“’n Tyd vir vrede” is op hande!
“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, . . . ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.”—PREDIKER 3:1, 8, NW.
1. Watter ironiese situasie het gedurende die 20ste eeu bestaan wat oorlog en vrede betref?
DIE meeste mense smag na vrede, en heel tereg ook. Gedurende die 20ste eeu was daar minder vrede as in enige eeu in die geskiedenis. Dit is ironies, want in hierdie eeu is daar meer as ooit tevore gedoen om vrede tot stand te bring. In 1920 is die Volkebond gestig. In 1928 is die Kellogg-Briand-ooreenkoms, wat een naslaanwerk “die indrukwekkendste reeks vredespogings ná die Eerste Wêreldoorlog” genoem het, gesluit deur “byna al die nasies van die wêreld . . . , en hulle het ooreengekom om oorlog te verwerp as ’n manier om die nasionale beleid af te dwing”. Toe, in 1945, is die Verenigde Nasies gestig om die uitgediende Volkebond te vervang.
2. Wat is die verklaarde doelwit van die Verenigde Nasies, en in watter mate het hulle sukses behaal?
2 Soos met die Volkebond die geval was, is die verklaarde doelwit van die Verenigde Nasies om wêreldvrede te bewerkstellig. Hulle het egter slegs beperkte sukses gehad. Daar word weliswaar nêrens in die wêreld ’n oorlog so groot soos die twee wêreldoorloë gevoer nie. Maar daar is tientalle kleiner konflikte wat honderdduisende mense nog steeds hulle gemoedsrus, hulle besittings en dikwels selfs hulle lewe ontneem. Kan ons dit waag om te hoop dat die Verenigde Nasies die 21ste eeu ’n “tyd vir vrede” sal maak?
Die grondslag vir ware vrede
3. Waarom kan ware vrede en haat nie saam bestaan nie?
3 Vrede tussen volke en lande vereis meer as net verdraagsaamheid. Kan enigiemand werklik in vrede lewe met iemand wat hy haat? Nie volgens 1 Johannes 3:15 nie: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n mensemoordenaar.” Soos die onlangse geskiedenis bewys het, lei diepgewortelde haat maklik tot dade van geweld.
4. Slegs wie kan vrede geniet, en waarom?
4 Aangesien Jehovah “die God [is] wat vrede gee”, is dit slegs mense wat God liefhet en diepe eerbied vir sy regverdige beginsels het wat vrede kan geniet. Dit is duidelik dat Jehovah nie vrede aan almal gee nie. “Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!” Dit is omdat die goddelose weier om hulle te laat lei deur God se heilige gees, waarvan vrede ’n vrug is.—Romeine 15:33; Jesaja 57:21; Galasiërs 5:22.
5. Wat is ondenkbaar vir ware Christene?
5 Dit is ondenkbaar vir ware Christene om teen hulle medemens oorlog te voer—soos sogenaamde Christene al so dikwels gedoen het, veral in die 20ste eeu (Jakobus 4:1-4). Ware Christene voer weliswaar ’n stryd teen leerstellings wat God verkeerd voorstel, maar hierdie oorlogvoering is bedoel om mense te help, nie kwaad aan te doen nie. Om ander mense weens godsdiensverskille te vervolg of hulle om nasionalistiese redes fisies leed aan te doen, is heeltemal in stryd met die ware Christelike geloof. “Sover dit van julle afhang,” het Paulus vir Christene in Rome gesê, “[wees] vreedsaam teenoor alle mense.”—Romeine 12:17-19; 2 Timoteus 2:24, 25.
6. Slegs waar kan ware vrede vandag gevind word?
6 Vandag word vrede wat van God af kom slegs gevind onder ware aanbidders van Jehovah God (Psalm 119:165; Jesaja 48:18). Geen politieke verskille versteur hulle eenheid nie, aangesien hulle regoor die wêreld op politieke gebied neutraal is (Johannes 15:19; 17:14). Omdat hulle “paslik verenig [is] in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang”, bedreig geen godsdiensverskille hulle vrede nie (1 Korintiërs 1:10). Die vrede wat Jehovah se Getuies geniet, is ’n hedendaagse wonderwerk wat God verrig het in ooreenstemming met sy belofte: “Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders.”—Jesaja 60:17; Hebreërs 8:10.
Waarom “’n tyd vir oorlog”?
7, 8. (a) Hoe beskou Jehovah se Getuies die tyd waarin ons leef, al is hulle vreedsame mense? (b) Wat is die vernaamste wapen van ’n Christen se oorlogvoering?
