Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 12/15 bl. 8-10
  • Hulle het ‘waarheid gekoop’!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle het ‘waarheid gekoop’!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Aangetrek deur Bybelleringe
  • Oortuig jouself van die waarheid
  • Ontnugter deur valse godsdiens
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 12/15 bl. 8-10

Hulle het ‘waarheid gekoop’!

“KOOP waarheid en verkoop dit nie” (Spreuke 23:23). Dit is ’n vermaning wat die wyse man Salomo gegee het. Hoewel dit moontlik vir die waarheid oor die algemeen geld, is dit veral van toepassing op die waarheid wat in God se Woord, die Bybel, gevind word. Hierdie waarheid kan tot die ewige lewe lei! (Johannes 17:3, 17). Maar let daarop dat dit iets van ’n mens sal verg om hierdie waarheid te verkry. Jy moet gewillig wees om dit te “koop”, dit wil sê om iets op te offer of prys te gee om dit te verkry. (Vergelyk Matteus 13:45, 46.) Oor die algemeen is mense nie gewillig om dit te doen nie. Maar in baie lande koop ’n toenemende aantal moedige mense Bybelwaarheid—en dikwels verg dit ’n groot opoffering van hulle.

Neem byvoorbeeld Jehovah se Getuies in die Wes-Afrikaanse land Ghana. Teen Junie 1989 was daar meer as 34 000 mense in daardie land wat Bybelwaarheid aangeneem en dit daadwerklik aan ander verkondig het. Toe is die openbare predikingswerk wetlik beperk. Opregtes van hart het nietemin aangehou om ‘waarheid te koop’—ten spyte van wetlike beperkings. Die verbod is op 31 Oktober 1991 opgehef, en teen die middel van 1995, net drie en ’n half jaar nadat daardie beperkings opgehef is, het die getal bedrywige Getuies van Jehovah in Ghana tot 46 104 toegeneem! En hierdie jaar het die getal tot meer as 52 800 gestyg.

Wat het mense tot die waarheid van God se Woord aangetrek? Watter opofferinge moes sommige maak om ‘waarheid te koop’? Ons kry die antwoord as ons na die ondervindinge van drie Ghanese Christene kyk.

Aangetrek deur Bybelleringe

Laat ons eerste kyk na ’n vrou in haar vroeë twintigerjare. Haar vader was ’n pastoor, maar sy het gekies om haar vader se godsdiens te verlaat. Die rede? Haar liefde vir waarheid.

Sy het eenkeer verduidelik: “Die Getuies het gewoonlik na ons huis gekom terwyl hulle van huis tot huis gewerk het. Ná ’n paar besprekings met hulle het ek besef dat hulle leringe op die Bybel gegrond is. Ek het vrae gestel oor onderwerpe soos die Drie-eenheid, helse vuur, onsterflikheid van die siel en veral oor geloofsgenesing. Ek het vas geglo dat hierdie leerstellings in die Bybel is. Maar die Getuies het my gehelp om te sien dat dit nie die geval is nie.”—Sien asseblief Markus 13:32; Romeine 6:23; Handelinge 10:40 en 1 Korintiërs 13:8-10, wat die Bybel se beskouing oor hierdie onderwerpe sal aandui.

Die jong vrou het bygevoeg: “Maar my familie het my kwaai teëgestaan, veral my vader. Hy het gemeen dat ek mislei word. Maar ek het geweet dat wat ek by Jehovah se Getuies leer die waarheid is. Ek het my vader hierdie dinge in die Bybel probeer wys, maar hy wou nie luister nie. Trouens, die teenstand het vererger.

“Ek het my egter nie laat afskrik nie. Ek het geweet dat slegs juiste kennis tot die ewige lewe in die Paradys lei, en ek was vasbeslote om daaraan vas te hou. Toe die plaaslike Getuies hoor voor watter probleme ek te staan gekom het, het hulle my liefdevol gehelp deur my te bemoedig en my van sekere noodsaaklikhede te voorsien. Dit het my die belangrikheid van Jesus se woorde in Johannes 13:35 laat besef: ‘Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.’ My oortuiging dat Jehovah se Getuies die ware godsdiens beoefen, is versterk. Toe my ouers later opmerk dat ek my lewe ten goede verander het, het hulle gehou van wat hulle gesien het, en hulle gesindheid teenoor my het verander—in so ’n mate dat my vader die Getuies gevra het om ’n Bybelstudie met my ouer broer te hou!”

Oortuig jouself van die waarheid

Om ‘waarheid te koop’, is ook ’n uitdaging vir party jongmense wat deur Getuie-ouers grootgemaak word. Sommige jeugdiges is geneig om die waarheid van die Bybel as vanselfsprekend aan te neem. As hulle hierdie waarhede nie hulle eie maak nie, is hulle geloof geneig om swak, oppervlakkig, te wees. (Vergelyk Matteus 13:20, 21.) Nathaniel, ’n Ghanese man in sy dertigerjare, vertel hoe hy ‘waarheid gekoop’ het toe hy nog jonk was.

“My ouers het my van kleins af die Bybel geleer”, sê hy. “Namate ek grootgeword het, het ek hulle in die predikingswerk vergesel, maar ek het toe nog nie werklik besluit om ’n Getuie te word nie. Met verloop van tyd het ek begin besef dat ek dinge self moet ondersoek.

“Eerstens moes ek daarvan oortuig wees dat die Bybel God se Woord is en geen ander heilige godsdiensboek nie. Ek het deur middel van persoonlike studie geleer dat dit die enigste heilige boek is wat tallose duidelike profesieë bevat wat noukeurig vervul is. Ek het ook geleer dat die Bybel ’n aantal wetenskaplike waarhede bevat—soos dat die aarde ‘aan niks hang’ (Job 26:7, NW). Hierdie woorde is neergeskryf duisende jare voordat wetenskaplikes van ons sonnestelsel geweet het. Net God kon manne inspireer om sulke dinge te skryf!a

“Daarna wou ek uitvind watter godsdiensorganisasie die waarhede in die Bybel leer en toepas. Die meeste godsdienste glo aan ’n helse vuur, die Drie-eenheid en ’n onsterflike siel wat ná die dood voortleef. Maar hierdie leerstellings het vir my geen sin gemaak nie. Ek het geredeneer: Sou dit nie ’n goddelose vader wees wat sy kind se hand in ’n pot kokende water hou om hom te straf nie? Hoe sou ’n God van liefde dan sy kinders in ’n brandende hel kon gooi en hulle laat ly? Wat Jehovah se Getuies leer, is egter in ooreenstemming met Bybeltekste soos Romeine 6:23, wat sê: ‘Die loon wat die sonde betaal, is die dood’—nie die een of ander brandende hel nie. Dít het vir my sin gemaak.

“Ek het ook gesien dat Jehovah se Getuies van al hulle lede verwag om volgens die Bybel se standaarde te lewe en dat hulle almal uitsit wat sonde onberouvol beoefen. In die lig van al hierdie dinge het ek tot die slotsom gekom dat Jehovah se Getuies die waarheid het, en ek het self besluit om een van hulle te word. Ek het hard gewerk om aan die vereistes te voldoen sodat ek as ’n Getuie gedoop kon word.”—1 Korintiërs 5:11-13.

Nathaniel se ondervinding lig duidelik toe dat selfs jongmense wat deur Christenouers grootgemaak word ‘waarheid moet koop’. Hulle moenie bloot gemeentelike vergaderinge bywoon nie. Soos die eertydse Bereane moet hulle “die Skrif daagliks sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so” is (Handelinge 17:11). Dit verg tyd en inspanning, maar dit kan vaste geloof en oortuiging tot gevolg hê.—Vergelyk Efesiërs 3:17-19.

Ontnugter deur valse godsdiens

’n Ghanese man met die naam Godwin was amper 70 toe hy die Presbiteriaanse Kerk en ’n Vrymesselaarslosie verlaat het. “Daar het dinge in die kerk aangegaan wat vir my onaanvaarbaar was”, sê Godwin. “Daar was byvoorbeeld baie onderlinge twiste, en dit gaan nog steeds voort. Soms moes die polisie vrede en orde kom herstel! Ek het gemeen dat dit onvanpas is vir volgelinge van Christus. Toe het daar ’n probleem tussen my en ’n mede-Presbiteriaan ontstaan. ’n Geregshof het die saak verhoor en die ander man skuldig bevind. Die leraar het egter op onregverdige wyse vir dié man kant gekies en wou my voor die hele gemeente berispe! Ek het hom goed die waarheid vertel en uit die kerk uitgeloop—en nooit weer teruggekeer nie.

“Na ’n ruk het Jehovah se Getuies my tuis besoek. Ek het aanvanklik net geluister omdat ek nie mense wou wegwys wat oor God praat nie. Maar ek het begin agterkom dat ek maar min van die Bybel weet, hoewel ek dekades lank ’n Presbiteriaan was. Ek het byvoorbeeld nooit geweet dat die Bybel ons die hoop gee om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe nie.b En toe ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon het, het hulle maniere, en veral die kleredrag en persoonsversorging van die jongmense onder hulle, my baie beïndruk. Dié mense het werklik volgens Bybelbeginsels gelewe!”

Om ‘waarheid te koop’, het nietemin vereis dat hy pynlike aanpassings in sy lewe maak. Godwin vertel: “Ek was ’n lid van ’n Vrymesselaarslosie. En hoewel dit bekend staan as ’n broederbond wat aan sy lede hulp verleen, het ek daar tydens rituele gesien hoe skedels en beendere gebruik en geeste opgeroep word. Hierdie geeste help blykbaar diegene op wie hulle ’n invloed het om geestelik te ontwikkel.

“My studie het my gehelp om te sien dat Jehovah God enige betrokkenheid by spiritisme haat omdat dit ’n mens onder die invloed van Satan en sy bose geesmagte kan bring.c Sou ek ’n lid van die Vrymesselaarslosie met al sy geheimsinnigheid bly, of sou ek dit verlaat en Jehovah behaag? Ek het laasgenoemde gekies. Al my Vrymesselaarstoebehore het ek vernietig, selfs die pak klere wat ek vir Losievergaderinge gebruik het. Ek het die waarheid van Jesus se belofte ondervind toe hy gesê het: ‘Die waarheid sal julle vrymaak’! (Johannes 8:32). Nou verkondig ek die dinge wat ek geleer het vreugdevol aan ander. Ek is geensins spyt nie.”

Derduisende opregtes van hart het eweneens groot opofferinge gemaak om ‘waarheid te koop’. Soos die drie Christene wat hier bespreek is, is hulle glad nie spyt oor die veranderinge wat hulle gemaak het nie. Bybelwaarheid het hulle “’n voortreflike fondament vir die toekoms [gegee] . . . sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry” (1 Timoteus 6:19). Daardie “werklike lewe” en al die seëninge wat daarmee gepaardgaan, kan ook tot in ewigheid joune wees as jy ‘waarheid sal koop’.

[Voetnote]

a Sien die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir verdere inligting.

b Sien byvoorbeeld Psalm 37:9-11, 29.

c Sien Deuteronomium 18:10-12 en Galasiërs 5:19-21.

[Prent op bladsy 9]

Nathaniel

[Prent op bladsy 9]

Godwin

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel