Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 1/15 bl. 15-20
  • Hoe sterk is jou geloof?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe sterk is jou geloof?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geloof gee ons moed
  • Geloof maak ons geduldig
  • Geloof gee ons die mees verhewe doelwitte
  • Geloof lei tot ’n lonende lewe
  • Geloof versterk deur versekering
  • Geloof bevorder vrede
  • Geloof stel ons in staat om te volhard
  • “Gee ons meer geloof”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • So ’n groot wolk van getuies!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 1/15 bl. 15-20

Hoe sterk is jou geloof?

“Deur julle geloof staan julle.”—2 KORINTIËRS 1:24.

1, 2. Waarom moet ons geloof hê, en hoe kan dit sterker word?

JEHOVAH se knegte weet dat hulle geloof moet hê. Trouens, ‘sonder geloof is dit onmoontlik om vir God welbehaaglik te wees’ (Hebreërs 11:6). Daarom bid ons wyslik vir heilige gees, asook vir geloof wat een van die geseënde vrugte daarvan is (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22, 23). As ons die geloof van medegelowiges navolg, kan dit ook hierdie eienskap in ons versterk.—2 Timoteus 1:5; Hebreërs 13:7.

2 Ons geloof sal sterker word as ons volhard in die weg wat God se Woord vir alle Christene uiteensit. Groter geloof kan verkry word deur daaglikse Bybellees en ’n ywerige studie van die Skrif met behulp van publikasies wat deur “die getroue bestuurder” voorsien word (Lukas 12:42-44; Josua 1:7, 8). Ons word deur mekaar se geloof aangemoedig wanneer ons Christelike vergaderinge en byeenkomste gereeld bywoon (Romeine 1:11, 12; Hebreërs 10:24, 25). En ons geloof word versterk wanneer ons met ander in die bediening praat.—Psalm 145:10-13; Romeine 10:11-15.

3. Watter hulp kry ons van liefdevolle Christen- ouer manne wat ons geloof betref?

3 Skriftuurlike raad en aanmoediging van liefdevolle Christen- ouer manne help ons om ons geloof op te bou. Hulle het dieselfde gesindheid as die apostel Paulus, wat vir die Korintiërs gesê het: “Ons is medewerkers vir julle vreugde, want deur julle geloof staan julle” (2 Korintiërs 1:23, 24). ’n Ander vertaling lui: “Ons werk saam met julle om julle bly te maak, omdat julle geloof sterk is” (Contemporary English Version). Die regverdige lewe weens geloof. Niemand kan natuurlik namens ons geloof beoefen of van ons lojale handhawers van onkreukbaarheid maak nie. Wat dít betref, moet ‘ons ons eie vrag dra’.—Galasiërs 3:11; 6:5.

4. Hoe kan Bybelverslae van getroue knegte van God help om ons geloof te versterk?

4 In die Bybel is daar baie verslae van mense wat geloof gehad het. Ons is dalk bekend met baie van hulle uitsonderlike dade, maar wat van die geloof wat hulle van dag tot dag geopenbaar het, moontlik deur ’n lang lewe heen? As ons nou kyk na hoe hulle hierdie eienskap geopenbaar het in omstandighede wat soortgelyk is aan ons s’n, kan dit help om ons geloof te versterk.

Geloof gee ons moed

5. Watter skriftuurlike getuienis is daar dat geloof ons versterk om God se woord moedig te verkondig?

5 Geloof versterk ons om God se woord moedig te verkondig. Henog het God se oordeel moedig voorspel. “Kyk!” het hy gesê, “Jehovah het met sy heilige tienduisende gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het” (Judas 14, 15). Toe Henog se goddelose vyande daardie woorde hoor, wou hulle hom sekerlik doodmaak. Tog het hy met vrymoedigheid in geloof gespreek, en God “het hom geneem” deur hom in die dood te laat slaap, blykbaar sonder dat hy die angs daarvan ervaar het (Genesis 5:24; Hebreërs 11:5). Ons beleef nie sulke wonderwerke nie, maar Jehovah verhoor ons gebede sodat ons sy woord met geloof en moed kan verkondig.—Handelinge 4:24-31.

6. Hoe het godgegewe geloof en moed Noag gehelp?

6 Deur geloof het Noag “’n ark gebou tot redding van sy huisgesin” (Hebreërs 11:7; Genesis 6:13-22). Noag was ook “’n prediker van regverdigheid” wat God se waarskuwing moedig aan sy tydgenote bekend gemaak het (2 Petrus 2:5). Hulle het ongetwyfeld gespot met sy boodskap van ’n komende Vloed, net soos party spot wanneer ons skriftuurlike bewyse gee dat die huidige stelsel van dinge binnekort vernietig gaan word (2 Petrus 3:3-12). Maar soos Henog en Noag kan ons hierdie boodskap verkondig weens ons godgegewe geloof en moed.

Geloof maak ons geduldig

7. Hoe het Abraham en ander geloof en geduld geopenbaar?

7 Ons het geloof en geduld nodig, veral terwyl ons op die einde van hierdie goddelose stelsel wag. Onder diegene ‘wat deur geloof en geduld die beloftes sal beërf’, is die godvresende aartsvader Abraham (Hebreërs 6:11, 12). Deur geloof het hy die stad Ur, met al sy voordele, verlaat en ’n vreemdeling geword in ’n vreemde land wat God aan hom beloof het. Isak en Jakob was erfgename van daardie selfde belofte. Maar “in geloof het hulle almal gesterf, hoewel hulle nie die vervulling van die beloftes verkry het nie”. Deur geloof het hulle ‘na ’n beter plek gestreef, dit is een wat tot die hemel behoort’. Daarom het God “’n stad vir hulle gereedgemaak” (Hebreërs 11:8-16). Ja, Abraham, Isak en Jakob—en hulle godvresende vrouens—het geduldig gewag op God se hemelse Koninkryk, waaronder hulle tot lewe op aarde opgewek sal word.

8. Ten spyte waarvan het Abraham, Isak en Jakob geduld en geloof aan die dag gelê?

8 Abraham, Isak en Jakob het nie hulle geloof verloor nie. Die Beloofde Land het nie onder hulle beheer gekom nie, en hulle het nie gesien dat al die nasies hulleself deur middel van Abraham se saad seën nie (Genesis 15:5-7; 22:15-18). Al sou die ‘stad waarvan God die bouer is’, eers eeue later ’n werklikheid word, het hierdie manne voortgegaan om geloof en geduld regdeur hulle lewe aan die dag te lê. Ons moet beslis dieselfde doen noudat die Messiaanse Koninkryk ’n werklikheid in die hemel is.—Psalm 42:5, 11; 43:5.

Geloof gee ons die mees verhewe doelwitte

9. Watter uitwerking het geloof op ons doelwitte en ideale?

9 Die getroue aartsvaders het nooit die verdorwe Kanaänitiese lewenstyl aangeneem nie, want hulle het veel hoër doelwitte en ideale gehad. Geloof gee ons eweneens geestelike doelwitte wat keer dat ons deel word van die wêreld wat in die mag van die bose, Satan die Duiwel, lê.—1 Johannes 2:15-17; 5:19.

10. Hoe weet ons dat Josef ’n doelwit nagestreef het wat ver verhewe was bo vernaamheid in die wêreld?

10 God het sake so gerig dat Jakob se seun Josef Egipte se voedseladministrateur word, maar hy het nie daarna gestreef om ’n vername man in die wêreld te word nie. Met geloof in die vervulling van Jehovah se beloftes het die 110-jarige Josef vir sy broers gesê: “Ek is sterwend; maar God sal ongetwyfeld sy aandag op julle rig, en hy sal julle beslis uit hierdie land laat optrek na die land wat hy aan Abraham, aan Isak en aan Jakob met ’n eed beloof het.” Josef het gevra dat hy in die Beloofde Land begrawe word. Nadat hy gesterf het, is hy gebalsem en in ’n doodskis in Egipte gelê. Maar toe die Israeliete uit slawerny in Egipte bevry is, het die profeet Moses Josef se beendere saamgeneem om dit in die Beloofde Land te begrawe (Genesis 50:22-26; Eksodus 13:19). Geloof soos dié van Josef moet ons beweeg om doelwitte na te streef wat ver verhewe is bo vernaamheid in die wêreld.—1 Korintiërs 7:29-31.