7 Al is Jehovah se Getuies vreedsaam, beskou hulle nietemin die tyd waarin ons lewe hoofsaaklik as “’n tyd vir oorlog”. Natuurlik nie letterlike oorlogvoering nie, want as hulle die Bybelboodskap met geweld aan ander sou opdwing, sou dit in stryd wees met God se uitnodiging dat “enigeen wat wil die water van die lewe [kan] neem, verniet” (Openbaring 22:17). Niemand word gedwing om hulle te bekeer nie! Die oorlog wat Jehovah se Getuies voer, is alleenlik ’n geestelike oorlog. Paulus het geskryf: “Die wapens van ons oorlogvoering is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om sterk verskanste dinge omver te werp.”—2 Korintiërs 10:4; 1 Timoteus 1:18.
8 Een van die vernaamste “wapens van ons oorlogvoering” is “die swaard van die gees, dit is God se woord” (Efesiërs 6:17). Hierdie swaard is kragtig. “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelinge van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). Deur hierdie swaard te gebruik, kan Christene “redenasies [omverwerp], en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word” (2 Korintiërs 10:5). Dit stel hulle in staat om valse leerstellings, skadelike gebruike en filosofieë wat mensewysheid in plaas van God se wysheid weerspieël bloot te lê.—1 Korintiërs 2:6-8; Efesiërs 6:11-13.
9. Waarom kan ons nie verslap in ons stryd teen die sondige vlees nie?
9 Nog ’n soort geestelike oorlogvoering is die een wat ons teen die sondige vlees voer. Christene volg die voorbeeld na van Paulus, wat erken het: “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie” (1 Korintiërs 9:27). Die Christene in Kolosse is aangespoor om hulle “liggaamsdele wat op die aarde is dood [te maak] wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodery is” (Kolossense 3:5). En die Bybelskrywer Judas het Christene vermaan “om hard te stry vir die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Waarom moet ons dit doen? Paulus antwoord: “As julle in ooreenstemming met die vlees lewe, sal julle sekerlik sterf; maar as julle deur die gees die gebruike van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Romeine 8:13). In die lig van hierdie duidelike stelling kan ons nie verslap in ons stryd teen slegte neigings nie.
10. Wat het in 1914 plaasgevind, en waarop sal dit in die nabye toekoms uitloop?
10 Nog ’n rede waarom ons ons tyd kan beskou as ’n tyd vir oorlog, is die feit dat die “dag van die wraak van onse God” baie naby is (Jesaja 61:1, 2). In 1914 het Jehovah se vasgestelde tyd aangebreek om die Messiaanse Koninkryk op te rig en dit die volmag te gee om ’n volskaalse oorlog teen Satan se stelsel te voer. Die tyd wat God toegelaat het vir die mensdom om met mensgemaakte heerskappye te eksperimenteer sonder dat hy ingryp, het op daardie tydstip geëindig. In plaas van God se Messiaanse Heerser te aanvaar, verwerp die meeste mense hom nog steeds, soos die meeste ook in die eerste eeu gedoen het (Handelinge 28:27). Christus het dus geen ander keuse gehad as om, ten spyte van teenkanting teen die Koninkryk, te “heers te midde van [sy] vyande” nie (Psalm 110:2). Gelukkig beloof Openbaring 6:2 dat hy “sy oorwinning [sal] voltooi”. Hy sal dit gedurende “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” doen, “wat in Hebreeus Har–Magedon genoem word”.—Openbaring 16:14, 16.
Dit is nou “’n tyd om te spreek”
11. Waarom was Jehovah nog altyd baie geduldig, maar wat sal uiteindelik aanbreek?
11 Daar het reeds 85 jaar verstryk sedert menseaangeleenthede in 1914 ’n keerpunt bereik het. Jehovah was nog altyd baie geduldig met die mensdom. Hy het sy Getuies deeglik bewus gemaak van die dringendheid van die situasie. Miljoene lewens is op die spel. Hierdie menigtes verdien om gewaarsku te word omdat “Jehovah . . . nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Maar “die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy kragtige engele” sal binnekort aanbreek. Dan sal almal wat die boodskap van God se Koninkryk opsetlik verwerp het die “wraak” ondervind wat Jesus sal uitoefen “op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie”.—2 Tessalonisense 1:6-9.
12. (a) Waarom het dit geen nut om te bespiegel oor wanneer die groot verdrukking moontlik sal begin nie? (b) Teen watter gevaar in hierdie verband het Jesus gewaarsku?
