Klein mensies met groot harte
HOE sou jy voel om met vreemdelinge oor God se Koninkryk te praat as jy net 76 sentimeter lank was? Laura kan vir jou sê. Op 33-jarige ouderdom is dit haar lengte, net 76 sentimeter. Sy en haar suster, María, wat 24 jaar oud en 86 sentimeter lank is, woon in Quito, Ecuador. Laat hulle verduidelik voor watter struikelblokke hulle in hulle Christelike bediening te staan kom.
“Om by ons velddiensgebied en by Christelike vergaderinge uit te kom, loop ons ongeveer ’n halwe kilometer om ’n bus te haal. Van waar die bus ons aflaai, loop ons nog ’n halwe kilometer om ’n tweede bus te haal. Ongelukkig is daar vyf kwaai honde langs hierdie paadjie. Ons is baie bang vir honde, want hulle kan so groot soos perde lyk. Ingeval ons hulle moet wegjaag, vat ons ’n stok saam, wat ons iewers wegsteek voordat ons op die bus klim sodat ons dit het wanneer ons terugstap huis toe.
“Dit is vir ons baie moeilik om in die bus te klim. Ons staan bo-op ’n hopie grond by die bushalte sodat ons makliker in die bus kan klim. Party bestuurders stop langs die hopie, maar ander nie. In daardie geval help die lange die korte om in te klim. Ons moet ’n besige hoofweg oorsteek om die tweede bus te haal—iets wat nogal inspanning van ons kort beentjies verg. Weens ons klein liggaamsbou is ’n swaar velddienssak vir ons ’n bykomende uitdaging. Om die sak ligter te maak, gebruik ons ’n sakformaat-Bybel en dra ons ook nie te veel lektuur saam nie.
“Sedert ons kinderjare is ons albei baie teruggetrokke. Ons bure weet dat dit nog altyd vir ons ’n vreesaanjaende ondervinding was om met vreemdelinge te gesels. Hulle is dus verbaas en beïndruk as ons aan hulle deur klop, en hulle luister gewoonlik na ons. Maar waar mense ons nie so goed ken nie, sien hulle dikwels net dat ons dwergies is; hulle luister dus nie altyd na ons met die aandag wat ons boodskap verdien nie. Aangesien ons besef dat Jehovah ons liefhet, het ons nietemin die moed om voort te gaan met die evangelisasiewerk. As ons oor Spreuke 3:5, 6 peins, gee dit ons ook moed.”
Soos Laura en María toon, kan dit God verheerlik as ons ondanks liggaamlike beperkings volhard. Die apostel Paulus het gebid dat sy “doring in die vlees”, moontlik ’n fisiese teistering, van hom af weggeneem word. Maar God het vir hom gesê: “My onverdiende goedhartigheid is voldoende vir jou; want my krag word tot volmaaktheid gebring in swakheid.” Ja, ’n fisiese gebrek hoef nie verwyder te word vir ons om God te kan dien nie. Volkome vertroue op God kan ons help om die beste gebruik te maak van ons omstandighede. Omdat Paulus sy “doring in die vlees” só beskou het, kon hy sê: “Wanneer ek swak is, dan is ek kragtig” (2 Korintiërs 12:7, 9, 10). ’n Paar jaar later het Paulus geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13.
Vandag verrig God ’n groot werk deur middel van mans, vroue en kinders wat volkome aan hom toegewy is. ’n Hele paar van hulle het die een of ander gebrek. Hoewel hulle almal hoop op Goddelike genesing onder God se Koninkryk, wag hulle nie totdat God hulle probleme wegneem voordat hulle iets in sy diens probeer doen nie.
Het jy die een of ander fisiese swakheid? Skep moed! Deur middel van jou geloof kan jy onder diegene wees soos Paulus, Laura en María. Van hulle kan daar gesê word, soos die geval was met mans en vroue van geloof in die ou tyd: “Uit ’n swak toestand [is hulle] kragtig gemaak.”—Hebreërs 11:34.
[Prent op bladsy 8]
María
Laura
[Prente op bladsy 9]
María help Laura om in die bus te klim
[Prente op bladsy 9]
“Ons is baie bang vir honde, want hulle kan so groot soos perde lyk”
Onder: Laura en María en diegene wat die Bybel met hulle gestudeer het