’n Vaste grondslag vir optimisme vandag
DIE geskiedkundige en sosioloog H. G. Wells, wat in 1866 gebore is, het ’n kragtige invloed op 20ste-eeuse denke uitgeoefen. Deur sy geskrifte het hy sy oortuiging uiteengesit dat die millennium met die vooruitgang van die wetenskap sou saamval. Daarom praat Collier’s Encyclopedia van Wells se “onbeperkte optimisme” terwyl hy onverpoos gewerk het om sy saak te bevorder. Maar dit toon ook dat sy optimisme verpletter is toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het.
Namate Wells tot die besef gekom het dat “die wetenskap ten kwade én ten goede kan werk, het hy geloof verloor en in pessimisme verval”, sê die Chambers’s Biographical Dictionary. Waarom het dit gebeur?
Wells se geloof en optimisme was uitsluitlik op menslike prestasies gegrond. Toe hy besef het dat die mens nie sy Utopia tot stand kon bring nie, was daar niks anders waartoe hy hom kon wend nie. Wanhoop het gou in pessimisme verander.
Vandag ondervind baie mense iets soortgelyks om dieselfde rede. Hulle loop oor van optimisme terwyl hulle jonk is, maar verval in droefgeestige pessimisme namate hulle ouer word. Daar is selfs jongmense wat die sogenaamde normale lewenswyse laat vaar en hulle oorgee aan dwelmmisbruik, promiskuïteit en ander verwoestende lewenstyle. Wat is die oplossing? Beskou die volgende voorbeelde uit Bybeltye en let op watter grondslag daar vir optimisme is—wat die verlede, die hede en die toekoms betref.
Abraham se optimisme word beloon
In die jaar 1943 v.G.J. het Abraham uit Haran getrek, die Eufraatrivier oorgesteek en die land Kanaän ingegaan. Abraham is al beskryf as ‘die vader van almal wat geloof het’, en wat ’n goeie voorbeeld het hy tog gestel!—Romeine 4:11.
Abraham was vergesel van Lot, die verweesde seun van Abraham se broer, en Lot se gesin. Later, toe hongersnood die land getref het, het die twee gesinne na Egipte verhuis, en na verloop van tyd het hulle saam teruggekeer. Teen dié tyd het Abraham sowel as Lot groot rykdom versamel, asook vee en beeste. Toe ’n twis tussen hulle veewagters ontstaan het, het Abraham die inisiatief geneem en gesê: “Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.”—Genesis 13:8, 9.
Abraham, as die ouer persoon, kon sake tot sy voordeel gereël het, en Lot kon, uit respek vir sy oom, Abraham eerste laat kies het. In plaas daarvan het “Lot sy oë [opgeslaan] en [gesien] dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies.” Met so ’n keuse het Lot alle rede gehad om optimisties te wees. Maar wat van Abraham?—Genesis 13:10, 11.
Het Abraham onverskillig gehandel en die welsyn van sy gesin op die spel geplaas? Nee. Abraham se positiewe gesindheid en ruimhartige gees het goeie vrugte afgewerp. Jehovah het vir Abraham gesê: “Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.”—Genesis 13:14, 15.
Abraham se optimisme het ’n vaste grondslag gehad. Dit was gegrond op God se belofte dat hy Abraham ’n groot nasie sou maak sodat “al die geslagte van die aarde [in Abraham] geseën” sal word (Genesis 12:2-4, 7). Ons het ook rede om vol vertroue te wees, want ons weet dat “God al sy werke ten goede laat saamwerk vir dié wat God liefhet”.—Romeine 8:28.
Twee optimistiese verkenners
Meer as 400 jaar later het die nasie Israel gereed gestaan om Kanaän in te gaan, “’n land wat oorloop van melk en heuning” (Exodus 3:8; Deuteronomium 6:3). Moses het 12 owerstes aangestel om ‘die land te verken en berig te bring aangaande die pad waarlangs hulle moet optrek, en die stede waarby hulle sal kom’ (Deuteronomium 1:22; Numeri 13:2). Al 12 verkenners was eensgesind in hulle beskrywing van die land se welvaart, maar 10 van hulle het ’n pessimistiese verslag gegee wat die harte van die volk met vrees vervul het.—Numeri 13:31-33.
Daarenteen het Josua en Kaleb ’n optimistiese boodskap aan die volk oorgedra en alles in hulle vermoë gedoen om hulle vrese te stil. Hulle gesindheid en verslag het volle vertroue weerspieël in Jehovah se vermoë om sy woord te vervul om hulle na die Beloofde Land te laat terugkeer—maar dit was tevergeefs. Die hele vergadering het eerder ‘gesê dat hulle gestenig moet word’.—Numeri 13:30; 14:6-10.
Moses het die volk aangespoor om op Jehovah te vertrou, maar hulle wou nie luister nie. Omdat hulle in hulle pessimistiese gesindheid volhard het, moes die hele nasie 40 jaar lank in die woestyn swerf. Van die 12 verkenners het net Josua en Kaleb die belonings vir optimisme gesmaak. Wat was die basiese probleem? ’n Gebrek aan geloof, want die volk het op hulle eie wysheid vertrou.—Numeri 14:26-30; Hebreërs 3:7-12.