11. Hoe het Moses bewys dat hy geestelike doelwitte gehad het?

11 Moses het ‘verkies om liewer saam met God se volk sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê’ as ’n hooggeleerde lid van Egipte se koninklike familie (Hebreërs 11:23-26; Handelinge 7:20-22). Hiervoor het hy wêreldse aansien prysgegee en moontlik ook die voorreg om in ’n ryklik versierde doodskis tydens ’n indrukwekkende seremonie op ’n vername plek in Egipte begrawe te word. Maar van watter waarde sou dit gewees het in vergelyking met die voorreg om ’n “man van die ware God” te wees, die middelaar van die Wetsverbond, Jehovah se profeet en ’n Bybelskrywer? (Esra 3:2). Begeer jy aansien en sukses in die sekulêre wêreld, of het geloof jou veel hoër geestelike doelwitte gegee?

Geloof lei tot ’n lonende lewe

12. Watter uitwerking het geloof op Ragab se lewe gehad?

12 Geloof gee mense nie net die mees verhewe doelwitte nie, maar ook ’n lonende lewe. Ragab van Jerigo se lewe as ’n hoer kon beslis nie baie sinvol gewees het nie. Maar hoe het dit tog verander toe sy geloof beoefen het! Sy is “deur werke [van geloof] regverdig verklaar nadat sy die [Israelitiese] boodskappers gasvry ontvang en hulle met ’n ander pad weggestuur het”, sodat hulle hulle Kanaänitiese vyande ontduik het (Jakobus 2:24-26). Ragab het besef dat Jehovah die ware God is en het ook geloof getoon deur haar lewe as prostituut die rug toe te keer (Josua 2:9-11; Hebreërs 11:30, 31). Sy het met ’n kneg van Jehovah getrou, nie met ’n ongelowige Kanaäniet nie (Deuteronomium 7:3, 4; 1 Korintiërs 7:39). Ragab het die wonderlike voorreg gehad om ’n voorouer van die Messias te word (1 Kronieke 2:3-15; Rut 4:20-22; Matteus 1:5, 6). Soos ander, waarvan party ’n onsedelike lewenswyse laat vaar het, sal sy nog ’n beloning ontvang—’n opstanding tot lewe op ’n paradysaarde.

13. Hoe het Dawid met betrekking tot Batseba gesondig, maar watter gesindheid het hy getoon?

13 Nadat Ragab haar sondige lewe die rug toegekeer het, het sy blykbaar ’n regskape weg bly volg. Daar was egter party wat ’n geruime tyd toegewyde knegte van God was, wat ernstig gesondig het. Koning Dawid het egbreuk met Batseba gepleeg, haar man in die oorlog laat doodmaak en haar toe as sy vrou geneem (2 Samuel 11:1-27). Dawid het later diepe berou gehad en Jehovah gesmeek: “Moet tog nie u heilige gees van my af wegneem nie.” Dawid het nie God se gees verloor nie. Hy het geloof gehad dat Jehovah, in sy barmhartigheid, nie ‘’n hart wat gebroke en verbryseld’ is oor sonde, sou verag nie (Psalm 51:11, 17; 103:10-14). Weens hulle geloof is Dawid en Batseba beloon met ’n plek in die Messias se geslagslyn.—1 Kronieke 3:5; Matteus 1:6, 16; Lukas 3:23, 31.

Geloof versterk deur versekering

14. Watter versekeringe het Gideon ontvang, en hoe kan hierdie verslag ons geloof raak?

14 Hoewel ons deur geloof wandel, het ons soms die versekering nodig dat God ons sal help. Dit was die geval met rigter Gideon, een van dié “wat deur geloof koninkryke in die stryd verslaan het” (Hebreërs 11:32, 33). Toe die Midianiete en hulle bondgenote Israel binnegeval het, het God se gees Gideon omhul. Omdat hy graag Jehovah se versekering wou hê, het hy tekens gevra waarin hy ’n vlies wol oornag onbedek op ’n dorsvloer laat lê het. Met die eerste teken het dou net op die vlies gevorm, terwyl die grond droog gebly het. Met die tweede teken het die teenoorgestelde gebeur. Hierdie versekeringe het die versigtige Gideon versterk sodat hy in geloof opgetree en Israel se vyande verslaan het (Rigters 6:33-40; 7:19-25). As ons na versekering soek wanneer ons ’n besluit moet neem, beteken dit nie dat ons ’n gebrek aan geloof het nie. Ons toon in werklikheid geloof deur die Bybel en Christelike publikasies te raadpleeg en vir die leiding van die heilige gees te bid wanneer ons besluite neem.—Romeine 8:26, 27.

15. Hoe kan dit ons help as ons oor die geloof van Barak nadink?

15 Die geloof van rigter Barak is versterk deur versekering in die vorm van aanmoediging. Die profetes Debora het hom aangespoor om die inisiatief te neem en die Israeliete te bevry van onderdrukking deur die Kanaänitiese koning Jabin. In geloof en met die versekering dat God hom sou ondersteun, het Barak ’n swak toegeruste leër van 10 000 manskappe in die geveg uitgelei en geseëvier oor Jabin se veel groter krygsmag onder bevel van Sisera. Daardie oorwinning is besing in die aangrypende lied van Debora en Barak (Rigters 4:1–5:31). Debora het Barak aangespoor om op te tree as die leier wat God oor Israel aangestel het, en hy was een van Jehovah se knegte wat deur geloof “die leërs van vreemdelinge op die vlug gejaag het” (Hebreërs 11:34). As ons nadink oor hoe God Barak geseën het omdat hy in geloof opgetree het, kan dit ons ook tot dade beweeg as ons ietwat huiwerig voel om ’n moeilike toewysing in Jehovah se diens uit te voer.

Geloof bevorder vrede

16. Watter goeie voorbeeld het Abraham gestel deur vrede met Lot na te streef?

16 Net soos geloof ons help om moeilike toewysings in God se diens uit te voer, bevorder dit ook vrede en gemoedsrus. Die bejaarde Abraham het sy jonger broerskind Lot die beste weiveld laat kies toe hulle veewagters onder mekaar gestry het en dit nodig geword het dat hulle paaie skei (Genesis 13:7-12). Abraham sou sekerlik in geloof gebid het vir God se hulp om hierdie probleem op te los. Hy het nie sy eie belange eerste gestel nie, maar eerder sake vreedsaam opgelos. As ons ’n geskil met ons Christenbroer het, moet ons in geloof bid en “vrede soek”, terwyl ons Abraham se voorbeeld van liefdevolle bedagsaamheid in gedagte hou.—1 Petrus 3:10-12.

17. Waarom kan ons sê dat ’n skynbare probleem tussen Paulus, Barnabas en Markus op ’n vreedsame manier opgelos is?

17 Let op hoe dit ons kan help om vrede te bevorder as ons Christelike beginsels in geloof toepas. Toe Paulus op sy tweede sendingreis wou vertrek, het Barnabas ingestem dat hulle die gemeentes in Siprus en Klein-Asië weer besoek. Maar Barnabas wou sy neef Markus saamneem. Paulus het nie hiermee saamgestem nie, omdat Markus hulle in Pamfilië in die steek gelaat het. Daar was “’n skerp uitbarsting van toorn”, en weens hierdie onenigheid het hulle uitmekaar gegaan. Barnabas het Markus saam met hom na Siprus geneem, terwyl Paulus Silas as sy metgesel gekies het en “deur Sirië en Silisië gegaan en die gemeentes versterk” het (Handelinge 15:36-41). Mettertyd is die skynbare probleem tussen hulle opgelos, want Markus was saam met Paulus in Rome, en die apostel het goed van hom gepraat (Kolossense 4:10; Filemon 23, 24). Toe Paulus omstreeks 65 G.J. ’n gevangene in Rome was, het hy vir Timoteus gesê: “Neem Markus en bring hom saam met jou, want hy is vir my nuttig om diens te verrig” (2 Timoteus 4:11). Paulus het waarskynlik sy verhouding met Barnabas en Markus in sy gebede van geloof genoem, en dit het gelei tot gemoedsrus wat verbind word met “die vrede van God”.—Filippense 4:6, 7.

18. Wat het waarskynlik in die geval van Euodia en Sintige gebeur?

18 Omdat ons egter onvolmaak is, ‘struikel ons almal dikwels’ (Jakobus 3:2). Probleme het ontstaan tussen twee Christenvroue, van wie Paulus geskryf het: “Euodia vermaan ek en Sintige vermaan ek om eendersdenkend te wees in die Here. . . . Hou aan om hierdie vroue by te staan wat sy aan sy met my in die goeie nuus gestry het” (Filippense 4:1-3). Hierdie godvresende vroue het heel waarskynlik hulle probleem vreedsaam opgelos deur raad soos dié in Matteus 5:23, 24 toe te pas. As ons vandag skriftuurlike beginsels in geloof toepas, sal dit baie help om vrede te bevorder.

Geloof stel ons in staat om te volhard

19. Watter beproewing het nooit Isak en Rebekka se geloof vernietig nie?

19 As ons geloof het, kan ons ook teëspoed verduur. Miskien is ons ontsteld omdat ’n gedoopte lid van ons gesin ongehoorsaam aan God was deur met ’n ongelowige te trou (1 Korintiërs 7:39). Isak en Rebekka was baie ongelukkig omdat hulle seun Esau met heidense vroue getrou het. Sy Hetitiese vroue was “’n bron van bitterheid van gees” vir hulle—sodat Rebekka gesê het: “Ek het ’n afsku gekry van my lewe weens die dogters van Het. As Jakob ooit ’n vrou neem uit die dogters van Het soos dié uit die dogters van die land, watter nut het die lewe dan vir my?” (Genesis 26:34, 35; 27:46). Tog het hierdie beproewing nooit die geloof van Isak en Rebekka vernietig nie. Mag ons sterk geloof behou wanneer dit voel of moeilike omstandighede ons wil oorweldig.

20. Watter voorbeelde van geloof het ons in Naomi en Rut?

20 Die bejaarde weduwee Naomi was ’n Judeër en sy het geweet dat sekere vroue uit Juda seuns sou voortbring wat voorvaders van die Messias kon wees. Maar aangesien haar seuns kinderloos gesterf het en sy te oud was om nog kinders te hê, was die kanse inderdaad skraal dat haar familie ’n deel van die Messiaanse geslagslyn sou wees. Nietemin het haar weduwee-skoondogter Rut die vrou van die bejaarde Boas geword, vir hom ’n seun gebaar en ’n voorouer van Jesus, die Messias, geword! (Genesis 49:10, 33; Rut 1:3-5; 4:13-22; Matteus 1:1, 5). Die geloof van Naomi en Rut het ondanks teëspoed staande gebly en hulle vreugde verskaf. Ons kan ook groot vreugde ondervind as ons ons geloof ten spyte van teëspoed behou.

21. Wat doen geloof vir ons, en wat moet ons vaste voorneme wees?

21 Hoewel ons nooit kan sê wat die dag van môre vir elkeen van ons sal inhou nie, kan ons deur geloof enige uitdaging die hoof bied. Geloof maak ons moedig en geduldig. Dit gee ons die mees verhewe doelwitte en ’n lonende lewe. Geloof het ’n positiewe uitwerking op ons verhouding met ander en kan staande bly ondanks teëspoed. Mag ons dus “die soort [wees] wat geloof het tot die behoud van die siel” (Hebreërs 10:39). Laat ons voortgaan om sterk geloof te beoefen, met die krag van ons liefdevolle God, Jehovah, en tot sy heerlikheid.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter skriftuurlike bewyse is daar dat geloof ons moedig kan maak?

• Waarom kan ons sê dat geloof ons ’n lonende lewe gee?

• Hoe bevorder geloof vrede?

• Watter bewyse is daar dat geloof ons in staat stel om teëspoed te verduur?

[Prente op bladsy 16]

Geloof het Noag en Henog die moed gegee om Jehovah se boodskappe bekend te maak

[Prente op bladsy 17]

Geloof soos dié van Moses beweeg ons om geestelike doelwitte na te streef

[Prente op bladsy 18]

Die versekering dat God hulle sou help, het die geloof van Barak, Debora en Gideon versterk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel