God se beskouing van sedelike reinheid
“Ek, Jehovah, is jou God, wat jou leer om jouself te bevoordeel, wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel.”—JESAJA 48:17, NW.
1, 2. (a) Hoe beskou mense oor die algemeen geslagsedelikheid? (b) Watter beskouing het Christene van geslagsedelikheid?
VANDAG word sedelike gedrag in baie dele van die aarde as ’n persoonlike saak beskou. Mense beskou geslagsomgang as ’n natuurlike liefdesblyk waaraan hulle uiting kan gee wanneer hulle ook al wil, nie as iets wat tot die huwelik beperk moet word nie. Hulle meen dat daar niks mee verkeerd is om self oor jou gedrag te besluit, solank niemand seerkry nie. Volgens hulle moet mense nie in kwessies van sedelikheid geoordeel word nie, veral nie wanneer dit by seks kom nie.
2 Diegene wat Jehovah leer ken het, het ’n ander beskouing. Hulle volg graag skriftuurlike riglyne omdat hulle Jehovah liefhet en hom wil behaag. Hulle besef dat Jehovah hulle liefhet en riglyne gee wat vir hulle eie beswil is, riglyne waarby hulle waarlik baat sal vind en wat hulle gelukkig sal maak (Jesaja 48:17, NW). Aangesien God die Bron van lewe is, is dit redelik dat hulle hulle tot hom moet wend vir leiding wat die gebruik van hulle liggaam betref, veral in hierdie saak wat so nou verbind is met die oordra van lewe.
’n Gawe van ’n liefdevolle Skepper
3. Wat is baie mense in die Christendom omtrent geslagsomgang geleer, en hoe vergelyk dit met wat die Bybel leer?
3 In teenstelling met vandag se sekulêre wêreld het party in die Christendom mense geleer dat geslagsomgang ’n skande en ’n sonde is, en dat die “eerste sonde” in die tuin van Eden die seksuele verleiding van Adam deur Eva was. So ’n beskouing is in stryd met wat die geïnspireerde Skrif sê. Die Bybelverslag verwys na die eerste mensepaar as “die mens en sy vrou” (Genesis 2:25). God het vir hulle gesê om kinders te hê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Genesis 1:28). Dit sou beslis nie sin gemaak het vir God om Adam en Eva die opdrag te gee om kinders voort te bring en hulle dan te straf omdat hulle daardie opdrag uitgevoer het nie.—Psalm 19:9.
4. Waarom het God seksuele vermoëns aan die mens gegee?
4 In hierdie opdrag wat aan ons eerste ouers gegee is, en wat aan Noag en sy seuns herhaal is, sien ons die hoofdoel van geslagsomgang: om kinders voort te bring (Genesis 9:1). Maar God se Woord toon dat sy getroude knegte nie verplig is om geslagsomgang net te beperk tot die doel om kinders voort te bring nie. Dit kan ook ’n egpaar se emosionele en fisiese behoeftes op gepaste wyse bevredig en ’n bron van genot vir hulle wees. Dit is ’n manier om innige liefde vir mekaar te betoon.—Genesis 26:8, 9; Spreuke 5:18, 19; 1 Korintiërs 7:3-5.
Goddelike beperkings
5. Watter beperkings het God op die mens se geslagslewe gestel?
5 Hoewel seksualiteit ’n gawe van God is, moet daar nie onbeheers daaraan uiting gegee word nie. Hierdie beginsel geld selfs in die huweliksreëling (Efesiërs 5:28-30; 1 Petrus 3:1, 7). Geslagsomgang buite die huwelik word verbied. Die Bybel gee heel duidelike voorskrifte oor hierdie saak. Die Wet wat God die nasie Israel gegee het, het gesê: “Jy mag nie egbreek nie” (Exodus 20:14). Later het Jesus “hoererye” en “egbreuk” ingesluit by die “skadelike redenasies” wat in die hart ontstaan en ’n mens onrein maak (Markus 7:21, 22). Die apostel Paulus is geïnspireer om die Christene in Korinte te vermaan: “Vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). En in sy brief aan die Hebreërs het Paulus geskryf: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”—Hebreërs 13:4.
6. Wat word deur die woord “hoerery” in die Bybel gedek?
6 Wat word bedoel met die woord “hoerery”? Dit kom van die Griekse woord por·neiʹa, wat soms gebruik word om na geslagsomgang tussen ongetroudes te verwys (1 Korintiërs 6:9). Op ander plekke, soos in Matteus 5:32 en Matteus 19:9, het die uitdrukking ’n breër betekenis en verwys dit ook na egbreuk, bloedskande en bestialiteit. Ander geslagsgebruike tussen persone wat nie met mekaar getroud is nie, soos orale en anale seks en die seksuele betasting van iemand anders se geslagsdele, kan ook as por·neiʹa geklassifiseer word. Al hierdie gebruike word in God se Woord veroordeel—hetsy uitdruklik of indirek.—Levitikus 20:10, 13, 15, 16; Romeine 1:24, 26, 27, 32.a
Vind baat by God se sedewette
7. Hoe vind ons daarby baat as ons sedelik rein bly?
7 Om Jehovah se riglyne oor sedelike gedrag te volg, kan ’n uitdaging vir onvolmaakte mense wees. Die bekende 12de-eeuse Joodse filosoof Maimonides het geskryf: “Geen verbod in die hele Tora [Mosaïese Wet] is so moeilik om te gehoorsaam as dié in verband met verbode verbintenisse en ongeoorloofde geslagsomgang nie.” Maar as ons God se riglyne volg, trek ons groot voordeel daaruit (Jesaja 48:18). Gehoorsaamheid in hierdie saak help byvoorbeeld om ons te beskerm teen seksueel oordraagbare siektes, waarvan daar vir party geen genesing is nie en wat ’n mens se lewe kan eis.b Ons word beskerm teen buite-egtelike swangerskappe. Dit dra ook by tot ’n skoon gewete as ons Goddelike wysheid toepas. Dit werk selfrespek in die hand en dwing ander se respek af, waaronder ons familielede, ons huweliksmaat, ons kinders en ons Christenbroers en -susters. Dit help ons ook om ’n heilsame, positiewe gesindheid ten opsigte van seks te ontwikkel wat tot geluk in die huwelik sal bydra. Een Christenvrou het geskryf: “Die waarheid van God se Woord is die beste beskerming. Ek wag om te trou, en wanneer ek trou, sal ek trots wees om vir die Christenman met wie ek trou, te sê dat ek kuis gebly het.”
8. Op watter maniere kan ons kuis gedrag rein aanbidding bevorder?
8 As ons kuis gedrag handhaaf, kan ons ook baie daartoe bydra om wanopvattings oor ware aanbidding teë te werk en mense te trek na die God wat ons aanbid. Die apostel Petrus het geskryf: “Handhaaf voortreflike gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle spreek as boosdoeners, as gevolg van julle voortreflike werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik” (1 Petrus 2:12). Al word ons kuis gedrag nie erken of goedgekeur deur diegene wat Jehovah nie dien nie, kan ons daarvan seker wees dat ons hemelse Vader dit sien, goedkeur en selfs verheug is oor ons pogings om sy riglyne te volg.—Spreuke 27:11; Hebreërs 4:13.
9. Waarom behoort ons vertroue in God se leiding te hê, al verstaan ons nie sy redes ten volle nie? Lig toe.
9 Geloof in God behels vertroue dat hy weet wat die beste vir ons is, selfs as ons nie al die redes waarom hy ons op ’n sekere manier rig ten volle verstaan nie. Dink aan ’n voorbeeld uit die Mosaïese Wet. Een reël aangaande militêre kampe het vereis dat ontlasting buite die kamp begrawe word (Deuteronomium 23:13, 14). Dalk het die Israeliete gewonder oor die rede vir hierdie reël; party het dit miskien as onnodig beskou. Maar sedertdien het die mediese wetenskap tot die besef gekom dat hierdie wet gehelp het om die waterbronne vry van besmetting te hou en die volk te beskerm teen baie siektes wat deur insekte versprei word. Daar is eweneens geestelike, maatskaplike, emosionele, fisiese en sielkundige redes waarom God geslagsomgang tot die huwelik beperk het. Kom ons kyk nou na ’n paar Bybelse voorbeelde van persone wat sedelike reinheid gehandhaaf het.
Josef—Geseën vir sy sedelike gedrag
10. Wie het Josef probeer verlei, en wat was sy antwoord?
10 Jy ken heel waarskynlik die Bybelse voorbeeld van Josef, die seun van Jakob. Toe hy 17 jaar oud was, was hy ’n slaaf van Potifar, die owerste van die lyfwag van Farao van Egipte. Jehovah het Josef geseën, en hy is mettertyd oor die hele huis van Potifar aangestel. Teen die tyd dat Josef sy twintigerjare bereik het, was hy “skoon van gestalte en mooi van aansien”. Potifar se vrou het in hom begin belangstel en hom probeer verlei. Josef het sy standpunt duidelik gestel en verduidelik dat hy, as hy sou inwillig, nie net ontrou aan sy heer sou wees nie, maar ook sou “sondig teen God”. Waarom het Josef só geredeneer?—Genesis 39:1-9.
11, 12. Waarom het Josef heel moontlik op dié wyse geredeneer, hoewel God geen geskrewe wet gehad het wat hoerery en egbreuk verbied het nie?
11 Josef se besluit was klaarblyklik nie gegrond op vrees dat mense daarvan sou uitvind nie. Josef se familie het ver van hom af gewoon, en sy vader het gedink dat hy dood is. As Josef hom aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het, sou sy familie nooit daarvan geweet het nie. Hierdie sonde kon moontlik ook ’n geheim gebly het vir Potifar en sy manlike diensknegte, aangesien daar tye was wanneer hulle nie in die huis was nie (Genesis 39:11). Maar Josef het geweet dat sulke gedrag nie vir God verborge kon wees nie.
12 Josef moes seker geredeneer het oor wat hy omtrent Jehovah geweet het. Hy het ongetwyfeld geweet wat Jehovah in die tuin van Eden gesê het: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24). Daarbenewens was Josef heel waarskynlik bewus van wat Jehovah vir ’n Filistynse koning gesê het wat Josef se oumagrootjie, Sara, wou verlei. Jehovah het vir daardie koning gesê: “Kyk, jy sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is ’n getroude vrou. . . . Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie.” (Genesis 20:3, 6, ons kursiveer.) Hoewel Jehovah dus nog nie ’n geskrewe wet voorsien het nie, was sy beskouing oor die huwelik duidelik. Josef se sedelikheidsgevoel, tesame met sy begeerte om Jehovah te behaag, het hom beweeg om onsedelikheid te verwerp.
13. Waarom kon Josef Potifar se vrou heel moontlik nie vermy nie?
13 Potifar se vrou het egter nie tou opgegooi nie; sy het hom “dag ná dag” gesmeek om geslagsomgang met haar te hê. Waarom het Josef haar nie eenvoudig vermy nie? Wel, as ’n slaaf moes hy sekere pligte nakom en kon hy nie veel doen om sy situasie te verander nie. Argeologiese getuienis dui daarop dat die Egiptiese huise so ontwerp was dat ’n mens deur die hoofdeel van die huis moes gaan om by die pakkamers uit te kom. Daarom was dit dalk onmoontlik vir Josef om Potifar se vrou te vermy.—Genesis 39:10.
14. (a) Wat het met Josef gebeur nadat hy van Potifar se vrou gevlug het? (b) Hoe het Jehovah Josef vir sy getrouheid geseën?
14 Die dag het aangebreek dat hulle alleen in die huis was. Potifar se vrou het na Josef gegryp en uitgeroep: “Kom hou gemeenskap met my.” Hy het gevlug. Gegrief deur sy verwerping het sy hom daarvan beskuldig dat hy haar probeer verkrag het. Wat was die gevolge? Het Jehovah hom onmiddellik beloon vir sy weg van onkreukbaarheid? Nee. Josef is in die gevangenis gesit en met voetboeie geboei (Genesis 39:12-20; Psalm 105:18). Jehovah het die ongeregtigheid gesien en Josef uiteindelik uit die gevangenis laat haal en hom tot lewe in ’n paleis verhef. Hy het die tweede magtigste persoon in Egipte geword en is met ’n vrou en kinders geseën (Genesis 41:14, 15, 39-45, 50-52). Boonop is die verslag van Josef se onkreukbaarheid 3 500 jaar gelede opgeteken sodat God se knegte dit sedertdien kon lees. Watter wonderlike seëninge omdat hy God se regverdige wette gehoorsaam het! Vandag sien ons moontlik ook nie altyd die onmiddellike voordele daarvan om sedelike onkreukbaarheid te handhaaf nie, maar ons kan daarvan seker wees dat Jehovah dit sien en ons op die bestemde tyd sal seën.—2 Kronieke 16:9.
Job se ‘verbond met sy oë’
15. Wat was Job se ‘verbond met sy oë’?
15 ’n Ander handhawer van onkreukbaarheid was Job. Gedurende die beproewinge wat die Duiwel oor hom gebring het, het Job teruggekyk op sy lewe en verklaar dat hy gewillig was om swaar straf te ondergaan as hy, onder andere, Jehovah se beginsel van geslagsedelikheid geskend het. Job het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou?” (Job 31:1). Hiermee het Job bedoel dat hy, in sy vasbeslotenheid om sy onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf, hom voorgeneem het om nie eers met begerige oë na ’n vrou te kyk nie. Hy sou vroue natuurlik in die daaglikse lewe sien en sou hulle waarskynlik help as hulle hulp nodig gehad het. Maar om met romantiese beweegredes aan hulle aandag te gee—dít was verbode. Voor sy beproewinge begin het, was hy ’n baie ryk man, ‘ryker as al die kinders van die Ooste’ (Job 1:3). Hy het egter nie die mag van rykdom gebruik om baie vroue aan te trek nie. Dit is duidelik dat hy dit nooit oorweeg het om hom aan ongeoorloofde geslagsomgang met jonger vroue skuldig te maak nie.
16. (a) Waarom is Job ’n goeie voorbeeld vir getroude Christene? (b) Hoe was die gedrag van mans in Maleagi se dag baie anders as dié van Job, en wat van vandag?
16 Job het dus in voorspoedige sowel as moeilike tye sedelike onkreukbaarheid gehandhaaf. Jehovah het dit opgemerk en hom ryklik geseën (Job 1:10; 42:12). Wat ’n goeie voorbeeld is Job tog vir getroude Christene, mans sowel as vroue! Geen wonder Jehovah was so lief vir hom nie! In teenstelling hiermee kom die gedrag van baie mense van vandag meer ooreen met wat in Maleagi se dag gebeur het. Hierdie profeet het die feit dat baie mans hulle huweliksmaat verlaat het, dikwels om met jonger vroue te trou, afgekeur. Jehovah se altaar is bedek met die trane van die geskeide vrouens, en God het diegene veroordeel wat só “verraderlik gehandel het” met hulle huweliksmaat.—Maleagi 2:13-16, NW.
’n Kuis jong vrou
17. Hoe was die Sulammitiese meisie soos “’n geslote tuin”?
17 ’n Derde handhawer van onkreukbaarheid was ’n Sulammitiese meisie. Sy was jonk en baie mooi, en ’n jong herder sowel as die ryk koning van Israel, Salomo, het op haar verlief geraak. Deur die hele pragtige verhaal wat in Hooglied van Salomo vertel word, het die Sulammitiese meisie kuis gebly en sodoende die respek van diegene om haar gewen. Hoewel sy Salomo verwerp het, is hy geïnspireer om haar verhaal op te teken. Die herder vir wie sy lief was, het ook haar kuis gedrag gerespekteer. Eenkeer het hy nagedink oor die feit dat die Sulammitiese meisie soos “’n geslote tuin” was (Hooglied 4:12). In eertydse Israel het pragtige tuine ’n mooi verskeidenheid groente, welriekende blomme en indrukwekkende groot bome gehad. Sulke tuine het gewoonlik ’n heining of ’n muur daaromheen gehad, en ’n mens kon slegs deur ’n hek, wat altyd gesluit is, in die tuin ingaan (Jesaja 5:5). Vir die herder was die Sulammitiese meisie se sedelike reinheid en lieflikheid soos hierdie tuin met sy unieke prag. Sy was heeltemal kuis. Haar tere liefde sou slegs vir haar toekomstige man beskikbaar wees.
18. Waaraan laat die verslae van Josef, Job en die Sulammitiese meisie ons dink?
18 Die Sulammitiese meisie het ’n uitstekende voorbeeld van sedelike onkreukbaarheid vir Christenvroue van vandag gestel. Jehovah het die deug van die Sulammitiese meisie gesien en dit waardeer, en hy het haar geseën net soos hy Josef en Job geseën het. Hulle dade van onkreukbaarheid is vir ons leiding in God se Woord opgeteken. Hoewel ons pogings om vandag onkreukbaarheid te handhaaf nie in die Bybel opgeteken word nie, het Jehovah ’n “gedenkboek” vir diegene wat sy wil probeer doen. Laat ons nooit vergeet dat Jehovah dit ‘opmerk’ en verheug is as ons lojaal daarna streef om sedelik rein te bly nie.—Maleagi 3:16.
19. (a) Hoe moet ons sedelike reinheid beskou? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Hoewel diegene sonder geloof ons dalk bespot, verbly ons ons in ons gehoorsaamheid aan ons liefdevolle Skepper. Ons het ’n hoër sedelike standaard, ’n Goddelike standaard. Dit is iets waarop ons trots kan wees, iets wat ons moet koester. Deur ’n sedelike rein posisie te handhaaf, kan ons God se seën geniet en die wonderlike hoop behou op eindelose toekomstige seëninge. Maar wat kan ons in praktiese sin doen om sedelik rein te bly? Die volgende artikel sal hierdie belangrike vraag bespreek.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1983, bladsye 27-9.
b Daar is ongelukkig gevalle waar ’n onskuldige Christen ’n seksueel oordraagbare siekte kry van ’n ongelowige maat wat nie God se riglyne gevolg het nie.
Kan jy verduidelik?
• Wat leer die Bybel ons omtrent geslagsomgang?
• Wat word in die Bybel deur die woord “hoerery” gedek?
• Hoe vind ons daarby baat as ons sedelik rein bly?
• Waarom is Josef, Job en die Sulammitiese meisie goeie voorbeelde vir Christene van vandag?
[Prent op bladsy 9]
Josef het gevlug vir onsedelikheid
[Prent op bladsy 10]
Die Sulammitiese meisie was soos “’n geslote tuin”
[Prent op bladsy 11]
Job het ‘’n verbond met sy oë’ gesluit