Jehovah gee die vermoeide krag
“[Jehovah] gee die vermoeide krag; en aan die een sonder dinamiese energie skenk hy volle sterkte in oorvloed.”—JESAJA 40:29, NW.
1. Lig die krag toe wat aangetref word in die dinge wat God geskep het.
JEHOVAH het onbeperkte krag. En hoeveel dinamiese energie is daar tog in die dinge wat hy geskep het! Die piepklein atoom—die bousteen van alle dinge—is so klein dat ’n enkele druppel water eenhonderdtriljoena atome bevat. Alle lewe op ons aardbol hang van die energie af wat deur atoomreaksies op die son vrygestel word. Maar hoeveel sonenergie is nodig om lewe op die aarde te onderhou? Die aarde ontvang maar net ’n baie klein fraksie van al die energie wat deur die son vrygestel word. Maar die baie klein fraksie van die son se energie wat die aarde bereik, is aansienlik meer as die totale energie wat deur die wêreld se nywerhede gebruik word.
2. Wat sê Jesaja 40:26 in wese oor Jehovah se krag?
2 Hetsy ons aan die atoom dink of ons aandag op die uitgestrekte heelal vestig, ons word beïndruk deur Jehovah se ontsaglike krag. Dit is te verstane dat hy kon sê: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Hy wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie”! (Jesaja 40:26, NW). Ja, Jehovah is “sterk in krag”, en hy is die Bron van die “dinamiese energie” wat gebruik is om die ganse heelal te skep.
Meer as die normale krag nodig
3, 4. (a) Wat is ’n paar faktore wat ons moeg kan laat raak? (b) Watter vraag verdien ons aandag?
3 Hoewel God se krag onbeperk is, raak mense wel moeg. Waar ons ook al gaan, sien ons mense wat moeg is. Hulle staan moeg op, gaan moeg werk of skool toe, kom moeg huis toe en gaan slaap nie net moeg nie maar uitgeput. Party wens dat hulle êrens heen kan gaan om die rus te kry wat hulle so bitter nodig het. As Jehovah se knegte raak ons ook moeg, want ons lewe van godvrugtige toegewydheid vereis kragtige inspanning (Markus 6:30, 31; Lukas 13:24; 1 Timoteus 4:8). En daar is baie ander faktore wat ons ons kragte ontneem.
4 Al is ons Christene, is ons nie vry van die probleme wat mense oor die algemeen ondervind nie (Job 14:1). Siekte, finansiële terugslae of ander probleme wat ’n deel van die lewe is, kan tot moedeloosheid, met sy verswakkende uitwerking, lei. Buiten hierdie uitdagings is daar ook die beproewinge wat diegene verduur wat ter wille van regverdigheid vervolg word (2 Timoteus 3:12; 1 Petrus 3:14). Weens die daaglikse druk van die wêreld en teenstand teen ons Koninkrykspredikingswerk voel party van ons dalk so afgemat dat ons minder in Jehovah se diens wil doen. Daarbenewens gebruik Satan die Duiwel elke middel tot sy beskikking om ons onkreukbaarheid teenoor God te probeer ondermyn. Hoe kan ons dan die nodige geestelike krag kry sodat ons nie moeg sal word en tou opgooi nie?
5. Waarom is meer as menslike krag nodig om die Christelike bediening uit te voer?
5 Vir geestelike krag moet ons op Jehovah, die almagtige Skepper, vertrou. Die apostel Paulus het daarop gewys dat die Christelike bediening meer as die normale krag van onvolmaakte mense sou vereis. Hy het geskryf: “Ons het . . . hierdie skat in erdehouers, sodat die krag wat bo die normale is God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie” (2 Korintiërs 4:7). Gesalfde Christene voer “die bediening van die versoening” uit met die ondersteuning van hulle metgeselle wat die aardse hoop het (2 Korintiërs 5:18; Johannes 10:16; Openbaring 7:9). Aangesien ons as onvolmaakte mense God se werk te midde van vervolging doen, kan ons dit nie bloot in ons eie krag doen nie. Jehovah help ons deur middel van sy heilige gees, en sodoende word sy krag deur ons swakheid verheerlik. En hoe vertroos die versekering dat ‘Jehovah die regverdiges ondersteun’ ons tog!—Psalm 37:17.
‘Jehovah is ons sterkte’
6. Hoe verseker die Skrif ons dat Jehovah ons Bron van krag is?
6 Ons hemelse Vader is “sterk in krag” en kan ons maklik krag gee. Trouens, daar word vir ons gesê: “[Jehovah] gee die vermoeide krag; en aan die een sonder dinamiese energie skenk hy volle sterkte in oorvloed. Seuns sal moeg sowel as afgemat raak, en jong manne sal vir seker struikel, maar dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry. Hulle sal opvaar met vlerke soos arende. Hulle sal hardloop en nie afgemat raak nie; hulle sal loop en nie moeg raak nie” (Jesaja 40:29-31, NW). Weens toenemende druk voel ons dalk soms soos ’n uitgeputte hardloper wie se bene hom net nie meer verder kan dra nie. Maar die eindstreep in die wedloop om die lewe is só naby, en ons moenie moed verloor nie (2 Kronieke 29:11, NW). Ons Teenstander, die Duiwel, loop rond “soos ’n brullende leeu”, en hy wil keer dat ons die wedloop voltooi (1 Petrus 5:8). Ons moet onthou dat ‘Jehovah ons sterkte en ons skild is’, en hy het oorvloedige voorsienings gemaak ‘om die vermoeide krag te gee’.—Psalm 28:7.
7, 8. Watter bewyse is daar dat Dawid, Habakuk en Paulus deur Jehovah versterk is?
7 Jehovah het Dawid die nodige krag gegee om ondanks groot struikelblokke voort te gaan. Daarom kon Dawid vol vertroue skryf: “In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap” (Psalm 60:14 NW). Jehovah het Habakuk ook krag gegee sodat hy sy toewysing as profeet kon voltooi. Habakuk 3:19 sê: “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.” Ook Paulus se voorbeeld is opmerkenswaardig, want hy het geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur [God] wat my krag gee.”—Filippense 4:13.
8 Net soos Dawid, Habakuk en Paulus moet ons ook geloof stel in God se vermoë om ons te versterk en in sy krag om ons te red. Noudat ons weet dat die Soewereine Heer Jehovah ons Bron van “sterkte” is, kan ons kyk na ’n paar maniere waarop ons geestelike krag kan put uit die oorvloedige voorsienings wat God beskikbaar stel.
Geestelike voorsienings om ons krag te gee
9. Watter rol speel Christelike publikasies om ons te voed?
9 Ywerige studie van die Skrif met behulp van Christelike publikasies kan ons krag gee en ons help. Die psalmis het gesing: “Gelukkig is die man . . . [wie se] behae . . . in die wet van Jehovah [is], en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. En hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal slaag” (Psalm 1:1-3, NW). Net soos ons moet eet om fisies sterk te bly, moet ons geestelike voedsel inneem wat God deur sy Woord en Christelike publikasies voorsien om geestelik sterk te bly. Daarom is betekenisvolle studie en bepeinsing onontbeerlik.
10. Wanneer kan ons tyd kry om te studeer en te peins?
10 Dit is inderdaad lonend om oor “die diep dinge van God” te peins (1 Korintiërs 2:10). Maar wanneer kry ons tyd om te peins? Abraham se seun Isak “het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld” (Genesis 24:63-67). Die psalmis Dawid het ‘in die nagwake oor God gepeins’ (Psalm 63:7). Ons kan God se Woord bestudeer en daaroor peins in die oggend, in die aand, gedurende die nag—trouens, te eniger tyd. Sulke studie en bepeinsing lei tot nog ’n geestelik versterkende voorsiening van Jehovah—gebed.
11. Waarom moet gereelde gebed vir ons baie belangrik wees?
11 Gereelde gebed tot God versterk ons. Mag ons derhalwe ‘volhou met gebed’ (Romeine 12:12). Soms moet ons God spesifiek om die nodige wysheid en krag vra sodat ons ’n beproewing die hoof kan bied (Jakobus 1:5-8). Laat ons God ook dank en loof wanneer ons sien hoe sy voornemens vervul word of ondervind dat hy ons versterk het om in sy diens voort te gaan (Filippense 4:6, 7). As ons na aan Jehovah bly in gebed, sal hy ons nooit verlaat nie. Dawid het gesing: “Kyk, God is my helper.”—Psalm 54:6.
12. Waarom moet ons God om sy heilige gees vra?
12 Ons hemelse Vader gee ons krag en versterk ons deur middel van sy heilige gees, of werkende krag. Paulus het geskryf: “Ek [buig] my knieë voor die Vader . . . dat hy ooreenkomstig die rykdom van sy heerlikheid aan julle sal gee om met krag deur middel van sy gees sterk gemaak te word in die mens wat julle innerlik is” (Efesiërs 3:14-16). Ons moet bid vir heilige gees, vol vertroue dat Jehovah ons daarmee sal seën. Jesus het geredeneer: Sal ’n liefdevolle vader sy kind ’n slang gee as hy hom ’n vis vra? Natuurlik nie. Hy het dus tot die slotsom gekom: “As julle, hoewel julle [sondige mense en dus min of meer] goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:11-13). Laat ons met hierdie soort vertroue bid en altyd onthou dat getroue knegte van God “sterk gemaak” kan word met krag deur middel van sy gees.
Die gemeente—’n versterkende hulp
13. Hoe moet ons Christelike vergaderinge beskou?
13 Jehovah gee ons krag deur middel van die vergaderinge van die Christengemeente. Jesus het gesê: “Waar twee of drie in my naam bymekaar is, daar is ek in hulle midde” (Matteus 18:20). Toe Jesus hierdie belofte gemaak het, het hy kwessies bespreek waaraan diegene wat die leiding in die gemeente neem, aandag moes gee (Matteus 18:15-19). Maar sy woorde is in beginsel van toepassing op al ons vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste, wat met gebed in sy naam geopen en afgesluit word (Johannes 14:14). Dit is dus ’n voorreg om sulke Christelike samekomste by te woon, of daar nou net ’n paar of duisende teenwoordig is. Laat ons derhalwe dankbaarheid toon vir hierdie geleenthede wat bedoel is om ons geestelik te versterk en ons tot liefde en voortreflike werke aan te spoor.—Hebreërs 10:24, 25.
14. Watter voordeel trek ons uit die pogings van Christen- ouer manne?
14 Christen- ouer manne voorsien geestelike hulp en aanmoediging (1 Petrus 5:2, 3). Paulus het die gemeentes wat hy bedien het, gehelp en aangespoor, net soos reisende opsieners vandag doen. Trouens, hy het daarna verlang om saam met medegelowiges te wees sodat daar ’n opbouende uitwisseling van aanmoediging kon wees (Handelinge 14:19-22; Romeine 1:11, 12). Mag ons altyd waardering toon vir ons plaaslike ouer manne en ander Christenopsieners, wat ’n groot rol daarin speel om ons geestelik te versterk.
15. Hoe dien medegelowiges in ons gemeentes as “’n versterkende hulp”?
15 Medegelowiges in ons gemeente kan “’n versterkende hulp” wees (Kolossense 4:10, 11). As ‘ware metgeselle’ kan hulle ons in tye van benoudheid help (Spreuke 17:17, NW). Toe 220 knegte van God byvoorbeeld in 1945 uit die Sachsenhausen-konsentrasiekamp onder Nazi-beheer vrygelaat is, moes hulle ’n tog van 200 kilometer aanpak. Hulle het in ’n groep gestap, en die sterkeres het die swakstes in ’n paar klein waentjies getrek. Die gevolg? In ’n doodstog waartydens meer as 10 000 gevangenes van die konsentrasiekampe gesterf het, is nie een van Jehovah se Getuies dood nie. Sulke verslae wat in Wagtoringpublikasies verskyn, waaronder die Yearbook of Jehovah’s Witnesses en Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bewys dat God sy volk krag gee sodat hulle nie moed opgee nie.—Galasiërs 6:9.b
Versterk deur ons veldbediening
16. Hoe versterk gereelde deelname aan die bediening ons geestelik?
16 Gereelde deelname aan die Koninkrykspredikingswerk versterk ons geestelik. Hierdie werk help ons om ons aandag te vestig op God se Koninkryk en om die ewige lewe en die wonderlike vooruitsigte wat daarmee gepaardgaan, voor oë te hou (Judas 20, 21). Die skriftuurlike beloftes waaroor ons in ons bediening praat, gee ons hoop en kan ons so vasbeslote maak soos die profeet Miga, wat gesê het: “Óns sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos.”—Miga 4:5.
17. Watter wenke word in verband met tuisbybelstudies gegee?
17 Ons eie verhouding met Jehovah word versterk namate ons meer gebruik maak van die Skrif om ander te onderrig. Wanneer ons byvoorbeeld tuisbybelstudies hou met behulp van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, is dit raadsaam om ’n hele paar van die tekste wat aangegee word, te lees en te bespreek. Dit help die student en versterk ons eie geestelike begrip. As ’n student dit moeilik vind om ’n Bybelse opvatting of ’n illustrasie te verstaan, kan meer as een studiesessie gebruik word om een hoofstuk in die Kennis-boek te dek. Hoe bly is ons tog om goed voor te berei en ekstra moeite te doen om ander te help om nader aan God te kom!
18. Lig toe hoe die Kennis-boek met vrug gebruik word.
18 Die Kennis-boek word elke jaar met vrug gebruik om duisende te help om Jehovah se toegewyde knegte te word, en dit sluit baie in wat geen Bybelse agtergrond het nie. ’n Hindoeman in Sri Lanka het byvoorbeeld as kind ’n Getuie oor die Paradys hoor praat. Jare later het hy haar genader, en kort voor lank het haar man ’n Bybelstudie met hom begin. Trouens, die jong man het elke dag vir ’n studie gekom, en die Kennis-boek is in ’n betreklike kort tydjie voltooi. Hy het al die vergaderinge begin bywoon, bande met sy vorige godsdiens verbreek en ’n Koninkryksverkondiger geword. Teen die tyd dat hy gedoop is, het hy reeds ’n tuisbybelstudie met een van sy vriende gehou.
19. Waarvan kan ons seker wees terwyl ons die Koninkryk eerste soek?
19 As ons die Koninkryk eerste soek, verskaf dit ons vreugde wat ons versterk (Matteus 6:33). Hoewel ons met verskillende beproewinge te kampe het, gaan ons vreugdevol en ywerig voort met die verkondiging van die goeie nuus (Titus 2:14). Baie van ons voldoen aan die vereistes vir voltydse pionierdiens en party dien waar meer evangeliedienaars nodig is. Hetsy ons Koninkryksbelange op hierdie of ander maniere vreugdevol bevorder, ons is vol vertroue dat Jehovah nie ons werk en die liefde wat ons vir sy naam toon, sal vergeet nie.—Hebreërs 6:10-12.
Gaan voort in Jehovah se krag
20. Hoe kan ons bewys dat ons op Jehovah vertrou vir krag?
20 Laat ons op elke moontlike manier bewys dat ons op Jehovah hoop en op hom vertrou vir krag. Ons kan dit doen deur ten volle gebruik te maak van die geestelike voorsienings wat hy deur die ‘getroue slaaf’ beskikbaar stel (Matteus 24:45). Persoonlike en gemeentelike studie van God se Woord met behulp van Christelike publikasies, hartgrondige gebed, geestelike hulp van die ouer manne, goeie voorbeelde van getroue medegelowiges en gereelde deelname aan die bediening is van die voorsienings wat ons verhouding met Jehovah versterk en ons die krag gee om in sy heilige diens voort te gaan.
21. Hoe het die apostels Petrus en Paulus getoon dat ons godgegewe krag nodig het?
21 Ten spyte van ons menslike swakhede sal Jehovah ons versterk om sy wil te doen as ons op hom vertrou vir hulp. Omdat die apostel Petrus geweet het dat ons hierdie hulp nodig sou kry, het hy geskryf: “As iemand dien, laat hom dien as afhanklik van die krag wat God verskaf” (1 Petrus 4:11). En Paulus het sy vertroue op godgegewe krag getoon toe hy gesê het: “Ek [skep] behae in swakhede, in beledigings, in gevalle van nood, in vervolginge en moeilikhede, ter wille van Christus. Want wanneer ek swak is, dan is ek kragtig” (2 Korintiërs 12:10). Mag ons dieselfde vertroue openbaar en heerlikheid gee aan die Soewereine Heer Jehovah, wat die vermoeide krag gee.—Jesaja 12:2.
[Voetnote]
a Dit is 1 gevolg deur 20 nulle.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom het Jehovah se volk meer as die normale krag nodig?
• Watter skriftuurlike bewyse is daar dat God sy knegte krag gee?
• Wat is van die geestelike voorsienings wat Jehovah beskikbaar gestel het om ons te versterk?
• Hoe kan ons toon dat ons op God vertrou vir krag?
[Prent op bladsy 12]
Ons eie verhouding met Jehovah word versterk wanneer ons die Bybel gebruik om ander te onderrig