Berei jou hart om Jehovah te soek
DIE Israelitiese priester Esra was ’n uitstekende navorser, student, kopiïs en onderrigter van die Wet. Vir Christene van vandag is hy ook ’n goeie voorbeeld van heelhartige diens. Hoe so? Hy het sy godvrugtige toegewydheid behou, selfs terwyl hy in Babilon, ’n stad vol valse gode en demoonaanbidding, gewoon het.
Esra het nie sommer per toeval godvrugtige toegewydheid gekry nie. Hy het dit aangekweek. Trouens, hy sê vir ons dat hy “sy hart berei [het] om die wet van Jehovah te raadpleeg en om dit na te kom”.—Esra 7:10, NW.
Soos Esra, wil Jehovah se volk vandag alles doen wat Jehovah van hulle vereis terwyl hulle in ’n wêreld lewe wat gekant is teen ware aanbidding. Kom ons ondersoek dus maniere waarop ons ons hart, die innerlike persoon—wat ons gedagtes, gesindhede, begeertes en beweegredes insluit—kan berei om “die wet van Jehovah te raadpleeg en om dit na te kom”.
Hoe ons ons hart berei
“Om te berei” beteken “om vooraf gereed te maak vir ’n doel: dit in ’n toestand te bring vir ’n bepaalde gebruik, aanwending of reëling”. As jy natuurlik juiste kennis van God se Woord opgedoen het en jou lewe aan Jehovah toegewy het, is jou hart beslis al berei en kan dit vergelyk word met “die goeie grond” waarvan Jesus gepraat het in sy gelykenis van die saaier.—Matteus 13:18-23.
Ons hart het nietemin gedurig aandag en loutering nodig. Waarom? Om twee redes. Eerstens, omdat skadelike neigings, soos onkruid in ’n tuin, maklik kan wortelskiet, veral gedurende hierdie “laaste dae” waartydens “die lug” van Satan se stelsel meer as ooit tevore met gevaarlike saadjies van vleeslike denke gevul is (2 Timoteus 3:1-5; Efesiërs 2:2). Die tweede rede het te doen met die grond self. As grond verwaarloos word, kan dit gou uitdroog en hard asook onvrugbaar word. Of te veel mense loop dalk oor die tuin sonder om eers te dink en hulle trap die grond plat totdat dit ’n harde massa is. Die figuurlike grond van ons hart is dieselfde. Dit kan onvrugbaar word as dit verwaarloos of plat getrap word deur mense wat geen belangstelling in ons geestelike welsyn het nie.
Hoe belangrik is dit dus tog vir ons almal om hierdie Bybelraad toe te pas: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—Spreuke 4:23.
Faktore wat die “grond” van ons hart verryk
Kom ons kyk na ’n paar faktore, of eienskappe, wat die “grond” van ons hart sal verryk sodat dit vrugbaar kan wees. Daar is natuurlik baie dinge wat ons hartstoestand sal verbeter, maar ons sal hier na ses dinge kyk: ’n bewustheid van ons geestelike behoefte, nederigheid, eerlikheid, godvrugtige vrees, geloof en liefde.
“Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, het Jesus gesê (Matteus 5:3). Soos fisiese honger ons daaraan herinner dat ons moet eet, help ’n bewustheid van ons geestelike behoefte ons om na geestelike voedsel te honger. Mense het van nature ’n begeerte na sulke voedsel omdat dit hulle lewe sinvol en doelgerig maak. Druk van Satan se stelsel van dinge of blote luiheid om te studeer, kan veroorsaak dat ons nie bewus bly van hierdie behoefte nie. Jesus het nogtans gesê: “Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan.”—Matteus 4:4.
Gereelde, gebalanseerde en voedsame fisiese maaltye bevorder liggaamlike gesondheid, en dit help ook die liggaam om ’n eetlus op te bou vir die volgende maaltyd wanneer die tyd daarvoor aanbreek. Dieselfde geld in geestelike sin. Jy beskou dalk nie jouself as ’n leergierige persoon nie, maar as jy ’n gewoonte daarvan maak om God se Woord daagliks te lees en as jy Bybelpublikasies gereeld bestudeer, sal jy vind dat jou geestelike eetlus toeneem. Trouens, jy sal gretig uitsien na jou Bybelstudiesessies. Moet dus nie maklik moed opgee nie; werk hard om ’n gesonde geestelike eetlus op te bou.
Nederigheid maak die hart sag
Nederigheid is ’n noodsaaklike faktor om ons hart te berei, omdat dit ons gewillig maak om geleer te word en ons help om liefdevolle raad en teregwysing makliker te aanvaar. Beskou die goeie voorbeeld van koning Josia. Gedurende sy bewind is ’n dokument gevind met God se Wet wat Hy deur Moses gegee het. Toe Josia die woorde van die Wet hoor en besef hoe ver sy voorvaders van rein aanbidding afgedwaal het, het hy sy klere geskeur en voor Jehovah geween. Waarom het God se Woord die koning se hart so diep geraak? Die verslag sê dat sy hart “week” was sodat hy hom verneder het toe hy Jehovah se woorde gehoor het. Jehovah het Josia se nederige, ontvanklike hart gesien en hom gevolglik geseën.—2 Konings 22:11, 18-20.
Jesus se dissipels was “ongeleerde en gewone” mense, maar omdat hulle nederig was, kon hulle geestelike waarhede begryp en toepas wat diegene wat alleenlik “in vleeslike sin” “wyses en intellektuele” was glad nie kon begryp nie (Handelinge 4:13; Lukas 10:21; 1 Korintiërs 1:26). Laasgenoemdes was nie gereed om Jehovah se woord te aanvaar nie omdat hulle harte deur trots verhard is. Dit is geen wonder dat Jehovah trots haat nie.—Spreuke 8:13; Daniël 5:20.
Eerlikheid en godvrugtige vrees
Die profeet Jeremia het geskryf: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Hierdie bedrieglikheid word op verskillende maniere geopenbaar, soos wanneer ons verskonings maak vir ons verkeerde dade. Dit kom ook na vore wanneer ons ons ernstige persoonlikheidsgebreke probeer goedpraat. Eerlikheid help ons egter om ’n bedrieglike hart te oorwin, want dit help ons om die waarheid omtrent onsself te erken sodat ons kan verbeter. Die psalmis het sulke eerlikheid aan die dag gelê toe hy gebid het: “Toets my, HERE, en beproef my, keur [“louter”, NW] my niere en my hart.” Dit is duidelik dat die psalmis sy hart berei het om deur Jehovah gelouter en getoets te word, al het dit moontlik beteken dat hy moes erken dat hy karaktertrekke het wat soos onsuiwerhede was en waarvan hy ontslae moes raak.—Psalm 17:3; 26:2.
Godvrugtige vrees, wat insluit “om te haat wat sleg is”, is ’n kragtige hulpmiddel in hierdie louteringsproses (Spreuke 8:13). Iemand wat Jehovah waarlik vrees, waardeer sy liefderyke goedhartigheid en goedheid, maar is te alle tye daarvan bewus dat Jehovah die mag het om diegene wat hom nie gehoorsaam nie te straf, selfs met die dood. Jehovah het getoon dat diegene wat hom vrees hom ook sal gehoorsaam toe hy van Israel gesê het: “Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.”—Deuteronomium 5:29.
Die doel van godvrugtige vrees is beslis nie om ons in ’n toestand van vreesbevange onderdanigheid te hou nie, maar eerder om ons te beweeg om ons liefdevolle Vader te gehoorsaam omdat ons weet dat hy ons belange op die hart dra. Trouens, sulke godvrugtige vrees verhef ons en verskaf selfs vreugde, waarvan Jesus Christus self oorvloedig bewys gelewer het.—Jesaja 11:3; Lukas 12:5.
’n Hart wat berei is, toon groot geloof
’n Hart wat sterk geloof het, weet dat wat Jehovah ook al verwag of deur sy Woord beveel altyd reg en vir ons beswil is (Jesaja 48:17, 18). Iemand met so ’n hart put diepe bevrediging en tevredenheid daaruit om die vermaning in Spreuke 3:5, 6 toe te pas, wat sê: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Maar ’n hart wat geen geloof het nie, sal nie geneig wees om op Jehovah te vertrou nie, veral as dit opofferinge vereis, soos om ’n mens se lewe te vereenvoudig sodat jy jou op Koninkryksbelange kan toespits (Matteus 6:33). Jehovah beskou ’n ongelowige hart tereg as ‘goddeloos’.—Hebreërs 3:12.
Ons geloof in Jehovah word in baie aspekte geopenbaar, onder andere in die dinge wat ons in die privaatheid van ons eie huis doen. Neem byvoorbeeld die beginsel in Galasiërs 6:7: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai.” Ons geloof in hierdie beginsel sal weerspieël word in die rolprente waarna ons kyk, die boeke wat ons lees, hoeveel Bybelstudie ons doen en in ons gebede. Ja, ’n sterk geloof wat ons beweeg om “met die oog op die gees” te saai, dra baie daartoe by om ’n hart te bekom wat berei is om Jehovah se Woord te aanvaar en dit te gehoorsaam.—Galasiërs 6:8.
Liefde—die vernaamste eienskap
Liefde, meer as enige ander eienskap, maak die grond van ons hart waarlik ontvanklik vir Jehovah se Woord. Toe die apostel Paulus dit dus met geloof en hoop vergelyk het, het hy liefde as ‘die grootste van’ hierdie eienskappe beskryf (1 Korintiërs 13:13). ’n Hart vol liefde vir God put groot bevrediging en vreugde daaruit om hom te gehoorsaam; dit beskou nooit God se vereistes as ’n ergernis nie. Die apostel Johannes het gesê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Jesus het iets soortgelyks gesê: “As iemand my liefhet, sal hy my woord onderhou, en my Vader sal hom liefhê” (Johannes 14:23). Let op dat sulke liefde wedersyds is. Ja, Jehovah is baie lief vir diegene wat deur liefde tot hom aangetrek word.
Jehovah weet dat ons onvolmaak is en gereeld teen hom sondig. Nogtans hou hy hom nie op ’n afstand van ons nie. Jehovah soek na “’n volkome hart” in sy knegte, ’n hart wat ons beweeg om hom met “’n gewillige siel” te dien (1 Kronieke 28:9). Jehovah weet natuurlik dat dit tyd en inspanning van ons verg om goeie eienskappe in ons hart aan te kweek en sodoende die vrugte van die gees voort te bring (Galasiërs 5:22, 23). Daarom is hy geduldig met ons, “want . . . Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Jesus het dieselfde gesindheid aan die dag gelê en nooit sy dissipels streng berispe oor hulle foute nie, maar hulle geduldig gehelp en aangemoedig. Beweeg hierdie liefde, barmhartigheid en geduld van Jehovah en Jesus jou nie om hulle des te meer lief te hê nie?—Lukas 7:47; 2 Petrus 3:9.
As jy dit soms moeilik vind om ontslae te raak van diepgewortelde, onkruidagtige gewoontes of harde, kleiagtige karaktertrekke, moet jy nie moedeloos raak nie. Hou eerder aan om verbeteringe aan te bring terwyl jy ‘volhou met gebed’, wat herhaalde smekinge tot Jehovah vir sy gees insluit (Romeine 12:12). Met sy gewillige hulp sal jy daarin slaag om, soos Esra, ’n hart te hê wat ten volle berei is “om die wet van Jehovah te raadpleeg en om dit na te kom”.
[Prent op bladsy 31]
Esra het sy godvrugtige toegewydheid selfs in Babilon behou
[Foto-erkenning op bladsy 29]
Garo Nalbandian