Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 7/15 bl. 21-23
  • Is jy deur siniese mense beïnvloed?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy deur siniese mense beïnvloed?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eertydse Sinici—hulle oorsprong en opvattings
  • Uitwerking op hulle lewenswyse
  • Hedendaagse sinici—Moet jy hulle eienskappe openbaar?
  • Maniere om sinisme teë te werk
  • Verlore in ’n see van veranderende waardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Nie handelaars van God se Woord nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die onsterflikheid van die siel—Die oorsprong van die leerstelling
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 7/15 bl. 21-23

Is jy deur siniese mense beïnvloed?

“DIE sinikus is iemand wat nooit ’n goeie eienskap in ’n mens raaksien nie, en nooit nalaat om ’n slegte eienskap raak te sien nie. Hy is ’n menseuil, waaksaam in die donker en blind vir die lig, op soek na ongediertes en sien nooit goeie wild raak nie.” Hierdie stelling word aan die 19de-eeuse Amerikaanse geestelike Henry Ward Beecher toegeskryf. Baie dink dalk dat dit die gees van ’n hedendaagse sinikus raak beskryf. Maar die woord “sinikus” het in eertydse Griekeland ontstaan, waar dit nie bloot iemand beteken het wat so ’n gesindheid aan die dag lê nie. Dit het eeue lank na ’n skool van filosowe verwys.

Hoe het die filosofie van die Sinici ontwikkel? Wat het hulle geleer? Sou die eienskappe van ’n Sinikus vir ’n Christen wenslik wees?

Eertydse Sinici—hulle oorsprong en opvattings

Eertydse Griekeland was ’n broeines van besprekings en debatte. Gedurende die eeue voor ons Gewone Jaartelling het manne soos Sokrates, Plato en Aristoteles die filosofieë voorgelê wat hulle beroemd gemaak het. Hulle leringe het ’n verreikende uitwerking op mense gehad, en sulke idees word nog steeds in die Westerse kultuur gevind.

Sokrates (470-399 v.G.J.) het geredeneer dat blywende geluk nie in die najaging van materiële dinge of in sinsgenot gevind kan word nie. Hy het beweer dat ware geluk voortspruit uit ’n lewe wat aan die strewe na deug gewy is. Sokrates het deug as die hoogste ideaal beskou. Om hierdie doelwit te bereik, het hy materiële luukses en onnodige strewes verwerp omdat hy gemeen het dat dit sy aandag sou aflei. Hy het matigheid en selfonthouding voorgestaan en eenvoudig en spaarsaam gelewe.

Sokrates het ’n leerwyse ontwikkel wat as die Sokratiese leerwyse bekend staan. Terwyl die meeste denkers ’n idee voorgelê en aanvullende argumente gegee het, het Sokrates die teenoorgestelde gedoen. Hy het na die teorieë van ander filosowe geluister en die foute in hulle idees probeer blootlê. Hierdie benadering het ’n kritiese en minagtende houding teenoor ander aangemoedig.

Een van die volgelinge van Sokrates was ’n filosoof met die naam Antistenes (ongeveer 445-365 v.G.J.). Hy en ’n paar ander het die basiese lering van Sokrates ’n stap verder geneem deur te sê dat deug die enigste goeie ideaal is. Vir hulle was die najaging van plesier nie net ’n afleiding nie, maar ’n vorm van kwaad. Hulle het uiters antisosiaal geword en groot minagting vir hulle medemens geopenbaar. Hulle het as Sinici bekend geword. Die naam Sinikus is moontlik van ’n Griekse woord (ku·ni·kosʹ) afgelei wat hulle nors en stuurs gedrag beskryf het. Dit beteken “hondagtig”.a

Uitwerking op hulle lewenswyse

Hoewel elemente van Siniese filosofie, soos teenkanting teen materialisme en genotsug, op sigself as prysenswaardig beskou kan word, het die Sinici hulle idees tot die uiterste geneem. Dit kan duidelik gesien word in die lewe van die bekendste Sinikus—die filosoof Diogenes.

Diogenes is in 412 v.G.J. in Sinope, ’n stad aan die Swart See, gebore. Hy het saam met sy vader na Atene toe getrek, waar hy met die leerstellings van die Sinici in aanraking gekom het. Diogenes is deur Antistenes geleer en het heeltemal verdiep geraak in Siniese filosofie. Sokrates het ’n eenvoudige lewe gelei en Antistenes ’n streng lewe. Maar Diogenes het ’n asketiese lewe gelei. Om sy verwerping van materiële geriewe te beklemtoon, het Diogenes na bewering ’n kort rukkie in ’n balie gewoon!

Diogenes het glo in sy strewe na die hoogste ideaal helder oordag met ’n brandende lamp deur Atene gestap op soek na ’n deugsame persoon! Sulke gedrag het aandag getrek en was ’n manier waarop Diogenes en die ander Sinici mense geleer het. Daar word beweer dat Aleksander die Grote eenkeer vir Diogenes gevra het wat hy die graagste wil hê. Diogenes het na bewering gesê dat hy eenvoudig wou hê dat Aleksander eenkant toe staan en nie keer dat die son op hom skyn nie!

Diogenes en die ander Sinici het as bedelaars gelewe. Hulle het nie tyd gehad vir normale menseverhoudinge nie, en hulle het burgerpligte verwerp. Hulle is moontlik deur die Sokratiese leerwyse beïnvloed en het dus baie oneerbiedig teenoor ander geword. Diogenes het bekend geword vir sy bytende sarkasme. Die Sinici het die reputasie gekry dat hulle “hondagtig” is, maar Diogenes self het die bynaam Die Hond gekry. Hy is in ongeveer 320 v.G.J. oorlede toe hy omtrent 90 jaar oud was. ’n Marmergrafsteen wat die beeld van ’n hond bevat het, is op sy graf opgerig.

Party aspekte van die Siniese filosofie is in ander denkrigtings opgeneem. Maar mettertyd het die eienaardighede wat met Diogenes en latere volgelinge geassosieer is die Siniese skool ’n slegte naam gegee. Dit het uiteindelik heeltemal verdwyn.

Hedendaagse sinici—Moet jy hulle eienskappe openbaar?

The Oxford English Dictionary beskryf ’n hedendaagse sinikus as “iemand wat geneig is om ander te beledig of om fout te vind. . . . Iemand wat geneig is om die opregtheid of goedheid van mense se beweegredes en optrede in twyfel te trek en wat die gewoonte het om dit deur spot en sarkasme uit te spreek; ’n minagtende foutsoeker.” Hierdie eienskappe word in die wêreld om ons geopenbaar, maar dit is natuurlik nie met die Christelike persoonlikheid verenigbaar nie. Let op die volgende leringe en beginsels van die Bybel.

“Jehovah is barmhartig en genadig, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid. Hy sal nie vir altyd bly foutvind nie, ook sal hy nie tot onbepaalde tyd gebelg bly nie” (Psalm 103:8, 9, NW). Christene word aangesê om ‘navolgers van God te word’ (Efesiërs 5:1). As die almagtige God kies om eerder barmhartig en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid te wees as om “geneig [te wees] om ander te beledig of om fout te vind”, moet Christene sekerlik probeer om dieselfde te doen.

Jesus Christus, die presiese afdruksel van Jehovah, ‘het vir ons ’n voorbeeld gelaat sodat ons sy voetstappe noukeurig kan volg’ (1 Petrus 2:21; Hebreërs 1:3). Soms het Jesus godsdiensvalshede aan die kaak gestel en aangaande die wêreld se goddelose werke getuig (Johannes 7:7). Maar hy het mooi dinge van opregte mense gesê. Hy het byvoorbeeld van Natanael gesê: “Kyk, gewis ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie” (Johannes 1:47). Wanneer Jesus ’n wonderwerk verrig het, het hy soms die aandag op die ontvanger se geloof gevestig (Matteus 9:22). En toe party gedink het dat ’n vrou se geskenk om haar waardering te toon oordadig was, was Jesus nie sinies oor haar beweegredes nie, maar hy het gesê: “Oral waar hierdie goeie nuus in die hele wêreld verkondig word, sal wat hierdie vrou gedoen het ook vertel word ter gedagtenis aan haar” (Matteus 26:6-13). Jesus was ’n vriend wat vertroue in sy volgelinge gestel het, en hy was vir hulle ’n liefdevolle metgesel ‘wat hulle tot die einde toe liefgehad het’.—Johannes 13:1.