Jona se wisselvalligheid
Jona het in die negende eeu v.G.J. gelewe. Die Bybel toon dat hy ’n getroue profeet van Jehovah vir die tienstammeryk van Israel was, op die een of ander tyd gedurende die heerskappy van Jerobeam II. Tog het hy geweier om ’n opdrag te aanvaar om na Nineve te gaan en die mense te waarsku. Die geskiedskrywer Josefus sê dat Jona “gedink het dit is beter om pad te gee” en eerder na Joppe te gaan. Daar het hy aan boord van ’n skip na Tarsis gegaan, wat waarskynlik hedendaagse Spanje is (Jona 1:1-3). Die rede waarom Jona so ’n pessimistiese beskouing van hierdie toewysing gehad het, word in Jona 4:2 verduidelik.
Jona het eindelik ingestem om sy opdrag uit te voer, maar het kwaad geword toe die mense van Nineve berou getoon het. Jehovah het dus vir hom ’n goeie les in medelye geleer deur die wonderboom waaronder Jona skuiling gesoek het te laat opdroog en doodgaan (Jona 4:1-8). In plaas van hartseer te voel oor die plant wat doodgegaan het, moes Jona na regte eintlik verdriet gehad het oor die 120-000 mense in Nineve wat nie “die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand [geweet het] nie”.—Jona 4:11.
Wat kan ons uit Jona se ondervinding leer? Heilige diens laat geen ruimte vir pessimisme nie. As ons Jehovah se leiding onderskei en dit met volle vertroue volg, sal ons suksesvol wees.—Spreuke 3:5, 6.
Optimisme te midde van teëspoed
“Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie”, het koning Dawid gesê. “Beny hulle nie wat onreg doen nie” (Psalm 37:1). Dit is inderdaad wyse raad, want vandag is onregverdigheid en oneerlikheid baie algemeen.—Prediker 8:11.
Maar selfs al beny ons die onregverdiges nie, is dit maklik om gefrustreerd te voel wanneer ons sien hoe onskuldige mense deur die toedoen van die goddelose ly of wanneer ons self onregverdig behandel word. Sulke ondervindinge kan ons selfs mismoedig maak of ’n pessimistiese gesindheid laat ontwikkel. Wat moet ons doen wanneer ons so voel? Ons kan eerstens in gedagte hou dat die goddeloses nie oorgerus kan wees en net kan aanneem dat vergelding nooit sal kom nie. Psalm 37 verseker ons voorts in vers 2: “Soos gras sal hulle [kwaaddoeners] gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog.”
Ons kan ook aanhou goed doen, optimisties bly en op Jehovah wag. “Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon”, het die psalmis vervolgens gesê. “Want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie.”—Psalm 37:27, 28.
Ware optimisme seëvier!
Wat dan van ons toekoms? Die Bybelboek Openbaring vertel ons van ‘dinge wat binnekort moet plaasvind’. Dit meld onder andere ’n ruiter op ’n vuurkleurige perd, wat oorlog afbeeld. Hy sal volgens die openbaring ‘vrede van die aarde wegneem’.—Openbaring 1:1; 6:4.
’n Gewilde—en optimistiese—beskouing wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog in Brittanje gehuldig is, was dat dit die laaste groot oorlog sou wees. In 1916 was die Britse staatsman David Lloyd George meer realisties. Hy het gesê: “Hierdie oorlog is, soos die volgende oorlog, ’n oorlog om ’n einde aan oorloë te maak.” (Ons kursiveer.) Hy was reg. Die Tweede Wêreldoorlog het die vervaardiging van boosaardiger metodes van massa-uitwissing net versnel. Meer as 50 jaar later is daar nog geen einde aan oorlog in sig nie.
In dieselfde boek Openbaring lees ons van ander perderuiters—wat hongersnood, pessiektes en die dood afbeeld (Openbaring 6:5-8). Hulle is verdere aspekte van die teken van die tye.—Matteus 24:3-8.
Is dít redes tot pessimisme? Hoegenaamd nie, want die visioen beskryf ook “’n wit perd; en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan, oorwinnend en om sy oorwinning te voltooi” (Openbaring 6:2). Hier sien ons Jesus Christus as ’n hemelse Koning wat alle goddeloosheid uit die weg ruim en wat ry om vrede en harmonie regoor die wêreld tot stand te bring.a
As die aangewese Koning het Jesus Christus, terwyl hy op aarde was, sy dissipels geleer om vir daardie Koninkryk te bid. Miskien is jy ook geleer om die “Onse Vader” te bid. Daarin bid ons vir God se Koninkryk om te kom, vir sy wil om hier op aarde te geskied, soos in die hemel.—Matteus 6:9-13.
Jehovah sal nie die huidige stelsel van dinge probeer lap nie, maar sal dit eerder deur sy Messiaanse Koning, Christus Jesus, heeltemal uitwis. Jehovah skep in die plek daarvan “nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie”. Onder die hemelse Koninkryksregering sal die aarde ’n vreedsame, gelukkige tuiste vir die mensdom word, waar die lewe en werk voortdurend ’n genot sal wees. “Juig vir ewig oor wat Ek skep”, sê Jehovah. “My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet” (Jesaja 65:17-22). As jy jou hoop vir die toekoms op daardie onfeilbare belofte grond, sal jy alle rede hê om optimisties te wees—nou en tot in alle ewigheid!
[Voetnoot]
a Sien asseblief hoofstuk 16 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie visioen.
[Prent op bladsy 4]
H. G. Wells
[Erkenning]
Corbis-Bettmann