Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 1/15 bl. 10-15
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons het geloof nodig!
  • Geloof in God se Woord is noodsaaklik
  • Geloof en ons lewensmiddele
  • Geloof help ons om droefheid te verduur
  • Geloof versterk die terneergedruktes
  • Geloof en ander beproewinge
  • Behou geloof in God se Woord
  • “Gee ons meer geloof”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Geloof – ’n Eienskap wat ons help om sterk te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 1/15 bl. 10-15

Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?

“Die koninkryk van God het naby gekom. Wees berouvol en stel geloof in die goeie nuus.”—MARKUS 1:15.

1, 2. Hoe sou jy Markus 1:14, 15 verduidelik?

DIT was 30 G.J. Jesus Christus het met sy groot bediening in Galilea begin. Hy het “die goeie nuus van God” verkondig, en baie Galileërs is diep geraak deur sy woorde: “Die vasgestelde tyd is vervul, en die koninkryk van God het naby gekom. Wees berouvol en stel geloof in die goeie nuus.”—Markus 1:14, 15.

2 “Die vasgestelde tyd” het aangebreek vir Jesus om sy bediening te begin en vir mense om ’n besluit te neem wat God se goedkeuring sou meebring (Lukas 12:54-56). ‘God se koninkryk het naby gekom’ omdat Jesus in hulle midde was as die aangewese Koning. Sy predikingswerk het regskapenes beweeg om berou te toon. Maar hoe het hulle “geloof in die goeie nuus” gestel, en hoe doen ons dit?

3. Hoe het mense getoon dat hulle geloof in die goeie nuus stel?

3 Soos Jesus het die apostel Petrus mense aangespoor om berou te toon. Petrus het Jode in Jerusalem op Pinkster 33 G.J. toegespreek en gesê: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes, en julle sal die heilige gees as vrye gawe ontvang.” Duisende het berou getoon, is gedoop en het Jesus se volgelinge geword (Handelinge 2:38, 41; 4:4). In 36 G.J. het berouvolle nie-Jode soortgelyke stappe geneem (Handelinge 10:1-48). In ons dag word duisende deur geloof in die goeie nuus beweeg om berou te toon oor hulle sondes, hulle aan God toe te wy en gedoop te word. Hulle het die goeie nuus van redding aangeneem en stel geloof in Jesus se losprysoffer. Verder beoefen hulle regverdigheid en skaar hulle hulle aan die kant van God se Koninkryk.

4. Wat is geloof?

4 Maar wat is geloof? Die apostel Paulus het geskryf: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Ons geloof verseker ons daarvan dat alles wat God in sy Woord beloof het, so goed as vervul is. Dit is asof ons ’n dokument het wat bewys dat ons ’n sekere eiendom besit. Geloof is ook “die duidelike bewys”, of oortuigende bewys, van dinge wat nie gesien kan word nie. Al het ons dit nie gesien nie, is ons oortuig dat hierdie dinge werklik is, omdat ons dit met die verstand begryp en uit die hart waardeer.—2 Korintiërs 5:7; Efesiërs 1:18.

Ons het geloof nodig!

5. Waarom is geloof so belangrik?

5 Ons word gebore met ’n geestelike behoefte, maar nie met geloof nie. Trouens, “geloof is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Maar Christene moet geloof hê om God se beloftes te beërf (Hebreërs 6:12). Nadat Paulus talle voorbeelde van geloof genoem het, het hy geskryf: “Omdat ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop, terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus” (Hebreërs 12:1, 2). Wat is “die sonde wat ons maklik verstrik”? Dit is ’n gebrek aan geloof, maar kan selfs verwys na wanneer iemand die geloof verloor wat hy voorheen gehad het. Om ons geloof sterk te hou, moet ons ons ‘blik stip gerig hou op Jesus’ en sy voorbeeld volg. Ons moet ook onsedelikheid verwerp, teen die werke van die vlees stry en materialisme, wêreldse filosofieë en onskriftuurlike tradisies vermy (Galasiërs 5:19-21; Kolossense 2:8; 1 Timoteus 6:9, 10; Judas 3, 4). Verder moet ons glo dat God met ons is en dat die raad in sy Woord werklik werk.

6, 7. Waarom is dit gepas om vir geloof te bid?

6 Ons kan nie deur ons eie wilskrag geloof in onsself voortbring nie. Geloof is een van die vrugte van God se heilige gees, of werkende krag (Galasiërs 5:22, 23). Wat moet ons dus doen as ons ons geloof wil versterk? Jesus het gesê: “As julle . . . dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:13). Ja, laat ons vir heilige gees bid, want dit kan die geloof in ons voortbring wat nodig is om God se wil selfs onder die moeilikste omstandighede te doen.—Efesiërs 3:20.

7 Dit is gepas om vir meer geloof te bid. Toe Jesus ’n demoon uit ’n jong seun wou uitdryf, het die seun se vader gesmeek: “Ek het geloof! Help my waar ek geloof kortkom!” (Markus 9:24). “Gee ons meer geloof”, het Jesus se dissipels gesê (Lukas 17:5). Laat ons dus vir geloof bid, vol vertroue dat God sulke gebede verhoor.—1 Johannes 5:14.

Geloof in God se Woord is noodsaaklik

8. Hoe kan geloof in God se Woord ons help?

8 Kort voor sy offerdood het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Moenie dat julle hart verontrus word nie. Beoefen geloof in God, beoefen geloof ook in my” (Johannes 14:1). As Christene stel ons geloof in God en in sy Seun. Maar wat van God se Woord? Dit kan ’n kragtige, positiewe invloed op ons lewe hê as ons dit bestudeer en toepas met volkome vertroue dat dit die beste raad en leiding voorsien wat daar is.—Hebreërs 4:12.

9, 10. Hoe sou jy verduidelik wat in Jakobus 1:5-8 oor geloof gesê word?

9 Ons lewe as onvolmaakte mense is vol probleme. Maar geloof in God se Woord kan ons werklik help (Job 14:1). Gestel ons weet byvoorbeeld nie hoe om ’n sekere beproewing die hoof te bied nie. God se Woord gee ons hierdie raad: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word. Maar laat hom aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel, want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedryf en heen en weer gewaai word. Trouens, dié mens moet nie veronderstel dat hy enigiets van Jehovah sal ontvang nie; hy is ’n besluitelose mens, onbestendig in al sy weë.”—Jakobus 1:5-8.

10 Jehovah God sal ons nie verwyt as ons wysheid kortkom en daarvoor bid nie. Hy sal ons eerder help om die beproewing in die regte lig te beskou. Nuttige tekste word moontlik onder ons aandag gebring deur medegelowiges of terwyl ons die Bybel bestudeer. Of ons word dalk op ’n ander manier deur Jehovah se heilige gees gelei. Ons hemelse Vader sal ons die wysheid gee om beproewinge die hoof te bied as ons “aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel”. As ons soos ’n golf van die see is wat deur die wind gedryf word, kan ons nie verwag dat ons enigiets van God sal ontvang nie. Waarom nie? Want dit sou beteken dat ons besluiteloos en onbestendig in gebed of in ander opsigte is—ja, selfs in die beoefening van geloof. Ons moet derhalwe vaste geloof hê in God se Woord en in die leiding wat dit voorsien. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van hoe dit ons help en lei.

Geloof en ons lewensmiddele

11. Watter versekering gee geloof in God se Woord ons aangaande ons daaglikse behoeftes?

11 Gestel ons ly nou weens gebrek of armoede. Geloof in God se Woord gee ons die gewaarborgde verwagting dat Jehovah in ons daaglikse behoeftes sal voorsien en uiteindelik vir almal wat hom liefhet, oorvloedig sal gee (Psalm 72:16; Lukas 11:2, 3). Ons sal dit dalk bemoedigend vind om na te dink oor hoe Jehovah gesorg het dat sy profeet Elia gedurende ’n hongersnood voedsel het. Later het God op wonderdadige wyse toegesien dat die meel en olie nie opraak wat ’n vrou, haar seun en Elia aan die lewe gehou het nie (1 Konings 17:2-16). Jehovah het ook in die behoeftes van die profeet Jeremia voorsien tydens die Babiloniese beleëring van Jerusalem (Jeremia 37:21). Hoewel Jeremia en Elia min gehad het om te eet, het Jehovah vir hulle gesorg. Hy doen dieselfde vir dié wat vandag geloof in hom beoefen.—Matteus 6:11, 25-34.

12. Hoe sal geloof ons help om in ons basiese behoeftes te voorsien?

12 Geloof tesame met die toepassing van Bybelbeginsels sal ons nie materieel ryk maak nie, maar dit sal ons help om in ons basiese behoeftes te voorsien. Ter toeligting: Die Bybel vermaan ons om eerlike, vaardige, hardwerkende persone te wees (Spreuke 22:29; Prediker 5:18, 19; 2 Korintiërs 8:21). Ons moet nooit onderskat hoe waardevol dit is om ’n goeie reputasie as ’n werker te hê nie. Selfs op plekke waar goeie werk skaars is, vaar eerlike, vaardige, harde werkers beter as ander. Hoewel sulke werkers dalk materieel min het, het hulle gewoonlik die basiese lewensmiddele en die tevredenheid dat hulle voedsel eet wat hulle self verdien.—2 Tessalonisense 3:11, 12.

Geloof help ons om droefheid te verduur

13, 14. Hoe help geloof ons om droefheid te verduur?

13 God se Woord is realisties en toon dat dit natuurlik is om hartseer te wees wanneer ’n geliefde sterf. Die getroue aartsvader Abraham het getreur oor die dood van sy geliefde vrou, Sara (Genesis 23:2). Dawid was bedroef toe hy gehoor het dat sy seun Absalom dood is (2 Samuel 18:33). Selfs die volmaakte man Jesus het oor die dood van sy vriend Lasarus getreur (Johannes 11:35, 36). Wanneer ’n geliefde sterf, voel dit dalk of ons deur hartseer oorweldig word, maar geloof in die beloftes van God se Woord kan ons help om sulke droefheid te verduur.

14 “Ek het die hoop op God”, het Paulus gesê, “dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Handelinge 24:15). Ons moet geloof beoefen in God se voorsiening om menigtes tot lewe op te wek (Johannes 5:28, 29). Onder hulle sal Abraham en Sara, Isak en Rebekka, Jakob en Lea wees—wat almal nou in die dood slaap en op ’n opstanding in God se nuwe wêreld wag (Genesis 49:29-32). Watter vreugde sal daar tog wees wanneer geliefdes uit die dood wakker gemaak word tot lewe hier op die aarde! (Openbaring 20:11-15). Intussen sal geloof nie al die hartseer wegneem nie, maar dit sal ons na aan God hou, wat ons help om smart te verduur.—Psalm 121:1-3; 2 Korintiërs 1:3.

Geloof versterk die terneergedruktes

15, 16. (a) Waarom kan ons sê dat depressie onder diegene wat geloof beoefen, nie iets nuuts is nie? (b) Hoe kan ons depressie die hoof bied?

15 God se Woord toon ook dat selfs diegene wat geloof beoefen, neerslagtig kan word. Toe Job sy verskriklike toets deurgemaak het, het hy gevoel dat God hom verlaat het (Job 29:2-5). Die vervalle toestand van Jerusalem en sy mure het Nehemia droefgeestig gemaak (Nehemia 2:1-3). Petrus was so verpletter nadat hy Jesus verloën het, dat hy “bitterlik gehuil” het (Lukas 22:62). En Paulus het medegelowiges in die gemeente in Tessalonika aangespoor om “vertroostend [te praat] met die terneergedrukte siele” (1 Tessalonisense 5:14). Vandag is depressie onder diegene wat geloof beoefen, dus nie iets nuuts nie. Wat kan ons dan doen om dit die hoof te bied?

16 Ons voel dalk neerslagtig omdat ons verskeie ernstige probleme ondervind. Ons moet dit egter nie as een groot dilemma beskou nie, maar eerder probeer om een probleem op ’n slag op te los deur Bybelbeginsels toe te pas. Dit kan help om ons minder neerslagtig te maak. Gebalanseerde bedrywighede en genoeg rus kan ook nuttig wees. Een ding is seker: Geloof in God en sy Woord bevorder ons geestelike welstand omdat dit ons oortuiging versterk dat hy werklik vir ons omgee.

17. Hoe weet ons dat Jehovah oor ons besorg is?

17 Petrus gee ons hierdie bemoedigende versekering: “Verneder julle . . . onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:6, 7). Die psalmis het gesing: “Jehovah ondersteun almal wat val en rig almal op wat neergeboë is” (Psalm 145:14). Ons moet geloof stel in hierdie versekeringe, want ons vind dit in God se Woord. Al duur ons depressie dalk voort, is dit werklik geloofversterkend om te weet dat ons al ons sorge op ons liefdevolle hemelse Vader kan werp!

Geloof en ander beproewinge

18, 19. Hoe help geloof ons om siekte te verduur en siek medegelowiges te bemoedig?

18 Dit is dalk vir ons ’n groot toets van ons geloof wanneer ons of ons geliefdes ernstig siek word. Die Bybel sê nêrens dat Christene soos Epafroditus, Timoteus en Trofimus wonderdadig genees is nie, maar Jehovah het hulle ongetwyfeld gehelp om te volhard (Filippense 2:25-30; 1 Timoteus 5:23; 2 Timoteus 4:20). Ook het die psalmis oor “elkeen wat ag gee op die geringe”, gesing: “Jehovah sal hom op ’n siekbed onderskraag; sy hele bed sal u beslis gedurende sy siekte verander” (Psalm 41:1-3). Hoe kan die psalmis se woorde ons help om siek medegelowiges te bemoedig?

19 Een manier om geestelike hulp te voorsien, is deur saam met en vir die siekes te bid. Hoewel ons nie vandag bid vir wonderdadige genesings nie, kan ons God vra om hulle te versterk sodat hulle hulle siekte kan verduur en dat hy hulle die nodige geestelike krag sal gee om te volhard wanneer hulle swak voel. Jehovah sal hulle onderskraag, en hulle geloof sal versterk word as hulle hulle blik gevestig hou op die tyd wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Hoe vertroos dit ons tog om te weet dat gehoorsame mense deur middel van die verrese Jesus Christus en God se Koninkryk permanent verlos sal word van sonde, siekte en die dood! Vir hierdie wonderlike vooruitsigte dank ons Jehovah, ‘wat al ons kwale sal genees’.—Psalm 103:1-3; Openbaring 21:1-5.

20. Waarom kan daar gesê word dat geloof ons deur “die rampspoedige dae” van bejaardheid kan onderskraag?

20 Geloof kan ons ook deur “die rampspoedige dae” van bejaardheid onderskraag, wanneer ’n mens se gesondheid agteruitgaan en jou krag afneem (Prediker 12:1-7). Die bejaardes onder ons kan dus bid soos die bejaarde psalmis wat gesing het: “U is my hoop, o Soewereine Heer Jehovah . . . Moet my nie wegwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat juis wanneer my krag ingee nie” (Psalm 71:5, 9). Die psalmis het gevoel dat hy Jehovah se ondersteuning nodig het, net soos baie van ons mede-Christene ook voel wat in God se diens oud geword het. Weens hulle geloof kan hulle seker wees van die onfeilbare ondersteuning van Jehovah se arms wat tot onbepaalde tyd bly.—Deuteronomium 33:27.

Behou geloof in God se Woord

21, 22. Hoe raak geloof ons verhouding met God?

21 Geloof in die goeie nuus en in die hele Woord van God help ons om voortdurend nader aan Jehovah te kom (Jakobus 4:8). Hy is weliswaar ons Soewereine Heer, maar hy is ook ons Skepper en Vader (Jesaja 64:8; Matteus 6:9; Handelinge 4:24). “U is my Vader, my God en die Rots van my redding”, het die psalmis gesing (Psalm 89:26). As ons geloof in Jehovah en sy geïnspireerde Woord beoefen, kan ons hom ook as ‘die Rots van ons redding’ beskou. Wat ’n wonderlike voorreg!

22 Jehovah is die Vader van geesverwekte Christene en hulle metgeselle met ’n aardse hoop (Romeine 8:15). En geloof in ons hemelse Vader lei nooit tot teleurstelling nie. Dawid het gesê: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem” (Psalm 27:10). Wat meer is, ons het hierdie versekering: “Jehovah sal sy volk ter wille van sy groot naam nie verstoot nie.”—1 Samuel 12:22.

23. Wat moet ons doen om ’n blywende verhouding met Jehovah te geniet?

23 As ons ’n blywende verhouding met Jehovah wil geniet, moet ons natuurlik geloof stel in die goeie nuus en die Skrif aanneem as die Woord van God—soos dit waarlik is (1 Tessalonisense 2:13). Ons moet volkome op Jehovah vertrou en toelaat dat sy Woord ons pad verlig (Psalm 119:105; Spreuke 3:5, 6). Ons geloof sal toeneem as ons tot hom bid met vertroue in sy medelye, barmhartigheid en ondersteuning.

24. Watter bemoedigende gedagte vind ons in Romeine 14:8?

24 Geloof het ons beweeg om ons vir ewig aan God toe te wy. Ons geloof is sterk, en selfs al sterf ons, is ons sy toegewyde knegte wat ’n opstandingshoop het. Ja, “of ons dan lewe en of ons sterf, ons behoort aan Jehovah” (Romeine 14:8). Laat ons daardie bemoedigende gedagte in ons hart bewaar terwyl ons ons vertroue in God se Woord behou en voortgaan om geloof in die goeie nuus te stel.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat is geloof, en waarom het ons hierdie eienskap nodig?

• Waarom is dit noodsaaklik dat ons geloof stel in die goeie nuus en die hele Woord van God?

• Hoe help geloof ons om verskeie beproewinge die hoof te bied?

• Wat sal ons help om ons geloof te behou?

[Prente op bladsy 12]

Jehovah het in Jeremia en Elia se behoeftes voorsien omdat hulle geloof gehad het

[Prente op bladsy 13]

Job, Petrus en Nehemia het sterk geloof gehad

[Prente op bladsy 15]

As ons ’n blywende verhouding met Jehovah wil geniet, moet ons geloof stel in die goeie nuus

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel