God se profetiese woord gee hoop vir die toekoms
DANKSY God se Woord, die Heilige Bybel, kyk ware Christene met geloof, hoop en optimisme na die toekoms. Aangesien hulle veilig voel in hulle verhouding met Jehovah God, sien hulle uit na môre. Soos die eerste toespraak by die “God se profetiese woord”-streekbyeenkoms verduidelik het, is Jehovah se Getuies al jare lank ywerige studente van Bybelprofesieë. Wat het Jehovah dus vir sy volk by hierdie byeenkomste gereël? Met hulle Bybels byderhand was almal wat die byeenkoms bygewoon het gretig om uit te vind. Die tema vir elke dag van die byeenkoms word as ’n aparte onderhofie aangegee.
EERSTE DAG: Wandel in die lig van God se Woord
Die toespraak “God se Woord het ons gelei” het verduidelik dat Jehovah se volk soos ’n man is wat in die donkerte van die nag ’n reis aanpak. Wanneer die son begin opkom, sien hy skaduwees, maar wanneer die son helder skyn, sien hy die besonderhede duidelik. Soos daar in Spreuke 4:18 voorspel is, het die weg van Jehovah se volk vir hulle al hoe duideliker geword in die helder sonlig van die waarheid uit God se profetiese woord. Hulle hoef nie in geestelike duisternis rond te tas nie.
Die programrede, “Gee ag op God se profetiese woord”, het die luisteraars daaraan herinner dat diegene wat na Jehovah soek, nie teleurgestel en ontnugter word soos mense wat valse messiasse en valse profete volg nie. In skerp teenstelling hiermee is daar oorweldigende getuienis dat Jesus Christus die ware Messias is! Jesus se wonderdadige gedaanteverandering het byvoorbeeld ’n voorskou gegee van hom as die gekroonde Koning van God se Koninkryk. Sedert Jesus in 1914 Koninkryksmag ontvang het, is hy ook die “dagster” wat in 2 Petrus 1:19 gemeld word. “As die Messiaanse Dagster kondig hy ’n nuwe dag, of tydvak, aan wat vir die hele gehoorsame mensdom aangebreek het”, het die spreker gesê.
Die toespraak “Skyn as ligte” het die middagsessie ingelui en Efesiërs 5:8 bespreek waar die apostel Paulus ons aanspoor om “voort [te gaan] om as kinders van die lig te wandel”. Christene dien as ligte, nie deur bloot God se Woord aan ander te verkondig nie, maar ook deur die Bybel in hulle lewe toe te pas in navolging van Jesus.
As ons as sulke ligte wil skyn, moet ons die raad ter harte neem in die simposium “Skep behae daarin om God se Woord te lees”. Hierdie onderwerp is in drie dele bespreek. Nadat die eerste spreker Abraham Lincoln aangehaal het wat gesê het dat die Bybel “die beste gawe [is] wat God nog ooit aan die mens gegee het”, het hy die gehoor gevra wat hulle leesgewoontes openbaar omtrent die diepte van hulle waardering vir Jehovah se Woord. Luisteraars is aangemoedig om die Bybel sorgvuldig deur te lees, om die tyd te neem om skriftuurlike verslae te visualiseer en om nuwe gedagtes te assosieer met dinge wat hulle reeds geleer het.
Die volgende deel van die simposium het beklemtoon hoe belangrik dit is om te studeer, nie net vlugtig te lees nie, as ons “vaste voedsel” wil verteer (Hebreërs 5:13, 14). Studie is veral opbouend, het die spreker gesê, as ons voor die tyd ‘ons hart daarop rig’, soos die Israelitiese priester Esra gedoen het (Esra 7:10). Maar waarom is studie so belangrik? Omdat dit direk verband hou met ons verhouding met Jehovah. Bybelstudie moet dus vir ons kosbaar, genotvol en verkwikkend wees, selfs al behels dit verstandelike dissipline en inspanning. Waar kry ons die tyd vir sinvolle studie? Deur ‘die geleë tyd uit te koop’ van minder belangrike bedrywighede, het die laaste spreker van die simposium gesê (Efesiërs 5:16). Ja, die sleutel om tyd te kry, lê daarin dat ons die tyd wat ons het ten beste benut.
Die toespraak “God gee die vermoeide krag” het die feit erken dat baie mense deesdae vermoeid is. Ons moet op Jehovah vertrou, wat ‘die vermoeide krag gee’, sodat ons “die krag wat bo die normale is” vir die Christelike bediening kan hê (2 Korintiërs 4:7; Jesaja 40:29). Middele wat ons versterk, sluit God se Woord, gebed, die Christengemeente, gereelde deelname aan die bediening, Christenopsieners en die getroue voorbeeld van ander in. Die tema “Wees leermeesters met die oog op die tyd” het getoon hoe belangrik dit vir Christene is om leermeesters sowel as predikers te wees en om ons in te span om die “onderrigkuns” aan te leer.—2 Timoteus 4:2.
Die dag se laaste toespraak, “Dié wat teen God veg, sal nie oorwin nie”, het melding gemaak van die onlangse pogings van mense in party lande om Jehovah se Getuies ten onregte as ’n gevaarlike kultus te brandmerk. Maar ons hoef nie te vrees nie, want Jesaja 54:17 sê: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.”
TWEEDE DAG: Dinge wat deur middel van die profetiese geskrifte bekend gemaak is
Ná ’n bespreking van die dag se Bybelteks, het die byeenkomsgangers geluister na die tweede simposium van die byeenkoms, met die tema “Verheerlik Jehovah as ligdraers”. Die eerste toespraak het getoon dat die doelwit van ’n Christen is om Jehovah te verheerlik deur oral te preek. Die volgende deel het gemeld hoe belangrik dit is om diegene wat gehoor gee na God se organisasie te rig. Hoe? Deur vyf of tien minute voor of ná elke tuisbybelstudie te gebruik om te wys hoe God se organisasie funksioneer. Die derde toespraak van hierdie simposium het beklemtoon hoe belangrik dit is om God deur voortreflike werke te verheerlik.
Die toespraak “Wees baie lief vir Jehovah se vermanings” het gekose verse uit Psalm 119 gedek. Ons het beslis vermanings nodig, want ons almal is geneig om te vergeet. Hoe belangrik is dit dan tog dat ons ’n liefde vir Jehovah se vermanings ontwikkel, net soos die psalmis gedoen het!
Toe het iets spesiaals gevolg—die dooptoespraak met die tema “Gehoorsaamheid aan die profetiese woord lei tot doop”. Doopkandidate is daaraan herinner dat hulle Christus nie net navolg deur gedoop te word nie, maar ook deur sy voetstappe noukeurig te volg (1 Petrus 2:21). Wat ’n voorreg het hierdie nuwelinge tog om ’n aandeel te hê aan die vervulling van Johannes 10:16, waar Jesus voorspel het dat hy “ander skape” sou insamel om saam met sy geesgesalfde dissipels te dien!
Die middagprogram het begin met die toespraak “Hoor wat die gees sê”, wat verduidelik het dat Jehovah se gees met ons praat deur middel van die Bybel, “die getroue en verstandige slaaf” en ons Bybelopgeleide gewete (Matteus 24:45). Christene hoef dus nie ’n letterlike stem uit die hemel te hoor om te weet hoe om God te behaag nie. Die volgende bespreking, “Staan vas vir die leer wat met godvrugtige toegewydheid strook”, het Christene vermaan om nie in te gaan op verderflike idees wat deur hierdie wêreld bevorder word nie. Ja, onbeheerste nuuskierigheid kan ons aan skadelike inligting blootstel wat doelbewus deur afvalliges en ander agente van Satan daargestel word. Dit is baie beter om eerder gereeld die Bybel sowel as die artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! te lees.
Die volgende toespraak, met die tema “Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde”, het beklemtoon hoe belangrik dit is om deeglik vertroud te wees met die skriftuurlike “patroon”, oftewel raamwerk, van waarheid (2 Timoteus 1:13). As ons hierdie patroon verstaan, sal ons nie net godvrugtige toegewydheid hê nie, maar ons sal ook die dinge kan identifiseer wat nie met die waarheid ooreenstem nie.
Stel jou voor dat jy deur Jehovah as begeerlik beskou word. Wat ’n voorreg! Die toespraak “‘Begeerlike dinge’ vul Jehovah se huis” is op die profesie van Haggai gebaseer en was baie bemoedigend omdat dit die luisteraars verseker het dat elke lid van die “groot skare” vir Jehovah waarlik begeerlik is (Openbaring 7:9). Jehovah sal hulle derhalwe deur sy finale ‘skudding’ van die nasies gedurende die komende “groot verdrukking” heen red (Haggai 2:7, 21, 22, NW; Matteus 24:21). Maar intussen moet Jehovah se volk geestelik aanhou waak, soos verduidelik is in die deel “Bybelprofesieë hou ons waaksaam”. Die spreker het Jesus se woorde aangehaal: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matteus 24:42). Hoe bly ons geestelik waaksaam? Deur in Jehovah se diens besig te bly, voortdurend te bid en in afwagting te bly van Jehovah se groot dag.
Die laaste toespraak van die dag het die tema “Die profetiese woord in die tyd van die einde” gehad. Dit sal nog jare lank onthou word. Waarom? Omdat die spreker die vrystelling van ’n nuwe boek—Gee ag op Daniël se profesie!—aangekondig het. “Hierdie pragtig geïllustreerde publikasie met 320 bladsye dek die hele boek Daniël”, het die spreker gesê. Wat ’n geloofversterkende bewys dat Jehovah lig werp op sy profetiese Woord!
DERDE DAG: God se profetiese woord sal nooit onvervuld bly nie
Die laaste dag van die byeenkoms het met die simposium “Profetiese woorde vir die vasgestelde tyd” begin. Die drie dele het die profeet Habakuk se drie oordeelsboodskappe van Jehovah bespreek. Die eerste was Sy oordeel oor die weerspannige Juda en die tweede oor die onderdrukkende Babilon. Die laaste een, wat nog vervul moet word, het betrekking op die naderende vernietiging van alle goddelose mense. Die broer wat die laaste deel van die simposium behartig het, het van Armageddon gepraat en gesonde vrees vir God by sy luisteraars ingeboesem toe hy gesê het: “Dit sal voorwaar ontsagwekkend wees wanneer Jehovah die volle krag van sy groot mag loslaat.”
“Toon waardering vir ons geestelike erfenis” was die tema van die byeenkoms se treffende Bybeldrama. Hierdie aangrypende aanbieding het Jakob en Esau se gesindheid teenoor geestelike dinge met mekaar vergelyk. Esau het sy geestelike erfenis verag en daarom is dit aan Jakob gegee, wat dit as ’n skat bewaar het. “[Watter geestelike erfenis] het Jehovah ons gegee?” is daar vir die byeenkomsgangers gevra. “Die waarheid van sy Woord, die Bybel; die hoop op die ewige lewe, asook die eer om hom as verkondigers van die goeie nuus te verteenwoordig”, het die spreker geantwoord.
Die volgende deel het die tema gehad: “Wat beteken ons kosbare erfenis vir jou?” Ons toon die regte gesindheid teenoor ons geestelike erfenis deur Jehovah se diens en geestelike voorregte voor persoonlike of materiële belange te stel. Op dié manier bou ons ons lewe om ons verhouding met Jehovah, in skerp teenstelling met Adam, Esau en die ontroue Israeliete.
Die openbare toespraak, “Alles sal nuut gemaak word—Soos voorspel is”, het vier belangrike profesieë aangaande die “nuwe hemele” en die “nuwe aarde” saamgeweef (Jesaja 65:17-25; 66:22-24; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1, 3-5). Dit is duidelik dat Jehovah ’n groter vervulling van hierdie profesieë in gedagte gehad het as dié van sy herstelde volk in 537 v.G.J. Ja, hy het sy Koninkryksregering (die “nuwe hemele”) in gedagte gehad, asook die aardse onderdane daarvan (die “nuwe aarde”) wat ’n wonderlike wêreldwye paradys gaan bewoon.
Die toespraak “Ons verwagtinge terwyl ons deur God se Woord gerig word” het die byeenkoms op ’n opwindende en motiverende noot afgesluit. Dit het almal daaraan herinner dat ‘die oorblywende tyd kort is’ vir die voltooiing van die Koninkrykspredikingswerk (1 Korintiërs 7:29). Ja, ons staan reg op die drumpel van die vervulling van Jehovah se oordeel oor Satan en sy hele goddelose stelsel. Mag ons voel soos die psalmis wat gesing het: “Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild” (Psalm 33:20). Wat ’n wonderlike vooruitsig het diegene tog wie se verwagtinge op God se profetiese woord gebaseer is!
[Prent op bladsy 7]
’n Treffende drama het ons groter waardering gegee vir die geestelike erfenis van Jehovah se knegte
[Prent op bladsy 7]
Baie wat aan God se profetiese woord gehoor gegee het, is gedoop