Aangesien Jesus volmaak was, kon hy maklik met onvolmaakte mense foutgevind het. En tog het hy nie ’n ongelowige en foutvinderige gees geopenbaar nie, maar mense eerder probeer verkwik.—Matteus 11:29, 30.

“[Die liefde] glo alles” (1 Korintiërs 13:7). Hierdie stelling vorm ’n skerp teenstelling met die aard van die sinikus, wat die beweegredes en optrede van ander in twyfel trek. Die wêreld is natuurlik vol mense met bedekte beweegredes; daarom moet ’n mens versigtig wees (Spreuke 14:15). Die liefde is nietemin bereid om te glo omdat dit ander vertrou en nie uitermate agterdogtig is nie.

God het sy knegte lief en vertrou hulle. Hy ken hulle beperkinge selfs beter as wat hulle dit ken. Maar Jehovah behandel mense nooit met agterdog nie, en hy verwag nie meer van hulle as wat hulle redelikerwys kan doen nie (Psalm 103:13, 14). Daarbenewens soek God na die goeie eienskappe in mense en gee hy vol vertroue voorregte en gesag aan sy lojale knegte, al is hulle onvolmaak.—1 Konings 14:13; Psalm 82:6.

“Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge” (Jeremia 17:10). Jehovah kan ’n mens se hart noukeurig lees. Ons kan nie. Daarom moet ons versigtig wees om nie sekere beweegredes aan ander toe te skryf nie.

As ons toelaat dat ’n siniese gees in ons wortelskiet en uiteindelik ons denke oorheers, kan dit verdeeldhede tussen ons en ons medegelowiges veroorsaak. Dit kan die vrede van die Christengemeente versteur. Laat ons derhalwe die voorbeeld van Jesus navolg, wat realisties en tog positief was in sy handelinge met sy dissipels. Hy het hulle vertroude vriend geword.—Johannes 15:11-15.

“Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Lukas 6:31). Daar is baie maniere waarop hierdie raad van Jesus Christus toegepas kan word. Ons almal verkies byvoorbeeld dat ander vriendelik en met respek met ons moet praat. Dan moet ons ongetwyfeld ook met vriendelikheid en respek met ander praat. Selfs toe Jesus die valse leerstellings van die godsdiensleiers op kragtige wyse aan die kaak gestel het, het hy dit nooit op ’n siniese manier gedoen nie.—Matteus 23:13-36.

Maniere om sinisme teë te werk

Wanneer ons teleurgestel word, is dit dalk maklik om toe te laat dat ons deur sinisme beïnvloed word. Ons kan hierdie neiging teëwerk deur daaraan te dink dat Jehovah vol vertroue met sy onvolmaakte volk handel. Dit kan ons help om ander aanbidders van God te aanvaar as onvolmaakte mense wat probeer doen wat reg is.

Pynlike ondervindinge veroorsaak dalk dat party ander mense wantrou. Dit is weliswaar onverstandig om al ons vertroue in onvolmaakte mense te stel (Psalm 146:3, 4). Maar in die Christengemeente is daar baie wat graag ’n bron van aanmoediging wil wees. Dink net aan die duisende wat soos moeders, vaders, susters, broers en kinders is vir diegene wat hulle eie gesinne verloor het (Markus 10:30). Dink aan hoeveel van hulle ware vriende is in tye van nood.b—Spreuke 18:24.

Dit is nie sinisme nie, maar broederliefde waardeur Jesus se volgelinge geïdentifiseer word, want hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Laat ons dus liefde betoon, en laat ons die aandag vestig op die goeie eienskappe van mede-Christene. Dit sal ons help om die eienskappe van ’n Sinikus te vermy.

[Voetnote]

a ’n Ander moontlikheid is dat die naam Sinikus van Ku·noʹsar·ges afkomstig is, ’n gimnasium in Atene waar Antistenes onderrig het.

b Sien die artikel met die titel “Die Christengemeente—’n bron van versterkende hulp” in Die Wagtoring van 15 Mei 1999.

[Prent op bladsy 21]

Die bekendste Sinikus, Diogenes

[Erkenning]

Uit die boek Great Men and Famous Women

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel