas in America—A History: “Party geestelikes het beklemtoon dat die gevalle mensdom ’n tyd van ongebondenheid en oordadigheid nodig het, solank dit onder Christelike toesig gedoen word.” Dit het slegs tot die verwarring bygedra. Maar dit het eintlik nie saak gemaak nie, want heidense gebruike was reeds so deel van Kersfees dat die meeste mense onwillig was om daarvan af te sien. Die skrywer Tristram Coffin stel dit soos volg: ‘Mense oor die algemeen het net gedoen wat hulle nog altyd gedoen het en het min aandag geskenk aan die debatte van die moraliste.’
Teen die tyd dat Europeërs hulle in die Nuwe Wêreld begin vestig het, was Kersfees ’n welbekende feesdag. Kersfees is egter nie in die kolonies aanvaar nie. Puriteinse hervormers het die viering as heidens beskou en het dit tussen 1659 en 1681 in Massachusetts verbied.
Nadat die verbod opgehef is, het die viering van Kersfees in al die kolonies toegeneem, veral suid van Nieu-Engeland. Met die oog op die feesdag se verlede is dit egter nie verbasend dat dit vir party belangriker was om plesier te hê as om God se Seun te eer nie. Een Kersgebruik wat veral ontwrigtend was, was een wat groot gefuif ingesluit het. Luidrugtige groepe jong manne het by die huise van ryk bure ingegaan en gratis voedsel en drank geëis deur hulle met poetse te dreig. As die huisbewoner geweier het, is hy gewoonlik gevloek, en soms is sy huis verniel.
In die 1820’s het toestande so versleg dat “wangedrag tydens Kerstyd ’n ernstige sosiale bedreiging” geword het, sê professor Nissenbaum. In stede soos New York en Philadelphia het ryk grondeienaars wagte begin huur om hulle eiendom op te pas. Daar word selfs gesê dat die stad New York sy eerste professionele polisiemag georganiseer het as gevolg van ’n drinkparty wat gewelddadig geraak het gedurende die Kerstyd van 1827/28!
Die hernuwing van Kersfees
Die 19de eeu het ongeëwenaarde veranderinge vir die mensdom teweeggebring. Namate ’n netwerk van paaie en spoorweë verskyn het, het die tempo waarteen mense gereis het, goedere vervoer is en nuus versprei het, begin versnel. Die industriële revolusie het miljoene werksgeleenthede geskep, en fabrieke het ’n groot en bestendige voorraad handelsware geproduseer. Industrialisasie het ook tot nuwe en komplekse sosiale probleme gelei, wat uiteindelik die manier waarop Kersfees gevier is, beïnvloed het.
Mense gebruik vakansiedae al lank as ’n manier om familiebande te versterk, en dieselfde geld vir Kersfees. Deur party van die ouer Kerstradisies selektief te wysig, het die voorstanders van Kersfees dit van ’n wilde, karnavalagtige fees in ’n familiegeoriënteerde vakansiedag verander.
Trouens, teen die laat 19de eeu het mense Kersfees as ’n soort teenmiddel teen die euwels van die moderne Amerikaanse lewe begin beskou. “Van al die vakansiedae”, sê dr. Restad, “was Kersfees ’n volmaakte instrument om godsdiens en ’n godsdienssin in die huis in te bring en om die onmatighede en tekortkominge van die openbare wêreld reg te stel.” Sy sê verder: “Die gee van geskenke, blyke van welwillendheid, selfs die vriendelike wisseling van Kersgroete en die versiering en genot van ’n immergroen boom in die sitkamer of later in ’n Sondagskool-saal het lede van elke gesin aan mekaar, die kerk en die gemeenskap verbind.”
Baie vier Kersfees vandag eweneens as ’n manier om hulle liefde vir mekaar te bevestig en familie-eenheid te help behou. Die geestelike dimensies moet natuurlik nie oor die hoof gesien word nie. Miljoene mense vier Kersfees ter ere van Jesus se geboorte. Hulle woon moontlik spesiale kerkdienste by, rig afbeeldings van Christus se geboorte by hulle huis op of doen dankgebede tot Jesus self. Maar hoe beskou God die saak? Dra hierdie dinge sy goedkeuring weg? Let op wat die Bybel sê.
“Julle moet die waarheid en die vrede liefhê”
Terwyl Jesus op die aarde was, het hy vir sy volgelinge gesê: “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Jesus het in ooreenstemming met hierdie woorde gelewe. Hy het altyd die waarheid gepraat. Hy het sy Vader, “Jehovah, die God van waarheid”, volmaak nagevolg.—Psalm 31:5, NW; Johannes 14:9.
Deur die bladsye van die Bybel het Jehovah dit duidelik gemaak dat hy alle vorme van bedrog haat (Psalm 5:7). Is dit nie in die lig hiervan ironies dat soveel gebruike wat met Kersfees geassosieer word op leuens gegrond is nie? Dink byvoorbeeld aan die sprokie van Sinterklaas. Het jy al ooit vir ’n kind probeer verduidelik waarom Sinterklaas verkies om deur die skoorsteen in te kom en nie by ’n deur nie, soos algemeen geglo word in baie lande? En hoe is dit vir Sinterklaas moontlik om soveel miljoene huise op net een aand te besoek? Wat van vlieënde rendiere? Ondermyn dit nie ’n kind se vertroue in sy ouers wanneer hy uitvind dat hy mislei is om te glo dat Sinterklaas ’n werklike persoon is nie?
The Catholic Encyclopedia sê eenvoudig: “Heidense gebruike . . . het in Kersfees ingesluip.” Waarom hou die Katolieke Kerk en ander kerke van die Christendom dan aan om ’n feesdag te ondersteun waarvan die gebruike nie ’n Christelike oorsprong het nie? Dui dit nie op ’n vergoeliking van heidense leringe nie?
Terwyl Jesus op die aarde was, het hy mense nie aangemoedig om hom te aanbid nie. Jesus self het gesê: “Dit is Jehovah jou God wat jy moet aanbid, en dit is aan hom alleen wat jy heilige diens moet verrig” (Matteus 4:10). Ná Jesus se hemelse verheerliking het ’n engel eweneens vir die apostel Johannes gesê: “Aanbid God”, wat toon dat niks verander het wat hierdie aangeleentheid betref nie (Openbaring 19:10). Dit gee aanleiding tot die vraag: Sou Jesus al die aanbidding en verering goedkeur wat gedurende Kerstyd tot hom, en nie tot sy Vader nie, gerig word?
Dit is duidelik dat die feite oor die hedendaagse Kersfees dit glad nie in ’n gunstige lig stel nie. Dit is hoofsaaklik ’n versinde feesdag met baie getuienis wat op ’n verdorwe verlede dui. Miljoene Christene het gevolglik op grond van hulle gewete besluit om nie Kersfees te vier nie. ’n Jeugdige met die naam Ryan sê byvoorbeeld aangaande Kersfees: “Mense raak so opgewonde oor ’n paar dae per jaar wanneer die familie bymekaarkom en almal gelukkig is. Maar wat is so spesiaal daaromtrent? My ouers gee my die hele jaar deur geskenke!” ’n Ander jeugdige, ’n 12-jarige, sê: “Ek voel nie asof ek iets ontsê word nie. Ek ontvang regdeur die jaar geskenke, nie net op een spesiale dag wanneer mense verplig voel om geskenke te koop nie.”
Die profeet Sagaria het mede-Israeliete aangemoedig om ‘die waarheid en die vrede lief te hê’ (Sagaria 8:19). As ons, soos Sagaria en ander getroue manne van die ou tyd, ‘die waarheid liefhet’, moet ons dan nie enige valse godsdiensvieringe vermy wat die “lewende en ware God”, Jehovah, oneer aandoen nie?—1 Tessalonisense 1:9.
[Prent op bladsy 7]
“Ek voel nie asof ek iets ontsê word nie. Ek ontvang regdeur die jaar geskenke”