12 Wanneer sal Jehovah se geduld eindelik opraak? Dit het geen nut om enigsins te bespiegel oor wanneer die “groot verdrukking” moontlik sal begin nie. Jesus het duidelik gesê: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie.” Daarenteen het hy gemaan: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie. . . . [Betoon] julle ook gereed . . . , want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matteus 24:21, 36, 42, 44). Dit beteken eenvoudig dat ons elke dag waaksaam moet bly wat wêreldgebeure betref en ons oog gevestig moet hou op die begin van die groot verdrukking (1 Tessalonisense 5:1-5). Hoe gevaarlik is dit tog om te dink dat ons die pas kan verslap en ’n sogenaamde normale lewe kan lei, terwyl ons maar kyk wat sal gebeur! Jesus het gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie” (Lukas 21:34, 35). Hiervan kan ons seker wees: Die “vier winde” van vernietiging wat op die oomblik deur Jehovah se “vier engele” teruggehou word, sal nie vir ewig teruggehou word nie.—Openbaring 7:1-3.
13. Wat het bykans sesmiljoen mense besef?
13 Met die oog op hierdie vinnig naderende dag van afrekening neem Salomo se woorde oor “’n tyd om te spreek” spesiale betekenis aan (Prediker 3:7). Aangesien Jehovah se Getuies besef dat dit nou inderdaad ’n tyd is om te spreek, is bykans sesmiljoen van hulle ywerig besig om oor die heerlikheid van God se koningskap te praat en mense te waarsku oor sy dag van wraak. Hulle bied hulle gewillig aan op hierdie dag van Christus se krygsmag.—Psalm 110:3; 145:10-12, NW.
Diegene wat praat oor ‘vrede, terwyl daar geen vrede is nie’
14. Watter valse profete was daar in die sewende eeu v.G.J.?
14 Gedurende die sewende eeu v.G.J. het God se profete Jeremia en Esegiël Goddelike oordeelsboodskappe teen Jerusalem verkondig omdat die inwoners daarvan ’n eiesinnige weg van ongehoorsaamheid aan God ingeslaan het. Die vernietiging wat hulle voorspel het, het in 607 v.G.J. plaasgevind, al het vooraanstaande en invloedryke godsdiensleiers die woorde van God se boodskappers weerspreek. Hierdie godsdiensleiers was in werklikheid “dwase profete wat . . . [God se] volk verlei het deur te sê: Vrede! terwyl daar geen vrede is nie”.—Esegiël 13:1-16; Jeremia 6:14, 15; 8:8-12.
15. Bestaan sulke valse profete ook vandag? Verduidelik.
15 Soos die “dwase profete” van daardie tyd, waarsku die meeste hedendaagse godsdiensleiers mense ook nie oor God se komende oordeelsdag nie. Hulle skilder eerder ’n optimistiese beeld van politieke groepe wat uiteindelik vrede en veiligheid teweeg sal bring. Aangesien hulle meer besorg daaroor is om mense as God te behaag, sê hulle vir hulle gemeentelede wat hulle wil hoor in plaas van te verduidelik dat God se Koninkryk opgerig is en dat die Messiaanse Koning binnekort sy oorwinning sal voltooi (Daniël 2:44; 2 Timoteus 4:3, 4; Openbaring 6:2). As valse profete praat hulle ook oor ‘vrede, terwyl daar geen vrede is nie’. Maar binnekort sal hulle vertroue skielik in afgryse verander, wanneer hulle die toorn moet verduur van die Een wat hulle verkeerd voorgestel het en op wie se naam hulle ontsaglike smaad gebring het. Die leiers van die wêreldryk van valse godsdiens, wat in die Bybel as ’n onsedelike vrou beskryf word, sal aan hulle eie misleidende uitroepe van vrede stik.—Openbaring 18:7, 8.
16. (a) Waarvoor is Jehovah se Getuies bekend? (b) Hoe verskil hulle van diegene wat vrede uitroep “terwyl daar geen vrede is nie”?
16 Die feit dat die meeste vooraanstaande en invloedryke leiers bly by hulle huigelagtige belofte van vrede, laat nie die vertroue wankel van diegene wat geloof in God se belofte van ware vrede stel nie. Jehovah se Getuies is al meer as ’n eeu daarvoor bekend dat hulle God se Woord lojaal verdedig, valse godsdiens moedig teëstaan en God se Koninkryk onverskrokke ondersteun. Hulle sus beslis nie mense aan die slaap met mooipraatjies van vrede nie, maar wend eerder ’n ywerige poging aan om hulle bewus te maak van die werklikheid dat vandag ’n tyd vir oorlog is.—Jesaja 56:10-12; Romeine 13:11, 12; 1 Tessalonisense 5:6.
Jehovah verbreek sy stilswye
17. Wat beteken dit dat Jehovah binnekort sy stilswye sal verbreek?
17 Salomo het ook gesê: “Gód sal die regverdige en die goddelose oordeel, want dáár is ’n tyd vir elke saak” (Prediker 3:17). Ja, Jehovah het ’n vasgestelde tyd om oordeel te voltrek aan valse godsdiens en aan ‘die konings van die aarde wat hulleself opstel teen Jehovah en teen sy gesalfde’ (Psalm 2:1-6, NW; Openbaring 16:13-16). Wanneer daardie tyd aanbreek, sal die dae waartydens Jehovah “stil” gebly het verstreke wees (Psalm 83:1, NW; Jesaja 62:1, NW; Jeremia 47:6, 7, NW). Hy sal “spreek” deur sy gekroonde Messiaanse Koning, Jesus Christus, en die enigste taal gebruik wat sy teenstanders blykbaar verstaan: “Die HERE sal uittrek soos ’n held; Hy sal die ywer opwek soos ’n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar. Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd. Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog. En Ek sal blindes lei op ’n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.”—Jesaja 42:13-16, ons kursiveer.
18. In watter sin sal God se volk binnekort “swyg”?
18 Wanneer Jehovah ter verdediging van sy Godheid “spreek”, sal sy volk nie meer hoef te spreek om hulleself te verdedig nie. Dit sal hulle beurt wees “om te swyg”. Hierdie woorde wat op knegte van God in die verlede van toepassing was, sal dan geld: “Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle.”—2 Kronieke 20:17.
19. Watter voorreg sal Christus se geestelike broers binnekort hê?
19 Wat ’n verpletterende nederlaag sal dit tog wees vir Satan en sy organisasie! Die verheerlikte broers van Christus sal ’n aandeel daaraan hê om ’n groot oorwinning vir regverdigheid te behaal, in ooreenstemming met die belofte: “Wat die God betref wat vrede gee, hy sal Satan binnekort onder julle voete verbrysel” (Romeine 16:20). Die langverwagte tyd vir vrede is uiteindelik op hande.
20. Waarvoor sal die tyd binnekort aanbreek?
20 Wat ’n geseënde uiteinde sal dit tog wees vir almal op die aarde wat hierdie groot openbaring van Jehovah se krag oorleef! Kort daarna sal getroue manne en vroue van die ou tyd by hulle aansluit, want dit sal die vasgestelde tyd vir hulle wees om opgewek te word. Christus se Duisendjarige Heerskappy sal waarlik “’n tyd [wees] om te plant . . . , ’n tyd om gesond te maak, . . . ’n tyd om op te bou, . . . ’n tyd om te lag, . . . ’n tyd om van vreugde rond te spring, . . . ’n tyd om te omhels en . . . ’n tyd om lief te hê”. Ja, en dit sal tot in ewigheid “’n tyd vir vrede” wees!—Prediker 3:1-8; Psalm 29:11; 37:11; 72:7.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is die grondslag vir blywende vrede?
◻ Waarom beskou Jehovah se Getuies die tyd waarin ons lewe as “’n tyd vir oorlog”?
◻ Wanneer moet God se volk “spreek”, en wanneer moet hulle “swyg”?
◻ Hoe en wanneer sal Jehovah sy stilswye verbreek?
[Venster/Prente op bladsy 13]
Jehovah het ’n vasgestelde tyd om
◻ Gog uit te lok om God se volk aan te val.—Esegiël 38:3, 4, 10-12
◻ dit in die harte van menseheersers te sit om Babilon die Grote te vernietig.—Openbaring 17:15-17; 19:2
◻ die huwelik van die Lam te voltrek.—Openbaring 19:6, 7
◻ die oorlog van Har–Magedon te laat begin.—Openbaring 19:11-16, 19-21
Satan vas te bind om Jesus se Duisendjarige Heerskappy te begin.—Openbaring 20:1-3 Hierdie gebeurtenisse word bloot aangegee in die volgorde waarin hulle in die Skrif verskyn. Ons kan daarvan seker wees dat al vyf gebeurtenisse sal plaasvind in die volgorde en op die presiese tyd wat Jehovah daarvoor bepaal het.
[Prente op bladsy 15]
Christus se Duisendjarige Heerskappy sal waarlik ’n tyd wees . . .
om te lag . . .
om te omhels . . .
om lief te hê . . .
om te plant . . .
om van vreugde rond te spring . . .
om op te bou . . .